Agri Biz People, Agri-entrepeneur, farmers, News
Leave a comment

Koring se toekoms vra beter risikobestuur

Ernstige reëntekorte knou die Swartland se koringoes en sommige produsente meen dat ’n beduidende deel van hul oespotensiaal reeds verlore is. Graan SA waarsku dat produsente nie langer alleen die toenemende klimaat- en produksierisiko kan dra nie en vra dat bekostigbare oesversekering ’n nasionale landbouprioriteit word.

Graan SA het ernstige kommer uitgespreek oor die versleg-tende toestande in die Swartland, waar graanprodusente nóg ’n uiters moeilike produksieseisoen beleef. Sommige produsente beraam dat 25% tot 30% van hul oespotensiaal reeds verlore kan wees, bo en behalwe ’n afname in hektare wat aangeplant is.Opvolgreën is dringend nodig.

Dit is ook wat produsente tydens Grond tot Mond se onlangse besoek aan die Eendekuil-omgewing beklemtoon het.

Op Ruigtevlei, aan die voet van die Piekenierskloofberge, het Cassie Rossouw gesê die graan het op daardie stadium nog goed vertoon, maar dat die situasie vinnig kritiek raak.

“Die graan lyk op die oomblik nog goed en die are in die koringlande is gesond, maar opvolgreën is nou noodsaaklik om te verseker dat die are nog groei en die korrels reg vorm,” sê Rossouw.

Volgens Graan SA ontbloot die huidige situasie egter ’n groter probleem: Suid-Afrikaanse graanprodusente dra toenemend klimaat- en produksierisiko wat ekonomies nie meer alleen geabsorbeer kan word nie.

“Die Swartland-produsente is in die moeilikheid. Dit gaan nie bloot oor een droë tydperk of een moeilike seisoen nie. Marges is reeds oor etlike jare uitgekalwe, produksierisiko’s neem toe en produsente het baie min finansiële buffer oor wanneer die reën wegbly,” sê Graan SA se uitvoerende hoof, dr. Tobias Doyer.

’n Seisoen wat dramaties verander het

Die Swartland het die 2026-produksieseisoen met bemoedigende reënval begin. Streeksdata wat deur Overberg Agri verskaf is, toon dat ongeveer 176 mm reën gedurende April en Mei aangeteken is, teenoor ’n tienjaargemiddeld van ongeveer 66 mm.

Produsente het geplant, kunsmis toegedien en beduidende produksie-uitgawes aangegaan. Daarna het die toestande dramaties verander.

Van Junie tot Augustus is slegs ongeveer 43 mm reën aangeteken, teenoor ’n tienjaargemiddeld van ongeveer 202 mm – byna 79% onder die gemiddelde.

Vir droëlandproduksie is die tydsberekening en verspreiding van reën net so belangrik soos die totale hoeveelheid. Die gebrek aan vog is nou kritiek omdat die koring reeds geblom het en die pitte moet ontwikkel.

Rossouw, wat sedert 1989 in die gebied boer, meen die reënpatroon het ook verander. Waar die optimale saaityd vroeër vanaf Paasnaweek tot in Mei gestrek het, het betekenisvolle reën die afgelope paar jaar al hoe later gekom.

In droë toestande begin syhalms afsterf, wat beteken dat minder are uiteindelik tot die opbrengs bydra.

“Die koring moet nou pitte vorm omdat dit klaar geblom het, maar vog is daarvoor nodig,” verduidelik Rossouw.

Die warm, droë noordoostewind kan die situasie verder vererger en koring binne enkele dae uitdroog, juis gedurende Augustus en September wanneer die are ontwikkel.

Teen dié tyd is die grootste deel van die produksiekoste reeds aangegaan. Saad, kunsmis, diesel, arbeid, finansiering en gewasbeskerming kan nie verhaal word wanneer die reën wegbly nie.

Al minder ruimte om verliese te absorbeer

Terselfdertyd krimp die finansiële marge waarmee hierdie risiko gedra kan word.

Plaasvlaksyfers wat deur ’n Swartland-produsent aan Graan SA verskaf is, toon dat direkte insetkoste tussen 2016 en 2026 met ongeveer 65% toegeneem het, terwyl die geraamde plaashekprys van koring met slegs ongeveer 36% gestyg het. Dit sluit nie die volle styging in masjinerie-, onderhouds-, arbeids-, finansierings- en kapitaalkoste in nie.

Vir Rossouw is die risiko van swak reënjare allesbehalwe teoreties.

“In my tyd is ons al deur drie siklusse. In die drie jaar agtermekaar, 2003, 2004 en 2005, is ons basies onderdeur in terme van die reën. Dan moet jy die vierde jaar weer die moed hê om voor te begin en weer te saai.”

In 2017 het hulle volgens hom net sowat 100 kg geoes – “omtrent net saad wat ons teruggeoes het”.

“As jy net terugkry wat jy ingesit het, is almal mos tevrede. Jou skuld is betaal en jy het nog ’n jaar gelewe, maar as jy ingesit het en niks of baie min terugkry, is dit wanneer die moeilikheid begin,” sê Rossouw.

Produsente het oor jare met bewaringslandbou, verbeterde grondgesondheid, beter watergebruiksdoeltreffendheid en nuwe genetika op hierdie druk gereageer. Deur SACTA het produsente ongeveer R986 miljoen tot teling en tegnologie bygedra, wat tot die vrystelling van 231 nuwe variëteite, waaronder 66 koringvariëteite, gelei het.

Daar is egter ’n beperking op wat beter boerderypraktyke kan bereik. Produsente kan water beter bestuur. Hulle kan nie reën vervaardig nie.

Oesversekering moet prioriteit word

Graan SA meen bekostigbare en betekenisvolle oesversekering moet ’n nasionale landbouprioriteit word.

Landbouversekeringsprodukte bestaan reeds, maar betekenisvolle multirisiko- of opbrengsgebaseerde dekking bly vir baie droëlandprodusente met klein marges onbekostigbaar of ontoeganklik.

Vooruitgang in weerstasies, satellietinligting en grondvogmonitering maak meer gesofistikeerde risikoprodukte moontlik. Wat volgens Graan SA ontbreek, is die skaal en openbare-private ondersteuning om hierdie meganismes bekostigbaar te maak.

“Die regering kan nie voortgaan om klimaatsrisiko bloot as die produsent se probleem te beskou nie,” sê Doyer.

“Wanneer ’n produsent ondergaan, verloor Suid-Afrika nie bloot daardie individuele onderneming nie. Ons verloor produksievermoë, werkgeleenthede, vaardighede, infrastruktuur en uiteindelik ’n groter mate van ons voedselsekerheidsweerbaarheid.”

Graan SA vra nie dat produsente teen normale besigheids-risiko beskerm of ’n wins gewaarborg moet word nie, maar vir ’n vennootskap tussen die regering, produsente, versekeraars en die landbouwaardeketting om te voorkom dat buitengewone klimaatsrisiko lewensvatbare produsente uit produksie dwing.

Diversifikasie word al belangriker

Die druk op graanproduksie is ook sigbaar in hoe produsente hul ondernemings struktureer.

Op Goedemanskraal buite Eendekuil het Avi van Wyk in sy eerste Swartland-seisoen sowat 1 300 ha binne ’n maand geplant. Toe Grond tot Mond hom besoek het, was die reën reeds ’n groot bron van kommer.

“Die gesaaides is kort, die bure s’n is lank, maar ons is in dieselfde moeilikheid,” sê Van Wyk.

Hy ontwikkel terselfdertyd ander inkomstestrome, waaronder sitrus, rooibos, vee en moontlike besproeiingsgewasse.

“Ek wil dit inbring sodat ons nie net ’n koringinkomste het nie. Daar moet konstante inkomste wees, anders wil die somme nie klop nie.”

Dieselfde patroon is op ander plase sigbaar. Op Klipfontein word graan met aartappels, vee, voerpille, rooibos en vervoer gekombineer, terwyl Meerlandsvlei wintergraan, vee, rooibos en ander produkte gebruik om inkomste oor die jaar te versprei.

Suid-Afrika kan nie aanhou om koring-produsente te verloor nie

Die waarskuwing kom terwyl die oppervlakte onder koring-produksie in Suid-Afrika reeds op die laagste vlak in 97 jaar is.

Herhaalde verliese dwing produsente om te heroorweeg waar hulle grond en kapitaal aanwend. In die Swartland kan grond of kapitaal toenemend na vee, alternatiewe gewasse of ander ondernemings verskuif waar die balans tussen risiko en opbrengs gunstiger is.

Rossouw sê dié ekonomiese keuses is reeds op plaasvlak sigbaar.

“Op die oomblik verdien lupiene meer geld as koring. En dis ironies. Jou graan vir dierevoer is duurder as broodkoring vir menslike gebruik.”

Wanneer produsente, masjinerie, infrastruktuur en kundigheid die koringbedryf verlaat, kan dié produksievermoë nie eenvoudig weer aangeskakel word nie.

Navorsing deur BFAP beraam dat Suid-Afrika se koring-waardeketting ongeveer R70 miljard tot R75 miljard tot die ekonomie bydra en sowat 90 000 werkgeleenthede ondersteun. Koringgebaseerde produkte word deur ongeveer 96% van Suid-Afrikaanse huishoudings verbruik.

Markrisiko bly deel van die knyptang

Klimaatsrisiko is boonop nie die enigste druk op plaaslike koringprodusente nie.

Rossouw sê pryse word sterk deur internasionale vraag en aanbod, wêreldvoorrade en invoerpryse bepaal.

“Alles werk deur SAFEX en ons is aan vraag en aanbod, die buiteland se pryse en voorraad op die wêreldmarkte uitgelewer. As daar baie voorraad is en dit goedkoop ingevoer kan word, betaal hulle ons niks meer as daardie pryse nie.”

Van Wyk meen daar moet ook na die prys- en tariefomgewing vir plaaslike koring gekyk word.

“Ons sal moet werk aan die pryse en tariewe wat ons onnodig vir koring betaal en die regering moet daarby ingryp,” sê hy.

Graan SA vra dringende optrede

Graan SA vra vir ’n gekoördineerde reaksie wat onder meer die volgende insluit:

  • bekostigbare indeksgebaseerde en multirisiko-oesversekering vir droëlandprodusente;
  • openbare-private ondersteuning vir oesversekeringspremies;
  • groter gebruik van reënval-, satelliet-, grondvog- en weerstasiedata;
  • ’n responsiewe koringtarief- en regulatoriese omgewing;
  • voortgesette investering in teling, genetika en agronomiese navorsing; en
  • markmeganismes wat doeltreffende prysontdekking moontlik maak.

“Die vraag wat Suid-Afrika eenvoudig moet beantwoord, is: Beskou ons plaaslike koringproduksie as strategies belangrik, en wat is ons bereid om te doen om plaaslike produsente in besigheid te hou?” vra Doyer. Hy waarsku dat optrede nie uitgestel kan word nie.

“Suid-Afrikaanse koringprodusente vra nie om sonder risiko te boer nie. Maar daar kan nie van hulle verwag word om ’n toenemende kombinasie van klimaat-, produksie- en markrisiko alleen te dra nie.

“As ons wag totdat produsente reeds die bedryf verlaat het, sal dit veel moeiliker en baie duurder wees om daardie produksievermoë te herbou as om dit nou te beskerm.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *