Farm to Fork
Leave a comment

Brandkop se soutrib en roosterkoek

Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Mia Truter

Wanneer ons by Brandkop opstal opdaag is daar reeds kole aan die gang en een soutrib is byna gaar. My mond water, maar dis eers tyd vir nog foto’s. Ek vra solank uit. “Is die soutrib baie sout?” Elizna lag. “Jy moet maar vanaand vir jou ‘n glas water saamvat bed toe, jy gaan dors word.”

“Staanrib” noem hulle dit. “Dis as jy nou heelaand tyd het”

Pieter Louw

Mens kan hom of gewoonweg plat gaarmaak op ‘n rooster, of in die rooster toeknyp en dié naby die vuur staanmaak. “Staanrib” noem hulle dit. “Dis as jy nou heelaand tyd het,” sê Pieter terwyl hy vir ons wys hoe mens die rib ontbeen. Dit lyk heeltemal te maklik.

Soutrib

(Die resep kom van tannie Hessie Nel, vroeër van die plaas Kareeboomkolk. Sy is ‘n paar jaar gelede oorlede.)

1 kg skaaprib
25 ml growwe sout
5 ml swartpeper
10 ml gemaalde koljander
3 ml fyn neut
20 ml bruinsuiker
3 ml salpeter
asyn

Ontbeen die rib; sny dit bo-op in diamant-vorms. Sprinkel asyn bo-oor. Vryf in met speserymengsel. Laat 24 uur lê. Draai na 12 ure om. Braai die rib stadig oor matige kole tot gaar.

Wanneer ons uiteindelik proe, is die smaak taamlik onverwags – meer soos charcuterie as soos braaivleis; en ook meer vetterig as sout. Dit val vir my iewers tussen pastrami en koljanderbiltong, maar dis duidelik gebraaide skaap en sonder ‘n enkele beentjie. Reeds half olik gaan haal ek steeds vir my ‘n tweede groot stuk.

Elizna bring vir ons ‘n stapel roosterkoeke wat Sina buite op die vuur gemaak het. Hulle is swaar en styf uitgeswel soos my pa hulle altyd gemaak het; nie soos die plat, grootborrel-gevaartes wat ek tot dusver met vetkoekdeeg kon regkry nie. Die stoom slaan nog uit hulle op as ons hulle oopsny. Ek laat my nie twee maal nooi nie – die bol botter het nog nie eers behoorlik in die digte krummels weggesmelt as ek van Elizna se diep-oranje appelkooskonfyt begin opsmeer nie. Dalk is ek honger, maar dis van die lekkerste konfyt wat ek nog geëet het.

“Hoe maak jy jou appelkooskonfyt? Jy maak dit tog self?” vra ek half uit die veld geslaan. So vinnig, skramsweg vertel Elizna haar geheim. “Maar jy sê nie vir ‘n siel nie!”

Roosterkoeke

6 koppies witbroodmeel
1 pakkie kitsgis
2 teelepels suiker
1 teelepel sout
2 eetlepels gesmelte botter
louwarm water

Meng meel, gis, suiker en sout. Maak aan met louwarm water tot ‘n stywe deeg. Knie die botter daarby in, en knie goed deur – sowat 10 minute. Laat deeg rys op ‘n warm plek tot dubbeld in volume. Knie af; rol die deeg omtrent 1,5 cm dik uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en druk vierkant-vorms uit, of rol in stroke met jou hande en sny met ‘n tafelmes. Pak op ‘n bakplaat of broodplank wat met meel bestrooi is, laat weer rys en braai stadig tot alkant bruin en gaar binne.


Besigheid: Brandkop | Eienaars: Elizna en Pieter Louw | Area: Nieuwoudtville, Suid-Afrika | Kontak: www.brandkop.yolasite.com

Filed under: Farm to Fork

by

A writer with a passion for the arts – including the art of cooking. Jacques concentrates on the stories that surround the people who are involved in making food, craft beer and wine. He received an award at the 2015 Franschhoek Literary Festival and the South African Wine Writers’ Awards. Another feather in his cap is that he is the author of Craft Beer: A Guide to South African Craft Breweries and Brewers. He is a writer of superior calibre and extensive creativity.

Leave a Reply

Your email address will not be published.