TLU SA Jongboer van die Jaar | Laaste kans vir jongboere om in te skryf
Inskrywings vir TLU SA se Jongboer van die Jaar 2026-kompetisie sluit op 19 Junie en jong produsente regoor Suid-Afrika word nou aangemoedig om van die laaste geleentheid gebruik te maak om deel te word van een van georganiseerde landbou se mees gesogte kompetisies. Die TLU SA Jongboer van die Jaar-kompetisie het oor die jare ’n belangrike platform geword waar jong boere erkenning ontvang vir uitnemende bestuursvernuf, deursettingsvermoë, innovasie en hul bydrae tot voedselsekerheid in Suid-Afrika. Die kompetisie fokus nie slegs op produksie nie, maar op die volledige pakket van moderne boerderybestuur en die vermoë om ’n boerdery volhoubaar en verantwoordelik te bestuur in ’n tyd van toenemende ekonomiese en politieke druk. Vanjaar se kompetisie bied weer indrukwekkende pryse aan deelnemers. Die wenner ontvang gebruik van ’n bakkie vir 12 maande tesame met ’n kontantprys, terwyl die tweede- en derdeplekwenners gebruik van ’n SUV vir drie maande sowel as kontantpryse ontvang. Daarbenewens ontvang finaliste eksklusiewe geskenkpakkette, terwyl ’n tegnologie-borgskap ter waarde van R124 000 ook deel vorm van die pryspakket. “Dit gaan oor visie, beplanning, dissipline, …



