Farm to Fork, farmers, Sustainability
Leave a comment

Wyn met bewussyn

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Dewald Kirsten

Waar die Kaapse Plooiberge sy groot tone in Walkerbaai se sandstrande druk, keer jy jou rug op die see en vat jy die R320 die steilte in tussen pieke só hoog dat net hemel en aarde sigbaar is. Volgens legende is dít waar hierdie asemrowende vallei se naam vandaan kom. 

Hermanus se skilderagtige Hemel-en-Aarde-vallei.

Juis vanweë die vallei se versteekte onbereikbaarheid, het dit in die 1800´s ’n kolonie melaatses gehuisves. Hierdie vallei was tot ’n skamele vier dekades gelede’n bosagtige laslappie met hier en daar ’n groenteplasie. Vandag loop daar ’n teerpad van die afdraai af tot in Caledon, en die klein boerderye van die vorige eeu het plek gemaak vir indrukwekkende plase wat bekend is vir hul fynproewersprodukte en asemrowende vistas. 

Hamilton Russell Vineyards word gereken as een van die vallei se kroonjuwele – ‘n pronkplaas wat spog met wêreldklas, duur wyne. 

Hamilton Russell Vineyards het baanbrekerswerk gedoen om wynbou in die Hemel en Aarde vallei te vestig.  Na ’n uitgebreide soektog na die mees suidelike grond om Suid-Afrika se beste koelklimaat wyne te produseer, het Tim Hamilton Russell in 1975 die 170 hektaar onbewerkte grond gekoop.

‘n Tafel in die elegante, ouwêreldse vatkelder vir ‘n onvergeetlike proe-ervaring.

Vandag is die Hemel–en-Aarde-vallei sinoniem met wêreldklas wyne – veral Pinot Noir, Chardonnay en Sauvignon Blanc. Maar destyds het almal vir Tim gesê hy is “mal in sy hoof”, soos plaasbestuurder Johan Montgomery dit stel.

Hamilton Russell Vineyards was die heel eerste wynplaas in Hemel-en-Aarde; vandag is die area die jongste en ook vinnigste groeiende wynproduserende area in die land.

Volgens hoof van bemarking, Talita Engelbrecht, het die vallei se wynmakers die mark met geweldige fokus op spesifieke variëteite betree, wat bygedra het tot die uniekheid en sukses van hierdie wynroete. Hamilton Russell Vineyards is reeds in hul 38ste oesjaar en voer al 25 jaar lank wyn uit.

Bemarkingsbestuurder, Talita Engelbrecht, woon en werk reeds 26 jaar by Hamilton Russell Vineyards. 

Die sukses van hierdie plaas gaan met waagmoed en ’n sekere mate van wysheid gepaard. Tim Hamilton Russell wou die koel seelug van Walkerbaai inspan om topgehalte koelklimaat wyne te maak, maar hy het ook te lande gekom op wat Talita as “’n groot kleibank” beskryf. Hier aan die rugkant van die Raed-Na-Gael-bergrug boer hulle met slegs 30–50 cm bogrond. Gaan dieper, en tref jy ’n soliede kleibank met ’n suurinhoud wat geen wortel-penetrasie toelaat nie. Eerder as teen die natuur  baklei, pas die span by Hamilton Russell Vineyards hul strategie by die natuur aan.

“Omdat ons so min bogrond het, is dit belangrik om so volhoubaar moontlik te boer,” verduidelik Talita.

‘n Ry sipresbome voor die kelder.

Tim se seun, Anthony Hamilton Russell, het in die vroeë negentigs by sy pa oorgeneem. Dit was altyd Anthony se droom om organies te boer, maar as gevolg van die plaas se ligging aan die onderkant van die vallei en die nabyheid van die oseaan, sit hulle in ’n area met ’n hoë siektedruk. 

Heerlike fynbos-heuning is te koop in die proelokaal. Die bye word nou ook gebruik om dekgewasse tussen die wingerd te bestuif. 

“Omdat ons nie groot tonnemate hier jaag nie, het ons nog altyd die mees volhoubare praktyke op die plaas probeer volg,” meen Johan wat reeds 12 jaar lank met die gesondheid van hierdie wingerd en grond bemoei is. Johan het tussen die wingerde van die Nuy-vallei grootgeword waarna hy elektromeganiese ingenieurswese gestudeer het. “Maar grond het my nog altyd gefassineer,” bieg hy.

“Maar grond het my nog altyd gefassineer.”

