Sewentien opkomende boerderyondernemings in Musina, Limpopo, het vanjaar byna 4 000 t tamaties aan Tiger Brands gelewer vir die vervaardiging van All Gold-tamatiesous. Volgens die maatskappy het die produsente ook 444 permanente en seisoenale werksgeleenthede in hul gemeenskappe geskep.

Die produsente, tien vroue en sewe mans, vorm die tweede groep deelnemers aan Tiger Brands se Hulisani-landbouontwikkelingsprogram, wat opkomende boere help om volhoubare kommersiële ondernemings te vestig.
Die program bied ondersteuning volgens elke onderneming se behoeftes. Dit sluit investering in landbou-infrastruktuur, tegniese leiding en toegang tot Tiger Brands se gevestigde voorsieningsketting in.
Ondersteuning voor planttyd
Ná die eerste groep produsente se sukses in 2025 het Tiger Brands vanjaar reeds voor die plantseisoen ondersteuning aan al 17 ondernemings gebied om produksieprobleme betyds aan te pak en doeltreffendheid te verbeter.
Die toerusting wat verskaf is, sluit chemiese drukspuite vir plaagbeheer en bemestingstenks in wat die toediening van voedingstowwe deur besproeiingstelsels outomatiseer. Dit verminder die tyd en arbeid wat bemesting verg en help om voedingstowwe meer eweredig toe te dien.
Drupbesproeiingslyne is ook voorsien om water doeltreffender te benut en meer eenvormige gewasgroei te bevorder. Sonpanele help produsente om hul afhanklikheid van die elektrisiteitsnetwerk te verminder, energiekoste te beperk en ‘n betroubaarder kragtoevoer vir onder meer besproeiing te verseker.
Volgens Maanda Milubi, Tiger Brands se direkteur vir ondernemings- en verskafferontwikkeling en transformasie, is die doel om boere te help om struikelblokke te oorkom wat hul groei beperk.
“Deur boere toe te rus om doeltreffender en meer volhoubaar te werk, en hulle deur ons voorsieningsketting toegang tot ’n gevestigde mark te gee, skep ons ’n sterker kommersiële grondslag waarop hul ondernemings kan groei,” sê Maanda.

Produsent oortref kontrak met 53%
Een van die suksesverhale is Mudzinginyo, ’n boerderyonderneming onder vroueleierskap in Musina, wat vanjaar 275 t tamaties gelewer het.
Die onderneming se gekontrakteerde volume was 180 t, wat beteken dat sy werklike lewering die teiken met 95 t, oftewel byna 53%, oorskry het.
Die prestasie wys hoe opkomende produsente met die nodige infrastruktuur, tegniese ondersteuning en toegang tot ‘n gevestigde koper hul produksie kan uitbrei.
Meer as 7 274 t in twee jaar
Die eerste groep van tien kleinskaalse produsente het in 2025 reeds meer as 3 000 ton tamaties gelewer en hul verwagte volumes oortref.
Met vanjaar se oes het die 27 boerderyondernemings wat tot dusver deur Hulisani ondersteun is, gesamentlik meer as 7 274 ton plaaslik geproduseerde tamaties aan Tiger Brands gelewer.
Die naam Hulisani kom uit Tshivenda en beteken “groei” of “verbou”.
Tiger Brands sê die langtermyndoelwit is om kommersieel lewensvatbare boerderyondernemings te ontwikkel wat uiteindelik ook buite die program kan groei.
Deur opkomende produsente by sy plaaslike voorsieningsketting in te skakel, wil die maatskappy terselfdertyd binnelandse voedselproduksie versterk, ekonomiese geleenthede op die platteland skep en ’n meer veerkragtige landbouwaardeketting vestig.

