Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Michel Dei-Cont
Boer is vir min mense ’n maklike bedryf. Daarom is die insigte van drie generasies agter die Van Niekerk-boerdery van Tierfontein in die Overberg, van onskatbare waarde, skryf Clifford Roberts.
Met die intrapslag slaan Jean van Niekerk die spyker op sy kop. Hy sê hy verstaan nie hoe mense steeds nie weet waarvandaan en hóé hul kos en klere by hulle beland nie, al is ons in een van “die geseënste dele van die land”. Boonop is daar onkunde oor alles wat boere moet deurmaak om daarvoor te sorg. En oor die pad wat landbouprodukte moet stap voor dit op jou drumpel beland.
Die Van Niekerks boer naby Caledon, en hierdie tyd van die jaar is die velde oortrek met groen wuiwende lande en die geel canola-blommetjies. Op Tierfontein se 470 ha beslaan 80% peulgewasse, gars en koring, die res is lusern vir skaapweiding.
Vandag is die Bolandse berge se prag nes die digters dit so gereeld liries beskryf en wanneer jy teen die koppe agter die plaashuis uitry, kan jy die see sien. Kapenaars het landbou op hul voorstoep, maar tog voel Jean dat ’n verwydering tussen produsent en eindverbruiker selfs hier plaasvind.
Maar, hy erken ook skuld hieroor. “Dis eers ná ’n besoek aan ’n teeplaas, dat ek self elke koppie tee met bietjie meer respek begin benader het,” sê hy.
Die hele middag weerklank dié tema in ons gesprekke. Deur besprekings oor die verskille van Jean se manier van boer en dié van sy pa, Oom JD; oor die toepassing van merkwaardige nuwe tegnologie en masjinerie; oor alledaagse uitdagings; en die weer.
Met boerdery se berugte klein winsgrense en die groot belegging wat dit verg net om te oorleef, kan selfs die kleinste onverwagse buitjie dramatiese gevolge hê. Hy vertel van ’n oes of twee gelede, toe donker wolke oor die streek begin saamtrek het. Hul verskynsel was ontydig en toe hael die huis se vensters begin slaan, het hy geweet daar kom probleme en ’n kleiner oes.
Soos hy en sy pa albei beaam: “Wat min mense besef, is dat die wuiwende groen velde maar net gras of veevoer is tot dit geoes is. Dis nog nie geld in jou sak nie.”
Jean praat van homself as ‘n perfeksionis; mens kan maklik glo daar is nie ‘n ander manier om te boer nie. Daarom die belangrikheid van tegnologie. Maar ons loop nou die storie vooruit.
Jean se oupa het in dié streek geboer en later het sy pa ook begin boer. In 1983 koop hy vir Tierfontein, die plaas waarop Jean en sy sibbe grootgeword het en waar Jean vandag boer. Hoe pa JD dit bekom het, spreek boekdele van die streek se vele gesigte – dalk grasgroen in die lente, maar droog en vaal in die somer. “Die plaas was te koop en my pa het sy oog op die grond gehad, maar ‘n ander persoon van die Noorde het dit toe gekoop. Drie maande later, toe die eienaar sien hoe dit in die somer hier lyk, sit hy dit terstond in die mark en my pa kan die plaas koop.”
Jean vertel sy pa het met min implemente begin, maar sy hart was nog altyd by John Deere. “Daardie jare het rente by 27% getrek. Jy moes kontant koop of glad nie,” sê hy.
By die eerste geleentheid koop Oom JD ‘n John Deere 3140-trekker. Dit het hom R31 000 gekos (6% algemene verkoopsbelasting, of AVB, uitgesluit). “Dit was baie geld vir daai jare en onthou, hulle het nie geken van finansiering vir masjinerie nie,” onthou Jean.
Die trekker het tot op hede 15 500 uur gewerk – 670 000 km as jy dit omskakel. Die laaste tien jaar is die trekker veral vir “al die opneukwerk” gebruik, sê Jean, en toe is die enjin vervang. ’n Nuwer ekwivalent sal jou vandag sowat R1,6m uit die sak jaag.
Die plaas se eerste John Deere-stroper – ‘n 1068 Hillside – het hier van 1984 tot 2004 diens gedoen voor dit aan ‘n Swartlander verkoop is. Dit doen blykbaar tot vandag nog diens, nou op ‘n plaas naby Darling.
Oom JD se seuns dra vele lesse uit daardie jare saam. Een spruit uit sy aankoop van ‘n tweede plaas, Lemoenskop, in 1994, waar Jean se broer, Dreyer, nou boer. “Ons was net uit die skuld en toe net mooi weer terug,” se Jean. Hy onthou die reël wat sy pa toe neergelê het: nou maak ons net koste vir produksie.
Daardie versigtigheid het hom bygebly. Vra hom watter van sy pa se advies veral uitstaan, noem hy sommer gou op: “Spaar ‘n vuurhoutjie en koop ‘n plaas” en “Moet jou nooit vergelyk met ander wat meer as jy het nie.”
Met dié kom Jean se plaasbestuurder, Thys Lourens, deurgestap op pad kantoor toe. Hy word voorgestel. Sy uitrusting bring die wêrelde van moderne boerdery bymekaar: ’n John Deere-pet, blou oorpakbroek, trui en onder die arm, ‘n skootrekenaar.
“Daai beeld van die ou met die stukkende hemp en geskaafde skoene is lankal nie meer hoe jy ‘n boer uitken nie,” vertel Oom JD toe hy later op ‘n rit deur die plaas by ons aansluit. Ons gesels oor die instandhouding van toerusting en implemente. Jean voeg by: “Deesdae kom ‘n tegnikus uit en prop sy skootrekenaar by die masjien in. Dis nou te sê as dit nie reeds vir hom oor die internet laat weet het wat fout is nie.”
Sy beleggings en implementering van nuwe tegnologie dra by om onsekerhede te verminder en optimale gebruike in die boerdery te verwesenlik. Opbrengste het byvoorbeeld oor die jare gestyg van 3 ton koring per hektaar tot so 4,3; gars van 3,8 ton tot 5 ton gemiddeld. Soos kennis oor grondbewaring uitgebrei het, is dit op die plaas toegepas.
Met plase wat al groter word om lewensvatbaar te bly, moes die fokus ook al nouer word. Jean boer op huurgrond sowat 25 km van hier af, op ander huurgrond 52 km verder en hy het ook onlangs ‘n buurplaas bekom. Hy verduidelik dat die kleinste oorvleueling in ‘n spuit- of plantprogram byvoorbeeld, ‘n boer duur te staan kan kom. Die term “presisieboerdery” duik in die gesprek op. Jean vertel hoe sy plantmasjien se wye arms ‘n akkuraatheid-speling van slegs 3 cm het.
“In die ou dae, as hulle gesaai het, het die trekkerbestuurder bladsye uit ‘n natgemaakte telefoongids geskeur en op die grond gegooi om sy merk te hou. Die res het jy maar geskat en as die wind die papier wegwaai, kon jy net hoop vir die beste!”
Jean het sy pa se vertroue in John Deere en hul dienslewering geërf. “Daar is tye wat jy dit net nie kan bekostig dat jou masjiene stilstaan nie. Jou keuse van tegniese bystand is dan van kernbelang.”
Sy skuur staan vol groen-en-geel toerusting, insluitend ‘n paar reuse oesmasjiene. Deesdae kan hulle eerder beskryf word as komponente in ‘n netwerk data-stofsuiers wat verbind is met satelliete en tegnici se beheerkamers. Buiten akkuraatheid van saai- en spuit-programme wat bevorder word, verhoog hierdie netwerk onder andere algemene naspeurbaarheid in die onderneming. ‘n Bemestingmasjien kan outomaties ingestel word om so in die ry ekstra behandeling te gee op enkele vierkante meters. Selfs ‘n masjien se geraas kan deur sy ingeboude rekenaar gemeet word.
“Ek het besef dat as jy nie in jou onderneming belê nie, raak jy agter,” sê Jean. “Jy kan ook niks doen om pryse te verander nie, so die enigste plek om marge te bestuur, is jou kostes, en verbeterings in tegnologie laat dit toe.”
Dit beteken nie dat niks ooit verkeerd loop nie. “Ek wou al baie dae wegloop,” sê Jean. “Maar ek wou nooit alles net los nie!”
Net soos die kwaliteit van die netwerk wat masjinerie ondersteun, hang vooruitgang van die plaas ook af van die menslike netwerk daaragter. Op Tierfontein sluit die span mense in wat “weet waar elke pyp lê”, soos Sam Arnolds, wie se pa, Saul, vir Jean se pa gewerk het en nou ‘n senior pos by hom beklee. Sam se seun, Hilton, werk ook nou hier. Sam se oupa het vir Jean se oupa gewerk en Ben, Sam se broer, werk weer by Dreyer.
Jean verwys na Ilze, sy vrou van 20 jaar. “Dit is vir my uiters belangrik dat sy ’n gelyke aandeel in die boerdery het,” sê hy. Sy verkies dit ook om van die goed en die sleg te weet, sê Ilze. “Jy beleef alles saam met jou man.”
Ons praat oor wat hom in die nag wakker laat lê. “Die feit dat jy alles reg kan doen en steeds uitgelewer kan wees. Jy kan die regte pesbeheer toepas; reg bemes; op die regte tyd saai met die beste saad, maar dan kom een hittegolf of een haelstorm, en jou plaas beland op ‘n veiling,” noem hy nadenkend.
“Die winsgrens is so klein; net een verkeerde jaar kan dinge laat skeef loop,” sê hy. “Een ding is beslis: dis nie meer ‘n skande soos in die ou dae, om onder te gaan nie.”
Maar hy bly seker oor sy keuses. “Ek is hier om te boer en ek wil niks anders doen nie en ook op geen ander plek in die wêreld nie. Ek bly net hier in Suid-Afrika.”
Eienaar: Jean van Niekerk | Besigheid: Tierfontein | Area: Caledon, Wes-Kaap, Suid-Afrika
Very shortly this web site will be famous amid all
blogging and site-building people, due to it’s good posts
baie moooi ek ken vir hulle die jonger meisie is heleni sy is my maatjie