farmers, News
comments 7

’n Italiaanse kaas wen SA se top suiwelprys

‘n Handgemaakte burrata van Puglia Cheese in Somerset-Wes is as die 2026 Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar aangewys tydens die SA Suiweltoekennings wat Donderdag 23 April by Nederburg in die Paarl plaasgevind het. Die burrata, vervaardig van 100% Suid-Afrikaanse melk, het uitgestaan onder ’n rekordgetal van 1 227 inskrywings van 81 produsente in vanjaar se SA Suiwelkampioenskappe – die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika.

’n Paneel van 130 beoordelaars het die inskrywings oor drie dae beoordeel. Altesaam 112 produkte is as SA Kampioene in hul klasse aangewys, terwyl 36 produkte met die gesogte Qualité-merk bekroon is – die enigste amptelike erkenning vir uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf (sien volledige lys hieronder).

Volgens die hoofbeoordelaar, Graham Sutherland, getuig die wenproduk van tegniese vaardigheid en outentiekheid. “Ná my onlangse werkservaring in Italië is dit besonder bevredigend om ’n produk soos Puglia se burrata op hierdie vlak te sien erken word. Dit is ’n ware viering van Italiaanse kaasmaaktradisie – ’n vars pasta filata-kaas met ’n delikate buitenste laag en ’n ryk, romerige binnekant wat balans en weelde bied. Dit vergestalt die essensie van la bella vita.”

Burrata is ’n vars mozzarella-tipe kaas gevul met room en stracciatella, met ’n sagte buitekant en ’n ryk, romerige kern, en word tipies by kamertemperatuur bedien.

Graham Sutherland
Puglia Cheese se burrata is as Suiwelproduk van die Jaar aangewys tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings op 23 April by Nederburg in die Paarl.
Agter van links is Ali Rahal van platinumvennoot dsm-firmenich, Natasha de Lange van platinumvennoot IMCD, Craig Roelf van dsm-firmenich, en Chris Fourie, president van Agri-Expo.
Voor van links is Chris Slabbert van IMCD, Davide Ostuni, eienaar van Puglia Cheese, Breyton Milford, algemene bestuurder van Agri-Expo, en Graham Sutherland, hoofbeoordelaar van die SA Suiwelkampioenskappe. Foto: Natalie Gabriels Photography.

Die stigters van Puglia Cheese, Davide en Ursula Ostini, sê die toekenning is ’n trotse oomblik vir die span. “Hierdie erkenning weerspieël jare se toewyding aan gehalte en ’n diep respek vir tradisionele kaasmaaktegnieke, aangepas vir plaaslike omstandighede. Puglia Cheese is in 2010 gestig nadat ons uit Italië verhuis het, met die doel om outentieke, hoëgehalte Italiaanse kaas plaaslik te vervaardig. Ons was pioniers in die produksie van burrata in Suid-Afrika en is trots om ’n produk te lewer wat met die beste kan meeding.”

Volgens Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo, weerspieël die uitslae sowel innovasie as veerkragtigheid in die suiwelbedryf. “Die rekordgetal inskrywings en die deurgaans hoë gehalte van produkte dui op ’n mededingende en vooruitstrewende bedryf, waar gevestigde vervaardigers én kleiner rolspelers die standaard bly verhoog.”

Milford het voorste presteerders in vanjaar se Qualité-toekennings gelukgewens, insluitend Lactalis South Africa (agt toekennings), Clover (drie), Fairfield Dairy (drie), Fair Cape Dairies (twee), Ladismith Cheese Company (twee), Lancewood (twee) en Polar Ice Cream Company (twee). “’n Wye reeks ander vervaardigers is ook vir uitstaande gehalte erken, waaronder Dalewood Fromage, wat ’n eervolle vermelding vir derde plek algeheel ontvang het vir sy Full Cream Jersey Milk, terwyl tweede plek algeheel toegeken is aan Lactalis South Africa vir sy Woolworths Mature Gouda – 10 maande.”

Game Changer-toekenning beklemtoon jong talent

Agri-Expo het ook die 32-jarige Courtenay van der Merwe, Bestuurder: Nuwe Produkontwikkeling by Fair Cape Dairies, met die derde jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning vereer. Die toekenning, wat ’n kontantprys van R50 000 insluit en deur Hollard geborg word, erken jong professionele persone wat reeds ’n meetbare bydrae tot die suiwelbedryf lewer.

