News
Leave a comment

Lamb Champs breek rekord: R72 000 vir ’n lamkarkas!

Lamb Champs 2025 het 24 September geskiedenis gemaak by Hoër Landbouskool Boland in Paarl met twee hoogtepunte: ’n nuwe wêreldrekordprys vir ’n lamkarkas én die aanwysing van die wenners van die Boland-kompetisie.

Van links Ine Bester van Saai, Monya Greyvenstein, Louis Botha wenner van Lamb Champs Boland 2025, Tessa Chamberlain van Pick ‘n Pay en Minki van der Westhuizen

Die titel as wenner van Lamb Champs Boland 2025 is toegeken aan Louis Botha met ‘n Meatmaster van Cradock in die Oos-Kaap, wat met sy uitsonderlike lam die beoordelaars beïndruk het. Die wenner het ’n kontantprys van R40 000 ontvang, asook ’n unieke trofee geskep deur die bekende kunstenaar Nic van Rensburg. Tweede plek is aan Nollie Stofberg met ‘n Meatmaster van Fraserburg in die Noord-Kaap,toegeken, wat ’n kontantprys van R20 000 ontvang het, en derde plek aan Loffie and Micheal Smuts met ‘n Dormer van Moorreesburg in die Wes-Kaap, wat ’n kontantprys van R10 000 ontvang het

In ’n ander geskiedkundige oomblik is ’n Dorper-kruis lam van Pieter Cilliers van Philippolis in die Vrystaat vir ’n verstommende R72 000 opgeveil aan Kalahari Cuts, wat die vorige rekord van R63 000, opgestel by die Royal Skou in Pietermaritzburg, oortref het. Die karkas is in premium snitte verwerk, verpak en sal nou deel vorm van Kalahari Cuts se bekende produkreeks.

Dr. Theo de Jager, Direksievoorsitter van Saai, sê: “Hierdie rekord is steeds ver van wat mense bereid is om vir premium wyne te betaal, maar dit wys die groeiende erkenning van lam as ’n premium produk en die krag van Lamb Champs om dit te verhoog,”

“Geleenthede soos Lamb Champs herinner ons daaraan hoe diep kos, gemeenskappe verbind; van die boere wat elke kudde koester tot die gesinne wat om die tafel vergader. Deur familieboere te ondersteun met inisiatiewe soos hierdie, vier ons nie net erfenis en uitnemendheid in lamsvleis nie, maar belê ons ook in die volhoubaarheid van plaaslike boerdery vir geslagte wat kom. Dit is ‘n voorreg vir Pick ʼn Pay om daardie storie direk na ons kliënte te bring,” het Tessa Chamberlain, hoof van borgskappe by Pick ‘n Pay, gesê.

Pierre Cilliers boer van Affie plaas wie se lam die rekord hoogste bod ontvang het van R72 000 saam met die veiling wenner Arina Knipe van die Kalahari Groep

Die geleentheid het 4 000 mense gelok en was reeds ’n dag voor die tyd uitverkoop. Optredes deur Chris Steyn, Blackbyrd, Juan Boucher, Die Piesangskille en Die Beste Band het gesorg dat kos, boerdery en kultuur hand aan hand geloop het.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het benadruk: “Elke Lamb Champs-geleentheid is daarop gemik om die winsgewendheid van familieboerdery te verbeter, omdat dit die grootste bedreiging is vir die voortbestaan van klein- en mediumskaalse boerderye in Suid-Afrika.”

Hierdie wenner sal nou meeding in die Lamb Champs 2025 nasionale finaal by NAMPO Alfa in Bothaville op 17 Oktober 2025.

Alle winste uit die veiling en die verkoop van Lamb Champs-gemerkte lamsvleis in Pick ʼn Pay-winkels gaan direk na familieboere. Pick ʼn Pay as hoofborg, saam met Toyota en Old Mutual as kategorieborg en ZARbet as dagborg, tree op as kragtige ambassadeurs vir familieboere. Lamb Champs-gemerkte lamsvleis is beskikbaar in geselekteerde Pick ʼn Pay-winkels, volledig met die boer se naam, sy plaas, die ras en die streek waar dit geproduseer is.

“Lamb Champs het lamproeë tot ’n kuns verhef, vergelykbaar met wynproeë, en daarmee die skakel tussen verbruikers en die grond herstel,” sê Rossouw.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *