News
Leave a comment

FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 vier 20 jaar van groei en ’n uitsonderlike 2025-oesjaar

Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc het die afgelope twee dekades merkwaardig ontwikkel en word toenemend erken vir sy gehalte, uiteenlopende wynstyle en premium aanslag. Die 20ste FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie vier dié vooruitgang en bring hulde aan ’n uitdagende 2025-oesjaar met uitsonderlike resultate. Die tien bekroonde wyne – nege uit die 2025-oesjaar en een uit 2026 – beklemtoon die kultivar se veelsydigheid en die kenmerkende karakter van die verskillende verbouingstreke.

Die tien wenners van die 2026 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10. (Foto: Bruce Tuck Photography)

Sauvignon Blanc Suid-Afrika het die tien wenners op Woensdag 14 Oktober by Weltevreden Wynlandgoed op Stellenbosch aangekondig. Die tuinviering het wyn, kuns en musiek saamgebring. Seremoniemeesters Ryan O’Connor en Success Lekabe het ‘n beeldhouwerk-soektog aangebied, waartydens die Top 10 uit die 20 finaliste bekend gemaak is.

Die 2026-kompetisie het 159 inskrywings van 95 produsente gelok, met wyne uit vier oesjare. Dit is steeds Suid-Afrika se enigste kompetisie wat uitsluitlik op Sauvignon Blanc fokus. Vanjaar se Top 10 bestaan uit ses gehoute en vier ongehoute wyne, wat die verskeidenheid style weerspieël waarmee wynmakers eksperimenteer. Kaapstad en Elgin is besonder goed verteenwoordig.

Die 2026 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10, in alfabetiese volgorde:

• Carmen Stevens Sauvignon Blanc 2025 (gehout) – Cape Town, Coastal Region
• De Grendel Koetshuis Sauvignon Blanc 2025 (gehout) – Cape West Coast, Coastal Region
• Groot Phesantekraal Marizanne 2025 (gehout) – Cape Town, Coastal Region
• Iona Elgin Highlands Sauvignon Blanc 2026 (ongehout) – Elgin, Cape South Coast
• La Motte Pierneef Sauvignon Blanc 2025 (gehout) – Cape South Coast
• Lomond Seven Rows Ben Nevis Sauvignon Blanc 2025 (gehout) – Cape Agulhas, Cape South Coast
• Quoin Rock Nicobar Sauvignon Blanc 2025 (gehout) – Western Cape
• Steenberg Black Swan 2025 (ongehout) – Constantia, Coastal Region
• Tokara Reserve Collection Sauvignon Blanc 2025 (ongehout) – Elgin, Cape South Coast
• Wildeberg Terroirs Sauvignon Blanc 2025 (ongehout) – Stellenbosch, Coastal Region

Sauvignon Blanc Suid-Afrika, FNB en EVER Solutions het die wenners van die 2026 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 op 14 Oktober by Weltevreden Wynlandgoed op Stellenbosch aangekondig. Agter van links is Success Lekabe (seremoniemeester), Schalk Opperman (Quoin Rock), JD Rossouw (Wildeberg), Stephan Claassen (FNB), Stuart Botha (Tokara), Brent Claassens (Ever Solutions), Jean Nel (Iona), Edwin Grace (La Motte), Ryan O’Connor (seremoniemeester), Richard Schroeder (Groot Phesantekraal) en Bennie Hamman (Ever Solutions). Voor van links is Thabile Cele (Steenberg), Carmen Stevens (Carmen Stevens), Anné van Heerden (Lomond), Nicole Camara (De Grendel) en Elunda Basson (Sauvignon Blanc SA Voorsitter). (Foto: A Gorman Photography).

“Die teenwoordigheid van houtverouderde wyne naas vars, ongehoute style wys dat Suid-Afrikaanse produsente nie by een vaste resep hou nie,” sê dr. Carien Coetzee, wynkundige en sameroeper van die 2026-beoordelaarspaneel. “Wynmakers ondersoek nuwe moontlikhede wat tekstuur en kompleksiteit betref, sonder om die lewendige karakter te verloor wat Sauvignon Blanc so aantreklik maak. Al verskil die style, word hierdie wyne gekenmerk deur presisie, duidelike kultivarkarakter en ’n sterk gevoel van oorsprong. Saam bevestig hulle wat baie van ons vermoed het: 2025 was ’n uitsonderlike jaar vir Sauvignon Blanc in Suid-Afrika.”

