farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Onverwacht se verrassing

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Dewald Kirsten

Vroegoggend kies ons koers na Onverwacht Trust se plaas buite Tulbagh. Mens kan amper nie jou oë glo as jy die laaste plaas bo teen die berg bereik en groot kampe met volstruise gewaar nie. Dis pure Karoo die!

By die Groblers van Onverwacht Trust is sien waarlik glo. Hier staan 6 000 volstruise almal langnek-nuuskierig toe ons nader kom. Hul reuse vere wapper liggies in die winterwindjie.

Die volstruise is nuuskierig as jy langs die kampe afstap en sal voer uit jou hand eet.

Ons ontmoet vir pa Pierre en sy oudste seun, Phillip, onder die bloekombome met ’n onbelemmerde uitsig oor die hele Tulbagh-vallei. In die verte wink Saronsberg en voor ons lyk dit of die berge met smaraggroen fluweel oorgetrek is.

Die Groblers van Onverwacht is almal by die boerdery betrokke. Phillip en sy pa, Pierre, kyk onder meer na die volstruise.

BESIGE FAMILIEBESIGHEID

Die Groblers – wat die jonger seun, Pierre, en ma Sorien insluit – boer met olywe, graan, volstruise, Angus-beeste en vrugte. Die gesin boer saam op Onverwacht en Weltevrede, ’n saaiplaas aan die anderkant van die dorp, en hulle huur ook grond by. Elkeen is verantwoordelik vir ’n ander deel van die boerdery.

Gemeet aan die inkomsteverdeling van die verskillende boerdery-vertakkings, is volstruise eerste, graan tweede en vrugte in die derde plek. 

Hier staan 6 000 volstruise almal langnek-nuuskierig toe ons nader kom.

Pa Pierre is die finansiële besluitnemer; Phillip kyk na die graan, beeste en volstruise; Pierre junior sien na die vrugte om en Ma Sorien versorg die kuikens tot op 4½ maande. Hulle is maar pieperig en verg baie aandag. 

Die volstruise word na kampe oorgeplaas sodra hulle sterk genoeg is. 

Die kuikens word by ’n volstruisteler op Oudtshoorn gekoop en arriveer op die plaas as hulle ’n dag oud is. Hulle word vir ses weke in temperatuurbeheerde store en dan in tonnels aangehou voor hulle in die groot kampe uitgeplaas word. “Ná drie maande is die kuikens sterk en lekker gehard en eintlik baie eenvoudig om mee te boer,” vertel Phillip. Hy vertel ook trots dat sy ma beslis iets reg doen en haar slag met die kuikens ken.

Volstruiskuikens word die eerste drie maande ’n rantsoen gevoer wat deur Epol saamgestel is en waarvan Phillip en Pierre self die voerpille op die plaas maak. Dit bestaan hoofsaaklik uit mielies, lusern, gort, soja- en kanolakoek.

Klein lappies wingerd lê neffens die volstruiskampe.

MARKGEREED

Wanneer hulle tussen nege en tien maande oud is en hul lewendige gewig om en by 90-100 kg is, word hulle weer na Klein Karoo Volstruise se slagpale vervoer. Sowat 48% van hulle gewig is karkas. Die velle, leer en vleis word verwerk en verkoop. Voor elke slag, word steekproewe vir voëlgriep op die plaas gedoen en twee maal per jaar vir Newcastle-voëlsiekte.

“Ná drie maande is die kuikens sterk en lekker gehard en eintlik baie eenvoudig om mee te boer,” vertel Phillip. 

Die hoofmarkte vir Suid-Afrikaanse volstruise is die VK en Europa. Volstruisvleis is ook op die plaaslike mark beskikbaar.

Die vallei is ’n mengelmoes van diverse boerderye.

Die Groblers, wat die plaas in 1994 gekoop het, het in 2000 met volstruise begin boer. Pierre – ’n siviele ingenieur van Kaapstad – vertel dat hy voor die volstruise eers met varke geboer het, maar dat dit net nie meer ekonomies volhoubaar was nie. 

“Ons het met die volstruise ook maar baie skoolgeld betaal. Dis maar ’n op-en-af kurwe terwyl jy leer, maar nou werk dinge goed,” vertel hy.

DROOG GENOEG

Dis onverwags om in die Tulbagh-vallei volstruise te sien. Ek vra hom of die reuse voëls nie ander, droër, klimaatstoestande vereis nie. “Nee, hulle kan enige plek aard. As jou geriewe reg is, kan jy op baie meer plekke met volstruise boer as wat mense besef. Ons is egter gelukkig, want ons plaas is hier in ’n droë kol met baie minder reënval as die buurplase.”

“Nee, hulle kan enige plek aard. As jou geriewe reg is, kan jy op baie meer plekke met volstruise boer as wat mense besef.” 

Voëlgriep is vanselfsprekend hul grootste uitdaging en hoewel hulle dit nog nooit op die plaas gehad het nie, het die hele bedryf in 2012 tot stilstand gekom met die nasionale epidemie. “Dit het ons geleer om te diversifiseer, maar gelukkig verloor jy nie die vel en vere nie; net die vleis,” gesels Phillip.

Hy sê goeie bestuur – van die kuikens, die voer tot die volgroeide voël – is van kardinale belang as jy suksesvol met volstruise wil boer. 

Die mooiste uitsig oor die Tulbagh-vallei is beslis bo by die dam op Onverwacht. Die vallei se lappieskombers landerye bestaan uit weiding, vrugte, wingerde en akkommodasie-plekke.

VERTAK, NIE VERSWAK

Hulle beplan om in alle vertakkings op die plaas te groei, want as jy stagneer, val jy uit. “Maar ons glo daaraan dat jy binne jou vermoë moet uitbrei. Doen meer beter dinge, as net meer dinge. Mense jaag hektare, maar jy moet jou bestaande hektare beter bestuur en aanwend en hou altyd ’n wakende ogie oor jou insetkoste.”

Pierre sê dis vir hom ’n voorreg om saam met sy jong seuns te boer. Hulle neem saam besluite en elkeen bring sy unieke eienskappe na die tafel. Hy geniet hul energie en die feit dat hulle ’n verlengstuk is van dit wat hy tot stand gebring het.


Besigheid: Onverwacht Trust | Area: Tulbagh, Wes-Kaap, Suid-Afrika

Filed under: farmers, Niche Farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published.