Johan Montgomery

Die span het vyf jaar gelede druk op hulself begin plaas om biodinamiese bestuurspraktyke te implementeer. Johan het egter in Kanada navorsing gaan doen en gevind dat die druk wat met biodinamies boerdery gepaard gaan, geweldig hoog is. Hulle het toe besluit om eerder met organiese praktyke te begin. Alhoewel organiese boerdery minder uitdagings bied as biodinamiese praktyk, het die verandering steeds jare se beplanning, navorsing en eksperimentering geverg.  Die geheim van organiese boerdery is nie wat bo die grond gedoen word nie, maar wat onder die grond aangaan. “Dit gaan by uitstek oor grondgesondheid, en dit kry jy net as daar dekgewasse is,” sê Johan.  

 Wingerdboukundige Johan Montgomery glo grond moet nooit braak of kaal lê nie.

Die wingerdspan speel met tradisionele winterdekgewasse wat in die somer geoes word, sowel as somer-dekgewasse. Hulle glo dat grond nie braak of kaal moet lê nie en dekgewasse word dus net voor oestyd afgesny. Klawers word geplant vir stikstof, radyse om die swaar kleigrond op te breek en ook voererte, wat al deur Anthony Hamilton Russell se vrou, Olive, vir die etenstafel gepluk is. Johan verduidelik dat radysbolle die grond losbreek en teenstrydig met algemene praktyk, los hulle die bol so lank moontlik tussen die wingerd. Dit vrot mettertyd, ontbind en stel natuurlike kos vir die grondmikrobes en erdwurms vry. 

In hierdie opsig doen Johan absoluut die teenoorgestelde van die norm in die wynbedryf. Volgens VinPro se aanbevelings moet alle dekgewasse voor oestyd platgerol en doodgespuit word. “Ek is verantwoordelik onverantwoordelik”, meen hy, “want as jy na die worteldiepte van ’n dekgewas kyk, kan ek nie sien hoe dit met ’n wingerd se wortel kan meeding nie.” Sodoende hou hy sy grondmikrobes se lewenssiklus langer aan die gang, en op hulle beurt hou hulle die grond lewendig.  

Volgens Johan en Talita voel almal op die plaas nader aan die natuur sedert hulle in 2012 organies begin boer het.

“Ek is spyt ek het nie 20 jaar gelede organies begin boer nie. Dit is baie meer interessant. Jy voel baie nader aan die natuur,” sê Johan. 

Talita beaam dat die veranderinge op die plaas ongelooflik is. “Tot die menseverhoudings op die plaas is beter,” sê Johan. “Almal het die idee ingekoop en is trots daarop. Hulle vat die risiko saam met my. Wat ons nou híér doen, gaan in minder as 15 jaar die nuwe industrienorm wees. Ek voel dit.”

Ek wil weet of boere sku is vir organiese praktyke omdat dit te veel moeite is. “Nee, dis te scary,” meen Johan.“ 

Die risiko tydens die oorgangsfase is verskriklik hoog, totdat die hele stelsel na homself begin kyk. Ons is in ons vierde jaar en ek begin nou eers sien waarheen ons oppad is.”

Johan se passie vir die grond is aansteeklik. Volgens hom boer hy nie met wyn nie, maar met grond. En nie die fancy “terroir” wat wynmense so graag oor praat nie. Grond, puur en gesond. 

Ek vat ’n sluk van wynmaker, Emul Ross, se internasionaal bekroonde Pinot Noir op die proelokaal se stoep. Dit proe vars soos ’n seebries, skoon soos die grond waarin dit groei, met net genoeg son-sappigheid om ’n elegante balans te handhaaf. 

Hamilton Russell Pinot Noir is wêreldwyd bekend en gesog.

Die Chardonnay is al ’n paar keer aangewys as een van Wine Spectator se Top 100 Wyne in die wêreld, en albei wyne behaal sonder uitsondering die afgelope 17 jaar tellings van meer as 90 by Wine Spectator. Hamilton Russell Vineyards is ’n klassieke handelsmerk met tydlose etikettering wat wêreldklas wyne produseer. Tog is die plaas nie kommersieel ingestel nie. 

Hamilton Russell Vineyards was die heel eerste wynplaas in Hemel-en-Aarde. Die proelokaal is in die historiese gebou wat vandag pryk op die wyn ettikette.

“Ons proekamer is steeds in een van die oudste geboutjies op die plaas, klein en baie persoonlik, aan die einde van ’n grondpad na die kelder.  Vir ons is dit belangrik dat elke bottel ’n goeie huis kry,” sê Talita. 

En wat ’n prentjiemooi grondpad is dit nie, dink ek toe ons met die sipreslaan terug ry na die teerpad.


Besigheid: Hamilton Russell Vineyards | Area: Hemel-en-Aarde Vallei, R320, Hermanus, Suid-Afrika | Kontak: www.hamiltonrussellvineyards.com | Tel: +27 (0) 28 312 3595

Filed under: Farm to Fork, farmers, Sustainability

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published.