Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Dewald Kirsten
’n Granaat het soveel stories as wat hy pitte het. Dit dra die simboliek van eksotiese, antieke beskawings en die versluierde suggestie dat hiérdie die oorspronklike verbode vrug was. Sensueel beslis, maar ook met ’n dikvellige onwilligheid om te vrek. Dink nou maar aan die verlate Karoo-opstalle met een ou granaatboom wat verbete aanhou blom. Maar om boorde vol granaatbome deur een van die ergste droogtes ooit te kry, is ’n heel ander storie.

Christo en Elizabeth Nortjé van Blydeverwacht meen my siening van die sensitiewe granaat is hopeloos te hard. “Dit is ’n baie sagter vrug as wat mense dink,” meen Elizabeth, “want ons moet dit só pluk en verpak dat die kroontjie behoue bly.” Die kroontjie is die gepunte skilrandjie bo-aan die granaat en ten einde die beste pryse oorsee te behaal, moet die kroontjie in goeie kondisie daar aankom.
Dit was vir hulle, hul werknemers en die verpakkers ’n massiewe leerkurwe om die delikate vrug ongeskonde van tak tot rak te kry. Granate word een vir een met die hand gepluk en in konsentriese lae in ’n ronde drom gepak, waarna dit in die pakstoor in water gedompel word sodat die granate kan uitdryf met die minimum handkontak. “As jy ’n ryp granaat by jou oor hou en druk, dan hoor jy hoe skiet die pitte,” sê Christo.
Christo het voorheen tafeldruiwe buite Clanwilliam geboer, tot hy en sy gesin 17 jaar gelede na Blydeverwacht getrek het. Aanvanklik het hy net met wyndruiwe geboer wat hy aan Wellington Wines gelewer het. In 2007 het hy besluit om uit te brei en het oorweeg om groente te plant. “Ek was al besig met die modelle vir mielies en dies meer plant, toe granate per toeval my pad gekruis het,” vertel hy.

BOODSKAP VAN BO
Christo en sy skoonpa, Manfried Dietstein (wat ook eienaar van die boerdery is) het gaan uiteet toe ’n onbekende vrou wat onlangs uit Israel teruggekeer het, hulle aangeraai het om granate te plant. Nét die volgende dag was Christo by ’n Hauptfleisch grondverskuiwings-vergadering waar ’n groep Israeli’s ook oor granate gepraat het. Om so uit die niet, binne een dag en vanuit twee uiteenlopende hoeke dieselfde advies te ontvang, het ’n saadjie in Christo se kop geplant – sommer ’n groot saad.
Danksy die opleistelsel dra die bome vinniger en beter en kry hulle na 2½ jaar reeds 15 tot 20 ton per hektaar.
Op daardie stadium was daar slegs enkele tipes kommersiële granaat-aanplantings in Suid-Afrika beskikbaar, meestal Indiese kultivars wat nie baie suksesvol was nie. Die besluit was nie sonder risiko’s nie. “Ons het drie dae daaroor gevas en gebid, en toe het ons die boompies bestel by ’n kweker wat verbonde was aan ’n Israelse groep.” Daarna is Christo en sy skoonpa na Israel om meer oor dié tipe boerdery te leer. Hy het ’n blok Cabernet Sauvignon en ’n blok Merlot uitgetrek om sy eerste granaatbome te plant. Vandag het hy 27 hektaar granate en sou hy graag meer wou plant, maar ’n tekort aan water is steeds die beperkende faktor. Hulle plant net Israeliese kultivars. Tans het hulle Acco, Herskovitz, Wonderful en Emek in die boorde.
UNIEKE OPLEISTELSEL
Die bome word op ’n unieke manier opgelei. Omdat dit ’n pap boom is – eintlik meer soos ’n struik – val dit plat vanweë die vrugte se gewig. Elke boom word in die middel oopgetrek en na die kante opgelei. Hierdie metode maak die bome ook meer windbestand en verminder sonskade op die granate. Tans plant Christo 1 000 opgeleide bome per hektaar, waar die bedryfnorm voorheen 600 vrystaande bome per hektaar was. Danksy die opleistelsel dra die bome vinniger en beter en kry hulle na 2½ jaar reeds 15 tot 20 ton per hektaar.

