Die sluiting van Premier se inmaakfabriek op Tulbagh laat inmaakvrugteprodusente met groot finansiële onsekerheid, terwyl die oesseisoen reeds aan die gang is. Volgens landbou-organisasies skiet die maatskappy se skikkingsaanbod vir gekontrakteerde perskes na raming R32 500 per hektaar tekort om produksiekoste te dek wat reeds aangegaan is.

AgriSA, Agri Wes-Kaap en die Inmaakvrugteprodusentevereniging (CFPA) doen ’n beroep op Premier om die geaffekteerde produsente se gekontrakteerde inmaakvrugte vir hierdie seisoen te ontvang en daarvoor te betaal, sonder dat produsente hul regte ingevolge bestaande leweringsooreenkomste prysgee.
Premier sê hy het reeds ooreenkomste met 82 boere bereik wat meer as 20 000 ton perskes en betalings van R67 miljoen dek. Volgens die landbou-organisasies bied die voorgestelde kontantskikking egter nie voldoende vergoeding vir produksiekoste wat reeds aangegaan is nie.
Die aanbod van R3 250 per ton kom neer op R123 500 per hektaar, bereken teen die bedryf se maatstafopbrengs van 38 ton per hektaar. Produsente raam dat hulle reeds sowat 70% van hul jaarlikse produksiekoste aangegaan het. Volgens die bedryf se maatstafkoste beloop dié uitgawes ongeveer R156 000 per hektaar.
Dit laat produsente met ’n geraamde tekort van R32 500 per hektaar.
Oestyd verhoog die druk
Intussen is die oesseisoen reeds aan die gang en sommige produsente meld dat appelkose tot twee weke vroeër as gewoonlik ryp word.
Die plukseisoen het op 9 November in Calitzdorp begin, terwyl die eerste lewerings in die Robertson-omgewing agt dae vroeër as verlede jaar plaasgevind het.
Geaffekteerde produsente het aangedui dat hulle met die aanvang van die oes steeds op individuele skriftelike ooreenkomste gewag het.
“Dit neem jare om die beleggings in boorde te verhaal. Sodra die vrugte ryp is, het produsente slegs enkele dae om dit te oes en te lewer,” sê Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA.
Die tydsdruk plaas produsente in ’n moeilike posisie omdat hulle reeds aansienlike bedrae aan hul boorde bestee het, maar steeds onsekerheid oor die lewering van hul vrugte en die vergoeding daarvoor ervaar.
Kontraktuele regte onder die loep
Volgens die CFPA het Premier se drie voorgestelde opsies vereis dat produsente afstand doen van hul regte en hul eise ingevolge bestaande leweringsooreenkomste finaal skik.
Tydens hofverrigtinge het Premier egter aangebied om die vyf applikante se vrugte te ontvang, te gradeer, te vervoer en daarvoor te betaal, terwyl hul kontraktuele regte behoue bly.
Dié aanbod was onderhewig aan ’n arbitrasieproses en ’n afsonderlike onderneming rakende moontlike verliese.
Die CFPA het versoek dat dieselfde arbitrasieproses na ander geaffekteerde produsente uitgebrei word, maar Premier het die versoek van die hand gewys.
AgriSA, Agri Wes-Kaap en die CFPA dring nou daarop aan dat Premier skriftelike ooreenkomste vir hierdie oesseisoen afhandel, terwyl produsente hul regte behou om die kontraktuele geskil deur arbitrasie te besleg, soos in hul oorspronklike leweringsooreenkomste bepaal.
Die organisasies beklemtoon dat ’n oplossing dringend nodig is omdat die vrugte-oes nie uitgestel kan word terwyl kontraktuele geskille voortduur nie.

