Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont
Ons word effens onkant betrap as ons by die grondpad Brandkop toe afdraai. Dit lyk meer soos ‘n filmstel van ‘n spookdorp as ‘n plaas. Soos ‘n kat wat in ‘n vreemde vertrek inloop ry ons tussendeur die ry verlate geboutjies. As hulle dit mooi maak hier, sal dit nogal ‘n baken kan wees, eggo een van ons wat almal kláár dink.
“Hulle werk nog so bietjie daar om julle huis.” Elizna beduie na ‘n groterige plaashuis agter ‘n spul ou plaas-implemente. Daar’s iets ondeund in haar oë. Ek sien ‘n kruiwa en ‘n paar grawe wat teen die muur staan, maar niemand wat juis werk nie. Dis seker te warm. Waar mens tuin verwag, is daar gruisklippies, netjies omlyn met rye groter klippe. Ons waai dankie en begin ry na ons huis vir die volgende twee dae. Ons voel alreeds die enorme stilte.
DIE DUIWEL SE BROKKOLI
Na ‘n vinnige ete vat ons pad kokerboomwoud toe. Dis vroegskemer en die lig is vinnig besig om te swak te word vir foto’s. Op pad ry ons langs ‘n rivierloop, vergroei deur wat lyk na amper ‘n duisend jong doringbome. Hiervan sal ek meer moet hoor. Dan doem die woud voor ons op. Eers net ‘n paar; en dan skielik in hulle honderde – vreemd krom-orent, hulle tapse, verweerde stamme soos ou kurk, elkeen verdeel in ‘n aantal kaal, grys takke, telkens met ‘n klos skerp, grysgroen blare op die punt. Ek het nog nooit soveel van hierdie bome saam gesien nie. Die duiwel se brokkoli, maak ek ‘n grap.
Soos die son agter die heuwel inskuif, verkry die toneel voor ons ‘n ondermaanse aspek. Ons gaan sit op ‘n sementblad langs die dam, elk met ‘n glasie wyn, en luister na die wind wat die windpomp se wiel so laat ruk dat mens bang is hy gaan loskom. Ons kom agter ons fluister amper vir mekaar. Soos standbeelde staan die bome en luister.
‘N SPOOKDORP EN MUSKIETBOME
Eers die volgende oggend kom ons by praat uit. Beide Elizna en Pieter het ‘n manier van praat waarna mens nie kan ophou luister nie. Elke verduideliking word ‘n storie. Ons vra uit oor die ry verlate geboue op pad opstal toe. “Dit was eers die dorp Brandkop. Op die punt staan die ou skooltjie. Hulle het Die Manakwalanners hier kom skiet,” verduidelik Pieter. “Ook die fliek Heat Stroke, met die hiënas.” En die bome in die rivierloop?
“Dit is nou die muskietbome waarvan ons praat,” vertel Elizna. Die Prosopis-bome blyk ‘n reuse-probleem vir die boere hier te wees. Dié indringerbome het ‘n allemintige wortelstelsel wat hulle nie net amper onmoontlik maak om uit te roei nie, maar wat die watertafel ook groot skade aandoen. As hulle die bome afkap, begin fonteine weer loop wat vir jare nie geloop het nie.
Die oplossing hier was om ‘n klomp werkers gereedskap te gee sodat hulle hulle eie vuurmaakhout-besigheid op die been kon bring. Maar daar’s baie bome. Gelukkig maak die peule ook goeie voer in die droogte. “Hulle kom op soos pampoene… Hulle sê mos, hulle vat eers jou geld en dan jou implemente en dan jou moed.”
“Dis nou die twee bome hier by die voorhek?” maak ek seker. Elizna het dadelik ‘n storie gereed. “Nou plant ek twee bougainvilleas hier in my jong dae, hier voor die huis. Die bougainvilleas moet nou groei en ons werk mis in en ons lei nat. My goeiste – die bougainvilleas vrek, maar uit die mis uit kom twee muskietbome op. En ek sê, julle los vir hulle nét daar. As iets groei op hierdie plaas, dan haal jy hom nie uit nie.”
IS DIT NIE SEER VIR DIE GANSE NIE?
