LANDKUNS IN LANDBOU
Nellis Nel van Dealesville het Strijdom van der Merwe gekontrakteer om te help met die rehabilitasie van ’n pan op sy plaas. Die gedagte was om iets daar aan die groei te kry. Ou bande word toe ingespan om ’n ekosisteem binne elke band te vorm. Strijdom het nog altyd belanggestel in energielyne (ley lines) en besluit toe om dit as basis vir die uitleg te gebruik – heel gepas want van die oudste skedels is in die Dealsesvilledistrik ontdek.



Met die grond is daar niks fout nie, dit is die pan se platheid en die wind wat maak dat dit bar bly lê.
Daar moet dus een of ander energie in die landskap wees. Die ontwerp is bloot grafies om in te pas by die vorm van die pan. Nellis het die ontwerp gebruik vir die plasing van die bande wat toe gevul is met grond en gannabossaad wat inheems daar groei. Later is landboukalk op die lyne gegooi met die hoop dat dit sal help dat die saad ontkiem. Ongelukkig het vreeslike droogte gevolg en die grassade het nie ontkiem nie. Maar die veronderstelling is nog steeds dat dit ʼn moontlike oplossing kan wees as die toestande saamspeel en die plante vastrapplek kry, en ander dan volg. Met die grond is daar niks fout nie, dit is die pan se platheid en die wind wat maak dat dit bar bly lê.
HEMELSE TUINBOUKUNDE
DDS Projects in samewerking met Strijdom is by Bartinney in die Banhoekvallei buite Stellenbosch besig met ’n unieke tuinboukundige installasie met die bewaring van plante en biodiversiteit as hooffokus.

ʼn Wingerdblok wat oor 4 706 m² teen die hange van Helshoogtepas strek is omskep in ʼn mities gevleuelde figuur deur die noukeurige hervestiging van fynbos en ander inheemse plante. ʼn Wingerd waar geen masjinerie vir onderhoud gebruik word nie is gevestig en fynbos is die dekgewas.

Die twee gerehabiliteerde fynbosklowe (voorheen bloekombos) aan albei kante van die wingerd verleen ʼn natuurlike vorm en omring die chardonnaywingerd. Die gebruik van inheemse plante en seisoenale veranderinge gee aan hierdie installasie ʼn eiesoortige karakter. Die gevleuelde figuur in Bartinney se embleem was die inspirasie vir die installasie. Dit verwys na die Franse term ‘elevage’ – die kuns om wyn te maak deur die druiwe vry te maak om hul edelste kenmerke te onthul. Die gevleuelde figuur simboliseer ook die plaas se hoogte bo seespieël en die spesifieke wingerd wat 550 m bo seespieël lê.
STRIJDOM VAN DER MERWE
Strijdom studeer aan die US waar hy in 1984 sy honneursgraad in die skonekunste verwerf. Hy werk as grafiese kunstenaar, doseer grafiese kuns en rekenaargrafika. In 1995 bestudeer hy beeldhouwerk in Praag, waarna hy verbonde is aan die Kent Institute of Art and Design in Engeland. Hy werk sedert 1996 voltyds as kunstenaar. Strijdom publiseer wyd, neem deel aan talle uitstallings, is die skepper van installasies en ontvanger van vele toekennings. As landskapskunstenaar gebruik hy gewoonlik die materiaal wat op die bepaalde perseel beskikbaar is en omvorm die elemente in geometriese vorms wat mettertyd sal saam-smelt met die natuurlike omgewing.
Strijdom van der Merwe | info@strijdom.co.za | +27 (0)21 886 6496