Woorde: Leoni Kok
Soms is die antwoord om volhoubaar te boer nie ’n kollektiewe of selfs ’n skaalbenadering nie, maar die ontginning van nismarkte. Een só ’n boerdery is Kuifkop Beleggings.

Dié familieboerdery verbou grenadellas en ’n vrug genaamd dragon fruit. Dragon fruit, of pitaja, kom uit Sentraal-Amerika en word hoofsaaklik in tropiese lande soos Viëtnam en Thailand verbou. Kuifkop Beleggings het ’n selfs kleiner nismark betree deur op die wit, eerder as die meer bekende rooi, variëteit te fokus.
Carl Steyn beskryf die smaak van dié vrug se wit vlees as iets tussen ’n waat-lemoen, ’n peer en ’n kiwi. “Die sappigheid van ’n waatlemoen, met die sagtheid van ’n peer en die effe suur van ’n kiwi.” Ná ons self geproe het, moet ek hom gelyk gee vir ’n raak opsomming.

Ons vergaap ons aan die vrugteboorde. Die plant lyk soos ’n rankende vetplant, wat mens eerder in ’n woestyngebied as in die trope sou verwag (hulle is skynbaar familie van die kaktus). Sementlateie met ’n staalraam bo-op dien as ‘n opleistelsel vir die buitengewone plante met hul vreemde vrugte.
Die vrug vorm agter ’n blom wat tussen Januarie en Mei een keer per maand ’n week lank voorkom. Nog ’n eienaardigheid is dat die blomme tussen 9-uur saans en 9-uur die volgende oggend oopmaak.
Die sappigheid van ’n waatlemoen, met die sagtheid van ’n peer en die effe suur van ’n kiwi
Carl Steyn
’n Gemiddelde dragon fruit weeg sowat 600 gram. Die Steyns het hulle eerste boord sowat vier en ‘n half jaar gelede gevestig en het aanvanklik die vrugte vir ‘n toetslopie na Europa uitgevoer. Mens kan vanaf die eerste jaar reeds vrugte oes. Plaaslike pryse het egter tot dusver so goed met buitelandse pryse vergelyk dat die vrugte tans alles op die binnelandse mark verkoop word. Dit is grootliks te danke aan die feit dat die beperkte hoeveelheid produsente in Suid-Afrika nog nie ’n konstante produk aan die plaaslike mark kan lewer nie.

Kuifkop pak self al sy vrugte in ’n pakstoor op die plaas wat GlobalG.A.P.-sertifisering het. Groot vrugte word losmaat verskaf, terwyl medium vrugte in plastiekhouers verpak word. ’n Koue-ketting van 8 grade moet voltyds ná oes gehandhaaf word, en dragon fruit se rakleeftyd van net drie weke, beteken dat alle uitvoere per vliegtuig moet plaasvind.
Plaagbestryding en bemesting word grotendeels met organiese middels gedoen, ook op die grenadellas. Vir bemesting word erdwurm-tee gebruik. Die Steyns het hulle eie erdwurmplaas geprakseer uit ou plastiese drinkbakke vir beeste. Gate is in die bodems van die bakke gemaak om erdwurmmis te versamel, wat met water uit die bakke gespoel word. Dié water – wat uiteindelik die erdwurm-tee vorm – word dan met gewone dakgeute na plastiese opgaartenks herlei.

By die grenadellaboorde merk ons op dat hulle hier ook die sementlateie vir die opleistelsels ingespan het. “Dit hou net langer as houtpale,” verduidelik Carl. Hy noem dat hulle net die Ester-kultivar plant – wat in Limpopo ontwikkel is – omdat dit die enigste kommersiële grenadella is wat in die noorde van Suid-Afrika aard en vir die uitvoermark geskik is.
Saailinge word van ’n kwekery in Letsitele gekoop en plante word elke twee jaar vervang. Grenadellas se rakleeftyd is ook maar aan die kort kant (sowat 3 weke) en moet ook per vliegtuig uitgevoer word. Boonop moet hulle tydens kouer maande in rypmaakkamers geplaas word om te kleur. Dié rypmaakproses vind 12 uur lank teen 30 °C en 95% humiditeit plaas.
Die gewas is voorts uiters arbeidsintensief. Dit word met die hand geplant en geoes, twee keer per week gedurende ’n oestydperk wat agt maande van die jaar duur. Chemikalieë en kunsmis moet ook weekliks toegedien word.

Die Steyns staan egter duidelik nie terug vir ’n uitdaging nie. Hulle beplan om ná die winter uit te brei na ’n derde nisgewas waarmee hulle ook min ondervinding het. Daar is reeds verlede jaar saad geplant om te vermeerder vir hulle gemmerlande. Hulle was immers tot onlangs melkboere; en diegene wat hulle steeds in die melkbedryf bevind, weet watter stryd om oorlewing dít is.
Eienaar: Carl Steyn | Besigheid: Kuifkop Beleggings| Area: Nelspruit, Suid-Afrika
Die gemmerbedryf is so klein, ek hoop nie die boere klim te groot in die plaaslike gemmermark nie. ‘n Nismark is juis wat dit is,klein, gemik op ‘n unieke mark, te veel produsente maak die winsgewendheid soveel laer.