Woorde: Greta Gericke
Hier in ons geliefde land kan ons werklik dankbaar wees vir al die padstalle, restourante en plaaslike produkte. Wanneer ’n mens gesels met Suid-Afrikaners wat oorsee bly, sal hulle heel waarskynlik erken dat ons eenvoudig maar net in die mooiste land ter wêreld bly. Met vars vrugte en groente en heerlike geregte, word ons land se voedsel beskou as van die hoogste gehalte met die lekkerste geure. Ons neem jou saam na ’n paar rusplekke – elkeen met unieke produkte uit die provinsie – waar die locals wag om jou met ope arms te ontvang!
WES-KAAP

• PitStop
‘n Prentjiemooi rit teen die kus langs neem jou na hierdie nuut-opgeknapte padstal. Die swartgeverfde gebou met die helderkleurige bordjies en grasgroen plante aan die voorkant is iets wat jy nie kan mis wanneer jy daar verbyry nie. By hierdie padstal kan jy heerlike etes geniet. Die plek kan oor naweke vir spesiale geleenthede gehuur word. ‘n Perfekte stilhouplek vir honger fietsryers wat hierdie pad Bettiesbaai toe neem en enigiemand wat ‘n warm koffie en ontbyt of middagete wil geniet. Die interieur is iets besonders en ’n mens kan die mooiste foto’s neem by die mure wat met interessanthede bedek is!
Clarencerylaan, Gordonsbaai | 087 150 7972

• Diesel & Crème
Dis die plek wat so be-kend is vir sy melkskommels, motorfietse en wafels. As jy op die R62 reis, sal jy nie sommer hierdie plek teenaan die pad kan miskyk nie. Niemand sal sommer verveeld raak hier nie omdat daar soveel snaakse en eienaardige ornamente en oudhede is – en onweerstaanbare eetgoed! Jy sal sien dat dit ‘n redelik besige stilhouplek is omdat baie motorfietsryers oor naweke graag hierheen ry. Maar eintlik is dit enige tyd van die week ’n gewilde kuierplek vir verbygangers.
Barrydale, Roete 62 | 028 572 1008
OOS-KAAP

• Nanaga Farm Stall
Aanvanklik het Lynn Lake net koolkoppe verkoop, maar dinge het so uitgebrei dat haar man vir haar ‘n padstal moes bou. Eers het hulle net vars pynappelsap, roosterkoek en pasteie verkoop. Maar die dorpie het gegroei – en so ook die aantal klante. Dis nou groter as ooit, en tog het die huislike atmosfeer, die hartlike familie-gevoel en die rustigheid behoue gebly. By hierdie padstal kan jy vars vrugte, groente, konfyt, pasteie, koekies, beskuit en allerhande ander handgemaakte geskenke uit die kontrei kry.
Alexandria | Port Elizabeth | 041 468 0353

• Tolbos
Dertig jaar later en hierdie padstal en restourant is steeds volstoom aan die gang. Dit het ‘n moderne aanslag en bied menige plaaslike produkte, vars blomme, ‘n wynboetiek en ander unieke drinkgoed aan. Die gesellige gevoel van die plek is eie aan die dorp, Patensie. Dis hier waar mense mekaar op die naam groet en elke besoeker laat welkom voel. Hier kry jy smullekker disse, flesse vol lekkergoed, unieke geskenke en buitelug musiekkonserte. ‘n Wonderlike rusplek net voor jy die Baviaanskloof Mega Reservaat binnegaan.
Fred Ferreiraweg (R331) | Patensie | 042 283 0437 | www.tolbos.co.za
NOORD-KAAP

• Die Rooi Granaat
Hierdie stilhouplek is baie meer as ‘n padstal. Daar is ook ’n koffiewinkel en deli – en hulle het gerieflike verblyf. Die gastehuis het vier eenhede wat hoog aanbeveel word. Die personeel is vriendelik, die kos heerlik en slaapplek baie gemaklik. Dit voel asof jy by goeie vriende se huis kuier! Geleë in die rustige Karoo-dorp Loxton. Voorwaar ‘n plek om by in te loer.
Joostestraat 20 | Loxton | 082 805 2982

