Through the lens
Leave a comment

Joubertina Kwekery | Pauw-familie

Fotografie: Mia Truter

Nog ’n familiebesigheid wat die Langkloof bekend gemaak het en landwyd aansien verwerf het, is die Joubertina Kwekery van Bremer en Elaine Pauw. Die kwekery het in die 1960’s ontstaan uit die behoefte aan appelbome vir die groeiende appel- en peerbedryf. Vandag is Bremer en Elaine gelukkig om ook die dienste van hul dogter Karien, haar man Willy, en Deon Lötter, ’n deurwinterde landboukundige en kweker, te hê om die vrugteboom-kwekery teen die hange van die Langkloofberge te bestuur.

Joubertina Kwekery is inderdaad ’n familiebesigheid. Hier staan van links: Karien en Willy Sehm (dogter en skoonseun), Elaine en Bremer Pauw.

Hulle fokus hoofsaaklik op appel- en peervariëteite. Van die gewildste appelbome sluit in verskeie Gala-variëteite, Cripps Red, BigBucks (Flash Gala), Fujis, Golden Delicious en Granny Smith, om maar ’n paar te noem. Gewilde peerkultivars is onder meer Early Bon Chretien, Cape Rose, Forelle, Packham’s Triumph en Rosemarie.

Van pit tot boom

In die groot sitkamer met sy tafel met baie stoele gesels ons oor die familie-onderneming en die groei oor die afgelope jare. Dit blyk gou dat vrugteboomkwekery nie sommer ’n hierjy-besigheid is nie en baie tegniese kennis en jare se ondervinding saamwerk om daarvan ‘n sukses te maak. En voeg daarby toewyding en ‘n liefde vir die grond en dit wat jy doen, en die Pauw-familie se betrokkenheid by die kwekery word beter verstaan.

Die stoor by die Joubertina Kwekery waar sommige van die verwerking van nuwe plante gedoen word.

Die eerste vraag is natuurlik hoe mens begin om bome te kweek – jy moet tog iets hê waarop jy kan inent of okkuleer, om die geleerde woord te gebruik, en dan kom aspekte soos onderstamme, variëteite en grond ook nog ter sprake. En dit moet alles saamwerk om na twee jaar ’n boom te lewer wat weer verkoop kan word.

Bremer vertel die geskiedenis van die plaas. Sy pa, ook Bremer, het in die middel 1950’s na die Langkloof gekom en met appels begin boer vir die Kritzingers van Tulpieskraal se oupa. Later het hy sy eerste grond, Dennehoek, in die laat 1970’s verkoop en in 1968 begin om bome te kweek.

Zuricha Plaatjies (links) en Patricia Mintoor is van die byna 300 werkers wat in die boorde werk.

“Die man wat voorheen bome in die area gekweek het, Nassau Jurie, ’n vriend van my pa, se grond het opgeraak, omdat jy voortdurend nuwe grond moet gebruik om bome te kweek. Hy het my pa gevra om met die kwekery voort te gaan, nadat sy kwekery al vir geslagte aan die gang was. Hy het altyd die bome vir die mense van die Langkloof gekweek.”

Bremer meen die grootste probleem vir kwekers is dat jy voortdurend nuwe grond moet hê waarop die jong bome gekweek kan word. Vroeër jare was daar genoeg nuwe grond om op te kweek, maar deesdae word daar gebruik gemaak van beroking en grondhulpmiddels om die grond weer bruikbaar te kry.

Links: Die rooi verf op die takkies dui op die spesifieke variëteit – elkeen het sy eie kleurkode om dit maklik van ander te onderskei. Middel: Nuwe lote word gevorm. Regs: Plastieklint word gebruik om die ingeplante ogie vas te bind. Dit word na ongeveer ’n jaar losgemaak sodra die ogies behoorlik gevestig het.

Vandag word plantmateriaal, waarop die bome verder gekweek word, van verskeie verskaffers soos SAPO, TopFruit en Star-grow verkry. Sommige variëteite het tantieme wat kopers per boom aan die plantverbete-ringsorganisasie betaal. Die onderstamme kom meestal van hul eie moederblokke wat al vir dekades op die plaas gevestig is en deur die Departement van Landbou goedgekeur is.

