Vroeg in Februarie 2026 het die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid op Groot Constantia weer die kollig laat val op mense wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf vorentoe neem. Dit is ook die geleentheid waar die nuwe oes geseën word en die geboorte van ons wynbedryf herdenk word met die ikoniese dagboekinskrywing van 2 Februarie 1659: “Vandag, eer aan God, is wyn vir die eerste keer uit Kaapse druiwe gemaak.”
Vanjaar se vereerdes is vyf fakkeldraers, elk op ’n ander front: visioenêre leierskap, inklusiwiteit, wynbevordering, wingerd- en wynbou, en die onmisbare werk op grond-en keldervlak.

1659-TOEKENNING VIR VISIOENÊRE LEIERSKAP: DIE RETIEF-FAMILIE VAN VAN LOVEREN
Van Loveren se storie gaan nie net oor groei nie, maar oor slim, volhoubare groei wat oor jare gebou is. Die Retief-familie het wyntoerisme tot ’n kern deel van hul verhaal gemaak, met verskeie proelokale onder verskillende handelsmerke wat die publiek op meer as een manier in-nooi om deel te word van die ervaring. Hulle groei deur verkrygings en vennootskappe is ewe doelgerig, met die fokus op die bewaring van gevestigde wyntradisies én die behoud van ’n trots Suid-Afrikaanse karakter.
Transformasie is vir hulle nie bloot ’n boksie om af te merk nie.
Transformasie is vir hulle nie bloot ’n boksie om af te merk nie. Dit word gedra deur werknemeraandeelskemas en die praktiese opbou van mense en vaardighede binne die onderneming. Innovasie en volhoubaarheid loop soos ’n goue draad deur hul benadering, met jarelange beleggings in hernubare energie en energiedoeltreffendheid wat erkenning gekry het toe die wynmakery as Evolve-BGS en WineMag se 2025 Energie-assesseringskampioen aangewys is. Wat ook uitstaan, is hoe hulle strategies diversifiseer na gewasse soos amandels, kersies, sitrus en avokado’s, wat Van Loveren in ’n sterker posisie plaas om oor die langer termyn te groei en risiko te versprei. Alles saam maak dat die Retief-familie met rede as visioenêre leiers in die bedryf vereer word.
BEVORDERING VAN INKLUSIWITEIT: DENZEL SWARTS (ZOETENDAL WINGERDE)
Denzel Swarts, verkoops- en handelsmerkbestuurder van Zoetendal Wingerde in Elim, is vereer vir sy trans-formerende leierskap en sy vermoë om inklusiwiteit in praktyk te laat gebeur, selfs wanneer omstandighede dit nie altyd maklik maak nie. Sy loopbaan begin by Simonsig en hy groei tot senior bestuursvlak, waar hy oor tyd rasse- en sosio-ekonomiese grense help skuif het en die pad vir ander makliker gemaak het om te volg.
Hy het ook ’n beduidende rol in die breër bedryf gespeel met betrokkenheid by transformasie- en ontwikkelingsinisiatiewe en leierskapstrukture wat fokus op vaardighede, groei en die volgende generasie. In 2022 het hy die Golden Vines® Wine Scholar Guild-beurs ontvang as die eerste persoon uit Afrika, en toe hy dit later onselfsugtig prysgegee het vir iemand anders in nood, het dit net weer beklemtoon watter tipe leier hy is: iemand wat terugploeg, nie net vorentoe druk nie.

WYNBEVORDERING: PIETER FERREIRA (CAP CLASSIQUE)
Pieter Ferreira is vereer vir sy volgehoue passie vir bottel-gefermenteerde vonkelwyn en vir die rol wat hy gespeel het om Cap Classique as kategorie tot wêreldklasstatus te help lig. Hy sluit in 1990 by Graham Beck aan en word ’n kernfiguur in die uitbouing van die produsent se aansien, plaaslik én internasionaal.
Sy invloed strek egter verder as een kelder. Ferreira het oor jare gehelp om deure vir Cap Classique in internasionale markte oop te maak en plaaslik ’n kultuur van kwaliteitverbetering te versterk. Wat hom besonders maak, is dat hy sy kennis maklik deel en ander produsente aktief ondersteun om die kategorie as geheel te laat groei deur tegniese platforms, bedryfsinisiatiewe en gesprekke waar kwaliteit eerste staan.
WINGERD- EN WYNBOU: CHARL THERON
Charl Theron is vereer vir ’n leeftyd se bydrae waar akademie, praktyk en mentorskap by mekaar uitkom. Met meer as 50 jaar se ervaring in wynproduksie, -opleiding en konsultasie het hy ’n diep voetspoor in die bedryf. Hy het ’n MSc in wynkunde verwerf, was lektor en later voorsitter van die Departement van Wingerd- en Wynbou aan die Universiteit van Stellenbosch, en was ook betrokke by advies-strukture in wynopleiding.
In die bedryf het hy oor ’n lang tydperk verskeie rolle by KWV vervul, en later ook betrokke geraak by wynboukundige advieswerk en klassifikasie-inisiatiewe. Wat veral waardevol is, is sy fokus op kennis-oordrag: hy het nie net wynmakers en studente beïnvloed nie, maar ook moeite gedoen om opleidingsgeleenthede en studiegroepe vir kelderwerkers in wyndistrikte te help vestig, sodat vaardighede werklik op grondvlak groei.

WYN-AGRI-WERKER: WILFRED FORTUIN
Wilfred Fortuin is as die 2026 Wyn-agri-werker aangewys deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou. Hierdie kategorie bring ’n mens altyd weer terug na die hart van die bedryf: die mense wat elke dag in die wingerde en kelders die werk doen wat wyn moontlik maak. Fortuin se storie is een van ywer en selfontwikkeling. Hy het by Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut ingeskryf en die Senior Kelderassistentontwikkelingsprogram van Vlak 1 tot 4 voltooi om sy kennis en vaardighede op te bou.
Sy toewyding het vir hom ook ’n plek besorg op die 2025 kelderwerkersuitruilprogram in Boergondië, Frankryk, waar hy as ambassadeur vir Suid-Afrika uitgeblink het. Op 31 wys hy dat ’n loopbaan in landbou en kelderwerk nie net ’n “job” is nie, maar iets waarin ’n mens kan groei, uitblink en vir ander ’n pad kan wys.
WAAR KOM DIE GELEENTHEID VANDAAN?
Groot Constantia, met ’n geskiedenis wat terugdateer na 1685, is nou verweef met die oorsprong van Suid-Afrikaanse wyn. Die Wynoesherdenkingsgeleentheid is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Groot Constantia en Standard Bank, saam met ander bedryfsvennote. Meer oor die geleentheid en die 2026 vereerdes is beskikbaar by www.sawineharvest.co.za.

