Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont
Bykans alle plase in Vryburg se omgewing is pynlik netjies. Soos dit hoort. En Malemba Boerdery op die plaas Mooirus is geen uitsondering nie. Terloops, Malemba is ’n isiXhosa naam wat al vir bykans 50 jaar deel van die familie se bestaan is en ‘geskenk van Bo’ beteken.
Jacques Swart is korporatief geklee in sy ruim kantoorkompleks. Hy is met ʼn deurdringende blik in die oë geseën. ʼn Ernstige mens.
“Diversifisering,” val hy sommer met die deur in die huis. Kosyn en al. “Dit is nie ʼn opsie nie. Dit is ʼn noodsaaklikheid. Ons lewe in ʼn baie wisselvallige besigheidsomgewing waarin daar baie veranderlikes heers. Indien jy dus slegs op een vertakking steun, is die kanse baie goed dat jy een of ander tyd probleme gaan kry. Maar jy moet ook baie goed kyk hoe jy jou vertakkings saamstel, sodat almal nie op dieselfde hulpbronne, dieselfde mark en dieselfde kapitaalbron staatmaak nie.”
BOBAASBEESWÊRELD
Volgens Jacques bepaal jou omgewing die samestelling van enige vertakkingspakket. Vryburg is by uitstek beeswêreld en derhalwe is hierdie dier logieserwys ʼn integrale komponent van enige gemengde boerdery.
“Ons het Simmentalers en Simbra. En ons is die grootste telers van beide rasse in Suider-Afrika. Ons hou twee produksieveilings per jaar waartydens ons 165 bulle en om en by 200 vroulike beeste aanbied. Die veilings word in samewerking met die plaaslike veilingshuis André Kock en Seun in ons eie veilingslokaal op die plaas gehou. Ons is al 21 jaar saam en hierdie aspek is baie belangrik. Alle besigheid wat ons doen, sien ons as ʼn vennootskap. Indien ʼn transaksie nie vir albei partye voordelig is nie, vermy ons die hele storie. Ons soek langtermyn-verhoudings, want dit is daar waar die dividende lê.”
Omdat Vryburg beeswêreld is, bied die omgewing ʼn baie goeie afsetplek vir bulle en is dit baie makliker om kalwers vir die voerkrale te kry. Die kalwers hoef ook nie oor lang afstande vervoer te word nie en is dus meer koste-effektief.
Verdere vertakkings is voerkrale, aartappels (hierdie omgewing lewer boonop die heel beste aartappels in die land) en pekanneute.
NEUTE MAAK NOTE
Jacques het spesifiek pekanneute gekies omdat die wisselvallige rand produsente gereeld kortwiek.
“Ons implemente word byvoorbeeld ingevoer en jy moet daarvoor in harde valuta betaal. Dus moet jy op ʼn manier iets kry wat vir jou Amerikaanse dollars verdien, sodat jy voordeel uit die verswakking van die Rand kan trek. Verstaan: ná die onlangse droogte het sekere trekkers ongeveer R400K meer as voor die droogte gekos. En jy kan nie hiervoor voorsien nie. En dit is wat landbou in Suid-Afrika so moeilik maak. Die produsent moet sy eie boeke balanseer. Ons het geen vangnet nie. En dit maak risikobestuur uiters belangrik.”
Terug na die pekanneute, Malemba Boerdery se harde-kontant-koei.
“Ons klimaat en grond maak hierdie omgewing geskik daarvoor. Die neute soek ʼn sekere hoeveelheid hitte- sowel as koue-eenhede per jaar. Indien die bome nie die regte hoeveelheid koue-eenhede kry nie, gaan hulle nie in rus nie en sit jy die volgende jaar met ʼn baie swak oes. Die bome benodig grond wat baie goed gedreineer is. En jy benodig baie water.”
DRUPPELS WORD GETEL
Die ‘baie water’ is ʼn hulpbron wat uitsonderlike beplanning verg.
“Ons het baie kontrolegate oor die hele gebied en ons hou ons oog op die water.”
En die onlangse droogte?
“Dit het ons uit die aard van die saak ernstig beïnvloed, want hoe moeiliker die klimaat is, hoe meer word jou opbrengs daardeur geraak. Ons het ʼn daling in ons ondergrondse water gesien, maar as ʼn streek het ons aanpassings gemaak.”
Die streek het sekere parameters. Waar staan die water aan die begin van die seisoen en waar staan dit aan die einde? Voordat die volgende seisoen begin moet die watervlak weer wees waar dit aan die begin van die vorige seisoen was.
“Indien dit nie gebeur het nie, sny ons oor die hele waterverbruikersvereniging ʼn sekere persentasie water om die bron kans te gee om te herstel. Die pekanneute word egter gespaar omdat die gewasse wat die minste inkomste lewer, nie besproei word nie.”
ʼn Goeie voorbeeld is die feit dat daar tydens die onlangse droogte geen mielies aangeplant was nie.
WATERLYNE MAAK SAAK
“Die ander groot uitdaging met betrekking tot pekanneute is die wanbegrip dat jy ʼn boom plant en agt jaar later oes. Hierdie bedryf vereis dat die produsent die wetenskap daaragter behoorlik verstaan. Ons het probes wat presies meet hoeveel vog elke plant benodig en hierdie inligting kom na die kantoor toe. Ons bestuur die bome tussen wat ons ‘Ideale Lyne’ noem. En jy wil tussen daardie twee lyne bly. Onder die een lyn is die boom te droog en bo die ander een versuip dit. En ons doen aanmekaar sap-ontledings om te bepaal hoe ons voedingsprogram moet lyk.”
Nóg ʼn groot uitdaging is kennis aangaande die verbouing van pekanneute.
“Pekanneute is nuut in Suid-Afrika. Alhoewel die neute groot in die VSA is en reeds ʼn deurwinterde bedryf is, is ons omstandighede in Suid-Afrika anders. Wat daar werk, gaan nie noodwendig hier werk nie. Hulle bome is ontwikkel om daar te floreer en nie noodwendig hier nie. Ons moet ons eie kultivars en kennis hier ontwikkel.”
Dit maak dinge moeiliker, maar interessant. En Jacques lyk nie na ʼn kêrel wat terugstaan wanneer uitdagings hom in die gesig staar nie.
“Kyk, ál jou komponente doen nie almal altyd goed nie. Maar hulle doen nie almal gelyk swak nie. Dus subsidieer die verskeie vertakkings mekaar. Aan die einde van die dag gaan dit oor hoe die besigheid in sy totaliteit voorkom. Hoe lyk die som? Die verskeie vertakkings voeg ook waarde tot mekaar toe. Daar is baie spin-offs van die een na die ander en dit verseker dat jou wins uiteindelik beter is.”
Ten spyte daarvan dat Jacques op akademiese vlak klink asof hy ten minste ʼn MBA kafgedraf het, was universiteit nie sy voorland nie.
GELEERDHEID UIT DIE GROND
“Ek het vir een jaar studeer toe word my ouma se grond beskikbaar en my pa het laat weet dat ons nou plan moet maak. Een van die planne was om Ouma se grond te huur en te ontwikkel. Die grond waar ons begin het, is met ʼn grondeis deur die staat uitgekoop. En toe moes ons gaan sit en dink wat ons verder te doen staan. Gee ons pad uit die landbou, of hou ons aan. Ons het besluit om voort te gaan en hier waar ons nou sit, het ons weer 18 jaar gelede begin.”
En hoe lyk die toekoms?
“Die Sjinese sê: as jy iets vir 25 jaar wil hê, plant ʼn boom. As jy iets vir ʼn 100 jaar wil hê, lei mense op. En dit is al wat Suid-Afrika uiteindelik gaan red.”
Met geleerdheid bedoel hy nie net boekgeleerdheid nie.
“As ons mense aanstel, kyk ons na ʼn sin van verantwoor-delikheid en hardwerkendheid. Basiese werksetiek, eerder as geleerdheid. Want geleerdheid is soos ʼn stuk gereedskap in jou toolbox. As jy dit nie uithaal en gebruik nie, is dit niks werd nie.”
Eienaar: Jacques Swart | Besigheid: Malemba | Area: Vryburg, Noordwes, Suid-Afrika Kontak: mooilaagte@megadial.com