Suid-Afrika se rosynbedryf toon na ’n paar uitdagende seisoene duidelike tekens van herstel, met die 2024/25-oes wat na verwagting sowat 100 000 t sal bereik. Dit dui op hernude momentum vir een van die land se stil, maar suksesvolle uitvoerprodukte. Die wêreldvraag na gesonde, natuurlike peuselhappies en voedsel wat verantwoordelik verkry is, neem steeds toe, en Suid-Afrikaanse rosyne word internasionaal vir hul uitmuntende gehalte erken — volgens Daneel Rossouw, Hoof van Verkope vir Landbou by Nedbank Kommersiële Banksake.

Groei vind egter nie vanself plaas nie. Rosynprodusente bevind hulle in ‘n dinamiese en uitdagende omgewing wat deur klimaatrisiko’s, logistieke uitdagings en veranderende verbruikersvoorkeure beïnvloed word. Tog, met ‘n doelgerigte strategie, kan die bedryf nie net herstel nie, maar ‘n nuwe fase van volgehoue groei met hoë opbrengste betree.
Gesondheid en gehalte dryf verbruikersvoorkeur
Die groeiende voorkeur vir gehalteprodukte en gesondheidsbewuste eetgewoontes is besig om die droëvrugtemark ingrypend te verander. Verbruikers is toenemend bereid om meer vir hoëgehalte, natuurlik soet en bymiddelvrye peuselhappies te betaal, en rosyne pas uitstekend by hierdie tendens. Suid-Afrika se mededingende voordeel lê in die vermoë om groot, smaakvolle rosyne onder die intense Noord-Kaapse son te produseer, wat hulle ‘n kenmerkende smaak en tekstuur gee.
Maar om werklik waarde te ontsluit, moet produsente verder as net tradisionele massa-uitvoer kyk. Daar is gulde geleenthede in verpakking en produkformate — van handige peuselpakkies tot vinnige en maklike gesondheidskommels. Gesondheidsbewuste verbruikers verkies natuurlike produkte, en rosyne kan as ‘n natuurlike, voedingsryke produk eerder as bloot ‘n algemene bestanddeel bemark word.
Volhoubaarheid as bemarkingsvoordeel
Die wêreldvoedselbedryf word al hoe meer beoordeel volgens die volhoubaarheid waarmee hulpbronne gebruik word. Vir rosynprodusente wat in waterbeperkte omgewings ‘n oes moet lewer is dit ‘n uitdaging, maar ook ‘n geleentheid: waterdoeltreffendheid is nie net noodsaaklik vir langtermynvolhoubaarheid nie, maar kan ook ‘n mededingende voordeel in internasionale markte wees.

Die Suid-Afrikaanse rosynbedryf toon reeds vordering op hierdie front. Boere eksperimenteer met dekgewasse om grondgesondheid te verbeter, koolstofbinding te verhoog en erosie te verminder. Ander belê in presisiebesproeiing en beweeg weg van tradisionele besproeiingstelsels na drupbesproeiing, wat nie net water bespaar nie, maar ook opbrengste en gehalte verbeter.
In ‘n era waar naspeurbaarheid en verantwoordelike verkryging aankoopbesluite beïnvloed, kan ‘n duidelike volhoubaarheidstrategie die Suid-Afrikaanse handelsmerk bo mededingers laat uitstyg. Sertifisering en deursigtige data oor koolstof-, water- en grondgebruik sal van kardinale belang wees om geloofwaardigheid te versterk.
Samewerking is noodsaaklik
Ondanks uitstekende produsente, ondermyn voortdurende logistieke en infrastruktuurprobleme ons mededingendheid. Oponthoude by hawens en hoë vervoerkoste skend internasionale kopers se vertroue. Samewerking in die bedryf – moontlik deur publiek-private vennootskappe – is noodsaaklik om uitvoerdoeltreffendheid te verbeter.
Arbeidstekorte en stygende insetkoste plaas ook druk op winsgewendheid. Meganisering en moderne verwerking kan help om dié druk te verlig, maar dit verg belegging en vaardigheidsontwikkeling. Beleidsmakers en bedryfsorganisasies moet tegnologie-aanvaarding en opleiding steun sodat produktiwiteitsvoordele nie ten koste van werksgeleenthede geskied nie. Finansierders moet ook hul rol speel deur befondsing te bied wat produsente en verwerkers se behoeftes, ambisies en volhoubaarheidsdoelwitte ondersteun.

Nuwe markte deur streekshandel
Hoewel Europa steeds die primêre bestemming vir Suid-Afrikaanse rosyne is, is diversifikasie net so belangrik. Die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA) bied ‘n unieke geleentheid om intra-Afrika handel te bevorder en afhanklikheid van tradisionele markte te verminder. Die vraag na bekostigbare, rakstabiele, voedingsryke voedsel groei regoor die kontinent – veral in opkomende middelinkomstemarkte in Oos- en Wes-Afrika.
Gerigte handelsbevordering, ondersteun deur streekspesifieke logistieke oplossings en ooreengekome voedselveiligheidsstandaarde, kan volhoubare nuwe markte in Afrika, die Midde-Ooste en Asië ontsluit.

Groei deur samewerking en volhoubare praktyke
Op plaasvlak kan produsentegroepering help om konsekwentheid, skaal en sterker onderhandelingsmag te bewerkstellig. Koöperatiewe modelle en gedeelde dienste vir verwerking, verpakking en sertifisering verminder koste en maak kleiner produsente gereed vir die uitvoermark. Samewerking maak ook gesamentlike belegging in naspeurbaarheidstelsels en volhoubaarheidsverslagdoening moontlik, wat al hoe meer ‘n vereiste vir toegang tot premiummarkte is.
Langtermynvolhoubaarheid hang uiteindelik van klimaatsaanpassing af. Deur presisiebesproeiing, grondvogkontrole en datagedrewe boerderypraktyke te prioritiseer, kan opbrengste en gehalte te midde van toenemende klimaatsverandering beskerm word.
Met produksie wat herstel en internasionale vraag wat sterk bly, is die Suid-Afrikaanse rosynbedryf goed geposisioneer om te groei. Die grondslag is reeds daar: kundige produsente, ‘n goeie reputasie, en ’n toenemende vraag na gesonde peuselhappies. Deur volhoubaarheid as bemarkingsvoordeel te gebruik, logistieke prestasie te verbeter en nuwe streekshandelskanale te ontsluit, kan die bedryf nie net herstel nie, maar langtermyn volhoubare wêreldmededingendheid bereik.

