Farm to Fork
Leave a comment

Smul in die seemis

Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont

Vir ‘n oomblik is ons nog omring deur rye tipiese kusdorp-woonerwe; dan doem die bekende toneel van Fryer’s Cove se restourant en wynkelder voor ons op. Die toneel is byna uit ‘n prentjieboek: ‘n wasblou see wat lui-lui aanspoel teen die ou, verweerde hawehoof; daarnaas die ikoniese ligtoring en ‘n handvol pakskure en store wat nog oor is van die ou visfabriek wat in 2005 sy deure gesluit het en in 2011 deur Fryer’s Cove Vineyards oorgeneem is. 

Plat-oppie-aarde en styf-annie-see, sit Fryer’s Cove se onpretensieuse proelokaal en restaurant.
Doringbaai se kaai is tipies Weskus.

‘n Minuut of twee daarna spoor ons vir Francis op en word ons sitgemaak by ‘n ingesoute houttafel en bankies aan die voet van die pier, reg voor Fryer’s Cove se aanwensellose ontvangslokaal. Mens kry nie veel meer Weskus as hierdie nie. Voor ons behoorlik ons sit kry, sit sy drie groot houtborde vol lekkernye. Mens sien sommer dis regte Weskus-kos: goudbruin, borrie-gepiekelde kerrievis, vet, gekrummelde snoek-viskoeke en stywe patatsuurdeeg-roosterkoeke met margarien en heel, ingemaakte groenvye.

Die snoek en die stokvis kom uit Lambertsbaai se waters en meeste van die ander bestanddele kom ook uit die gebied. Die Jetty restaurant aan die seehoof word geruime tyd al deur lede van die plaaslike gemeenskap onder eienaarskap van ‘n gemeenskapsprojek, die Doringbaai Development Trust, of DDT, bedryf. Die trust beywer hom tot sosio-ekonomiese en omgewingsontwikkeling ten einde die wydverspreide armoede wat onder die plaaslike gemeenskappie heers, aan te spreek. Fryer’s Cove se toetrede het tot ‘n noemenswaardige kontant-inspuiting vir die trust en driedelige aandeelhouding gelei. Tans is die aandeelhouding 33% FCV, 33% DDT en 33% BO (Blue Oceans). 

Hoofkok Francis van der Poll en Doriane wat ons snoek-viskoeke gemaak het.

Die kerrievis is suur en soet en dig van die gebraaide uie- en kerriegeure, presies soos mens dit uit jou kinderdae onthou. Dit voel half soos ‘n sonde om die uitstekende Bamboes Bay Sauvignon Blanc daarmee saam te drink, maar die wyn staan geensins terug vir die asyn- en speserygeure nie. Die viskoeke is lekker krummelrig bruingebraai en stewig van die digte, vars, gekruide snoekvulsel. Die tuisgemaakte Tartaarse sous wat daarmee saam bedien word, pas soos ‘n handskoen en maak skoon dat ek vergeet om ‘n stukkie van die ingemaakte groenvye ook te probeer.

Jou oë weet nie lekker waar om te vat en waar om te los nie.

In die hawe onder die pier, skommel ‘n enkele diamantboot met sy lang, skel-oranje baggerpyp rond. Agter teen die hawemuur speel ‘n skaduspel van roes, wit PVA en see-alge in die ligte seesproei af. Jou oë weet nie lekker waar om te vat en waar om te los nie.

DORIANE SE SNOEK-VISKOEKIES 

Bestanddele:

  • 2 medium groot snoeke
  • 4 eiers
  • 3 uie
  • 4 t pietersielie
  • visspeserye
  • 8 aartappels
  • olie 
  • broodkrummels

Metode:

Kook die snoek in ’n klein bietjie water tot gaar. Haal dit uit die pot en laat dit effens afkoel. Vlok die witvleis van die vis en haal al die grate uit. Kook die aartappels tot gaar en gooi die oorskiet water uit. Druk die aartappels fyn en meng by die vis. Rasper die uie. Sit die fyn uie in ‘n sif en pers saam totdat al die sap uitgedruk is. Voeg uie, pietersielie, visspesery en 4 geklitste eiers by die vis-mengsel en meng alles goed. Sit die mengsel vir ‘n paar minute in die yskas. Haal uit en vorm viskoekies. Doop elkeen eers in geklitste eier en dan in ‘n bietjie meel en broodkrummels voor dit in olie gebraai word tot die buitekant bruin en bros is. 

Bedien viskoekies met ‘n slaai en Tartaarse sous.


www.fryerscovewine.co.za

Filed under: Farm to Fork

by

A writer with a passion for the arts – including the art of cooking. Jacques concentrates on the stories that surround the people who are involved in making food, craft beer and wine. He received an award at the 2015 Franschhoek Literary Festival and the South African Wine Writers’ Awards. Another feather in his cap is that he is the author of Craft Beer: A Guide to South African Craft Breweries and Brewers. He is a writer of superior calibre and extensive creativity.

Leave a Reply

Your email address will not be published.