“Hulle het oorspronklik van saailinge gekweek nadat hulle die appelpitte geplant het. Werknemers het lank gesit en appels deursny om die pitte te kon kry – veral Goldens, wat baie pitte het. Die pitte is dan in die oop grond geplant, eintlik gesaai soos sout. Dan kom jy agter jy het hopeloos te veel, en dan dun jy dit maar weer uit. Die koms van M793 van Engeland af het dinge baie verander en veroorsaak dat al die onderstamme meer uniform was. Dit was terselfdertyd die saailinge se probleem – die feit dat elke boom se eienskappe verskil. Jy het tog onderstamme nodig vir spesifieke eienskappe ten opsigte van vrugbaarheid, weerstand teen siektes en so meer. Die boorde was nooit eenvormig nie. Vandag kom alle bome van steggies of weefselkultuur. As jy dus vandag ’n M7 koop, sal dit presies dieselfde eienskappe hê as al die ander M7-bome.”

Die ogie het gevestig en ’n nuwe boom groei daaruit.

Van ingenieur tot landbouer

Karien het ingenieurswese geswot nadat sy op Humansdorp gematrikuleer het en lank as siviele ingenieur gepraktiseer. Dit het die bestuur en uitvoering van kontrakte in die Demokratiese Republiek van die Kongo ingesluit, waar hulle ’n goudmyn begin het. ’n Pypleiding in Mosambiek – “die verveligste werk ooit” – ’n sonplaas by Kathu en ’n brug naby Saldanha. Sy het egter moeg geraak vir rondtrek en het vir ’n tyd haar eie praktyk bedryf totdat haar pa haar gebel het en gevra het of sy nie plaas toe wil kom nie. Sy en Willy was toe al bymekaar – hy ook ’n siviele ingenieur – en hulle het saam na die kwekery gekom.

“Die plaaswerk is baie soos die konstruksiebedryf – dit gaan grotendeels oor mensebestuur, en dit is nogal ’n uitdaging om elke dag groot spanne mense produktief besig te hou – tussen inenting, okkulering en die skoon-hou van die kwekery. Ons is baie besig van Junie tot begin September, wanneer al die bome uitgehaal, geklas, in bondels van 10 of 20 gebind, verkoop en versend moet word. “Aan die vrugtekant het ons appels en pere van ’n verskeidenheid kultivars.

Daar is drie produksie-bestuurders wat daar help en wat al die paaie ken,” vertel sy terwyl ons in haar bakkie ’n stamperige grondpad die berge inry na waar die kwekeryboompies gekweek word, digby die dorpsdam wat vir Joubertina water voorsien.

Deon wys waar die insnyding vir die nuwe ogie gemaak word.

Kweperonderstamme vir sukses

Ons kry vir Deon Lötter, Joubertina Kwekery se ervare en deur-winterde kweker, waar hy toesig hou terwyl ’n opgrawer besig is om ’n land om te dol tot sowat 700 mm diep, ter voorbereiding van nuwe aanplantings. Hulle breek die grondbanke oop, en hy vertel dat hulle elke vyf jaar die landerye so oopbreek. Hier gaan hy kweperonderstamme gebruik as basis vir sy nuwe peerboompies, terwyl die Geneva, M7, M793 en MM109-onderstamme gebruik gaan word om appelbome te kweek.

“Kweperonderstamme is baie vrugbaar. Pere soos Forelle en Abate Fetel doen baie goed op kweperonder-stamme, maar is tot by die uithaalstadium baie bros, en die takke breek maklik af as sterk wind waai. Die kweperonderstamme het ’n baie goeie wortelstelsel wat fyn sywortels het, maar wyd vertak. Dit maak die Forelle baie meer vrugbaar, terwyl dit terselfdertyd keer dat die bome nie te wild groei nie. Spasiëring in die kwekery is belangrik om groot bome te kan kweek,” verduidelik Deon.

