Agri Biz People, farmers
comments 2

Aanhouer hou áán!

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

Hy kan beswaarlik ’n tyd in sy lewe onthou wat hy nie gewerk het nie. En aftrede is ’n konsep wat hom duidelik ongemaklik maak. Bianca du Plessis gesels met Azer van Zyl, eienaar van Lumber & Lawn in Paarl, oor ’n loopbaan wat kaartjieverkope by ’n inryteater, die oprigting van die Universiteit Stellenbosch se eerste rekenaargebruiksareas, laewentelbaansatelliete en ten einde laaste, kettingsae insluit. ’n Onwaarskynlike maar uiters suksesvolle keuse vir ’n man wat nie vriende is met ’n moersleutel, tang of skroewedraaier nie.

Azer ontspan graag met ’n goeie boek en die geselskap van sy Siamese kat, Nasser.

VERSKROEIDE AARDE

Azer is ʼn gebore Namibiër wat sy eerste jare op ʼn karakoelskaap-plaas in die Koësdistrik deurgebring het. ʼn Knellende droogte het sy ouers, Piet en Helen, in 1965 gedwing om hul plaas van 16 000 hektaar vir die spreekwoordelike groener weivelde te verruil. Die familie was vir ʼn wyle in Somerset-Wes, tot sy ouers ʼn gedeelte van die plaas Firland buite Gordonsbaai gekoop het. Dit was die dae vóór televisie en videowinkels – die goue era van die inryteater – en Azer se ouers het besluit om Firland Drive-Inn op die plaas te begin. Dalk  ʼn onwaarskynlike keuse vir ʼn skaapboer uit Koës. Maar Azer se storie en dié van sy familie is vol kinkels.

Jy kan lag en sê ‘nou wat is R400?’ Wel, my pa het einde 1973 ʼn 220D Mercedes Benz gekoop vir net onder die R4 000. So, ek kon op 13-jarige ouderdom reeds een tiende van ʼn Mercedes Benz bekostig!

Azer van Zyl

Lumber & Lawn is ʼn verskaffer van kettingsae, bossiekappers en grassnyers wat op die landbousektor toegespits is. “Almal weet my tegniese aanleg is skraal,” lag Azer. Jy hoef hom nie lank te ken nie om te weet dat hy wel goed aangelê is vir werk. Skouer aan die wiel sit, is by hom tweede natuur.

Firland, buite Gordonsbaai, waar Azer se pa aanvanklik geboer het voor hy ’n inryteater daar opgerig het.

SHOW BUSINESS

“Ek moes my pa help om kaartjies by die toegangshekke te verkoop, of my ma met die kasregister in die kafee help. So het my eerste besigheid by die inry begin, synde ek tussendeur motorruite gewas het vir ekstra geld. Toe ek Boys High toe is in 1973 het ek ʼn massiewe R400 in my Boland Bank-spaarrekening gehad. Jy kan lag en sê ‘nou wat is R400?’ Wel, my pa het einde 1973 ʼn 220D Mercedes Benz gekoop vir net onder die R4 000. So, ek kon op 13-jarige ouderdom reeds een tiende van ʼn Mercedes Benz bekostig!” sê hy.

Ná HJS Paarl is Azer Stellenbosch Universiteit toe om ʼn BCom-graadkursus aan te pak, want handel dryf was duidelik in sy bloed. Maar ná vyf jaar in ʼn seunskool was die Stellenbosse nonnetjies ʼn té groot versoeking en sy studies het daarononder gely. Toe is hy weermag toe, waar hy genoeg geld gespaar het om sy graad te voltooi en in 1984 verwerf hy ʼn BEcon.

Azer en Jorina in die liefdeshoekie van hul tuin wat hy spesiaal gebou het na haar aftrede, sodat hulle meer tyd saam kan spandeer.

REKENMEESTER TOT REKENAARMEESTER

Sy loopbaan as rekenmeester is vinnig kortgeknip deur ʼn nuwe gier – rekenaars. Azer bedank as assistent-rekenmeester by Stellenbosch Koöperatiewe Vrugtepakkers om as rekenaarbeampte by Stellenbosch Universiteit se Rekenaarsentrum aan te sluit. Hy was in beheer van die universiteit se eerste PC Lab en later al hul rekenaargebruikareas. Hy’t oorgeskakel na die nuutgestigte Informasie-tegnologie en betrokke geraak by allerlei innoverende stelsels.

In hierdie tyd ontmoet Azer ook sy lewensmaat. Sy ouers het sulke lang ure gewerk, en Sondagmiddagete was die familie se tyd om kontak te behou. Die seuns het ook hul meisies gebring “sodat ma hulle kon deurkyk.” “Toe ek met ʼn Zelda by die huis kom, sê my ma ‘Gods Appie, jy is al deur die alfabet!’ Ek begin toe maar weer van vooraf. Ek’t Jorina kort daarna ontmoet en toe was die koeël deur die kerk,” vertel hy. Die twee is binne ʼn jaar getroud – in  1986.

Die gesellige, groen binnehof van Lumber & Lawn waar werknemers kan ontspan.

DONKER VALLEI

Maar hoe kom ʼn rekenaarwetenskaplike aan die Universiteit van Stellenbosch uit by ʼn suksesvolle onderneming wat kettingsae en bossiekappers in die Paarl verkoop en herstel? Dis ʼn langpadstorie vol slaggate en skerp draaie. Hy verruil die universiteit vir Houwteq, wat eers ʼn filiaal van Krygkor en later van Denel was. Met sy aanstelling by Houwteq onderteken Azer ʼn kontrak van stilswye, maar hy noem wel dat hulle betrokke was by die vervaardiging van laewentelbaansatelliete.

Ons het op brood en melk oorleef met my vrou se onderwysinkomste. Ja, ek weet wat platsak is en ek weet wat werkloos is. Ek weet ook wat dit is om huisvrou/huisman te wees.

Azer van Zyl

Daarna volg die donkerste periode van sy lewe.

Die dag toe hy hoor Houwteq gaan toemaak, word sy jongste kind in die hospitaal opgeneem. “Vir twee weke bly ek langs haar bed. Jorina het eers ná Hestré se ontslag gehoor ek is werkloos. En ons was sonder medies.” Terwyl hy sy kind vir maande lank tuis versorg, probeer Azer twee besighede op die been bring – ʼn nuwe konsep vir mineraalwater wat in Rapport geadverteer was en later geblyk het om ʼn verneukspul te wees, en ʼn tuinafvalverwyderingsdiens. Albei het egter misluk. “Ons het op brood en melk oorleef met my vrou se onderwysinkomste. Ja, ek weet wat platsak is en ek weet wat werkloos is. Ek weet ook wat dit is om huisvrou/huisman te wees,” vertel hy. 

Azer, sy pa Piet (links) en broer Jody (regs), woon almal steeds op die plaas Firland buite Gordonsbaai.

NUWE BEGIN

Toe hy op sy laagste was, nader sy middelste broer Jody hom met die voorstel om ʼn kettingsaagwinkel te begin. Jody was ʼn baie suksesvolle boomkontrakteur wat die leemte vir goeie dienste op kleintoerusting eerstehands ervaar het. Almal het geweet Azer – ʼn selferkende ontwerper van sisteme – is nie ʼn tegniese mens nie. Die familie voorspel die besigheid gaan wankel nes die ander twee ondernemings. Die broers open Paarl Power Products in Mei 1996 en toe begin die jare van 14 tot 18 uur werksdae vir Azer. “Jis, dit was eintlik ʼn nagmerrie,” gee hy nou toe. Maar die besigheid het gegroei. In 1996 was hulle een van twee (die tweede) STIHL spesialishandelaars in die Wes-Kaap. “Nou is ek die oudste!” lag Azer. Die landbousektor was nog altyd sy fokus en STIHL was deurentyd verantwoordelik vir ongeveer 80% van sy omset. “Ons is die grootste verkopers van kettingsae, bossiekappers en die olies vir kettingsae in die omgewing,” sê hy.

Die Lumber & Lawn span van agter, links na regs: Ethan Oliphant, Warren Solomons, Rolando Roux en Clive Castle. Middel links na regs: Cammy Ehrenreich, Danielle September, Azer, sy vrou Jorina en Schalk Pienaar. Staande voor, links na regs: Ronél Olfin, Monique Francke, Jamie Martin, Olivia Adams, Anthony Felaar.

KLIPPE KOU EN UITHOU

Maar dit was nie sonder stampe en stote nie. Rondom 1998 kom ʼn groot terugslag toe STIHL SA besluit hulle is nie tevrede met die maatskappy se betalings nie, en hulle word op KBA (kontant by aflewering) geplaas. Sy broer Jody se besigheid het ook ʼn terugslag ondervind. In die twee en ʼn half jaar wat hulle by STIHL op KBA was, leer Azer om voorraad op JIT (just in time) te hanteer. “Jy hou jou Bic pen styf vas en vervang slegs die refill, so jou werksmense moet hul én jou goed oppas.”

Daar’s nou te veel geld. Dis te maklik bekombaar. Mense koop goedkoop en vervang iets sodra dit breek. Dis my grootste vrees vir die bedryf waarin ek is – dat ons in daardie rigting beweeg.

Azer van Zyl

“Die ouer generasie het hul goed mooi opgepas. My pa is in 1927 gebore en moes in standerd ses uit die skool uit om met Oupa se skaap te trek gedurende die droogte. Hy’t grootgeword tydens die depressie en droogtejare en hy draai elke sent om. Dis nie dat hy suinig is nie, dis net hoe hy grootgeword het,” vertel hy.

“Daar’s nou te veel geld. Dis te maklik bekombaar. Mense koop goedkoop en vervang iets sodra dit breek. Dis my grootste vrees vir die bedryf waarin ek is – dat ons in daardie rigting beweeg. Die werkswinkel is ʼn groot deel van ons besigheid – nie noodwendig ʼn groot bron van inkomste nie – maar met weggooiprodukte gaan die diens wat die werkswinkel bied, wegval. Gelukkig is STIHL ʼn unieke reeks wat nie sommer by goedkoop kettingwinkels beskikbaar is nie. Onderdele word onderhou met die doel om herstel te word.” Lumber & Lawn se leuse is nie verniet: “We service what we sell”.

Leerling-tegnikus, Warren Solomons, maak die ketting van ’n kettingsaag skerp met ‘n STIHL-slypmasjien.

In 2003 het Jody en Azer ‘n groot uitval gehad en die ouditeure het hulle besighede geskei. Azer het die leisels oorgeneem van wat op daardie stadium reeds bekend gestaan het as Lumber & Lawn en Jody het met The Lumber & Plant Co. voortgegaan. “Ons is beste vriende maar ons kon nie saamwerk nie,” verduidelik Azer, wat sedert 1992 weer op die familieplaas Firland buite Gordonsbaai woon. Sy 92-jarige pa en Jody woon ook op Firland. “Ek en Jody ontmoet elke Saterdag- en Sondagoggend van ses tot half nege om koffie te drink en dan gesels ons oor alles, van besigheidskonsepte tot kosresepte.”

BEMARK TEEN RESESSIE

Alhoewel bemarking een van sy universiteitsvakke was, het Azer dit nooit in sy loopbaan gebruik nie. Totdat die resessie in 2009 getref het. “Alles het gedaal. Verkope, alles. Ons moes besluit óf ons adverteer, óf ons spaar geld teen die resessie.” Toe besluit Azer om met mening te begin adverteer.” In 2011 besef die ander STIHL-dienshandelaars dat Lumber & Lawn geweldig goed doen met hul advertensieveldtog en aangesien Azer reeds die streeksverteenwoordiger vir die Wes-Kaap was, nader hulle hom om hulp. STIHL raak later ook betrokke en deesdae word advertensies op nasionale vlak namens die verskillende streke in verskeie Afrikaanse en Engelse koerante geplaas.

SPANWERK

Die Lumber & Lawn-span bestaan uit 14 voltydse werkers, ses tot agt kontrakwerkers en studente wat praktiese ondervinding opdoen. Sommige bly en word permanent in diens geneem. “Ons het ver gekom sedert die begin toe ons net drie mense hier was: ek, ʼn tegnikus en ʼn verkoopsklerk by die toonbank.

Verkoopsbestuurder en direkteur, Monique Francke, verduidelik die tegniese aspekte van STIHL se hoëdrukspuite met groot geesdrif.

Die perseel beslaan ongeveer 2 000 m² met ruim verkoopsareas, verskeie werkswinkels, ʼn klankdigte kamer waar lawaaierige masjinerie getoets word, ʼn verspreidingsafdeling, ‘n voorraadpakkamer, ‘n administratiewe kompleks en aangesien dit voorheen ʼn Standard Bank-tak was, ook drie instapkluise met mure van staal. “Ek wou nie aanvanklik in die Paarl wees nie, maar wil nou nie wegtrek nie omdat dit so sentraal is,” sê Azer met verwysing na hul verspreidingskedule wat elke dag ʼn ander rigting inslaan. Van die Kaap tot Lutzville, Ceres, Montagu, Bredasdorp en al die dorpe tussen-in. “Plus dis beter om buite die verkeersdruk van Kaapstad te wees,” voeg hy by.

Azer van Zyl voor die ingang van Lumber & Lawn in die Paarl.

