Volhoubare landbouskoue speel ’n veeldoelige rol – om landbou te bevorder, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme te stimuleer, maar ook om die sosiale weefsel van die platteland te laat voortleef.

Dít was die kernboodskap tydens die 2026 Agri-Expo Ledeskoukongres, wat van Donderdag 18 tot Vrydag 19 Junie by Houw Hoek buite Grabouw aangebied is. Vanjaar het 20 skoue uit die Wes-, Noord- en Suid-Kaap byeengekom om uitdagings en geleenthede in die bedryf te bespreek, idees uit te ruil en by kundiges te leer.
Die kongres, met die tema “Samewerking rondom Uitdagings en Geleenthede”, het sowat 60 afgevaardigdes verwelkom en vorm deel van ’n jarelange tradisie van opleiding en ontwikkeling vir verteenwoordigers van landbouskoue.

“In Agri-Expo se 195ste bestaansjaar is dit ’n voorreg om steeds ’n geleentheid aan skoue te kan bied om van kenners én van mekaar te leer en met nuwe denke na hul onderskeie skoue terug te keer,” het Chris Fourie, president van Agri-Expo, tydens die kongres gesê.
“Ons is trots op hierdie dinamiese skoue wat elkeen werklik unieke waarde toevoeg, en steeds groei en verander om ’n stuk lewensbloed in hul gemeenskappe te bly. Elke skou het besonderse sterkpunte en as skoubestuur is ons slegs die kurators daarvan, maar ons moet ook aanhou om hierdie suksesverhale te vertel.”

Minister beklemtoon ekonomiese én sosiale impak
Die geleentheid het ook ’n besoek van dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, gelok. Meyer het die kongresgangers bedank vir die verreikende en verrykende rol wat skouvrywilligers van jonk tot oud speel.
“Die Wes-Kaapse regering is verbind tot landbouskoue, want landbouskoue is die primêre basis van plaaslike ekonomiese ontwikkeling. Maar dit is meer as dit – dit is die hartland van die platteland, die kultuurwarmte wat versprei word en die platform waarop sosiale samehorigheid gebou word. Dit is ook die plek waar ons menswaardigheid terugbring. Wanneer jy belê in menswaardigheid, belê jy in eiewaarde, groei en ontwikkeling – en dít is die waarde van landbouskoue in Suid-Afrika.”

Mentor vereer vir bydrae tot Hackney-perderas
’n Eretoekenning is aan Danie Alberts oorhandig vir sy lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse skoubedryf.
Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, het Alberts oor baie jare ’n onuitwisbare stempel op skoue afgedruk, en veral op die Hackney-perderas.
“As teler en beoordelaar van hierdie gesogte perderas word hy wêreldwyd erken vir die gehalte van sy Hackneys. Hy tree ook as mentor vir talle mense in die skouperdbedryf op, veral binne die gemeenskap van die Kaapse Vlakte.”
Milford het beklemtoon dat dit belangrik is om erkenning te gee aan diegene wat die ekstra myl stap.

Vyf ledeskoue is ook vanjaar vir hul prestasie op verskillende terreine vereer:
- Innovasie: Riversdalskou
- Gehalte-aanbieding: Swartlandskou
- Nuwe Toetreder – Ontwikkeling: Willistonskou
- Gemeenskapsbetrokkenheid: Heidelbergskou
- Jeugontwikkeling: Loeriesfonteinskou
Kundiges deel insigte oor uitdagings en geleenthede
Volgens Milford het vanjaar se program gefokus op hoe skoue uitdagings kan oorkom, geleenthede kan aangryp en sodoende hul volhoubaarheid kan versterk.
“Kongresgangers kon vanjaar meer leer van verskeie kundiges in die landbousektor, verskillende bemarkingstrategieë bespreek en ook idees uitruil.”

Chris Fourie, Agri-Expo-president en besturende direkteur van DMC, het die jongste verwikkelinge rondom bek-en-klouseer bespreek. Andries Wiese, hoof van landbou by Hollard, het as borg van die kongres gesels oor risikobestuur, spesifiek vir skoue, met ’n fokus op onstuimige weerstoestande en die verantwoordelikheid van skoue om bates en mense te beskerm. Jan Olivier, skaap- en wolbeampte van BKB, ook ’n borg van die geleentheid, het skoue se belangrike rol as vennoot van die privaatsektor beklemtoon.
Suzaan Smit, president van Swellendamskou, het lesse oor risikobeperking gedeel, insluitend hoe hulle danksy konsekwente risikobeplanning ’n groot terugslag in 2025 kon oorleef toe die skou uitgereën het. Heidelbergskou se vise-president Esja Oosthuizen het oor gemeenskapsbetrokkenheid gesels en vertel hoe die skoubestuur hul skou binne sewe maande omskep het tot ’n ware gemeenskapskou.

Lize Marié du Toit, streeksbestuurder van die MPO Wes-Kaap, ook bekend as Lize met ’n Z, het geleenthede en uitdagings van sosiale media vir landbouskoue bespreek, terwyl die landbou-kommunikasiekonsultant Isabeau Joubert Botha praktiese raad gedeel het oor hoe genootskappe skoue op meer én minder tradisionele maniere kan bemark.
Vir meer inligting oor Agri-Expo se ledeskoue, besoek www.agriexpo.co.za.

