Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont
Gewoonlik ry ek bloot verby. Ek moes seker een of ander tyd by Boschendal gaan wyn proe het, maar die herinnering het vervorm in ‘n vae gevoel van onwilligheid om links óf regs te kyk wanneer ek Pniel verlaat. My aannames was goed wyd van die merk – Boschendal was jare al ‘n voorloper op byna elke landbou-faset.
Jacques du Toit, die uitvoerende plaasbestuurder, trap effens ongemaklik rond voor ons gaan sit om te gesels. Stilsit is dalk nie iets wat hy gereeld doen nie. Om ons loop ‘n sestal massiewe hoenders rond. As ons uiteindelik gaan sit, kom lê ‘n groot grys hen op my voete terwyl haar makkers rondkyk vir krummels kos wat van die deli se tafels afgeval het. Hulle is mak en spekvet – duidelik kry hulle oorgenoeg te eet.
“Three and a half years ago there was good reason not to visit,” lag iemand as ek nie kan help om te vertel hoekom ek so lanklaas kom inloer het nie. Tot onlangs was die ou eienaars van plan om die plaas te ontwikkel. Of die gebied regtig nóg ‘n gholf-ontwikkeling nodig gehad het, is gelukkig met ‘n ferm nee deur plaaslike bewaringsgroepe beantwoord.
VAN ONTWIKKELAARSPLANNE NA BIOLOGIESE BAANBREKERSPLAAS
Jacques laat nie op hom wag as ek vra wat sy rol op hierdie reusagtige 2 000 ha plaas is nie.
“Ek is verantwoordelik vir die hele estate en die landbou – dit sluit in die wingerde, die beeste, die varke … ons het ons hoenders wat pasture raised is, ons het ons eiers en ek het my vrugte-deel. Dan het ons ‘n aparte gedeelte – basies die omgewingsbewaringsgedeelte. Ons het al 500 hektaar se indringer-spesies verwyder. Daardeur het ons die natuurlike strome gekry om weer te begin loop. So 13 jaar gelede was ons damme nooit vol nie en skielik loop ons damme vir drie maande van die jaar oor.”
Christiaan Campbell, die sjef by The Werf, het intussen by ons aangesluit. Hy het spesiaal vir ons kom kosmaak om te wys wat hier gebeur. As ek moes afleidings maak van wat hy by Delaire by die kospotte vermag het, is ons in vir ‘n heerlike ding.
Die indringers waarvan ontslae geraak word, is soos ’n mens kan verwag, grotendeels hakea, wattel- en Port Jackson-bome, maar ek het nie besef dat hulle soveel water gebruik nie.
“Kyk, bloekoms gebruik ook baie water,” verduidelik Jacques. “Ons probeer ‘n balans hou. Ons het ‘n baie groot populasie natuurlike bye op die plaas – en hulle het ek nodig vir my vrugtebestuiwing. Mens kan nie net alle bloekoms uithaal nie. Ons haal wel party uit – hulle vat omtrent 250 liter water elk per dag. Die bloekombome gebruik ons vir hout hier op die plaas … ons het ‘n chipper vir die ander indringerbome; die chips vat ons vrugteboorde toe vir mulch bo-op ons bankies. Net daardeur het ons al ons waterverbruik met 30% gesny.”
Ek besef skielik ons praat hier van groot getalle, nie die enkel- of breukdeel-persentasiepunte nie. “Dis ‘n hele sisteem wat werk van bo af na onder toe. Net deur dit te doen het dit moontlik geword om baie uit te brei. Die vrugtebesigheid behels so amper 250 hektaar vandag; pruime is so 180 hektaar.”
Pruime is duidelik Jacques se groot passie. Mens kan sien hoe hy lewe kry as hy van sy bome begin praat. Hy vertel van ‘n nuwe dubbel-paal, sewe drade per kant, opleistelsel (14 drade) wat hy ontwikkel het en waarvoor hy deur Marks & Spencer vir ‘n innovasie-toekenning genomineer is. Nie net is dit nou moontlik om baie meer bome per hektaar aan te plant nie, maar die bome groei laag genoeg dat mens sonder trappe die vrugte kan bykom; en die groei-tempo is verbysterend. Waar selfs goeie boere met gewone opleistelsels 35 tot 40 ton per hektaar oes, bereken Jacques 60 ton vir syne.
Bykans 80% van die werkspan kom deesdae uit plaaslike gemeenskappe. Toe Jacques begin het, was daar 60 mense op die plaas. Op die oomblik is daar meer as 500 werknemers aangestel.
“Die oorspronklike idee was om meer vroue in die boorde te laat werk.
Uit die 70 werkers destyds het ek so ses vroue gehad. Dit was trap op, trap af. Nou kan hulle staan en werk. Uit my 110 mense is 40 nou vroue. By elke hektaar wat jy plant kan jy een permanente werk skep – by wingerd is dit maar een per 25 hektaar. Die landbou het net baie meer sin gemaak met die werkskepping.”
