Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Dié Vredendalse produsent dra ’n groen baadjie.

Woorde: Clifford Roberts Videografie: Michel Dei Cont

ʼn Boerdery op Vredendal se soeke na nuwe geleenthede en wye belangstellingsveld het gelei tot die begin van ‘n stokery wat met sonkrag bedryf word en die aanplanting van ‘n bamboesproefplaas. 

Joubert Roux en sy broer, John, boer saam op die plaas Groenhoek digby die Olifantsrivier. Die rivier is ‘n lewensaar in hierdie dorre geweste en vorm al lank die Namaqua Weskus-streek se basis vir veral druiwe- en rosyntjieboerdery.

Die druiwe, aartappels en pampoen word deur John hanteer, terwyl die klein stokery en aangrensende bamboesplantasie Joubert se baba is.

Joubert het lank in die konstruksiebedryf gewerk voor hy by boerdery betrokke geraak het. Hierdie boorling van Vredendal het onder meer op die direksie van die Namaqua-wynkelder gedien.

Die idee vir die stokery kom eintlik al ‘n langpad, vertel hy. “Ons het jare gelede ‘n sketsplan van ‘n Franse Prulo-stookketel gekry en wou een oprig, maar dit was die 1980’s en net nie vir klein stokerye beskore nie.”

Toe die wette begin verander het, is hul belangstelling weer geprikkel. Hy lei ons na sy kantoor, waar die ou sketsplan hang. Daar is ook familiefoto’s, ‘n uitstalling van botaniese bestanddele en ‘n kaart wat wys watter streke van die land die meeste sonlig kry.

“Ek het ‘n ou koperketel gekry wat in my ma se tuin as ‘n potplant-houer gedien het. Hy was vol gate en daar was komponente weg, toe stuur ek dit na ‘n kopersmid in die Kaap om reg te maak,” sê Joubert.

Joubert Roux wys graag vir besoekers die plant wat jenewer-bessies vir gin-maak lewer.
Die stokery maak ’n reeks produkte insluitend gin en vodka – albei gewilde bestanddele in mengeldrankies.

Vandag staan dié einste ketel nou in die First Principles-stokery wat in ‘n nuwe rooibaksteengebou, omring deur bome en ruie plantegroei, gehuisves word. Buite staan tafeltjies en stoeltjies en oor naweke is dit dié plek om te kom kuier en in die ruie bamboesbos skuiling teen die hitte te vind.

“’n Stempel op die kant van die ketel dra sy oorspronklike lisensie-nommer,” wys hy uit. “Ek wil nog sy geskiedenis gaan naspoor; ek glo die ketel kan tot 150 jaar oud wees.”

Ek het ’n ou koperketel gekry wat in my ma se tuin as ’n potplant-houer gedien het.

Daar is ook ‘n hele paar ander ketels in die vertrek: ‘n klein een van Portugal waarmee hy graag eksperimente aanpak; ‘n kolomketel uit Sjina; en ‘n klein vakuumketel wat Joubert self ontwerp en gebou het.

Daar is altyd interessante eksperimente by die First Principles-stokery op Vredendal aan die gang.

KOOLSTOF-NEUTRALE STOKERY

Die onderneming wat in April vanjaar geopen het, het ʼn ongewone aanslag tot die “craft” gin-bedryf.  

“Met die afgelope paar jaar se ongekende groei in klein stokerye – veral gin – het ons besef dis sinneloos om tradisioneel te wees,” sê Joubert. “Ons maak dit toe ‘n doel om alles so na as moontlik koolstof-neutraal te bedryf en so plaaslik as moontlik te wees.”

Die resultaat was die ontstaan van moontlik die enigste klein stokery wat grotendeels met sonkrag bedryf word.

“Verhitting is ‘n groot insetkoste vir ‘n stokery,” verduidelik hy.“ Om genoegsame sterk alkohol te produseer, kan jy nie daarsonder nie.

Die gin-proe hier is altyd ’n avontuur.

“Ons het ‘n groot geiser op die dak waarmee ons ons eie hitte opwek en deur die gebou en toerusting sirkuleer. Ons het ook ‘n sonkrag PV-stelsel op die dak, wat ons krag opwek. Saam sal hulle ons in staat stel om oor ‘n jaar ons doel te bereik.”

Alle botaniese afval word in die komposhoop gegooi. Gryswater gaan in die toilette en swartwater word op die bamboes uitgepomp.

Dié eko-vriendelike strategie word ook verder in die onderneming toegepas. Waar die land se meerderheid produsente bottels invoer, word Joubert s’n plaaslik vervaardig.

“Dit maak net nie vir my sin om ‘n kilogram-bottel uit Frankryk in te bring, op te ry Vredendal toe om dit dan weer terug te ry Kaap toe nie.”

’n Kolomketel word ook gebruik om alkohol te produseer en is uit Sjina ingevoer.

Water om die gin tot by die wetlike 43% af te water kom van die plaas, en selfs die tonikum wat hy vir proeë voorsit (Cederberg Tonic) word in nabygeleë Citrusdal gemaak.

SKEP VAN ’N HANDELSNAAM

‘n Houtblokkie wat oor die skroefdop pas om die verpakking sy eie identiteit te gee, word uit swarthout van dié indringer-boom in Vredendal vir hom vervaardig. “Die enigste plastiek in ons verpakking is binne die doppie, wat die bottel seël,” sê Joubert.

Natuurlik het hy sy uitdagings gehad. Weinig nuwe ondernemings ontstaan maklik en Joubert kan ook daarvan getuig. “Ek het myself drie jaar gegee om die handels-merk te bou, maar nie besef hoe persoonlik dit sou wees nie: jy moet alles dryf – self die proeë doen; die funksies bywoon en die gesig van die besigheid wees.

’n Portugese stookketeltjie word gebruik vir klein eksperimente.

“Dit bly ook verander soos wat jy nuwe dinge agterkom.”

Buiten die vele verantwoordelikhede wat met dranklisensie-aansoeke (wat hom drie jaar geneem het) gepaardgaan, het hulle halfpad met die bou van die stokery ontdek dat die dak te laag is en toe moes daar vinnig ‘n plan gemaak word.

Die resep-ontwikkeling vir sy gin was ʼn 18-maande-lange proses, waaroor hy sê: “Ek het nuwe respek vir die Israeliete, want dit was maar vir my soos ‘n wandeling deur die woestyn.”

Maar uiteindelik het hy sy resepte reggekry.

Die stokery se hoofketel het ’n lang geskiedenis en dra nog sy oorspronklike lisensienommer.
Oorblyfsels van die botaniese bestanddele wat in die stookproses gebruik word, word vir gaste uitgestal.

Die stokery se logo is ‘n bosvark met ‘n ou leer valhelm en skermbril “omdat ek iets kwinksinnig met ‘n skakel na Afrika wou gehad het”.

Die naam van die onderneming het ontstaan uit hul filosofie om uit die staanspoor alles self te produseer. “Ons produkte word gemaak vanaf first principles. Waar baie produsente byvoorbeeld alkohol inkoop en dan hulle botaniese elemente bysit, fermenteer ons self om die alkohol vir die ketel te verskaf.”

Joubert gebruik Lowerland organiese koring vir die gin en organies verboude druiwe vir sy vodka. Sy planne sluit ook ‘n organiese brandewyn in wat hy binnekort in samewerking met Stellar Winery wil vrystel; ‘n produk wat plaaslike nektariens vertoon; en die gebruik van organiesverboude graan.

Botaniese byvoegsels vir die gin wat hy nie hoef in te koop nie, soos jenewer-bessies, boegoe en rooibos, pluk hy in sy eie tuin. Dit sluit ook sitroengras, roosmalva, bloekom, kruisement, die skil en blare van suurlemoene, basilie, tiemie, wilde moederkruid en kerrieblaar in. Hy wil die versameling verder uitbrei en het selfs ‘n klein hoeveelheid jenewer-boompies geplant.

WONDERBAMBOES

Sy fassinasie met plante het ook sy ander projek tot stand gebring. Langs die stokery is 10 ha bamboes geplant, bestaande uit 56 variëteite

Joubert lei ons deur die bos wat vêr bo ons koppe uitstyg. Die blare is soos ’n dik tapyt onder ons voete. Die plaashonde – Fluffy, Blommetjie en Lilli – draf saam en die voëls in die bos maak geraas.

“Dis ‘n wonderlike plant,” sê Joubert. “Ek het 15 jaar gelede begin navorsing doen. Dit het begin by bamboes in ons tuin by die huis; ons was so verbaas oor die groei dat my dogter elke dag gaan meet het hoe ver dit oornag gevorder het. Toe ek begin oplees daaroor, kom ek vinnig agter hoeveel nonsens daaroor geskryf is. Ek het besluit om al die variëteite wat ek kon kry, hier aan te plant en het self aangesukkel.”

Die doel van sy pogings is om die probleem van besoedelde water aan te pak. “Die plant kan ‘n langtermynoplossing vir besoedelde water uit die steenkoolmyne bied, asook vir ander bedrywe wat daarmee worstel. Dit kan selfs ‘n oplossing wees vir gebrekkige rioolplase.”

‘n Hektaar bamboes is ook by Spruitdrift Wynkelder as proef geplant om die effek op sy afvalwater te bestudeer. Dit vorm ook deel van navorsing deur die Universiteit van die Witwatersrand.

Langs die stokery is 10 ha bamboes geplant, bestaande uit 56 variëteite. Die doel van die projek is om die probleem van besoedelde water aan te pak.

“Met die myne is daar drie probleme: stof, water en swaar metale. Die bamboes gooi baie blare af en vang dus die swaar metale op; plus, die plant kan massas van hierdie water verwerk. Oortollige bamboes kan dan opgesaag word as brandhout of houtskool, wat dit dan volhoubaar maak,” sê hy.

Joubert neem ons weer terug na die stokery, en na die baie praat is dit (uiteindelik) proetyd. Ons verwyl nog ‘n rukkie en teug dorstig aan sy reeks en ‘n paar produkte waaraan hy nog skaaf. Hy stel ons voor aan die pisco-sour mengeldrankie van Peru, en só vertoef ons tot laatmiddag en word ou vriende.

Langs die stokery is ’n tuin wat meestal van die botaniese bestanddele vir die gin verskaf.

Die First Principles-stokery is Maandag tot Saterdag oop vir besoeke. Aankope kan ook op sy webtuiste – www.1stdistilleries.co.za – gemaak word, en aflewerings is landwyd beskikbaar.


Besigheid:  First Principles Distillery | Eienaars: Joubert Roux | Area: Vredendal, Western Cape, South Africa | Kontak: 076 132 5614  |  www.1stdistilleries.co.za

Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

Clifford has been a journalist and writer since the early 1990s. During that time – as he worked amidst the commotion of township demonstrations, among farmers, and in remote villages across the country – he discovered the stark truth about what makes us human. Nowadays he lives in a city close to the ocean which he loves, but he still brings homage to this truth by contributing to a variety of national publications. “The words of a song by Stef Bos apply to me because I will ‘always be en route’,” he says.

Leave a Reply

Your email address will not be published.