• Kgalagadi Lodge
Hierdie padstal en oornagplek lê skaars 5km van die Kgalagadi-oorgrenspark se hek af. Nes die sonsondergang in die Kalahari, is hierdie een van die mooiste plekke om te bly. Daar is verblyf, ‘n restourant, ’n slaghuis, bottelstoor, swembad en ’n geriefswinkel. SJ en Denise Koortzen nooi almal om hier oor te bly sodat hulle die stilte, rustigheid, kos, geskiedenis en diere van die Kalahari kan beleef.
R360 Tussen Askham en die Kgalagadi-oorgrenspark | 054 325 0935
VRYSTAAT

• The Windmills Kitchen
Van pasteie tot ingevoerde kase en olywe, jy sal dit alles by hierdie padstal kry. Pasteie is gevul met topgehalte beesvleis. Meel direk uit Italië ingevoer, word gebruik om topgehalte pizza-deeg te maak. Vir die jongklomp is daar kosstalletjies met lekkernye, roomys en nog veel meer. Met die asemrowende uitsig kan ’n mens nie hier verkeerd gaan nie. Die feit dat hulle elke maand ongeveer 7 000 vars gebakte croissants verkoop, getuig dat dit werklik iets is wat ’n mens self moet proe.
Nottinghamstraat | Midlands N3 (Uitgang 132) | 033 266 7046

• Constantia Cherry Farm Stall
Hierdie padstal is aan die voet van die heuwels in die Oos-Vrystaat geleë. Wanneer jy die roete tussen Clocolan en Ficksburg reis, sal jy dit maklik raaksien. Dis hier waar jy van die beste kersie-produkte in die hande kan kry. Verskeie items, insluitende kersieprodukte, geskenke, klere en dekorartikels word hier verkoop. Behalwe hul vars kersies, is Constantia ook bekend vir hulle kersie-likeur, kersie-roomysstroop en kersiesap. ‘n Moet-stopplek op die Maluti Drakensberg Toerisme-roete.
R26 – tussen Clocolan en Ficksburg | 082 304 7043
NOORD-WES

• Tiekiedraai Padstal
‘n Prettige padstal met pragtige geskenke. By hierdie stilhouplek is daar oulike geskenkies om as aandenkings te koop – selfs ietsie lekker vir jou honde- of kattekinders. Daar is houtspeelgoed, plekmatjies, konfyt, kunswerk en emalje kombuisgoed. Jy sal beslis spyt wees as jy verby hierdie padstal ry.
Wilgeboom 21 | Potchefstroom | 082 415 0489

• Jasmyn
Die padstalwinkel is elke dag oop vir dagbesoekers wat vinnig vir ’n verversing hier wil stop. Die markie is elke Vrydag, Saterdag en Sondag oop en hulle het selfs ‘n Kersfeesmark. By hierdie padstal kan jy linne, dekoratiewe hand-werk en lekkernye soos toffies kry. Verkyk jou aan die outydse kombuisware – dinge soos ’n handmeul sal jou omtrent laat voel asof jy jou in ‘n ander era bevind.
Jan Smuts R511 | Hartbeespoort | 083 484 0749
GAUTENG

• Bergbron Plaaskombuis en Padstal
Dis hier waar jy boerekos op sy beste kan proe – van melkkos tot ’n egte plaasontbyt. Kyk uit vir die groot windmeul wat wys waar die padstal staan. Die outydse draadkarre sal sommige met heimwee vul – en die jongklomp besig hou. Daar is lekker moerkoffie en slootbrood om energie te gee vir die lang pad. Koop die plaaslike varsheid – daar is kruie wat in mandjies hang en wat ‘n heerlike geur afgee. Die plaaslike gemmerbier is net so onweerstaanbaar.
Weltevreden 268 | Johannesburg | 076 932 4333

