Travel Snaps
comment 1

’n Langarmdans met die gereg

Woorde: Hein Eksteen

Of jy nou kan langarmdans soos ʼn ballroom-kampioen, of tekere gaan soos ʼn ding wat gif ingekry het, niemand wil afgeskeep eenkant sit en toekyk nie. Jy wil dans, soos David Kramer sing, totdat jou hemp uithang. Daar is egter één dans waar jy liewer die randaster wil wees. En dit is wanneer die gereg die lang arm na jou kant toe uithou.

In ons geliefde vaderland kan jy omtrent met moord wegkom, maar moet tog net nie die gevolge van die Eerste Messiaanse Wonderwerk (tot onlangs) of brandbare plantmateriaal by jou hê nie. Want dan sal jy heel moontlik ʼn intieme binneboud-skoffel met die twee diktatoriese hoofgetooides se pit bulls moet dans. Terwyl Nazareth gil Love Hurts.

Met hierdie troebel gedagtes bekruip Hansie Slim gedurende Vlak Vier in die Tyd van Korona die eerste padblokkade op pad van die Wes-Kaap na Noordwes. Hansie moet twee provinsiale grense oorsteek. Maar Hansie is gewapen met ʼn reispermit, want Hansie is ʼn vryskutskrywer en die tydskrif se redakteur het bevestig dat Hansie se werk ʼn Noodsaaklike Diens is. Hansie is nie so seker hieroor nie. Hy is mos nie ʼn ondersoekende joernalis wat oor gewigtige onderwerpe skryf nie. Boonop het Hansie ʼn klompie bottels van dit wat eens water was en ʼn sakkie brandbare plantmateriaal (wat hy met kattekruid moet meng alvorens sy protesterende longe die lawende besoedeling aanvaar) in ʼn wegsteekplek agter in die bakkie.

Hansie slaan nie sy vrou tot in die hospitaal wanneer hy effens onder die prop is nie. Hoekom, as ander sondaars die hospitale se Covid-19 kapasiteit belemmer, moet hy ook daarvoor boet?

Branderplankryers is onlangs op strande gearresteer – hulle het bloot lydelike verset gepleeg. Collins Khosa is in sy agterplaas deur die hoofgetooides se pit bulls doodgebliksem omdat hy aan ʼn geregtelike ietsie geteug het. Daarenteen is Hansie ʼn bona fide krimineel. Een met versteekte sluikgoedere. En vir Hansie is die moontlike dans met die lang arm van die gereg ʼn onbekende landskap. Hansie, soos die oorgroote meerderheid van sy landsgenote, is bang vir die gereg. As jy moet kies tussen die Man in Blou (of Cammo) en Hannibal Lecter, kies jy Hannibal. Jy’t dalk ʼn kans.

Hansie berispe homself onmiddellik oor sy skreiende bevooroordeeldheid. Nie alle lede van die polisie en weermag is só nie.

En wie staan aan watter kant van die draad? Die polisiepersoneel by die padblokkade mag óf eerlik en opreg wees, óf nie. Hansie is onomwonde in die rooi. Die krimineel.

Maar hoekom? Omdat Hansie drie bottels rooiwyn en ʼn sakkie boeretwak in sy voertuig versteek?

Sy tienerlike rebelsheid keer terug. Hoekom moet hy nou weer, soos op skool, skelm rook? Hoekom moet hy nou in agterstrate, soos hulle in Port Nolloth sê, back-door-bottels koop? Hy wat sy masker selfs in die bakkie dra. Al is hy alleen. Hy wat sosiale afstand handhaaf en sy hande nerfaf ontsmet. Hy wat alles doen soos deur die hoofgetooides uitgevaardig.

Nou skop ʼn teenvraag vir Hansie vlak onder die ewenaar. Hoekom, as hy ál die reëls slaafs volg, is hy nie bereid om sonder sy twee ondeugde te wees nie? Is dit bloot omdat hy saans van sy dop hou en aan nikotien verslaaf is? Of het dit te make met die feit dat Hansie gestraf word vir ander se sondes. Hansie slaan nie sy vrou tot in die hospitaal wanneer hy effens onder die prop is nie. Hoekom, as ander sondaars die hospitale se Covid-19 kapasiteit belemmer, moet hy ook daarvoor boet?

Hansie weet ook al vir dekades dat hy moet ophou rook. Hoekom nie nou nie? Hansie voel hy wil nie voorgesê word nie. Hy sal sélf besluit. Hansie is oud genoeg vir selfs middeljariges om hom ‘oo te noem, maar Hansie bly ʼn peuter wat vloermoere gooi wanneer sy speelgoed hom weerhou word.

Die personeel by die padblokkade laat hom stilhou. Hansie haal sy permit uit. Die dokument lyk vir hom vaag. Geen koninklike stempel of iets wat die stuk papier gravitas behoort te gee op nie.

Hansie paap. Gaan die polisievrou in sy oë sien hy is ʼn skelm?

Sy lees die dokument. Kyk na sy ID. Bestudeer hom. Hansie sien wat kom.

Die vrou lyk moederlik. Gulhartig. Hansie wil uit die bakkie spring, op sy knieë voor haar neersak en ontboesem. Om vergifnis smeek en belowe hy sal ophou rook en drink indien sy hom vergewe.

“Have a good journey, sir. And please stay safe,” sê die vrou.

Die aand sit Hansie by sy braaivleisvuur. Sy sakkie twak langs die bottel rooiwyn eenkant op die tafel. Hansie kan nie aan sy ondeugde raak nie. Hansie voel sy sondes gaan die polisievrou se goedheid bevlek.


Filed under: Travel Snaps

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

1 Comment

  1. Anna d Plessis says:

    Hansie se gewete is heeltemal te aktief!!

Leave a Reply

Your email address will not be published.