Die een ding wat ons na Brandkop gelei het, was die donsduvets wat Elizna vroeër gemaak het. Pieter wou die ganse skiet oor hulle sy lusern en hawer opvreet, maar toe maak Elizna ‘n plan. Elke kamer in die gastehuis het vandag ‘n netjiese, dik duvet op sy bed; selfs beter as dié wat ek in Europa gesien het. Hoekom het sy opgehou, wil ons weet.
“Die probleem is maar arbeid. Net sodra ek mense opgelei het, dan besluit hulle hulle ‘staan vorentoe’.”
“Hulle hou eintlik daarvan,” sê Elizna as ons vra of dit nie seer is vir die ganse nie. “Ons werk baie sag met hulle – dis net die vrouens wat met hulle werk. Dan pluk ons hulle van vroegoggend af – nét die dons. Dan was ek dit en ontsmet dit – dis die grootste werk – en dan droog ek dit en stop die duvets. As ons klaar gestop het en ons kom daar uit die kamer uit, dan kan ons ook gepluk word…”
KERKBASAAR
‘n Groot ding hier rondom Nieuwoudtville, tweemaal ‘n jaar, is die kerkbasaar – die Hantam/Kloof-basaar, soos dit bekendstaan. “Die basaar kom baie lank al. So lank as wat ek lewe, is die basaar al daar,” vertel Pieter.
Dit was eers ‘n klomp boere wat ‘n paar hekke verder “kloof-af” saamgekom het om goed te verkoop, maar toe het Pieter se pa voorgestel dat hulle dit op sy plaas kom hou. “Dis seker nou al 28 jaar wat dit hier gehou word.”
“Vir die Vrydagaand word onder die bome ligte gemaak – en potjiekos, vir die mense om afval te eet; en skenkelpot en…”
“Almal kom kuier onder die sterre – so onder die bome. Weet jy, dis te lekker – jy vat vir jou ‘n bord – daar is blikborde daar – en jy gaan skep vir jou…” vertel Elizna. Die kerrie-afval pot is die populêrste, hoor ons. Daarmee saam word vars plaasbrood bedien.
“Dis nou net maag en pote?” vra ek, klaar honger. “Dit is net pens en pootjies. Ek is eintlik baie versigtig met dit. Baie mense sit mos nou die kop by; en jy knoop die harsings in ‘n sekere deel van die pens toe, met ‘n toutjie, en dit kom nou ook in die pot… Maar ék het nie so grootgeword nie.”
Die kop word wél gaargemaak by die Louw’s, hoor ons, maar nie saam in die potjie nie. Hy word eers skoongeskeer en dan met sout ingevryf; daarna word hy in die buite-oond gebak. “Jy lek jou lippe af.”
Saterdag gaan die fees voort. Vieruur die oggend al word vure aange-steek. “Die Saterdag word daar van sewe-uur af begin braai,” vertel Pieter.
“Vroegoggend begin hulle met ‘n vetkoekburger. Hulle noem dit ‘n brekfis-burger – met bacon en eier en kaas en tamatie en gebraaide uie op.” Eenhonderd-en-tien lammers word geslag – veertig daarvan vir die braai; en van drie beeste van ‘n buurplaas word daar wors gemaak – tussen 400 en 500 kg elke jaar.
“Een boer het sy eie slaghuis … Dan word die lammers bewerk: soutrib word gemaak en die nekke word in die oond gaargemaak. Jy kan vir jou ‘n gaar nek loop koop; ‘n gaar kop…”
SKAAPVLEIS EN DAISIES
Iemand vertel dat Hantamlam in 2015 in die Braaibyt-kompetisie aangewys is as beste lamvleis in die land. Daar moet tog ‘n manier wees om dit te bevorder.
“Ons skaap loop mos in die buiteveld,” bekragtig Elizna. “Daar’s een slagpale in Calvinia waar ek lewer wat die Hantamlam nogal taamlik promoveer. Hulle het ook een of twee slaghuise in die Kaap – eenkeer ‘n week vat hulle vleis daarnatoe. Miskien kan die boere saamstaan; deur die boere-unie gaan. Al wat ons het, is die RPO op die oomblik.”
Calvinia-slaghuis – ons het al gehoor daarvan. Ek maak ‘n nota om eendag daar te gaan vleis koop.
En die blomme? “Ek wens ek kon uitbrei,” antwoord Elizna, skielik driftig. “Meer huisies in die veld hê – dis wat baie gewild is. Augustus en September is ons vol vir ten minste agt tot tien weke.” Die res van die jaar is maar stil, hoor ons. Dis meer gesinne wat ‘n blaaskans kom vat.
“Ons kry hier plate daisies – daai poskaartfoto’s. Party jare weet jy nie waar om te stap nie. Dís wat die toeriste wil sien.
KETTINGKRAAK TEEN DIE PLATORAND
Fietsry is nóg ‘n groot ding in dié gebied. Pieter is self ‘n kranige fietsryer. Dis nou die vierde jaar wat die bergfietse hier kom ry, alles ten bate van die skooltjie op die dorp. Pieter verduidelik. “Ons bou ‘n boskamp op dieselfde plek waar die basaar gehou word. Mense kan verniet kom kamp daar.”
Daar’s tydelike geriewe, toilette, storte, donkies vir warm water… “Vrydagaand kom die mense kamp hier en Saterdag kom ry hulle. Die meeste mense skryf in vir die 40km roete en dan is daar ook ’n 20km roete wat spesiaal vir die gesin is.”
“Laasjaar was daar ’n totaal van 118 inskrywings en vanjaar vind die vyfde jaarlikse Hantam MTB resies op 27 April 2019 plaas. Dis nie net vir die fietsry nie; hulle maak dit ‘n naweek. En Saterdagaand is daar ‘n skuurdans hier … Dis nogal ‘n lekker atmosfeer.” Skuurdans? Almal lag. Dit klink nogal so. “So ons bly besig hier onder, so tussen êrens en nêrens,” glimlag Elizna.
Op pad terug huis toe stap ons verby ‘n enorme silweragtige ploeg wat lyk of hy van altwee kante af gesleep kan word. “Dis ‘n stoomploeg,” verduidelik Pieter. Een van net twee in die land.
“Hulle het hom gebruik om die damme te bou. Hy word met ‘n kabel getrek deur ‘n stoomenjin – eers diekant toe en dan daardie kant toe.” Ek kyk na die reusagtige ploegskare, op ‘n raam gebuig in ‘n plat V aan weerskante van twee groot wiele. Een stel skare kyk links en die ander stel regs. Daar’s dalk tog ‘n oplossing vir die mesquite-bome, dink ek.
Laatmiddag ry Mia-hulle Loeriesfontein toe om te gaan loer na die Windpompmuseum en ‘n paar foto’s te gaan neem. Michel stap met sy kamera veld in en ek gaan sit agter my rekenaar. Hoe gaan mens hierdie storie vertel?
WAT MÉÉR WIL MENS TOG HÊ?
Eers later daardie middag, na ons geselsery by die Louw’s, toe almal weg is en die stilte op my kom lê soos ‘n oop hand, het ek besef wat hier is en dalk nêrens anders nie. Oor my was ‘n eindelose koepel bordkrytblou lug, so glad soos ‘n dam en sonder ‘n merkie van ‘n wolk; om my ‘n plat, ingetoë landskap, droog soos pypkaneel, wat bak staan onder ‘n handjievol geboue, ‘n windpomp en enkele los bome en plaaswerktuie.
Ek het van voor af begin wonder hoe dit sou lyk in die seisoen, wanneer alles toe is onder blomme. Dis verbasend, het ek besef, hoe vinnig mens tuis voel hier; hoe gou die groot plaashuis soos ons eie huis begin voel het. Volgende keer gaan ek beslis in die kleiner huisie kom bly.
In die verte kon ek sien hoe deins die leiklipbruin platorand se kranse in die middaghitte, kompleet asof hulle lê en kyk vir jou; vir die mense en hulle diere wat hier stil-stil, jaar na jaar ‘n lewe maak, of dit nou droog is of nie – amper asof hulle saam met jou wonder, ‘Wat méér wil mens tog hê?’
Besigheid: Brandkop | Eienaars: Elizna en Pieter Louw | Area: Nieuwoudtville, Suid-Afrika | Kontak: www.brandkop.yolasite.com