• The Urban Farmstall
In 2016 het Pumza Dilika hierdie winkel oopgemaak met die gedagte om Suid-Afrikaanse vrywei- en organiese kosprodukte te verskaf. Hulle bied gesonde, voedsame vrywei- pluimvee, -rooivleis en ander organiese voedsel. Produkte kan ook deur hul aanlyn winkel www.theurbanfarmstall.co.za bestel word. Hulle doen baie moeite om vars plaaslike produkte van boere uit die omgewing te verkoop.
Buekesstraat 20, The Reeds | Winkel nr. 5 Memories Country Shop | 081 364 3260
MPUMALANGA

• Milly’s Country Stall
In 1974 het Milly en Wimcar begin om vars Rainbow-forelle te verkoop – sommer uit ‘n koelboks naby die Shell-petrolstasie in Machadodorp. Die aanvraag het so vergroot dat hulle later ‘n plek moes kry vanwaar hulle dit kon verkoop. Op besige naweke was daar ‘n ry mense wat gewag het om bedien te word. Behalwe vir die forelprodukte, is daar ook nou lekkergoed, varsgebakte brood, beskuit, handsakke, serpe en nog vele ander produkte beskikbaar.
N4 Machadodorp | 013 256 0718

• The Farm Stall (Halls)
‘n Padstal wat vars, organiese vrugte en groente en varsgebakte brood aanbied. Laeveld-neute, biltong, heuning, konfyt, marmelade en oulike aandenkings. Die winkel het ‘n gesogte stilhouplek vir toeriste geraak. Daar is ook ‘n koffiewinkel met ‘n tuin vir dié wat ’n bietjie met ‘n koffie wil ontspan voordat hulle die res van hul reis voortsit.
N4 Halls Gateway | Mbombela | 013 755 6074
LIMPOPO

• Magoebaskloof Farmstall & Café
Is jy ‘n koffieliefhebber? Hierdie padstal het heerlike koffie, pasteie, superfood smoothies, craft bier, plaaslike organiese, vars produkte, ‘n kwekery en ‘n rustige omgewing. By Magoebaskloof se padstal streef hulle om so ekovriendelik as moontlik te bly en hulle het vegan-disse op die spyskaart. Besoek hierdie padstal naby die ongelooflike Magoeba-berge.
Magoebaskloof | 083 353 4478

• Wag ‘n bietjie
Presies soos die naam sê, moet jy hier stop en ’n bietjie wag. Hulle bedoeling is om besoekers rustig te laat voel en hulle ’n rukkie te laat talm voordat hulle verder ry. Met kraakvars vrugte en groente, geskenke, ligte etes, drankies en ‘n mooi uitsig, kan dit jou geen skade doen nie. En vir die kleintjies is daar die baie gewilde troetel-dieretuin.
R531 Farm Antioch 19 | Hoedspruit | 083 373 6045
KWAZULU-NATAL

• Rotunda Farm Stall
‘n Padstal met A-klas vleissnitte, vars groente en vrugte van die omgewing, ‘n groot verskeidenheid goeie wyne en plaaslik vervaardigde kaas. Die groente en vrugte kan weekliks per kilogram bestel word. Jy kan selfs vir jou hondekinders lekkernye en kos koop. Plaaslike produkte soos Nonna’s Foods se koring- en gluten-vrye produkte word ook hier verkoop.
Cedarastraat 1 | Hilton | 033 343 4205

• MAC BANANA
Dis nie net ‘n stilhouplek met ’n padstal by Mac Banana nie – daar is baie ander aktiwiteite soos knor-tjorre, zipline, mini gholf en verfbal. Dit is ‘n plek waar almal hulle bene kan rek! Stop hier om ’n paar inkopies te doen, ‘n bietjie te rus en te ontspan, heerlike pannekoeke te eet en ’n rukkie tussen al die winkeltjies rond te loop. Hulle het van die grootste verskeidenheid konfyt, kase en neute. Vars vrugte, groente en gebakte brood is maar net ‘n voorsmakie van wat jy by hierdie veelsydige padstal kan ontdek.
Palm Beach en Munster (R61) | Port Edward | 039 319 1033