PRUIME, HOENDERS EN NOG WAT
Vir nog ‘n ruk gesels ons oor die eindelose opwindende aspekte van die plaas. Daar’s te veel om te noem – die fietsryroete in die Banhoek en Simonsberg bewaringsgebiede, die plaas se WWF Bewaringskampioenstatus, die sonenergie-kragopwekking wat tans opgegradeer word, die talle blyplekke op die plaas waarvan vele voorheen werkershuise was, die Drill no till-praktyke om grond te bewaar, minimum kosmyle waar soveel moontlik voedselprodukte lokaal geproduseer en verbruik word, die Farming For The Future oudits waar die koolstofspoor van die plaas voortdurend gemeet word, die Excelsior-skoolprojek, die plaas- en geskenkwinkel, die bakkery, die deli, die meubelmaker, die Silvermine Protection Services-sekuriteitsdiens, komposmaak, organiese groente en vleis wat verkoop word, die byekorwe … om nie te praat van Boschendal se bekende wynkelder nie. Dit word as ‘n aparte bedryf deur die drankverspreider DGB bestuur en maak al hoe beter wyne van die plaas se toenemend indrukwekkende druiwe.
Nog iets wat beproef word, is om vrylopende hoenders agter die strip-grazing beeste aan te laat loop. Benewens hulle eie mis, skrop die hoenders die bees-mis oop en versprei dit, wat met die grondkwaliteit help. Hulle eet ook die vlieëlarwes in die mis wat andersins ‘n probleem vir die diere se oë kan word. Khanyile
Jeffrey Siqwayi en Granville Malgas, die manne wat vir die hoenders verantwoordelik is, gebruik oop, mobiele hoenderhokke wat soos ruim woonwaens lyk om sy hoenders te huisves.
“Minder as ‘n halwe persent van ons diere is in die laaste drie jaar behandel vir enige siekte op die plaas,” vertel Jacques.
VAN BERG TOT BERG, ALLES BOSCHENDAL
Dan spring ek in Jacques se bakkie om te gaan kyk waarvan daar gepraat is. Mens besef nie hoe groot die plaas is nie. Amper die hele gebied aan weerskante van die Pniel-pad is Boschendal. Op pad na die Swart-Angus-beeste praat Jacques net pruime. Die getalle is fabelagtig. Kort-kort hoor ek die woord “passie”. Hy vertel van ‘n splinternuwe kersiepruim-kultivar, maar dis net die begin. Bykans 450 000 vrugtebome is reeds op ongeveer 200 hektaar aangeplant en 600 000 in totaal in die vrugteafdeling . Die verspreiders, plaaslik en oorsee, sit reeds en hande vryf vir die vrugte, al is die vruggies, waarvan vele nog uitgedun moet word, nog klein en grasgroen, met die enigste waarborg van uiteindelike volumes vrug en kwaliteit ‘n reeks ingewikkelde berekeninge en vooruitskattings. “Ek is amper bang ek is reg,” sê Jacques.
Telkens buk Jacques af wyl ons loop om die grond onder miskoeke en deklae oop te grawe om te kyk wat daar lewe. Ek besef daar was niks met my reuksintuig fout nie – die grond ruik lewendig, net soos grond geruik het toe ek ‘n kind was.
BLYPLEK TUSSEN DIE EIKE
Matt Stevens, die uitvoerende bestuurder vir die gasvryheidsbedryf op Boschendal, kom sluit vinnig by ons aan om ons die nuwe 340 m2 dubbel-volume Olive Press funksie-lokaal en die amfiteater te wys, maar eers gaan maak ons ‘n draai in Megan McCarthy se groentetuin en die akkerbos waar Jason Carroll se grondbruin, vryweidende Duroc-varke woon.
Min varkplase volg hierdie praktyk. Boschendal se varke kan hulle eie kos gaan soek en uitgrawe en hulle het ook toegang tot ’n magdom voedsame akkers wat daagliks deur die eikebome afgegooi word, net soos die varke van die streke in Spanje waar die hoogste graad Jamón ibérico (Iberiese ham) gemaak word. Die diere is duidelik gelukkig en lyk skoon en gesond. Nie ‘n reukie hang in die lug nie.
Matt is ‘n groot, saggeaarde man, met ‘n handdruk wat voel of dit jou arm sou kon afruk. Ek is glad nie verbaas as ek later hoor hy het voorry gespeel vir Engeland se Saracens en die Leeus nie. Die tuin is nie net mooi en netjies uitgelê nie, maar ek sien ‘n paar groentesoorte waarvan ek nog net gehoor het.
Alles word heeltemal organies bedryf en die plante lyk amper skokkend gesond. Tot die onkruid, hoor ons, beland gereeld in Christiaan se kospotte. The Olive Press is onlangs voltooi; in die lug hang die reuk van vars gesaagde hout en verf nog en ek verkyk my aan die netjiese sederhoutplafon, hoog bokant ons.
The Werf Cottages, ‘n sestal kothuisies wat uitkyk oor die grasperk, lyk na ‘n ideale slaapplek vir bruilofgaste ná ‘n uitgerekte troue. In die agtergrond hoor mens die geluide van die rivier wat verbyvloei. Op pad terug stop ons vinnig by Rainer Raschbichler se slaghuis vir ‘n paar stukkies ryk, goed gemarmerde biltong.
Farm: Boschendal | Owner: Jacques du Toit | Location: Franschhoek , Western Cape, South Africa | Contact: +27 (0) 21 870 4200 | www.boschendal.com