News, Uncategorized
Leave a comment

Waar water mense saamsnoer

’n Projek wat meer doen as om net dorsteles te les – dit bring mense van verskillende agtergronde saam om waardigheid, identiteit en hoop te herstel.

Wat begin het as ’n droom om ’n gemeenskap van skoon water te voorsien, het nou werklikheid geword. ’n Nuwe sonaangedrewe waterstelsel bring nie net betroubare watervoorsiening na die kantore van die Batlokoa Ba Mota Tradisionele Raad en die plaaslike groentetuin nie, maar help ook om die waardigheid van die gemeenskap te herstel en hoop vir die toekoms te gee.

’n Nuwe begin vir Batlokoa Ba Mota

Saai, die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL), AfriForum en die kantoor van Morena e Moholo Montoeli Mota het saamgewerk om die waterprojek moontlik te maak. Die groentetuin, wat nou met die nuwe stelsel besproei word, sal vars groente aan die plaaslike voedingskema voorsien en terselfdertyd opleiding, vaardigheidsontwikkeling en inkomstegeleenthede vir inwoners skep. ’n Watertenk wat ook aan gemeenskapslede toegang tot skoon water bied, is deel van die projek.

’n Bron van hoop en selfstandigheid

“Betroubare watervoorsiening aan die kantore van ons Tradisionele Raad, wat so ’n sentrale rol in ons gemeenskap speel, sal ver gaan om ons waardigheid as ’n landelike gemeenskap te herstel,” sê Morena e Moholo Montoeli Mota. “Ons is dankbaar teenoor ons vennote dat hulle hoop bring en blywende waarde tot ons koninkryk toevoeg.”

Kgosi Thabo Seatlholo, voorsitter van die NHTKL, sê die projek is ’n goeie voorbeeld van hoe vennootskappe kan lei tot volhoubare groei. “Dit is bemoedigend dat hierdie samewerking nie net infrastruktuur gebring het nie, maar ook ’n projek wat ’n positiewe nalatenskap sal laat.”

Landbou bring lewe terug

AfriForum se Barend Uys sê dit is ’n voorreg om deel te wees van ’n inisiatief wat sosio-ekonomiese ontwikkeling bevorder en kulturele trots herstel. “Ons bou saam aan selfstandige gemeenskappe en ’n beter toekoms vir almal.”

Volgens dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, wys die projek watter groot rol landbou kan speel in gemeenskapsontwikkeling. “Geen sektor kan soveel geleenthede skep om welvaart te bou soos landbou nie. Hierdie projek gee mense die kans om wanvoeding te bekamp en ’n bestaan uit die grond te maak.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *