Agri Biz People, Agri-entrepeneur, Events, farmers, News
Leave a comment

SABI vier 50 jaar met ’n oog op die volgende era van besproeiing

Van kunsmatige intelligensie en sonkrag tot grondgesondheid, geopolitiek en veranderende waterwetgewing. SABI se 2026-kongres het gewys dat die volgende era van besproeiing oor veel meer as die doeltreffende toediening van water gaan.

Van kunsmatige intelligensie en sonkrag tot grondgesondheid, geopolitiek en veranderende waterwetgewing. SABI se 2026-kongres het gewys dat die volgende era van besproeiing oor veel meer as die doeltreffende toediening van water gaan.

Vyftig jaar gelede was die wêreld van besproeiing ’n heel ander plek. Ontwerpe is met tabelle, grafieke en nomogramme gedoen en tegnologie wat vandag outomaties grondvog meet, pompe beheer en data ontleed, sou soos wetenskapsfiksie geklink het.

Tog het een ding nie verander nie: water bly die spil waarom groot dele van Suid-Afrika se landbou draai.

Die Suid-Afrikaanse Besproeiingsinstituut (SABI) het sy 50ste bestaansjaar in Augustus gevier met ’n kongres wat nie net teruggekyk het nie, maar veral gevra het wat oor die volgende 50 jaar van die bedryf verwag gaan word.

Die boodskap was duidelik: besproeiing kan nie meer in isolasie bestuur word nie. Water, energie, grond, tegnologie, markte, klimaat en wetgewing het deel van dieselfde stelsel geword.

SABI-president dr Ashiel Jumman het dit reeds in sy opening beklemtoon. Die besproeiingsbedryf gaan wel oor pype, pompe, kleppe en sproeiers, maar die uiteindelike uitkoms is veel groter: voedselsekerheid, werkskepping en ekonomiese ontwikkeling.

VYFTIG JAAR SE KENNIS

Isobel van der Stoep se terugblik op die ontwikkeling van besproeiingsontwerp in Suid-Afrika het gewys hoe ver die bedryf gekom het.

SABI is in 1976 gestig, maar die fondamente is vroeër gelê.

Namate landbou geëlektrifiseer is, nuwe pypmateriale beskikbaar geraak het en waterinfrastruktuur ontwikkel is, het die behoefte aan opleiding en eenvormige ontwerpstandaarde gegroei.

Opleiding het ’n belangrike rol in die ontstaan van dié norme gespeel. As mense opgelei word om besproeiingstelsels te ontwerp, moet daar immers ’n gemeenskaplike standaard wees waarvolgens ’n goeie ontwerp beoordeel kan word.

Vandag is die uitdaging om dié kennis verder aan te pas vir hernubare energie, digitale beheer en toenemend gesofistikeerde boerderystelsels.

DIE REËLS VAN BOERDERY HET VERANDER

Chris du Toit het moderne landbou vanuit ’n sakeoogpunt benader.

Twintig jaar gelede was die uitdaging hoofsaaklik om meer doeltreffend te produseer. Vandag moet dieselfde produsent terselfdertyd klimaat, water, energie, mense, tegnologie, markte en kapitaal bestuur.

Die volgende mededingende voordeel gaan daarom volgens hom nie noodwendig die nuutste tegnologie wees nie. Tegnologie kan gekoop word. Die groter voordeel gaan lê in die gehalte van die besluite wat ’n onderneming neem.

’n Besluit oor besproeiing is immers nie bloot ’n waterbesluit nie. Dit beïnvloed energiegebruik, arbeid, siektedruk, vruggehalte, oestyd en kontantvloei.

Johann Kotzé van Agri SA het dié gedagte verder uitgebrei deur landbou binne die groter geopolitieke stelsel te plaas. Tariewe, oorloë, handelspolitiek, energie, logistiek en dieresiek-tes beweeg uiteindelik tot op plaasvlak.

Werner van Rooyen van die Fresh Produce Exporters’ Forum het daarop gewys dat sowat 66% van Suid-Afrika se varsprodukte-uitvoer na net drie hoofmarkgroepe gaan: die Europese Unie, die Verenigde Koninkryk en Asië. Markdiversifikasie word dus al hoe belangriker.

Sedert 2021 is sewe nuwe markte vir Suid-Afrikaanse varsprodukte oopgemaak en nege vrugsoorte het toegang tot Asiatiese markte gekry.

Vir besproeiingsboere is dit nie bloot ’n handelskwessie nie. ’n Veranderende mark kan bepaal watter kultivar geplant word, watter gehalte verlang word en uiteindelik hoe water bestuur moet word.

VAN PRESISIE NA INTELLIGENSIE

Toekomskundige Ray de Villiers het gewys hoe kunsmatige intelligensie die volgende groot sprong in landbou kan bring.

Dink aan ’n plaas waar sensors voortdurend inligting oor grondvog, weer, plante en watervloei versamel. KI kan dié data ontleed en uiteindelik self besluit wanneer kleppe oop- of toegemaak moet word, hoeveel water toegedien word en waar aanpassings nodig is.

Sogenaamde agentiese KI kan toenemend binne voorafbepaalde doelwitte self optree, aanpas en uit resultate leer.

Maar De Villiers se boodskap was nie dat die mens uit die boerdery gehaal moet word nie. Hoe kragtiger tegnologie word, hoe belangriker word menslike oordeel.

’n Stelsel kan baie doeltreffend wees om water te pomp, maar steeds ’n waterbron oorbenut. Die vraag is dus nie bloot of tegnologie iets kan doen nie, maar wat die gevolge daarvan gaan wees.

Die slim plaas van die toekoms is volgens hom nie dié met die minste menslike betrokkenheid nie, maar dié met die regte menslike betrokkenheid.

BESPROEI DIE WORTELSONE, NIE DIE KALENDER NIE

Enzo Jansen van Rensburg het die gesprek terug grond toe gebring.

Sy vertrekpunt was eenvoudig: besproeiing begin onder die grondoppervlak. Produsente moet die wortelsone besproei en hul grond verstaan voordat water toegedien word.

Grondverdigting is een van die probleme wat hy gereeld in sukkelende boorde aantref, selfs in sandgrond.

’n Verdigte laag kan veroorsaak dat water en wortels nie die verwagte diepte bereik nie. Om dan bloot langer te besproei, los nie die probleem op nie. Water kan sywaarts versprei, suurstof uit die wortelsone verdryf en wortelafsterwing veroorsaak.

“Die uiteindelike uitkoms is veel groter: voedselsekerheid, werkskepping en ekonomiese ontwikkeling.”

Hy beveel daarom gedetailleerde grondklassifikasie aan. Wanneer gronddata met opbrengs, onderstamme en kultivars gekombineer word, kan produsente sien watter kombinasies op bepaalde gronde die beste presteer.

Die beginsel bly eenvoudig: verstaan eers die grond en besluit dan hoeveel water die plant werklik nodig het.

SONKRAG VRA BETER ONTWERP

Hannes van Niekerk het daarop gewys dat ’n paar sonpanele nie outomaties ’n doeltreffende besproeiingstelsel skep nie.

Die pomp, motor, veranderlikespoedaandrywing, pypdiameters, kabels, werksdruk en beskikbare sonenergie moet as een stelsel ontwerp word.

In een voorbeeld het die korrekte kombinasie van pomp en motor ’n stelseldoeltreffendheid van sowat 82% gelewer. Met ’n minder doeltreffende kombinasie het dit tot 64,4% gedaal.

Daardie verskil word jaar ná jaar in energieverbruik en bedryfskoste betaal.

Sonkrag moet daarom verkieslik reeds deel van die oorspronklike ontwerpdenke wees, eerder as om later bloot by ’n bestaande stelsel gevoeg te word.

WATERWET KAN DIE REËLS VERANDER

Annelize Crosby van Agbiz het die voorgestelde wysigings aan die Nasionale Waterwet bespreek.

Die huidige wet dateer uit 1998 en die nuwe wetsontwerp stel omvangryke veranderinge voor. Volgens Crosby bevat dit positiewe elemente, waaronder sterker omgewingsbeskerming, maar ook bepalings wat ernstige gevolge vir bestaande besproeiingsondernemings kan hê.

Die belang van besproeiingslandbou moet juis in dié debat in gedagte gehou word.

Een van die voorgestelde veranderings is ’n sogenaamde “gebruik dit of verloor dit”-beginsel. Waar ’n bestaande wettige watergebruik of lisensie nie ten volle benut word nie, kan ’n gedeelte daarvan moontlik terugval na die staat om weer toegeken te word.

Die wetsontwerp stel ook beperkings op die oordrag van watergebruiksregte teen vergoeding voor en kan bestaande wettige watergebruike wat nog nie na lisensies omgeskakel is nie, raak.

Vir ’n sektor waar boorde, wingerde, pompe en besproeiingsinfrastruktuur miljoene rande se langtermynbelegging verteenwoordig, raak onsekerheid oor waterregte ook toekomstige investering.

Crosby het terselfdertyd erken dat billiker toegang tot water nodig is. Die uitdaging is om transformasie moontlik te maak sonder om bestaande produksievermoë en voedselsekerheid onbedoeld te ondermyn.

WAT TOPPRODUSENTE ANDERS DOEN

Marco Botha, aanbieder van Megaboere, het praktiese voorbeelde van vooraanstaande Suid-Afrikaanse boere gedeel.

Een melkprodusent wat voorheen kilometers moes stap om weidings self te monitor, gebruik nou satellietdata om onder meer besproeiing, bemesting en weidingsrotasie te bestuur. Die tegnologie gee hom tyd terug om op ander dele van die onderneming te fokus.

“Die uitdaging is om transformasie moontlik te maak sonder om bestaande produksievermoë en voedselsekerheid onbedoeld te ondermyn.”

By ’n ander onderneming word KI gebruik om ’n foto van ’n vrugtebak te ontleed. Binne nege minute kan ’n verslag oor grootte- en gehalteverspreiding beskikbaar wees wat volgens die onderneming sowat 99% akkuraat was toe dit met handsortering vergelyk is.

Maar die patroon onder topprodusente gaan verder as tegnologie. Hulle neem berekende risiko’s, gebruik optimalisering om tyd terug te koop en probeer groter beheer kry oor dele van die waardeketting waar hulle wel ’n invloed kan uitoefen.

Hulle dink ook lank vooruit oor opvolging. Familie is belangrik, maar bevoegdheid bly die maatstaf. Die volgende geslag kry verantwoordelikheid en kennis word doelbewus oorgedra.

Dit was ’n gepaste boodskap vir ’n organisasie wat self sy 50ste bestaansjaar gevier het.

SABI se kongres het gewys hoe dramaties die gereedskap van landbou verander het, maar die kernvraag bly dieselfde: Hoe gebruik ons ’n beperkte hulpbron beter om volhoubaar voedsel te produseer?

Die antwoord oor die volgende 50 jaar gaan waarskynlik KI, sensors, sonkrag, nuwe ontwerpstandaarde en beter data insluit. Maar dit gaan net soveel afhang van grondkennis, goeie oordeel, samewerking en verantwoordelike waterbestuur.

Want hoe slim die tegnologie ook raak, water bly beperk en die verantwoordelikheid om dit goed te gebruik, bly uiteindelik menslik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *