farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Cape Garden Centre slaan munt uit bome.

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Mia Truter

Gerrit Schenck is die plaasbestuurder van Bonne Esperance plaas wat deel is van die Cape Garden Centre-groep. Hy bestuur Cape Trees op Bonne Esperance, ‘n groot boom-kwekery met ongeveer 11 500 bome, waarvan die oudste nege jaar oud is. Gerrit verduidelik dat die droogte hul voorraadvlakke ‘n knou gegee het, en dat voorraad van verskeie boomsoorte gevolglik tans laag is, maar teen hoogsomer weer op standaard sal wees.

Cape Trees het ongeveer 11 500 bome in hul groot kwekery, Bonne Esperance.

CAPE TREES OP BONNE ESPERANCE

Cape Trees verkoop bome in grootmaat aan kwekerye, tuinboukundiges en ontwikkelaars in sakke van 50 liter en 100 liter. Die gewildste groot bome is tans die waterpeer, watereik, liquid amber, plataanboom, waterbessie en doringbome (koorsboom, apiesdoring en papierbas). “Inheemse bome is natuurlik nou meer populêr aangesien hulle minder water benodig,” meen Gerrit. 

Bonne Esperance plaasbestuurder (Cape Trees), Gerrit Schenck.

Hulle voorneme is om in nege boomspesies te spesialiseer en van oortollige voorraad ontslae te raak. Gerrit wil graag fokus op waterpeer, watereik, liquid amber, die drie doringbome soos bo genoem, waterbessie, geelhout en luiperdboom. Laasgenoemde is tans uiters gesog omdat tuine kleiner raak, en die luiperdboom se klein wortelstel dus ideaal is. Dit is ook ‘n mooi fokusplant met ‘n elegante struktuur en blare wat pragtig met die seisoene verkleur.

Die inheemse koorsboom is baie gewild omdat dit droogtebestand is. ’n Groep koorsbome maak ook ’n pragtige laning.

Ons ry saam met Shaun Filton, Cape Trees se voorman, deur die boom-kwekery. Dit voel of jy binne enkele meter van een wêreldstreek na ‘n volgende reis – van heldergroen palmtakke tot die droogtebestande kaal arms van boomaalwyne wat die son salueer. Dis onmoontlik om so ‘n pragtige verskeidenheid bome te aanskou sonder dat die lus jou pak om ‘n boom te plant.

Die bome wat so staan maak dat die lus jou pak om ’n boom te plant.

POTTE EN TUINDEKOR

Cape Art is ook op Bonne Esperance geleë. Hulle vervaardig potte en tuindekor vir alle takke van Cape Garden Centre, sowel as ander kwekerye, van Kaapstad tot Springbok.

“Ons giet elke dag ‘n ton sement,” sê Petrus Esterhuyse, bestuurder van Cape Art. “Ons span van 18 maak ongeveer 16 500 tot 17 000 potte per jaar en ons het drie voltydse verwers in diens. Ons het beslis ‘n insinking met die droogte beleef, maar sedert Maart 2018 tel besigheid weer mooi op,” sê Petrus. 

Ons giet elke dag ’n ton sement.

Cape Art se topverkoper is die Pastille-stoel, waarvan hulle 15-20 per week verkoop. Hulle het die gietvorm by die vorige fabriekeienaar geërf. ‘n Pastille-stoel weeg ongeveer 90kg en verkoop teen R900 tot R1000 per eenheid by kwekerye. Cape Art het ongeveer 360 verskillende gietvorms vir alles van tuindwergies tot massiewe kruike. Elke gietvorm bestaan uit twee tot vyf stukke. Die vorm word met ‘n laag sement uitgevoer waarop ‘n strook behandelde lap geplaas word, voor die volgende laag neergelê word. ‘n Bindingsmiddel word by die water gevoeg om die sement vinniger te laat stol en die vorm te behou. 

Die interieur van die fabriek met sy grys skakerings, stof-gefilterde lug en anderwêreldse vorms wat in stukke wag om gegiet te word, is industrieel-sjiek en die perfekte abstrakte agtergrond vir ‘n kunssinnige fotosessie. “Ja,” sê Petrus ongeërg, “hulle het al hier kom foto’s neem.”

HORSE RIDES AT PETE’S

Daar kan ook perdgery word op Bonne Esperance by Horse Rides at Pete’s. Deirdre Gower en Yanga Malanti is verantwoordelik vir die perde en daar is twee roetes om van te kies.

Hulle bied ‘n 90-minuut rit deur die aangrensende natuurreservaat aan, of  ‘n 3-uur rit deur die reservaat gevolg deur ‘n 45-minuut wynproe by Villiera Landgoed. Die roetes is sewe dae ‘n week beskikbaar, maar moet vooruit bespreek word. Hulle kan ‘n minimum van twee en ‘n maksimum van sewe ruiters akkommodeer, aangesien Deirdre en Yanga elke groep vergesel.

Yanga se gunsteling perd, Dust, neem graag die lei-ding, terwyl Deirdre op Breeze die minder ervare ruiters van agter ondersteun. Ons sit by die piekniektafeltjies langs die perdekamp en hou die diere dop. “Dis die beste kantoor met die beste kollegas,” lag Deirdre. Daar is ‘n totaal van nege boerperde – almal hingste. Die perde is baie rustig en goed opgelei.

Dis die beste kantoor met die beste kollegas.

Hulle het al skoolgroepe onthaal en ook ‘n groep gestremde skoliere geleer om perde te versorg en op te saal. Kinders van ouderdom agt is welkom en die maksimum gewig wat ‘n perd mag dra is 90 kilogram. Almal is welkom, van diegene met geen ervaring tot hoogs ervare ruiters. “Die perde ken hul werk so goed, ons het al van ‘n 86-jarige dame gehad, tot ‘n blinde vrou wat my gevra het om die landskap te beskryf terwyl ons gery het. Sy kon byvoorbeeld aan die knars van die gras hoor hoe droog dit is,” vertel Deirdre.

’n Totaal van nege boerperde is beskikbaar vir ritte deur die natuurreservaat. Hulle is rustig en goed opgelei.

Deirdre en Yanga is duidelik versot op die perde en geniet hul werk terdeë. Deirdre is ‘n voormalige perdespring-atleet wat 15 jaar in die versekeringsbedryf deurgebring het, tot sy besluit het om die groot sprong te maak terug veld toe te maak. Yanga was voorheen by Bugz Play Park – die groot speelsentrum wat deel is van Cape Garden Centre – waar hy ‘n verskeidenheid take verrig het. Hy het geen vorige ervaring met perde nie, maar was nog altyd lief vir diere. Na ‘n kort rukkie as perdeversorger het hy besef hy het sy plek gevind.  “Hy is ‘n uitstekende ruiter wat die perde baie goed versorg,” sê Deirdre. “Ons perde is baie gelukkig en gesond.”


CAPE GARDEN CENTRE | E-pos: info@capegardencentre.co.za www.capegardencentre.co.za

Filed under: farmers, Niche Farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published.