Dr. Coetzee het ’n paneel kundiges gelei wat bestaan het uit dr. Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en internasionale beoordelaar; Anton Swarts, Kaapse Wynmeester, verkrygingsbestuurder en senior wynmaker by Spier Wynlandgoed; Morgan Steyn, wynmaker by De Grendel Wynlandgoed en lid van die Sauvignon Blanc SA-komitee; Johann Fourie, keldermeester by Benguela Cove Lagoon Wynlandgoed; en die Cape Winemakers Guild-protégés Reneilwe Senosha en Marché Hendricks, wat as gasbeoordelaars opgetree het.

20 JAAR VAN GROEI VIR SUID-AFRIKAANSE SAUVIGNON BLANC

“Die 20ste FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 is ’n geleentheid om te erken hoeveel Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc as ‘n kategorie oor die afgelope twee dekades gevorder het,” sê Elunda Basson, Voorsitter van Sauvignon Blanc SA. “Die kompetisie het produsente deur die jare gehelp om hul wyne ten toon te stel, nuwe moontlikhede te verken en groter erkenning vir die gehalte en verskeidenheid van ons kultivar te verwerf. Namate produsente hul vakmanskap verfyn en nuwe stilistiese grense verskuif, verruim ons ook die beeld van wát Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc kan wees.

“Hierdie mylpaal is te danke aan die produsente wat aanhou om die standaard te verhoog, asook ons vennote, wie se steun ons help om in die beeld en toekoms van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc te belê. Ons bedank graag ons titelvennoot, FNB, ons platinumvennoot, EVER Solutions, en al ons ander vennote. Ons sien uit na die volgende twintig jaar se ontdekkings, verskeidenheid en uitsonderlike gehalte.”

Stephan Claassen, FNB Besigheid se provinsiale hoof vir die Wes- en Oos-Kaap, het die wenners geluk gewens en die waarde van langtermyn samewerking tussen die sakewêreld en landbou beklemtoon.

“Ons vennootskap met Sauvignon Blanc SA weerspieël die afgelope 20 jaar ’n gedeelde verbintenis tot vernuwing, uitnemendheid en volhoubaarheid in een van Suid-Afrika se mees dinamiese bedrywe, wat ook wêreldwyd erkenning geniet. Die wynbedryf bly ontwikkel en skep groei geleenthede terwyl dit by veranderende verbruikersverwagtinge aanpas en nuwe moontlikhede aangryp.

“Die uitsonderlike gehalte van ons Sauvignon Blanc versterk Suid-Afrika se posisie in internasionale markte en lok besoekers na ons wynlande. Deur inisiatiewe soos die Top 10 is ons trots om ’n bedryf te ondersteun wat landelike ontwikkeling, werkskepping en ekonomiese groei deur die hele waardeketting bevorder. Namate die kategorie groei en al hoe meer op die premium mark fokus, bly FNB verbind tot die ondersteuning van vernuwing en sukses in die bedryf.”

PROE, KOOP EN LEES MEER

Kyk uit vir die Top 10-wyne met die kenmerkende blaarvormige kultivar-logo op hul etikette.

Die 2026 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-versameling is aanlyn by https://www.getwine.co.za/ en by Wine Stellenbosch TOPS en Kwikspar Somerset West @Lion’s Square beskikbaar. ’n Boekie met proenotas oor die bekroonde wyne en die Sauvignon Blanc-aromawiel kan gratis by https://sauvignonblanc.com/ afgelaai word.

Die koffietafelboek The Story of South African Sauvignon Blanc is ook op dié webwerf beskikbaar teen R350, plus afleweringskoste.

SAUVIGNON BLANC SA-SEMINAAR EN AJV IN NOVEMBER

Sauvignon Blanc SA se jaarlikse Seminaar en Algemene Jaarvergadering vind op Woensdag 11 November 2026 by Hazendal Wynlandgoed plaas. Besoek https://sauvignonblanc.com/ vir meer inligting, of kontak admin@sauvignonblanc.com of 082 808 1114.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *