Ons boer hier op Bo-Vlakte, tussen Barrydale en Montagu, aan die Klein-Karoo-kant van die Langeberge, met onder meer appels, pere, heuningbostee en proteas. My man, Nico, die oudste van die Janse van Rensburg-gesin, boer alleen. Sy pa, Erik (wat volgende jaar 80 word!) het voor hom hier geboer. Hy hou van tyd tot tyd nog ʼn ogie as ons in die winter kans kry om met vakansie te gaan.
Ek het ingespring om met die proteas te help nadat skoonma Aletta dit eers gedoen het. Dis my werk om toe te sien dat die blomme in die aangeplante veld weekliks gesny en afgelewer word en dit hou my lekker aan die gang.
Hierdie foto is onlangs geneem ná ‘n dag se oes. Die twee Hongaarse Viszlas, Sima (wat ‘vlakte’ in Hongaars beteken) en Kani (ʼn verbuiging van ‘canine’ of hond) het dieselfde bloedlyn, maar hulle geaardhede verskil hemelsbreed! Hulle is afstammelinge van die Pointer-ras en het sterk jaginstinkte. Hulle geniet die plaaslewe verskriklik baie – die lang staptogte in die boorde of in die berg, swemsessies in die dam en natuurlik muisjag in die proteabosse. Ek glo hulle is, nes ek, dolgelukkig hier!

Fotograaf: Karla Janse van Rensburg | karla.niknaks@gmail.com