Farm to Fork, farmers
Leave a comment

Waagmoed en flair by Haute Cabrière

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

Haute Cabrière is sedert sy ontstaan ​​‘n unieke bestemming in die Kaapse wynland, veral omdat dit wynliefhebbers inspireer om skoonheid en vreugde te geniet, deur sélf die lewe te vier as ‘n pragtige kunswerk. Ingemessel aan die voet van die majestieuse Franschhoek-bergpas, bied die plaas ‘n onvergeetlike trio van asemrowende uitsigte, sielskos en elegante wyne.

Keldermeester Takuan von Arnim en wynmaker Tim Hoek in Haute Cabrière se atmosferiese vatkelder. 

Stigter Achim von Arnim se kleurvolle eksentriekheid is legendaries, maar so ook is sy waagmoed. “Hy het het in 1982 die eerste 18 hektaar in die vallei gekoop, maar niemand het verwag dit sou só uitbrei nie,” vertel sy vrou, Hildegard, en sy beduie na die proelokaal, restaurant en sonnige stoep wat vinnig besig is om met gaste vol te raak. Achim se passie vir Boergondiese variëteite was nog altyd die inspirasie agter die Pierre Jourdan- en Haute Cabrière-wynreekse. Takuan von Arnim, tweede generasie keldermeester, sit sy pa se filosofie voort, terwyl hy sy persoonlike stempel by die geliefde wyne voeg.

Die sjiek uitbreiding van die terras-area bied dieselfde asemrowende uitsig oor die Franschhoek vallei, met meer beskutting teen wind en weer.

DUITSERS MET FRANSE FLAIR

Achim het die grond gekoop met die doel om wyn in die Franse Champagne-styl te maak, en die eerste Pierre Jourdan Brut Méthode Cap Classique is in 1986 verkoop. Die ontstaan van die eerste stil Chardonnay Pinot Noir versnit in Suid-Afrika is te danke aan vindingrykheid gebore uit noodlot. Volgens Hildegard was 1994 ‘n uiters droë, warm jaar en die helfte van die druiwe kon nie vinnig genoeg gepluk word nie. Die gevolg was ‘n oes met ‘n buitengewoon hoë suiker- en alkoholinhoud, wat nie vir die Pierre Jourdan Méthode Cap Classique-reeks geskik was nie. Achim het besluit om dit as ‘n stilwyn te botteleer, wat op daardie stadium ongehoord was. Dit is die spreekwoordelike “happy accident”. Vandag geniet Haute Cabrière Chardonnay Pinot Noir kultusstatus, plaaslik en internasionaal. Hildegard noem dit hul “Kaapse sonskyn in ‘n bottel”. 

Die restaurant, wat ook onlangs ’n elegante omwenteling begaan het, bedien steeds smaaklike genotskos.

Vandag geniet Haute Cabrière Chardonnay Pinot Noir kultusstatus, plaaslik en internasionaal. Hildegard noem dit hul “Kaapse sonskyn in ‘n bottel”. 

Beide Achim en sy seun Takuan, het hul opleiding as wynmakers in Duitsland gekry. Takuan het in 2014 by Achim oorgeneem as keldermeester, en Tim Hoek het in dieselfde jaar as wynmaker en wingerdboukundige aangesluit. “Gelukkig dink ons dieselfde oor wyn,” meen Tim. “Al moet ek myself soms herhaal,” voeg Takuan by. 

Die Von Arnims se kreatiwiteit vind oral deurslag, soos met hierdie geblomde
plafon en bottel-kandelaar

“Wanneer ek ‘n mallerige idee het.” ‘n Voorbeeld van hul oopkop-samewerking is Haute Cabrière se Amfora-projek. Wyn van ‘n Chardonnay-blok wat in 1983 geplant is, word vir 10 tot 11 maande in terracotta-kruike verouder. Volgens Takuan verleen die vier Italiaanse kruike ‘n vars mineraliteit aan die wyn. Die amfora-verouderde wyn is voorheen met vat-verouderde Chardonnay versny, maar in 2018 het hulle hul eerste suiwer amfora Chardonnay gebotteleer. “Ek dink vernuwing is ‘n voorvereiste van ‘n sterk handelsmerk. Jy kan nie altyd ‘nee’ sê vir alles wat nuut is nie,” sê Takuan. 

“Ek dink vernuwing is ’n voorvereiste van ’n sterk handelsmerk. Jy kan nie altyd ‘nee’ sê vir alles wat nuut is nie,” sê Takuan.

Die hele Franschhoek is pragtig, maar met hul ligging aan die voet van die pas, het Haute Cabrière ‘n besonderse uitsig oor die vallei. Die landgoed bestaan uit twee plase wat Achim gekoop het: Clos Cabrière in 1982 en Haute Cabrière in 1989 – waar die proelokaal vandag staan. 

Hildegard von Arnim was betrokke by elke aspek van die landgoed se ontwikkeling en behartig steeds keldertoere vir Duitse besoekers. 

VAN QUARRY TOT KELDER

“Haute Cabrière was ‘n oop quarry wat bestem was om ‘n munisipale stortingsterrein te word toe my pa besluit het om dit te koop,” vertel Takuan. Vindingrykheid het weereens tot ‘n uitstekende dog onkonvensionele oplossing gelei. Eerder as om die gat op te vul en bo-op te bou, is die kelder ondergronds ingerig. Achim het die grond se potensiaal erken – met terroir soortgelyk aan Boergondië – en het uitsluitlik Pinot Noir op die 12 hektaar geplant. “Franschhoek se klimaat is egter gunstig vir siektes,” verduidelik Tim, “so ons moet maar daarteen besproei.” 

Een van die plaas se vier Italiaanse amfora-kruike waarin Chardonnay verouder word.

Met reënval van 800-900 mm per jaar en twee damme, is die plaas selfonderhoudend met water. “My pa het – gelukkig – oorgekapitaliseer op oorhoofse besproeiing en vandag is al ons wingerd onder drupbesproeiing,” sê Takuan. 

Ons het nie met miljoene begin nie, so alles ontwikkel en verander met verloop van tyd. Die gruisvloer was bloot op daardie stadium die goedkoopste opsie, maar dit wérk.”

Die ondergrondse kelder is nie net funksioneel nie – die wynmaakproses geskied oor vier verdiepings en swaartekrag speel ‘n gunstige rol in die vloei van sake – dis ook esteties bevredigend. Die hoë, gewelfde betonplafon met massiewe gietyster kandelare wat gedempte lig uitstraal, herinner aan ‘n Middeleeuse katedraal. ‘n Wynkatedraal met rye gebleikte eikevate op ‘n gruisvloer. Ek komplimenteer Takuan op die vatkelder se kloosteragtige volumes en asketiese kleurpalet.  “Ons het nie met miljoene begin nie, so alles ontwikkel en verander met verloop van tyd. Die gruisvloer was bloot op daardie stadium die goedkoopste opsie, maar dit wérk.” 

‘n Wenresep: wyn in die Franse Champagne-styl, gemaak met Suid-Afrikaanse sonskyn.

NATUUR SE GANG

Die kelder herwin nou bykans 8 000 liter van die verkoelingstelsel se water. Vog wat kondenseer, word geberg en gebruik om die keldervloere te was. “Jy moet verantwoordelik wees en buite die boks dink,” meen Takuan. “Ons boer nie organies nie, maar die besigheid groei wel op ‘n organiese manier.”

“Ek fokus nie spesifiek op kos-en-wyn-pasmaats nie, want ná jare se ervaring as ’n wynliefhebber en professionele sjef, ontwikkel ‘n mens ‘n gevoel vir elemente wat saamwerk,” verduidelik Nic. 

Achim von Arnim se kunswerke verhelder ’n keldermuur. 

Sedert sy aftrede in 2014, skilder Achim von Arnim en sy kunswerke is oral te sien, van die restaurant tot in die kelder. Hildegard behartig steeds Duitse toergroepe en doen elke Saterdag om 11 uur ‘n begeleide keldertoer. Sy is sedert die begin by Haute Cabrière betrokke. “Ek het alles gedoen, van ontvangs tot aflewerings en verpakking. Dis hier waar ek geleer het om ‘n komper te gebruik,” lag sy. Achim se ma, Theodora, was aanvanklik hul boekhouer en het tot in haar tagtigs nog met haar klein Renault 5 wyn in die Kaap afgelewer.

Hildegard en Achim von Arnim klink ’n glasie op die ontstaan van ’n landgoed wat ’n ikoon van die Suid-Afrikaanse wynbedryf sou word. 

GROOT KOKKEDOOR

Sjef Nic van Wyk, aanbieder van KykNET se Koekedoortjie sowel as Kokkedoor in 2019, het in 2016 as uitvoerende sjef by Haute Cabrière aangesluit en is tans die landgoed se hoof van bestemmings. Nic se kosbenadering spruit uit respek vir die produk en natuurlik, sy liefde vir wyn. “Ek fokus nie spesifiek op kos-en-wyn-pasmaats nie, want ná jare se ervaring as ‘n wynliefhebber en professionele sjef, ontwikkel ‘n mens ‘n gevoel vir elemente wat saamwerk,” verduidelik Nic. “Somerspyskaarte is dalk makliker want die reeks van moontlikhede is groter, gegewe die variëteite en styl van Haute Cabrière se wyn,” sê hy.

Die restaurant se tapas-styl spyskaart is ideaal vir plesierig kuier en peusel. Die Oosterse wildsvleistartare is ’n treffer wat maklik tuis voorberei kan word.

Die à la carte spyskaart is bondig dog veelsydig, met ‘n opsie vir elke palet of voorkeur. Die tapas-spyskaart is ideaal vir smulpaap peuselaars wat ‘n honger kol wil stil terwyl hulle die vallei se majestueuse bergkruin oor die rand van ‘n glas Méthode Cap Classique of Pinot Noir inneem. En terwyl jy daar is, begin of sluit jou kuier af met ‘n Pierre Jourdan Wine Popsicle, of PJ Pops, soos dit genoem word. Nog ‘n innoverende “eerste” in Suid-Afrika: ‘n reeks ysies gemaak van Pierre Jourdan Brut, Méthode Cap Classique en Pierre Jourdan Tranquille. Slegs vir grootmense, om dag of nag te geniet, voor, tydens of ná ete. En dis boonop veganisvriendelik! C’est très bon!


Eienaar: Von Arnim Familie | Besigheid: Haute Cabrière | Area: Franschhoek, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak:  +27 (0)21 876 8500| www.hautecabriere.co.za

     

                   

   

Filed under: Farm to Fork, farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published.