Farm to Fork, farmers, Female Farmers
Leave a comment

Toor met sand op Suurfontein

Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont

“Daar’s sand in my hare,” sê Michel as ons uiteindelik agter die boskroegie by Sandveld Organics stop. Ek het sand in my hare én tussen my tande, dink ek, maar hou dit vir myself.

Tussen die duine – dit voel meer soos die Namib as die Sandveld.

Theunis en Susi Engelbrecht se plaas Suurfontein was in 1998 die eerste geakkrediteerde organiese groenteplaas op die Weskus. Spoedig was hulle ‘n onafhanklike verskaffer van organiese groente aan die Woolworths-groep, tot die sluit van hulle toegewyde organiese koopafdeling, ongeveer drie jaar later.

DROOM GROEN

“Dit het begin met ons wat baie groot drome gehad het om groot-skaal organiese groente aan winkels te verskaf; ‘n hele reeks,” vertel Susi. “As jy weet hoe groot produsente van Woolworths gewoonlik is, dan was ons ‘n skoot in die wind.”

Terwyl ons gesels, besef mens dat Susi ‘n vrou met weinig illusies is; en dat sy haar vakgebied soos haar eie hand ken.

Die rissies gloei van gesondheid, maar hier moet mens tweemaal dink voor jy iets in die kies stop.

“Ek dink nie die Sandveld is regtig geskik vir groenteverbouing nie. Dis ‘n taai wêreld. Daar’s baie wind, baie sand, baie son. En dit word net erger. Met die afgelope droogte was dit amper net uie en preie wat nog buite kon groei.”

Ek dink aan hoe dit buite lyk – dis duidelik ‘n plaaswerf met ‘n groot tuin, maar mens wonder half wáár hulle boer. En waarom dan organies? Susi huiwer nie.

“A couple of coincidences, and a big measure of ignorance from our side as to what it really entailed.”

“Ekonomies sal ek dit nie aanbeveel nie, nee. Mens investeer in baie dinge wat nie op ‘n bankstaat reflekteer nie.”

Dan skakel sy terug na Afrikaans, effens gekleur met ‘n Switserse aksent.

“My ma was redelik organies ingestel – nie asof sy na die sterre gekyk het om te plant nie, maar sy het bietjie dieper gekyk; nie net alles as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek was altyd lief vir tuinmaak; en effens op ‘n los kol toe ek vir Theunis leer ken het. Toe kom ons, snaaks genoeg, op ‘n artikel af wat Brian Pickering vir die Gordon’s Bay Herald geskryf het – oor sy organiese verbouingsmetodes by Raithby buite Stellenbosch, waar hy grond gehuur het. And then we thought, this is actually a nice way to go about it.” Brian, hoor ek, was die persoon wat heel eerste organiese groente aan Pick n Pay verskaf het.

Soos ‘n lewende handleiding. Daar is min aspekte van organiese landbou waaroor Susi nie onderhoudend kan uitwei nie.

BOER NIE VIR BLARE NIE

“Ekonomies sal ek dit nie aanbeveel nie, nee. Mens investeer in baie dinge wat nie op ‘n bankstaat reflekteer nie.”

Soos die toekoms, voltooi ek die sin.

“Die gebied is op een manier ideaal en op ‘n ander glad nie. Aan die een kant is dit ongerep – dis nie soos Stellenbosch waar jou bure basies jou plaas vir jou bespuit nie; die inseklewe is ook nog onaangetas.”

Nie dat organies ‘n wondermiddel is nie. Organiese plase is baie keer die teiken van alle peste, bloot omdat almal om hulle spuit.

Vier tipes organiese tamaties.

“Ja. By the same token word ons altyd geblameer vir alles. ‘Kyk nou, hier kweek hulle al die kwale en dan stuur hulle dit na ons toe.’”

Susi beduie na ‘n bak gesonde rooi uie op die kroegtoonbank.

“Daardie rooi uie is eintlik wat ons na 15 jaar opgebou het. Dis ons eie uiesaad.”

So dis erfenissaad? vra iemand.

Vinnig kom jy agter Susi is nie iemand wat onverantwoordelik is met terminologie nie.

KORT GESKIEDENIS VAN GIF

“Ja, nou is ons by erfenissaad. Erfenissaad het omtrent tien verskillende definisies. Die beste is eintlik voor die chemiese revolusie; voor die Tweede Wêreldoorlog. Dit was eintlik die keerpunt. Gedurende die oorlog het Amerika mos plofstoffabrieke gebou. Die oorlogsmasjien was in volle swang; en toe eindig die oorlog. Toe sit hulle met ‘n klomp plofstoffabrieke waarmee hulle niks kan doen nie. En dis waar kunsmis en gifstowwe vandaan kom.”

Saailinge word in die skerm sterker voor hulle uitgeplant word.

Dis seker voor die hand liggend, maar kom half uit die bloute. Dis natuurlik ook nie asof organies waarborg dat landbou volhoubaar en gesond sal wees nie – alles handel tog oor balans en gesonde interaksie.

Meeste van die saad word in ‘n skerm gekweek.

“Vóór dit het mense nog organies geboer. Hulle het basies gewerk met hulle kompos en hulle beesmis en hulle Gülleloch.”

Skielik proes Michel. Switserland is ook waar hy grootgeword het.

“Jy sal weet wat dit is,” lag Susi. Ons lag saam, al weet ons vir ‘n ruk nie hoekom nie.

Twee eiervrugte, reeds te ryp om geëet te word, maar die saad het nog tyd nodig.

SWITSERSE “LENTEVREUGDE”

Gülle word ons vertel, is basies ‘n pappery wat bestaan uit die mis en urine van plaasdiere wat, saam met die strooi waarop hulle in hulle stalle oorwinter, gladgeklits en in tenke versamel word om te fermenteer. In die vroeë lente word dit ruim as organiese misstof gebruik, sommer so bo-oor die laaste sneeu, en het ‘n baie kenmerkende en sterk reuk, iets waarmee die Switserse mense maar alte vertroud is. Die loch is die tenk waarin dit bewaar word. In Switserland is daar perke op hoeveel van hierdie ‘lentevreugde’ toegedien mag word omdat dit tot monokulture lei, m.a.w. dat dit net sekere grasse en onkruide bevoordeel en baie van die ander inheemse plante doodmaak. En die soute eindig natuurlik ook in die grondwater op.

Artisjokke groei welig, sommer so tussen die gras.

Die groter Suurfontein buite Lambertsbaai was die familieplaas waar Theunis grootgeword het.

“Sy ouers het ‘n deel afgesny en aan ons verkoop,” verduidelik Susi.

“Díé deel van die plaas is baie klein vir hierdie gebied – skaars 150 hektaar. Tradisioneel is plase in die omgewing ongeveer 3 000 hektaar groot. Tensy mens hier iets baie gespesialiseerd sou doen, is die plaas eintlik te klein. In Switserland is ‘n halwe hektaar reeds ‘n halwe plaas.”

Kan dit kool wees wat so hoog staan?

Graafwater is nou wel nie in die Alpe nie, maar dit begin duidelik word hoe daar soveel op hierdie klein stukkie grond kan gebeur.

MINDER GEPLA MET PLAE

Ons merk dat die spinasie nie ‘n enkele gaatjie op hulle blare het nie. Soos met alles is Susi se siening van plae onkonvensioneel.

“O, daar is ‘n paar. Hierdie goed is authentic,” lag sy.

Wat doen jy om alles plaagvry te hou?

“O, daar’s baie peste hier! Soos James Moffett sê, as mens uit ‘n situasie kom waar alles uit balans is, dan is dit regtig moeilik. Ons het in die begin baie gesukkel. Daar is produkte wat mens kan gebruik en ons gebruik dit ook soms. Ek het besef dat mens – op die skaal wat ons verbou – moet aanvaar dat jy elke nou en dan iets gaan afskryf; as jy nie jou plae kans gee om te oorleef nie, dan gee jy hulle natuurlike vyande ook nie ‘n kans op oorlewing nie. Jy moet ‘n punt maak daarvan om ‘n sekere hoeveelheid peste te verdra. Ek kan vir julle plantluise wys; en dit lyk sleg. Maar daar’s ook lieweheersbesies daar.”

Die ingang van die winkeltjie en kroeg.

“Luise lyk dalk nie altyd so goed nie. Maar die peste moet ook wegkruipplek hê. So mens los ‘n bos hier en ‘n stapel ou hout daar. In Switserland, as boere bv. gras sny, beveel hulle aan dat jy eers net die een helfte sny. Hulle beveel ook bosheinings aan. By ons op die plaas het ons ‘n effens sub-optimale waterleidingstelsel wat maak dat ons sekere dele van die plaas nie kan bewerk nie omdat ons nie per ongeluk pype wil afsteek nie. So daar’s dele waaraan ons glad nie raak nie. En dis presies wat die diere en insekte nodig het.”

SAAD MET ‘N TOEKOMS

Tans is saad Susi-hulle se hoofinkomste. Is dit waarvoor die kweekhuise is, wil ek weet.

“Ja, ons het so haastig ‘n paar skerms gebou. Na ons vir Woolworths gelos het, het ons meer en meer in die rigting van saad geskuiwe. Ons het langs die pad al pogings gemaak om saad te wen. Dis onmoontlik om organiese saad in Suid-Afrika te koop. As ‘n gesertifiseerde organiese plaas is jy mos veronderstel om net organiese saad as insette te gebruik.”

Hier gaan veel meer aan as wat mens dink. Deur die dag staan die kroegie leeg.

Maar mens se eie saad oes, is ook geen nuwigheid nie. “Tot basies twintig jaar terug het mens altyd die beste produkte uitgehou vir saad.”

Dra die beste groente en vrugte dus altyd die beste saad?

“Dit gaan tydens die Covid-pandemie eintlik goed met ons. Verkope van organiese groente en saad het baie toegeneem.”

“Dit hang af van wat jy wil hê. Neem byvoorbeeld tamaties. Supermark-tamaties is eintlik ‘n ramp. Die geen wat selekteer vir die soetheid van tamaties is op dieselfde sequence as wat grootte is. Omdat daar pal vir grootte geselekteer is, het die soetheid verdwyn. Net so hou die dieprooi kleur en ‘n baie eienaardige reuk met mekaar verband. So tamaties ruik nie meer soos tamaties nie.”

“Nou wil mense die rigting van erfenissaad inslaan, maar hulle verloor uit die oog dat ‘n erfenissaad-waatlemoen dalk baie lekker is, maar baie klein is, en met 101 pitte sit. Hibried-tegnologie het darem bietjie verder gegaan as saad wat oop bestuif word, waar jy gewoonweg die beste uithou en plant vir saad.”

Saad is van Susi-hulle se hoofinkomste.

Op die oomblik verskaf Sandveld Organics saad aan ‘n hele reeks verspreiders, onder andere by Slow Market Stellenbosch en die OZCF mark in Grangerbaai, wat tydens sekere vlakke van die staat van inperking ook moes sluit. Saadverkope op hul eie webwerf doen ook tans goed. “Dit gaan tydens die Covid-pandemie eintlik goed met ons. Verkope van organiese groente en saad het baie toegeneem,” sê sy.

Susi verduidelik dat saad tipies eers ná bestelling gekweek word.

“Saad is ‘n langtermynprojek. Jy kan nie regtig saad kweek in die hoop dat jy dit gaan verkoop nie – saad het ook maar ‘n rakleeftyd. My volumes is klein – alles word per hand gedoen.”

KENNIS SAAI

Om kennis uit te ruil is van kritieke belang met organiese verbouing. Aanvanklik is daar heel informeel ‘n bietjie handgegee aan ‘n groepie vroue uit ‘n vissersgemeenskap wat gesukkel het met hulle groentetuin in Lambertsbaai. Hierdie het mettertyd uitgebrei tot ‘n gestruktureerde onder-steuningsprogram vir toetredende boere, met die ondersteuning van verskeie staatsdepartemente.

Werk saam met Vukani Makhosikazi in 2007 het aanleiding gegee tot voorligtingsprojekte saam met Suurrug Landbou-vereniging, Wupperthal Organic Emerging Farmers en Breevlei Landbouontwikkelings-forum in Wupperthal en Taraqwa Emerging Farmers in Petersfield, Citrusdal. Daarna het Northern Sandveld Water Users Association se skooltuinprojek gevolg, asook kursusse oor geïntegreerde plaagbeheer in Wupperthal, ‘n navorsingsprojek oor die produksie van essensiële olies en konsultasiewerk saam met Seeland Development Trust op Langklip Plaas, St. Helenabaai.

Uieblatjang, beet en rissiesous – enkele van die ingemaakte groentes op die rak.

Die lys is armlank. Susie het onlangs ook begin met halfdag-werkswinkels vir tuiniers in die Kaapstad-omgewing wat belangstel om hul eie organiese groente te groei.

PIEKELS EN KONFYT

Op ‘n houtrak staan rye flessies inge-maakte groente, die uitvloeisel van beide saadverbouing en die feit dat net die mooier groente in die dose waarin hulle tans versprei, mag ingaan. Daar’s ingemaakte uie en olywe en rissies en beet – amper elke ding wat ooit op die plaas gegroei het, is al ingemaak. Die inmaakgoed is eintlik maar ‘n uitvloeisel van die saadbesigheid, hoor ons. Tamaties, byvoorbeeld, se sade word uitgekrap en dan het jy die vlees om iets mee te maak.

“Die eerste suurtjies wat ek gemaak het, was met baba-uitjies. Die mark soek altyd die grotes, maar die kleintjies het agtergebly. As jy 8 maande gesukkel het om iets te oes, gooi jy dit nie weg nie. So jy soek maar altyd iets om daarmee te doen. Suurtjies en beetslaai is ‘n goeie manier om klein uitjies of bababeet te benut.”

Rissies van elke kleur soos hulle ryp genoeg word om te oes vir saad.

“Die punt is maar om soveel as moontlik van jou oes te gebruik. Vandag word 20% van die oes gebruik; 80% word óf van kompos gemaak óf vir die varke gegee. As daardie 20% vergroot kan word, is mense al baie beter daaraan toe wat die voedselsituasie betref.”

MONDGEVOEL

‘n Goeie soort wakkerword is as mens besef dat wat jy altyd gedink het ‘n ouderdomsverwante agteruitgang van jou smaaksintuig is, niks anders is as dat kos al minder na iets proe nie. Een hap van die doodeenvoudige spinasiepastei is genoeg – die kors is krakerig vars en die bietjie feta net so lekker. Maar dit is die spinasie self wat my laat regopsit. Dit is asof ek skielik met ‘n mondvol plaas sit – mens kan in die blare proe hoe die vars omgedolwe plaasgrond buite ruik; presies soos mens sou dink spinasie móét proe – skoon en sonder ‘n enkele sandkorrel, voor dit klink of ek dalk regte grond geproe het.

DUIN-RUITERS

Die tyd is besig om vinnig aand se kant toe te staan, maar ons wil gou na die tuin gaan kyk. Waar ook al ons gaan, word ons agtervolg deur ‘n stuk of twaalf opgeskote makoukuikens wat gaan lê elke keer as ons stilstaan. Hulle ma hou so stilweg ‘n ogie.

Theunis (op linkerkant) verduidelik hoe die duine gevorm het. Mia, Jacques en Griet (op regterkant) geniet ‘n skemerkelkie.

As ons terugkom, pak ons vinnig ‘n paar biere in ‘n koelsak en spring op Theunis se 4×4 Mahindra. Skaars twee draaie en ‘n bos verder is ons tussen die duine. Meer as 250 hektaar duine lê skielik voor ons – ek kan my nie indink waarvandaan soveel sand kom nie.

“Dit lyk soos ‘n stuk Walvisbaai wat hier ingewaai het,” merk ek op.

“Mens moet jou ding ken in die duine. Die duin kom nie na jou toe nie. As jy iets oorkom, is dit jou eie skuld.”

Langs ‘n hardnekkige Jan Twakboom vertel Theunis hoe daar eers iemand anders was wat die duintoere aangebied het, maar dat hulle dit na ‘n jaar of twee self oorgeneem het.

“Dis eintlik nat hier onder die duine,” verduidelik hy. So geleidelik het die sand opgebou. Daar was ook eers ‘n kampeerterrein, maar daar’s te veel gesteel daar. Vandag is dit maar ‘n braaiplek. Niemand slaap meer oor nie.

“Mens moet jou ding ken in die duine. Die duin kom nie na jou toe nie. As jy iets oorkom, is dit jou eie skuld.”

Vir ‘n ruk voel dit of ons in die middel van ‘n woestyn staan – in ons ore net die geluid van die wind deur die sandbossies.

Wanneer ons terugkom, gooi Theunis vir hom ‘n brandewyn in. “Môre kan ons in elk geval nie werk nie,” sê hy glimlaggend. Ek sien ‘n vinnige kyk van Susi, maar die son is reeds oor die horison. Dis alles so naby, dink ek. En tog so ver. En wie sou kon raai – reg hier op die Weskus.


Sandveld Organics | Area: Lambertsbaai, Wes-Kaap, Suid-Afrika | www.sandveldorganics.co.za

Filed under: Farm to Fork, farmers, Female Farmers

by

A writer with a passion for the arts – including the art of cooking. Jacques concentrates on the stories that surround the people who are involved in making food, craft beer and wine. He received an award at the 2015 Franschhoek Literary Festival and the South African Wine Writers’ Awards. Another feather in his cap is that he is the author of Craft Beer: A Guide to South African Craft Breweries and Brewers. He is a writer of superior calibre and extensive creativity.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *