Woorde: Danie Keet
Grondhervorming is die afgelope paar jaar feitlik die hele tyd op die voorgrond as dit by gesprekke oor regstellings van onregte van die verlede kom. Grondbesit was sedert 1994, en die jare tydens die onderhandelinge om ‘n nuwe politieke bedeling vir Suid-Afrika te vind, nog altyd die kern van indringende en vurige debatte. Maar is daar werklik iets nuuts op hierdie toneel en is daar vordering gemaak met grondhervorming en -onteiening? Of gaan dit deesdae net oor die debat of grond sonder vergoeding, goedsmoeds, deur die regering onteien kan word? Ons het met ‘n paar kenners gesels.

* Prof Elmien du Plessis (EdP) is ‘n reggeleerde en professor in regte aan die Noordwes Universiteit. Sy is ‘n grondwetkenner by uitstek en het gehelp om ’n omvattende verslag oor grondhervorming vir die regering saam te stel.
* Annelize Crosby (AC), hoof van grondsake van AgriSA
* Omri van Zyl (OvZ), uitvoerende direkteur van AgriSA: Ons is gekant teen die wysiging van die Grondwet – en weet dis nie die grondwet se skuld dat grondhervorming gefaal het nie. Dis ‘n direkte gevolg van die regering wat nie ‘n beleid ordentlik kon implementeer nie. Die ander risiko is die huidige wetsontwerp-raamwerk wat handel met onteiening en waarop ons kommentaar gelewer het.
Het pres Cyril Ramaphosa enigiets nuuts oor grondhervorming en grondonteiening sonder vergoeding te sê gehad tydens sy 2020 Sona-toespraak?
EdP: Nee. Hy het ook nie baie gepraat daaroor nie. Soos wat ek dit sien is daar nou prosesse en dinge aan die gang gesit moet word, en verlaat Cyril hom op daardie prosesse om hulle gang te loop.
Wat is die implikasies van Art 25 van die grondwet, en die verandering daarvan, vir grondeienaars in die landboubedryf?
EdP: Indien die wysiging deurgaan soos dit is, in die sin dat daar net “uitdruklik” gemaak word wat “implisiet” is, is daar nie ’n verandering in die regsposisie nie. Dit gaan wel oor persepsies, en daar is onsekerheid oor hoe die regering grondhervorming wil doen. So, die wysiging gaan waarskynlik nie ’n duit verskil maak nie – nie vir eienaars nie, nie vir grondlose mense nie. Die gereedskap – wetgewing, beleide – dit is wat belangriker is.
AC: Artikel 25 is die waarborg teen arbirêre ontneming van eiendom. Dit bepaal ook onder watter omstandighede en wyse onteiening mag plaasvind en dat regverdige en billike vergoeding betaalbaar is by onteiening. Dit maak ook voorsiening vir grondhervorming. Sonder artikel 25 het eienaars geen beskerming teen owerheidsoptrede en vergrype nie. Artikel 25 bring ‘n mate van sekerheid vir grondeienaars. Daardie sekerheid is krities belangrik vir sakevertroue en investering in die sektor.
Is daar geld in die begroting om (landbou-)grond te onteien?
EdP: Die begroting het vir effens meer geld vir grondhervorming voorsiening gemaak – hoofsaaklik gemik daarop om mense wat grond bekom te ondersteun. Dit was nie die begroting wat voorheen ’n probleem is by onteiening nie – dit is swak of geen implimentering van die bestaande beleide en wetgewing.
AC: Die begroting spesifiseer nie hoeveel geld spesifiek vir grondaankope geoormerk is nie. Dit wat begroot is vir die afhandeling van grondeise, skiet ver tekort indien die bedoeling is dat dit gebruik moet word om alle uitstaande eise af te handel
Hoe moontlik is dit om artikel 25 te verander en wat sal die implikasies daarvan vir die landbou wees?
EdP: Dit is moontlik met ’n 2/3 meerderheid, en dis ’n politieke proses wat binne die raamwerk van die grondwet moet plaasvind. Die ANC het nie ’n 2/3 meerderheid nie – hulle sal die hulp van die EFF of die DA moet kry om die wysiging deur te kry. Dit is onseker of die DA of die EFF ’n wysiging sal ondersteun. Die DA het openlik gesê hulle sal nie, en die EFF sal dalk nie, omdat dit nie gaan oor nasionalisering of wat hulle noem custodianship nie.
AC: Dis moeilik om te voorspel, want dit hang nou saam met die politiek van die dag. Die ANC en EFF gaan sukkel om ooreen te kom op ‘n bewoording. Daar is nog geen duidelikheid oor wat die finale bewoording gaan wees nie. Indien die gesag van die howe om dispute aan te hoor wel in gedrang kom, mag dit wees dat ‘n 75% meerderheid nodig sal wees, en nie ‘n blote twee-derde meerderheid nie. Baie sal dus afhang van die finale bewoording, ook tot watter mate dit negatief op die sektor sal impakteer. Maar die blote feit dat ‘n debat oor onteiening sonder vergoeding plaasvind, het reeds negatief op vertroue in die sektor geïmpakteer.
Is daar genoeg landbougrond om te onteien om in die aanvraag te voldoen?
EdP: Ek weet nie. Daar is baie staatsgrond wat ook gebruik kan word. Die groter vraag is waarvoor mense wil grond het – landbou, of sekerheid van verblyf. En ons weet nie, en ons vra ook nie. Baie mense soek ’n stuk grond waarvan hulle nie afgesit sal word nie, sonder om noodwendig kommersieël te boer. Daardie nuanses moet deegliker bespreek word, en daar behoort beleide te wees sodat amptenare weet hoe om grond toe te ken, en hoe om geskille te besleg.
OvZ: Die department doen dit (hertoekenning van landbougrond) wel – in terme van hul herverspreidingsmandaat. Wat egter nie gebeur nie, is dat nuwe grondeienaars nie titel kry van die grond nie. Die staat het die titel, so geen nuwe boer kan gaan geld leen om hul plase produktief te kry nie.
Landbougrond is sekerlik nie die enigste grond wat onteien kan word nie – wat is die ander opsies?
EdP: Enige grond (of eiendom) kan onteien word, indien dit vir ’n openbare doel is. Vergoeding is ’n gevolg van die onteiening.
Watter regte het ’n boer om sy grond te behou, teenoor ‘n eis van die regering om dit te onteien – miskien kan mens hier die algemene reëls gee vir “regverdige onteiening”?
EdP: Onteiening moet gebeur in terme van ’n algemeen geldende wet. So daar moet ’n wet wees wat sê “die staat mag die grond onteien”. Daardie rede vir die onteiening moet vir ’n openbare doel of in die openbare belang wees. Bv. “die staat mag grond onteien om ’n pad te bou”. Die staat se magte word deur die doel van die onteiening beperk. Dan moet dit volgens ’n proses geskied, wat ook in die onteieningswet uiteengesit word. En dan is vergoeding ’n gevolg. Die vergoeding moet billik en regverdig wees – so die staat moet wys hoe dit by die bedrag uitkom, en die grondeienaar kan dit betwis. Daar is dus baie beskerming. Dit kan net ’n lang, moeisame proses wees.
AC: Onteiening kan slegs geskied ingevolge algemeen geldende wetgewing, soos die Restitusiewet of die Huurarbeiderwet. Die vereistes in daardie wetgewing moet nagekom word – byvoorbeeld dit moet ‘n wettige eis wees. Dan moet die prosedure in die Onteieningswet gevolg word. Die nuwe Onteieningswetsontwerp vereis dat daar eers ‘n poging moet wees om met die eienaar ooreen te kom op vergoeding. Daar moet waardasies gedoen en inligting uitgeruil word. Die eienaar kan beswaar maak en ‘n eie waardasie laat doen. Daar is geleentheid vir beswaar teen ‘n onteiening of die vergoeding wat aangebied word. As daar ‘n dispuut is, moet die hof besluit wat billik en regverdig is
OvZ: In terme van die grondwet is dit ‘n fundamentele reg om jou grond te behou en dat dit (onteiening) teen ‘n markverwante vergoeding moet geskied. My seining is dat as grondwaardes nie beskerm word nie, ons ekonomie sal sink – hopelik kom ons nie daar uit nie.
Watter landbougrond “mag”onteien word – net dit wat lank nie benut is nie – wat van landbougrond wat ekonomies sterk is, m.a.w. wat Goeie opbrengste lewer?
EdP: Enige grond kan onteien word as dit aan die vereistes voldoen. Klousule 12(3) sit uiteen watter grond teen R0 onteien kan word – verlate grond ens. Die staat sal nie sommer produktiewe grond onteien nie, en nog minder teen R0 vergoeding.
OvZ: Dis nog onduidelik
Die to uncertainty regarding these aspects of the law,and severe drought in the Boesmanland, Northern Cape..many small landowners,like me,gave up farming. I’ve moved to Cape Town to work in the hospitality industry..and now find myself again in dire straights. So..going back to my small farm..to restart the small enterprise I ran..goatfarming,is now even more precarious..die to a lack of funds,and the persistent drought. Uncertainty prevails whilst we face famine if the farm murders persist and the drought breaks us!