Baie van sy personeel het as werkloses by hom aangekom. En vandag is die meerderheid van hulle mede-eienaars en/of direkteure. “Hul eerlikheid, werkywer en bystand het daartoe bygedra dat ons van 1996 se ‘the new kid on the block’ kon vorder tot een van dié gerekende dienshandelaars in die land,” sê hy.

As jy jou werk geniet, is dit nie meer werk nie. Ek moes net leer om my stresvlakke te beheer, want stres is ʼn konstante in enige besigheid.

Azer van Zyl

WERKERSTRUST

Ten einde sy B-BBEE-sertifikasie in orde te kry, en omdat hy homself afgevra het wat van die besigheid sou word indien hy aftree, het hy aandele aan al sy lojale werknemers aangebied. “Ek het vir almal deur die bank ʼn gelyke kans gegee om aandeelhouers te word, waarvan 22 opgeneem is met geld wat ek voorgeskiet het en hulle weer aan my terugbetaal het. Maar ek het gevind dat van hulle nie bereid was om maer te lewe en risiko’s te vat soos wat ek aan die begin gedoen het nie,” verduidelik Azer. 

Direkteur en meestertegnikus Anthony Felaar diens ’n Honda vierslag-enjin.

In Oktober 2019 is ʼn werknemerstrust gestig wat die aandele teen ʼn wins van 33,5% vir hierdie aandeelhouers teruggekoop het. Die trustees is Azer, sy vrou Jorina en sy regterhand, Ronél Olfin, wat die werknemers verteenwoordig. Sodoende deel almal aan die groei en dividende van die maatskappy. Ronél word geskool om by Azer oor te neem wanneer hy eendag aftree. En wanneer gaan dit wees, wil ek weet. Bloot die gedagte aan aftrede laat hom senuweeagtig lag. Hy hou nie van rondsit nie en het 180 dae opgehoopte verlof.

“Jy kan sommer ʼn jaar vroeër aftree!” meen ek.

Gelukkig lees Azer graag. Die inryteater het hom gelaat met ʼn groot liefde vir ʼn goeie storie.

Azer is in sy vroeë sestigs en beoog om teen ongeveer 70 af te tree. “En dan kan ek sommer op 72 die emmer skop,” lag hy. “As jy jou werk geniet, is dit nie meer werk nie. Ek moes net leer om my stresvlakke te beheer, want stres is ʼn konstante in enige besigheid.”

LEES EN KOSMAAK

Dis geen geheim dat mense wat nie stokperdjies het nie, gereeld sukkel om uit die saal te klim. Gelukkig lees Azer graag. Die inryteater het hom gelaat met ʼn groot liefde vir ʼn goeie storie. Nie net deur die flieks wat hy gekyk het nie, maar ook omdat sy ouers tot laat moes werk en dan het hy saans alleen tuis gelê en lees. James A. Michener – die skrywer van topverkopers soos The Source – was ʼn gunsteling. Hy en Jody het dieselfde smaak in boeke en ruil graag historiese boeke uit. Nog ʼn gevolg van sy ouers se inryteater was dat Azer van jongs af leer kook en huishou het. “Ek en my dogter is albei mal oor kosmaak,” sê hy. En as ek vra wat hy die graagste eet, is die antwoord eenvoudig: “Vleis! Jy moet onthou, ek het grootgeword op vier vleisetes per dag.”

’n Man en sy beste vriend, Keiser, die bulterriër.

Azer en Jorina se dogter Hestré het eers fisioterapie studeer, waarna sy haar ook as grafiese ontwerper bekwaam het. Sy behartig Lumber & Lawn se sosiale media, webwerf en promosiemateriaal. Hul seun Azer-Betz, ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester, is ʼn finansiële besigheidsbestuurder by Fruit & Veg. Azer is duidelik baie trots op sy vrou en kinders, maar soos ʼn wyse boer eendag vir hom gesê het: “Jy moenie met jou skaaphond, jou bakkie of jou kinders spog nie, want eendag gaan een jou in die steek laat.”

Wat Azer en aftrede betref, laat my aan die Engelse gesegde dink: seeing is believing!


Lumber & Lawn | Area: Paarl, Wes-Kaap | Kontak: +27(0) 21 872 0252  |  info@lumber-lawn.co.za | www.lumber-lawn.co.za

Filed under: Agri Biz People, farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

2 Comments

  1. Paul says:

    Altyd n voorreg om n kopppie koffie met hom te geniet.

Leave a Reply

Your email address will not be published.