Christo voer ten minste 80% van sy granaatoes uit. “Jy sal dit nie glo nie, selfs granate wat nie aan die kosmetiese uitvoerstandaard voldoen nie, word vir prosessering na Europa, die VK, Ghana, Egipte en selfs na Irak uitgevoer. Die granate word daar ontpit en in bakkies verkoop vir slaaie ensovoorts. Die granate wat oopbars of sonbrand gekry het, word plaaslik vir sap gebruik.” In die afgelope tien jaar het die bedryf aansienlik toegeneem en tans is daar ongeveer 1 000 hektaar granate in Suid-Afrika, waarvan die grootste konsentrasie rondom Wellington en in die Breede Riviervallei is.
RISIKO’S EN RATE
Alhoewel granate van hitte en sonlig hou, is sonbrand ’n groot probleem. Boorde word met Screen Duo gespuit om teen sonbrand te beskerm. ’n Piepklein granaat is rooi, in sy groeistadium is dit weer groen, en met rypheid word dit weer die pragtige granaatrooi kleur. Dit is net tydens die groen stadium dat granate vatbaar is vir sonskade.
Ek het die poel elke dag leeg gepomp en die volgende oggend was dit weer aangevul met syferwater. Elke oggend het ek op my knieë langs my pomp gaan sit en bid vir die dag se water.
Biologiese middels, soos predatore teen witluis en steriele motte teen vals kodlingmot, word ingespan. Steriele motte word uitgegooi en wanneer hulle met die wilde motte paar, is daar geen nageslag nie. Hulle maak ook gebruik van feromone vir paringsontwrigting. Ons ry verder om na hul vlermuishotelle te gaan kyk – nóg ’n slim, biologiese manier van insekbeheer. Drie verskillende houtkissies hoog teen ’n paal huisves verskillende soorte vlermuise. Die motte tel die vlermuise se sein op, neem aan hulle word gejag, en vlieg weg. Een vlermuis kan ook tot 300 motte per nag eet.
DAY ZERO
Met ons eerste besoek in Desember 2017 het die droogte gedreig om Blydeverwacht se oes te vernietig. Die watertoevoer uit die Bergrivier sou teen 23 Januarie opdroog indien dit nie reën nie. Christo het nog altyd op 13 Februarie begin oes en die boorde benodig water tot minstens einde Maart. ’n Onderbreking in die watertoevoer beteken ’n klein oes – of selfs geen oes – en dit benadeel ook die volgende jaar se oes. Terwyl Kapenaars vreeslik bekommerd was oor die moontlikheid van leë krane op Day Zero, het die Nortjés die verlies van alles om hulle in die oog gestaar. En toe gebeur die ergste.

POELE VOL GENADE
“Die Bergrivier het middel Januarie opgedroog. Net ’n paar poele water het bly staan. By my pomp was so ’n poel water. Ek het die poel elke dag leeg gepomp en die volgende oggend was dit weer aangevul met syferwater. Elke oggend het ek op my knieë langs my pomp gaan sit en bid vir die dag se water. Op dié manier is ons granaat-oes deurgetrek. Ons het ’n baie goeie oes gehad te midde van die uitdagende omstandighede. Ons het egter die druiwe-oes verloor en baie stokke het gevrek weens die droogte,” vertel Christo.
“Ons sal nooit weer kan teruggaan na die manier van waterverbruik vóór 2018 nie. Deesdae kyk ek na ’n gewas se inkomste as rand per kubieke meter watergebruik. Ek het besef dat water ons beperking op produksie is, en nie grond nie.”
Die Bergrivier was só droog dat Christo op droë grond deur die rivier na sy buurman aan die ander kant kon stap. Dit het eers in April 2018 begin reën, maar toe reën dit goed en voldoende. Ongelukkig was 2019 weer droër. “In 2019 se winter het ons 120 mm minder reën gehad as in 2018. Alhoewel die Kaapse opvangsdamme goeie water gekry het, was die reënval in ons area baie laag. Dit was ook nie ’n koue winter nie. Daar was nooit sneeu op ons bergtoppe nie,” sê Christo. Ongeag die afname in reën sien Christo uit na ’n goeie oes in 2020.

Hy sê gebed, geloof, hoop en baie genade het hom deur die droogte gedra. “As ek vandag terugkyk weet ek nie of ek weer kans sien vir so ’n seisoen nie,” sê hy. Hy het egter baie geleer en meen dat dit sy denkwyse onherroeplik verander het.
“Ons sal nooit weer kan teruggaan na die manier van waterverbruik vóór 2018 nie. Deesdae kyk ek na ’n gewas se inkomste as rand per kubieke meter watergebruik. Ek het besef dat water ons beperking op produksie is, en nie grond nie.”
WATER-WYS VORENTOE
Die plaas doen nou baie meer lower-bestuur in die somer en behou net die nodige lower om die oes groot te maak. Hulle maak ook baie meer gebruik van organiese bedekking onder die bome vir vogbewaring. Vier hektaar Emek is in 2018 geplant omdat die variëteit ’n korter groeiseisoen het, dus is dit vroeër markgereed en die plaas gebruik minder water om die oes te produseer.

Christo is baie positief oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse granaatbedryf en die internasionale uitvoermoontlikhede. Die plaas se granaatkwekery doen goed en hulle het in die afgelope jaar veral Emek-bome verkoop.Blydeverwacht se granate bevestig weereens dat ’n boerdery oorleef op goeie bestuur, aanpasbaarheid en genade van bo.
Blydeverwacht | Area: Wellington, Wes-Kaap | Kontak: +27 (0)82 789 4037 | E-pos: christo@blydeverwacht.co.za