Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel dei-Cont
“Jy maak nie geld met die goed wat jy eintlik wil doen nie, maar eerder met al die ander goed wat by jou verbygaan,” sê Hennie Hanekom voor die kelder op Schenkfontein waar hy saam met sy seuns, Hendrik en Philip, boer. Benewens wingerd, skaap, bees en die maak van biodiesel vir eie gebruik, het die Hanekoms ook bedrywighede op Piketberg wat ’n botteleringsaanleg, vulstasie en ’n restaurant insluit.
“My pa is mal daaroor om nuwe goed te begin, dan val ek en Philip in om dit verder te vat,” sê Hendrik, wat wingerd- en wynkunde by Elsenburg gestudeer het. Hendrik het die boerdery in 2011 betree en Philip in 2013, ná afloop van sy studies op Stellenbosch. Philip bemark die wyne en help met die bestuur van die botteleringsaanleg in Piketberg.
BIODIESEL VIR PLAASVOERTUIE
Hennie se gesteldheid op onafhanklikheid word gelukkig geëwenaar deur sy passie om “self goeters te maak”. “Ek het op ʼn stadium my eie rekenaars gebou, want ek kon hulle nie bekostig nie,” sê Hennie. Toe diesel te duur raak, het Schenkfontein in 2014 hul eie biodiesel begin maak. Philip het ʼn kursus by Green Diesel in Stikland voltooi, en die plaas het ʼn biodiesel-stelsel van 150 liter gekoop. Met verloop van tyd is dit aangepas om die proses van drie na twee dae te bespoedig. Die stelsel is intussen vervang met ʼn selfgeboude patent wat vandag sowat 800L biodiesel per week produseer. Biodiesel bestaan uit slegs drie komponente waarvan gebruikte kookolie die grootste deel is. “Ons kry gebruikte olie van restaurante en kosplekke,” sê Philip. Hulle verwerk natuurlik ook die olie van hul eie kitskosplekke.
Die maak van biodiesel is ʼn eenvoudige driestap-proses wat oor twee tot drie dae voltooi word. “Dis die skoonste diesel en dit is ook bio-afbreekbaar. Mense is skrikkerig daarvoor want hulle dink dit sal hul voertuie beskadig,” sê Philip.
BRANDSTOF WAT GELD SPAAR
Schenkfontein produseer biodiesel teen ongeveer R8-R9 per liter, wat die plaas sowat R4 000 tot R5 000 per maand spaar. Die biodiesel word 50/50 met gewone diesel gemeng en word só in al die plaasvoertuie gebruik. “Jy hoef nie die diesel te meng nie,” sê Hendrik, wat gereeld ouer voertuie op suiwer biodiesel laat loop. “Maar by ʼn nuwe enjin moet biodiesel stelselmatig geïntegreer word.”
Die Hanekoms het vinnig geleer om olie waarin hoender gebraai is, te vermy aangesien die hoendervet kan veroorsaak dat die diesel stol. “Ek het eenkeer met ʼn tenk gestolde diesel gesit,” sê Philip. Afgesien van daardie voorval, is biodiesel baie skoon, maar ʼn eenvoudige 27/3 toets met ʼn mengsel van biodiesel en metanol word gedoen om die suiwerheid van die diesel te bepaal.
O SOETE WYN
Schenkfontein was oorspronklik deel van ʼn familieplaas, Winkelshoek, wat sedert 1925 in die Hanekoms se besit is. Hennie se pa, tesame met die res van die Hanekom-familie, het met koring, vee en wingerd geboer, en met die verandering van die drankwet is die groothandel-lisensie in 1953 geregistreer. Die area lewer druiwe met hoë suiker en daarom was die maak van soetwyn vanselfsprekend en was Winkelshoek nog altyd bekend vir hulle soetwyne. Toe Hennie in 1992 op die huidige Schenkfontein begin het, was daar net ʼn dun straaltjie water en nie veel van ʼn pad nie. Gelukkig is dit sy passie om tegnies skeppend te wees. “Ek het ʼn paar grade in sukkel. ʼn Boer en entrepreneur moet kan sweis en bou, hy moet elektrisiteit en rekenaars verstaan, en weet hoe om goed reg te maak.”
Hennie het die eerste wingerd op Schenkfontein in 1998 geplant en plant steeds elke jaar meer wingerd aan. Schenkfontein se naam en handelsmerk is ʼn huldeblyk aan Meester Schenk wat in die 1900’s klas gegee het onder ʼn groot granaatboom op die plaas. “Hy’t ook seker sy bietjie wyn onder die granaatboom gedrink,” sê Hennie. “En ‘schenk’ in Duits beteken ‘skink’ – en dis tog wat ons hier doen.” Die plaas het drie wynreekse en 50% tot 60% van hul druiwe word ingekoop. “Ons probeer om iets van alles self te groei, buiten Sauvignon Blanc. Dit moet jy langs die see gaan koop,” meen Hendrik.
Die premierreeks, genaamd Schenkfontein, bevat ʼn Chenin Blanc, Chardonnay, Rosé, Shiraz, Merlot en Pinotage. Die gesellige Weskusreeks het ʼn Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, semi-soet Rosé, Witsoet, Pinotage en ʼn Cabernet Sauvignon/Merlot-versnit genaamd Rooigety. Lighuis, ʼn ligte wit, word binnekort geloods. Al die gefortifiseerde wyne val onder die Winkelshoekreeks met rooi en wit Jerepigo, rooi en wit Muskadel, Cape Vintage en Hanepoot. Vyf-en-negentig persent van al hul wyn word in die Wes-Kaap versprei.
BLINK IS NIE ALLES NIE
Schenkfontein beslaan 150 ha met 23 ha onder wingerd, waarvan 70% wit en 30% rooi wyndruiwe is. Hennie het die buurplaas, Kliprivier, aangeskaf wat deel vorm van die wingerdpakkie met 40 ha wingerd, waarvan 90% wit en 10% rooi wyndruiwe is. Kliprivier is 100% gemeganiseerd, terwyl alle wingerdwerk op Schenkfontein met die hand gedoen word. Volgens Hennie gebruik hulle ʼn tweedehandse parsmasjien op Kliprivier. “Ons koop nie blink nie, want blinkgoed maak nie geld nie,” sê hy.
Van buite lyk Schenkfontein se kelderopset bedrieglik klein. Die produksiekelder word sedert 1992 stuk-stuk vergroot en die vatkelder met sy rietdak is in 2015 gebou. Die proelokaal, wat hierdie jaar in nét een maand ingerig is, is oop op selektiewe Saterdae en doen ook ʼn koekies-en-wyn-paring. Soutkoekies word met soetwyne bedien en Shiraz word byvoorbeeld met ʼn suikerkoekie voorgesit. Een keer ʼn maand stook Philip die pizza-oond vir ʼn lekker pizza-en-wyn kuier.
Die kelder verwerk ongeveer 5 000 ton wyn- en tafeldruiwe per oes in drie komponente: wyndruiwe vir hul eie premiumreekse, rabat en stookwyn. Die rabat en stookwyn word onder kontrak aan Oude Molen en KWV gelewer. Die produksiekelder bestaan deels uit ou glasveseltenke en meer moderne staaltenke waar wyn op stawe lê. Slegs die soetwyne word in houtvate verouder, waarvan die vorige drie oesjare se vate in die vatkelder staan.
Benewens wingerd plant Schenkfontein ook 50 ha gars, lupiene en hawer en het 300 Dohne Merino-teelooie en 60 Boran-koeie. “Boran-beeste aard goed hier. Ons het voorheen Angus gehad, maar as jy hulle in die berg sit, kom hulle maer terug. Die Borans kom lekker spekvet terug uit die berg,” sê Hendrik.
’N ANDERSE VULSTASIE
Van al Hennie se vindingryke vertakkings is die ontstaan van die botteleringsaanleg waarskynlik die indrukwekkendste. Hennie en sy vennoot, Jurgens Brand, het in 1996 ʼn stuk grond langs die N7 gekoop met die doel om ʼn botteleringsfasiliteit op te rig. “Ons het ʼn padstal gebou wat ook as kantoor sou dien en het ʼn dranklisensie gekry omdat dit op die Swartland-wynroete lê,” vertel hy.
Alhoewel die grond verkoop is op voorwaarde dat daar nooit ʼn vulstasie mag wees nie, het Hennie verneem dat Total hul voetspoor in die kommersiële sektor wou vergroot. Hy het met Total gaan praat en ʼn vulstasielisensie is toegestaan. “Daar is ʼn sterk entrepreneur-geen in die familie – wat nie almal geërf het nie – maar dis ook omstandighede wat jou dryf. As jy moet baklei om aan jouself en jou ouers te bewys dat jy dit kán maak werk . . .”
Toe die padstal se eetkamer nie besonders suksesvol was nie, het Hennie besluit om met Spur te gesels, en in 2005 het Piketberg ʼn Spur gekry. “Bottelering het nooit op die oorspronklike perseel langs die N7 gebeur nie. Dit het na die industriële gebied verskuif, maar die stuk grond het die fondasie vir baie spin-offs gelê,” vertel Hennie. Die Hanekoms botteleer al hulle eie wyne met Dirk Hanekom aan die stuur van die botteleringsaanleg. Die maatskappy doen ook ʼn vrugtesap-reeks onder die handelsnaam “Frutmore” wat oral in die Wes-Kaap beskikbaar is. Kontrakbottelering word vir ander groothandelaars en verspreiders gedoen. “Die mark daar buite is groot,” sê Philip, en planne om die aanleg te vergroot is reeds onderweg.
Onafhanklikheid is ʼn deurlopende tema in alles wat die Hanekoms aanpak. Hennie verwys na sy boerdery se drie grootste uitgawes: salarisse, krag en brandstof, waarvan hulle laasgenoemde reeds gedeeltelik self produseer. “Dis uiters noodsaaklik om jou eenheidskoste af te bring. Óf jy raak groter, óf jy raak weg,” meen hy. “Agter elke deur wag ʼn geleentheid, en as jy nie ʼn deur kry nie, gaan bou vir jou een, dan kom die res vanself.”
Plaas: Schenkfontein | Area: Piketberg, Wes-Kaap | Kontak: www.winkelshoek.co.za