SW van Zyl van Sandveld Aartappels is op 23 Julie as die Syngenta Nasionale Aartappelboer van die Jaar 2026 aangewys. Agter dié titel lê veel meer as ’n goeie oes. Dit is die verhaal van ’n boer wat tegnologie en presisie omarm, die mark verstaan, by ’n uitdagende klimaat aanpas, maar steeds glo dat niks die boer se eie voetspore in die land kan vervang nie.

Aartappels SA beskryf die toekenning as erkenning vir meer as uitstekende produksie. Dit vereer ook visie, leierskap, innovasie, veerkragtigheid en ’n strewe na uitnemendheid.
Van 24 ha tot ’n geïntegreerde onderneming
SW het ná skool op ’n groenteplaas in Vredendal gaan werk en het geen formele naskoolse landbouopleiding gehad nie. In 2002 het sy skoonpa, Koos Louw, hom gevra om op die familieplaas Wadrift te kom help. Dit was op 24 ha daar waar hy geleer het wat hy vandag van aartappels weet. Sy pa en skoonpa het sy belangrikste mentors geword.

In 2015 het SW en sy vrou, Hannelie, hul eerste plaas gekoop en die onderneming het stelselmatig uitgebrei. Vanzylsrus, wat aan die einde van 2021 gekoop is, het later die tuiste van ’n groot verpakkingsaanleg geword. Sandveld Aartappels se bedryf strek vandag oor produksie, was, sortering, grootmaatverpakking en kleiner verbruikersverpakkings. Dié beheer, van die land tot die sakkie, help om ’n konsekwente produk van goeie gehalte te lewer.

’n Wit aartappel, twaalf maande van die jaar
Sandveld Aartappels produseer twaalf maande van die jaar aartappels van goeie gehalte vir hoofsaaklik die tafelmark. In piektyd, van September tot April, kan sowat 240 t per dag vanuit die twee pakhuise uitgaan.
Heeljaarproduksie in die Sandveld bring egter uitdagings. Die sanderige grond, sterk wind en veranderende klimaat stel die gewas gereeld op die proef. Veral die sogenaamde vaalwind van die see se kant kan jong plante beskadig, hoewel die kusklimaat dit ook moontlik maak om gedurende die warm somermaande goeie gehalte aartappels te produseer.




Aanpas voordat die probleem kom
SW se antwoord is om vroeg op te tree. Dekgewasse word gevestig om jong aartappelplante teen die Sandveld se sterk wind te beskerm, terwyl weervoorspellings en spilpunte help om hitte en grondvog te bestuur.
Hoewel sy besproeiing via sy selfoon beheer kan word, vertrou SW nie net op tegnologie nie. Hy wil self in die land wees en die grond ondersoek. Tegnologie moet die boer beter laat boer, nie verder van sy land verwyder nie.
Tegnologie met ’n doel
Outomatisering van besproeiing help om arbeid en brandstofverbruik te verminder, terwyl moderne spuittegnologie, sorteringstelsels en verpakkingsmetodes die produk doeltreffender deur die ketting laat beweeg.
Hommeltuie word gebruik om probleme en moontlike siektekolle vinnig te identifiseer. Tog is SW duidelik dat elke nuwe ontwikkeling nie noodwendig ’n verbetering is nie. Die waarde lê in hoe ’n produsent tegnologie toepas.
“Duim op die pols,” is hoe hy dit opsom.
Vir SW is presisieboerdery nie bloot die gebruik van meer tegnologie nie. Dit gaan daaroor om die regte ding op die regte plek en tyd te doen. ’n Mens kan soveel outomatiseer as wat jy wil, maar as jy nie meer weet wat in jou aartappelland gebeur nie, verloor jy ’n belangrike deel van boerdery.
Die mark begin reeds op die plaas
Nog ’n belangrike deel van Sandveld Aartappels se sukses lê in SW se begrip van die mark. Toe hy vroeg in sy loopbaan ’n ekstra inkomste nodig gehad het, het hy self begin om aartappels te verkoop. Só het hy geleer om nie net soos ’n produsent nie, maar ook soos ’n koper te dink: Wat wil die mark hê en wat verwag die persoon wat uiteindelik die sakkie van die rak afhaal?
Dit het ’n kernonderdeel van sy boerderymodel geword. Die verpakkingsaanlegte maak verskillende groottes en formate moontlik, van groter sakke tot kleiner prepacks vir die kleinhandel. Die aartappels word gewas en gesorteer om aan streng standaarde te voldoen.
Sandveld Aartappels produseer dus nie bloot ’n kommoditeit en laat die bemarking daarvan aan iemand anders oor nie. Die onderneming dink van die begin af oor die eindproduk en die mark waarvoor dit bestem is.
Dié markgerigte benadering sluit aan by die maatstawwe waarvolgens die nasionale toekenning beoordeel word. Bemarking en markkennis, die doeltreffende gebruik van hulpbronne, volhoubaarheid, risikobestuur en goeie finansiële bestuur vorm deel van die breër prentjie. Aartappels SA het ná SW se oorwinning veral leierskap, innovasie, veerkragtigheid en uitnemendheid uitgelig.
’n Span agter die titel
SW maak geen geheim daarvan dat Sandveld Aartappels nie ’n eenmanvertoning is nie. Hy gee erkenning aan die bestuurspan wat reeds jare saam met hom werk en gehelp het om die onderneming te bou. Op dae wanneer hy nie self by elke land kan uitkom nie, is dié vertroue noodsaaklik. Dieselfde geld vir die mense in die pakhuise en op die plaas, waar elke skakel in die ketting sy deel moet doen.
Vir SW strek dié denke verder as vandag se oes. Hy glo ’n mens bou nie net vir jouself nie, maar ook vir die volgende geslag. Sy hoop is om die boerdery só te ontwikkel dat sy seun dit eendag kan oorneem.
Steeds met sy voete in die land
Die beste verduideliking vir SW se sukses lê dalk in die balans wat hy handhaaf. Aan die een kant is daar selfoonbeheer, hommeltuie en moderne tegnologie. Aan die ander kant is daar steeds ’n boer wat self wil weet wat in die grond gebeur. Dit is nie óf tegnologie óf die ou manier nie. By Sandveld Aartappels werk die twee saam.
Sy filosofie bly eenvoudig: Die beste kunsmis is jou voetspore in die land.

