Carien Grobler, bemarkingsbestuurder van Omnia, het met dr. Margaretha Brand gesels oor die impak van navorsing en spesifiek die toediening van biostimulante om volhoubare boerdery te verseker. Volhoubare boerdery vereis ’n balans tussen alle produksiekomponente, onder meer chemiese en biologiese insette, asook ekstensiewe kennis van grondgesondheid. Só sê dr. Margaretha Brand, Hoof: Navorsing en Ontwikkeling van OmniBio® by Omnia Nutrilogie®.
Margaretha vertel dat die OmniBio®-span reeds meer as ’n dekade lank intensiewe navorsing doen om die biologiese aspek van grondgesondheid volledig te verstaan. “Dit is ons prioriteit om met gefokusde navorsing die uitdagings aan te spreek wat ons produsente op die plaas ondervind.
Die samewerking van ons landboukundiges en verkoopsagente wat daagliks op die plaas is met ons wetenskaplikes in die laboratorium, maak dit vir ons moontlik om op spesifieke kwessies in die veld te reageer.”
Volgens Margaretha kan biostimulante die prestasie van tradisionele landbou-insette drasties verhoog. Met spesifieke verwysing na Omnia se biologiese biostimulant Bacstim®100, sê sy: “Die mikrobes in die produk is ’n omgewingsvriendelike inset wat ’n groot invloed op opbrengste, doeltreffende water- en nutriëntverbruik, asook grondgesondheid kan hê.”
Biologiese biostimulante is reeds dekades lank beskikbaar, maar betroubare en herhaalbare resultate het dikwels ontbreek. Omnia het egter die besluit geneem om eers die nodige navorsing en toetsing te doen voordat ons ‘n produk aan die mark bekend gestel het. Hierdie produk, waarvan ‘n reeks nou ontwikkel word, het reeds ‘n reuse-impak,” sê Margaretha.
“Ons neem ook verskeie voordele waar wat ons nie aanvanklik verwag het nie. Ek kan egter nie nou al die aap uit die mou laat hieroor nie. Getrou aan Omnia se benadering, sal ons dit eers navors en wetenskaplik bewys voordat ons enige aansprake maak. Die vooruitsig om met Bacstim®100 selfs meer waarde toe te voeg vir ons kliënte, is egter baie opwindend!”
Sy benadruk dat groter opbrengste op ‘n kleiner oppervlak en suksesvolle boeredery in toenemend onvoorspelbare landboutoestande in ‘n groot mate op volgehoue navorsing oor produksiemetodes en insette berus. “Produkte en praktyke wat groter effektiwiteit op ons beskikbare landbougrond moontlik maak, sal die toekoms van landbou in Suid-Afrika verseker.”
“Sowat tien miljoen hektaar van ons landbougrond gaan jaarliks wêreldwyd weens erosie verlore”
dr. Margaretha Brand
Die skrikwekkende spoed waarteen bewerkbare grond verlore gaan, noop ons daartoe om te dink oor wat ons vir ons nageslag agterlaat, sê Margaretha. “Sowat tien miljoen hektaar van ons landbougrond gaan jaarliks wêreldwyd weens erosie verlore. Vergeleke met die feit dat dit 200 tot 400 jaar neem om een sentimeter grond te vorm, moet ons nou alles in ons vermoë doen om die gesondheid van ons grond te optimaliseer.”
Margaretha verduidelik dat Omnia se besigheidsmodel gegrond is op ‘n “Voete op die plaas”-benadering. “Die persoonlike verhoudings met ons kliënte is vir ons van die uiterste belang. Ons landboukundiges is aktief betrokke op die plaas van voor plant tot ná die oes, wanneer ons saam met ons kliënte die volgende seisoen beplan.”
Ons landboukundiges is aktief betrokke op die plaas van voor plant tot ná die oes, wanneer ons saam met ons kliënte die volgende seisoen beplan.
dr. Margaretha Brand
Hierdie spesialiste in die veld se noue kontak en samewerking met die OmniBio®-span skep ‘n waardeketting waardeur ons die jongste navorsing en tegnologiese vooruitgang met ons kliënte kan deel, sê sy. “Ons weet hoe groot die impak van grondgesondheid op risikobestuur is. Daarom belowe ons om ons voete stewig op die plaas te hou terwyl ons onverpoosd na beter en meer volhoubare landbou-oplossings soek.”
Kontak Margaretha by margaretha.brand@omnia.co.za vir enige tegniese navrae. Om jou in kontak te plaas met die landboukundige in jou omgewing, kontak Carien Grobler by carien.grobler@omnia.co.za.