Bedryfsondersteuning bly deurslaggewend

“’n Projek van hierdie omvang is slegs moontlik danksy sterk samewerking in die bedryf,” sê Milford. “Ons bedank ons platinumvennote IMCD South Africa en dsm-firmenich; ons diamantvennote Novonesis, SIG en Synercore; ons goue vennote Woolworths, Condio, Hollard, Checkers, IFF, Orchem en die Wes-Kaapse Departement van Landbou; ons silwervennote Mane, SPAR en Fruitique; en ons bronsvennote Agrana Fruit, Polyoak Packaging, Tetra Pak en Ecowize.”

Natasha de Lange, besturende direkteur van IMCD South Africa, sê hul betrokkenheid weerspieël ’n langtermynverbintenis tot die bedryf. “Om suiweluitnemendheid doelgerig te ondersteun, is vir ons meer as net ’n slagspreuk; dit is hoe ons elke dag werk. Ons is trots om as platinumvennoot van die 2026 SA Suiwelkampioenskappe saam met die bedryf te staan en die mense en produkte te vier wat die sektor vorentoe neem.”

Al die Qualité-wenners en top-presteerders van die 2026 SA Suiwelkampioenskappe.

Lactalis South Africa (8)
Parmalat Salted Butter
Woolworths Unsalted Butter
Parmalat Garlic and Parsley Butter Sausage
Woolworths Mature Gouda – 10 months (Eervolle vermelding vir die algehele tweede plek)
Président Mature Gouda – 6 months
Galbani Full Fat Mozzarella
Melrose Spread Cheddar – Tub
Aylesbury Royalty Tin Roof Dairy Ice Cream

Clover S.A. (3)
Clover Mooi River Salted Butter
Clover Springbok Unsalted Butter
Checkers Housebrand Sweetened Full Cream Condensed Milk

Fairfield Dairy (3)
SPAR Low Fat Smooth Cottage Cheese Garlic & Herb
Woolworths Organic Fresh Full Cream Milk
SPAR Double Cream Yoghurt Granadilla Cheesecake Flavoured

Fair Cape Dairies (2)
Woolworths Fresh Custard with Vanilla Bean Seeds
Full Cream Smooth Strawberry Flavoured Yoghurt

Ladismith Cheese Company (2)
Salted Butter
Round Gouda

Lancewood (2)
Lactose Free Yellow Cheddar
Pick n Pay Mature Cheddar

Polar Ice Cream Company (2)
Polar Premier Cookies & Cream Dairy Ice Cream
Polar Premier Swiss Chocolate Dairy Ice Cream

Babylonstoren – Chocolate Brownie Gelato
Belnori Boutique Cheesery – Marula Jelly with Ginger Yoghurt
Dairy Corporation – Usave Ubrand Full Cream Milk
Dairy Group – Shoprite Ritebrand Fat Free Milk – UHT
Dalewood Fromage – Full Cream Jersey Milk (Eervolle vermelding vir die algehele derde plek)
Dutch Goat Farm – Sheep’s Gouda
Fairview Cheese Company – Woolworths Paarl Rock Brie
Farm Hill Dairy – Low Fat Cottage Cheese
Goat Peter – Plain Kefir
Heidelswiss Creamery – Labneh Marinated in Thyme, Chilli and Garlic
Kleinkraal Suiwel – Cabrette Marinated in Oil with Garlic and Herbs
Mooivallei Suiwel – Mooivallei Rigg’s Unsalted Butter
Puglia Cheese – Burrata (SA Suiwelproduk van die Jaar)
Woodlands Dairy – First Choice Recovery High Protein Chocolate Flavour

Die 2026 Qualité-wenners – die enigste merk van uitnemendheid in die suiwelbedryf

Die Qualité-merk, die suiwelbedryf se enigste merk van uitnemendheid, word slegs toegeken aan uitgesoekte produkte van uitsonderlike gehalte wat ’n spesifieke minimum telling op die internasionale telkaart behaal het.


Vir meer inligting, besoek https://dairychamps.co.za, skakel 021 863 1599 / 083 440 1628 of stuur ’n e-pos na dairy@agriexpo.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *