Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Verskaf deur Simply Bee
“Einstein het gesê die dag as bye uitsterf, het die mens beswaarlik vier jaar op die aarde oor.” Helena van der Westhuizen leun vorentoe in haar stoel wanneer sy hierdie verdoemende nuus meedeel. Pierre van der Westhuizen garneer dié toekomsdis met brandnetels. “En dan sit jy met net graan op jou bord.” Oukei. Pap en wors (sousloos). Skaaptjops en braaibroodjies (laasgenoemde sonder tamatie en uie). Steak en tjips? Geen aartappels nie. G&T sonder ʼn skyfie suurlemoen. Nee! Geen jenewer, aangesien jy jenewerbessies benodig. Dit wat eens water was?
“Want sonder bye is daar geen bestuiwing nie. En wêreldwyd verloor ons 25 persent van alle bye elke jaar.” Indien daar vandag 20 bye is, sal daar volgende jaar net 15 oorbly. Die volgende jaar 11.25. En so aan …
Gifstowwe in die landbousektor. Ontbossing. Bloekombome word toenemend meer afgesaag as gevolg van hulle groot dors en daarmee verdwyn ʼn uiters belangrike natuurlike voedingsbron vir bye.
ʼn Inhoudryke stilte daal oor die tafel neer waar ons wortelkoek (sal óók in sy maai wees) en koffie (beslis nie meer op die spyskaart nie) op Simply Bee te Hopefield in die Wes-Kaap se koffiewinkelstoep geniet.
Maar Pierre lig ons uit die versmorende neerslagtigheid. “Ons is baie gelukkig, want ons bye leef op fynbos. Waarvan hier baie is. En daar is nie ʼn plaas binne ʼn radius van 10 kilometer om hulle nie.”
Die wortelkoek proe weer asof die bytjies en die blommetjies sorgeloos lepellê. Weg is die bitter voorsmaak van ʼn beminde wat deur die dood voorgelê word.
KLEIN BEGIN LEI TOT GROOT DINGE
Simply Bee bestaan vandag uit verskeie geboue waarin ál hul produkte vervaardig word. Die koffie- en geskenkwinkel. En as besondere bonus hul waarnemingslokaal met ʼn lewende en werkende byekorf agter glas. Hier sien jy hoe bye buitentoe vlieg en terugkeer om te doen wat bye doen.
“Maar,” voeg Helena by, “ons het baie klein begin. In ons braaikamer”.
“Ek het met die produkte begin omdat ek allergies is vir alkohol. Net uitwendig. En ek drink nie eens nie. Baie velprodukte bevat alkohol en ek kan hulle nie gebruik nie. Toe maak ek my eie. Aanvanklik het ek dit weggegee. Nou verskaf ons aan van padstalle tot die voorste gesondheidswinkels, spa’s en welstandsentra landwyd. Ek verseg egter om aan kettingwinkels te verskaf. Ons is daarenteen bewus dat Wellness Warehouse wel ʼn kettingwinkel is, maar ons produkte hoort daar. Nou is hulle en Faithful to Nature ons grootste kliënte.
MET ʼN ELLELANGE DRAAI OM DAARBY UIT TE KOM.
Pierre en Helena het beide op Hopefield grootgeword. “Maar sy was agt jaar jonger en ek het nie eens na haar gekyk nie.” Weens huishoudelike omstandighede is Pierre Kaap toe. Later jare loop hulle mekaar weer raak en die by in Pierre kyk met ander oë na daardie ouderdomsverskil van agt jaar tussen hom en sy blom.
Helena is nie een wat haar lank met kletsery ophou nie en bestorm die gesprek soos Duane Vermeulen op steroïde.
Interlude: Simply Bee vervaardig ʼn wye verskeidenheid produkte. Van kiemwerende balsems, hande-, lyf- en reinigingsroom tot kerse, leer- en houtpolitoer, selfs insekafweermiddels – en alles tussenin. En Helena en Pierre doen só met benydenswaardige geesdrif.
Hulle bye (en bye in die algemeen) se welvaart is egter ewe belangrik. Terloops, ten spyte van die feit dat ratels, tesame met die mens, bye se grootste bedreiging is, loop Simply Bee hand-om-die-blaas met hierdie vreeslose wesels.
SO NA AAN DIE NATUUR MOONTLIK
“Die eerste ding wat jy omtrent Simply Bee moet verstaan: ons doen nie kommersiële bestuiwing nie.” Dit is nou wanneer byeboere hul korwe na plase karwy om byvoorbeeld vrugtebome te bestuif. “Ons doen dit nie omdat die bye dan aan gifstowwe blootgestel word. Natuurlik is bestuiwing belangrik, maar Simply Bee doen dit nie. Ons sê altyd: ons het happy bees. Hierdie bye word op boere se plase gevang en tot diep in fynboslande verskuif. En hulle staan daar vir die res van hul lewens.”
Bye haat vibrasie. Enigeen wat al agterop ʼn bakkie gery het, sal weet van die gerommel en geskommel.
Byeboere verloor tussen 20 en 50 persent van hul bye tydens bestuiwing. Wanneer ons volgende keer kerm oor die vrugte wat só duur is, onthou die bye betaal ʼn aansienlik hoër prys.
Simply Bee oes slegs die bietjie byewas wat afkom wanneer die selletjies oopgemaak word. Daarbenewens heuning en oortollige byebrood (propolis). “Propolis is propvol antibakteriese en antiswam eienskappe. Die bye maak propolis in die korf om hulself teen virusse te beskerm en hul kos te ontsmet.”
Sodra ʼn ongewenste gas by die korf invlieg, steek die bye dit eers dood voordat die ongenooide in byebrood gebalsem word (g’n wonder die by was van godsdienstige en geestelike sinrykheid vir die antieke Egiptenare nie). Dit weerhou die verrottende inkommer daarvan om die korf te besmet.
Pierre verduidelik byebrood word van bome se hars (resin) gemaak. “En die belangrike ding is dat propolis boonop ongeveer vier persent essensiële olies bevat.”
Helena keer telkemale terug na die voordele van byeprodukte vir die mens. “Propolis laat die vel baie vinniger herstel en dra by tot selhernuwing. Tydens navorsing op kankerpasiënte is bevind dit verhoog ook jou immuniteit. Verligting van koorsblare en seer kele. Al daai goed.”
Een ding waaroor Helena onteenseglik gekant is: die afhaal van stuifmeel. “Ons haal dit nooit, maar nooit, af nie. Óók nie die royal jelly (oftewel prinsesselei in die soetste taal) nie.”
Prinsesselei is die bylarwes se voeding. ʼn Gelatienagtige stof wat deur die versorgingsbye in hul kopkliere gemaak word en uit water, suikers, proteïne, vitamiene C, ensieme en spoorelemente bestaan. Prinsesselei is natuurlik ook die koninginby se daaglikse brood. Indien die waarde steeds bevraagteken word, is dit nodig om te onthou die nuwe koningin groei ook binne-in prinsesselei. Haal dit af en die ganse kolonie word belemmer.
“Ons is nie hier om alles moontlik te oes nie. Die bye se instandhouding en gelukkigheid is ewe belangrik.”
Ten spyte hiervan voer Pierre glad nie die bye aanvullingskos soos suikerwater nie. “Verder dien ons geen medikasie toe nie. As hulle siek word, moet hulle óf self daardeur, óf die weg van alle vlees volg. Hulle is so natuurlik soos die eerste bye op aarde.”
Stuifmeel is die byekolonie se voedingstof en jy mors nie met ʼn Wes-Kaapse capensis-by se kos nie – hulle is heelwat aggressiewer as hul Gautengse eweknieë (van lank voor die titaniese stryde oujare tussen die WP en Noord-Transvaal).
KYK EN VERSTAAN BETER
Dit is juis hoekom Simply Bee die observasiesentrum begin het om mense te leer oor wat binne-in ʼn korf aangaan.
“Jy kry noodwendig die koninginby en sy lewe tot om en by vyf jaar. Dan is daar omtrent ten alle tye sowat 100 drones oftewel mannetjiesbye – ʼn drone is hommel, maar hierdie is nie hommelbye nie. Ons weet nie wat die Afrikaans daarvoor is nie.”
Kan die woordeboekmakers help? “Nietemin, drones is mannetjiesbye en bestaan bloot om die koningin te bevrug.” Gelukkige kêrels? Dink weer. Pierre verduidelik die mannetjie sterf onmiddellik nadat hy sy enkelvoudige plig in die binnekamer nagekom het. Mannetjies kan hulself ook nie voer nie en die werkerbye (almal vroulik) is daarvoor verantwoordelik. Indien hierdie dames glo die manne maak hulle skuldig aan pligsversuim, word die luiaards summier uit die korf geboender om in elk geval buite te sterf – dit sonder die laaste potjie bedpret.
“Ons het die grootste respek vir werkerbye. Die eerste ding wat sy doen nadat sy gebore word, is om die sel skoon te vreet sodat die koningin die volgende eier daarin kan lê. Daarna werk sy haarself binne 30 tot 45 dae letterlik dood.”
Pierre spring in sy voertuig om na sy kroos te gaan omsien. Helena stop my ʼn versameling produkte in die hand en groet om haar vinger weer op die besigheid se pols te plaas.
Op pad huis toe onthou ek my oorle Ouma Malie se woorde: “My kind, ʼn vrou werk tot die dag van haar afsterwe. Eers kyk sy na haar man. Ten minste werk hy darem. Maar dan tree hy af en sit en sit. Maar die vrou kry nooit gesit nie.”
Nou ja, bo en behalwe die koningin het die res van die kolonie nie juis ʼn kans nie. En tog spruit daar die gesondste soet uit hul kort en haglike lewens. Dalk gee bye ons heelwat meer as net heuning en gesondheidsprodukte.
Besigheid: Simply Bee | Eienaars: Helena en Pierre van der Westhuizen | Kontak: info@simplybee.co.za | www.simplybee.co.za | Tel: 022 7230 569 | Kerkstraat 31A, Hopefield, 7355, Wes-Kaap
Hi there. I live in Tulbagh why has Tarzan gift store nit got any of your products. Lizards.
Middag, ek wil graag weet of jul nog die potjies het met lipbalm. Sien dit nerens in die Ooskaap nie. Werk soos ‘n bom met ons droe winters.
Groete Edelweiss