Joubertina Kwekery gebruik by pere BP1 en BA29, ’n kweper-onderstam. In die erlede is ook BP3-onder-stamme gebruik. Met appels kweek hulle hoofsaaklik M7, MM109 en M9. Die Geneva GCG778 en CG222 is sterk groeiers en word by weefselkultuur-laboratoriums aangekoop. Produsente vra dikwels dat bome op spesifieke onderstamme gekweek moet word, veral nadat grondontledings gedoen is.

Appelbome word meestal vermeerder deur herfsokkulering, wat ’n hoë suksespersentasie het. In hierdie proses word ’n kepie op die onderstam gemaak en ’n enkele ogie van ’n geselekteerde moederplant word daar ingevoeg. Dit gebeur tydens die aktiewe groeiperiode.

Deon Lötter is ’n deurwinterde kweker en sien grootliks om na die okkulering en versorging van nuwe bome.

“Eintlik is dit ’n eenvoudige storie en behels dit in wese dat ons ’n stukkie bas met ’n oog aan op ’n ander boom inplant. Die ogies word aangekoop by die verskeie PVO’s.”

“Die sukses vir ’n groot, gesonde boom is om te begin met ’n gesonde onderstam wat dik genoeg is vir die okuleerproses. Die volgende stap vir sukses is om ’n gesonde en variëteitsegte ogie daarop te okkuleer. Die ogie word dan in ’n vertikale snit wat in die onderstam gemaak is, ingedruk en met ’n plastieklintjie vasgemaak sodat dit stewig sit en daarin kan begin vasgroei. Na ongeveer drie weke haal ons die lintjie af en sny die wilde lote af om te verseker dat die nuwe plant op sy eie kan groei en die nuwe, verlangde vrugteboom kan vorm,” verduidelik hy.

’n Eenvoudige proses? Ja, dalk so, gesien in die lig van hoe dit gedoen word, maar vlytige vingers wat kan raakvat en fyn snitte in takkies kan maak, is ’n besliste voorvereiste – tesame met ’n sterk rug wat letterlik honderde kere per dag moet buig om by die onderstamme uit te kom. Dan weer, as die linte wat die ogies vashou afgesny moet word, kos dit vasvat. En dit verg honderde hande se ure lange werk om dit gedoen te kry – daar is geen meganiese manier om dit te doen nie. In die boord waar hierdie nuwe boompies gekweek word, kan mens gou sien dat die werkers geoefen is aan hierdie rugbrekende werk en presies weet wat om te doen.

Grond word omgedol ter voorbereiding van nuwe aanplantings.

Vermeerdering van onderstamme

Deon verduidelik verder: “Onderstamme kan op verskeie maniere vermeerder word. Eerstens word die moederblokke in November of Desember opgeërd met saagsels. Hierdie afleërs maak dan wortels. In Junie of Julie word dit weer uitgehaal deur die grond weg te krap, en dan het jy ’n gewortelde onderstam wat geplant word, ongeveer 10 cm van mekaar af.

Tweedens word hardehoutsteggies uit die moeder-blokke gesny gedurende Mei en met hormoonpoeier be-handel vir beworteling, waarna dit direk in die grond gedruk word.

Die onderstamme groei vir ’n jaar en word gedurende die volgende herfs geokkuleer.

Die nuwe ogie groei gedurende die winter. Ná winter word die onderstam tot op die ogie teruggesny. Hierdie nuwe variëteit groei dan vir ’n verdere jaar.

In Junie word die jong boompies, wat op bestelling is, uitgehaal en in bondels van 10 of 20 vasgebind nadat dit volgens lengte geklas is. Daar is ’n paar klasse: 1,2 m tot 1,5 m, 1,5 m tot 1,8 m, en langer as 1,8 m. Die meeste produsente verkies deesdae bome langer as 1,8 m,” verduidelik Deon die ingewikkelde proses, wat eenvoudig lyk wanneer hy dit met geoefende hande demonstreer.

By die lande waar die jong boompies geil staan en wag op die nuwe seisoen, is hulle gereed om iewers vrugte te gaan dra – en ’n mens kry nuwe agting vir die werkers wat hierdie werk moet doen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *