Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Louis Botha en verskaf
“Ken jy die storie van die boer wat sy perd geleer het om sonder kos en water klaar te kom?” Nee.
“Wel, die boer het elke dag die voer en water minder gemaak en die perd het verbasend goed aangepas. Maar kan jy glo, die dag net voor die perd gereed was om slegs op vars lug te lewe, loop vrek die ding. Nietemin, dit is hoe ek nou my vrugtebome leer om sonder water te lewe. Oor die droogte . . .”
Pieter Olivier van die plaas Vrisgewaagd vertel hierdie boer-maak-’n-plan-staaltjie op pad na Weltevrede Fig & Guest Farm om my voor te berei op hoe boerdery in Prins Albert se omtes moontlik kan werk.
GRONDPAD NA GROEN
Ja, dit is uiters droog. Die grondpad kronkel soos ʼn adder wat die doodstyding oor dorre vlaktes bring. Verwoestende brande het die plantegroei teen die noordelike hange van die Swartberge verteer en nou beskik die grond nie oor die vermoë om die afvloei te vertraag nie. Al reën dit, vloei die water te vinnig na benede.
Maar ry oor ʼn hoogte en daar lê ʼn lap lowergroen aarde in die verte, skuins teen die voet van die Swartberge – amper soos die verwelkomende liggie in die wapad (en nié een wat as ʼn rilverhaal gaan uitdraai nie). Weltevrede Fig & Guest Farm
Meteens is jy deur vyeboorde omring. Netjiese grondpaaie lei na die skaduryke koffiewinkel met die groenste grasperk, waar ek vir Liezl en Jaco de Klerk ontmoet. Sterk boeretroos elegant bedien in daardie peperduur en kleurvolle Franse emaljeware (wat terloops ‘smeltkroes’ in die soetste taal heet).
DIEP GEWORTEL
“Ek het die plaas se geskiedenis nagevors tot 1853. My oor-oupagrootjie was Willem. Toe was dit oupagrootjie Piet en oupa Willie en toe my pa en nou is dit ons,” lê Liezl haar voorouers uit.
In hierdie omgewing word met ʼn verskeidenheid gewasse geboer. Appelkose (die Fransie Pienaar-museum in Prins Albert het hoeka ʼn stooklisensie), perskes, olywe, selfs druiwe. Vye, van alle dinge?
Liezl: “Omdat hulle baie goed hier aard. Kyk, die ou plase het mos almal vye en granate en perskes so al langs die waterstrome gehad. My ouma-hulle het seker so veertig adamsvyebome gehad tesame met ander vrugte wat hulle vir die SAD gedroog het. Toe my pa plaas toe kom, het die vye baie goed gedoen en hy het aangehou om meer en meer bome aan te plant. Aanvanklik vir droog, maar later jare het ons vars vye aan Woolworths begin lewer. Maar toe ek en Jaco plaas toe kom, het ons die konfytbeen op ʼn heelwat groter skaal ontwikkel.”
Alhoewel die plaas reeds vir langer as ʼn eeu in die familie is, het Jaco geen landbou-ervaring gehad toe hy die vyeboerdery omhels het nie.
VROEË EN LAAT VYE
“Dit het maar netso gebeur,” reken hy. “Ek het BCom studeer. En ons sê altyd, ‘Mens doen maar wat jy vind om te doen’. Aan die begin was dit vir ons ʼn lekker omgewing en ons het na die gastehuise gekyk. Later het Skoonpa met al sy kennis en ervaring my baie geleer. En ek leer nog elke dag. In hierdie omgewing moet jy jou storie in baie verskillende dissiplines ken. Van menseverhoudings tot vyeboerdery as sulks, tot besigheid en die ekonomie. ʼn Jack of all trades wees. En ons is ver van die naaste groot dorp af. Met ander woorde, as goed breek, moet jy kan heelmaak. Maar die vye is hier. En hulle is gelukkig. Ons moet hulle net gelukkig hou.”
Eenvoudig? Daar is ‘n ou gesegde: Happy wife, happy life. Soos alle mans egter weet, is die instandhouding van hierdie harmonie moeiliker gedaan as gesê. En enige produsent sal beken dat daardie mengeldrankie wat boerdery en klimaat en markpryse en politiek insluit die manier het om in ʼn temperamentele gedoente te ontaard. En indien ons die mengeldrankie met die wese van die vrou kan vergelyk, mag ons maar net na Shakespeare luister: Hell knows no fury like a woman scorned. Met ander woorde: vang die bal mis en straf is jou voorland.
Aan die positiewe kant beskik die onmiddellike omgewing oor ʼn droë klimaat met koue winters. Boonop is Weltevrede in ʼn geïsoleerde vallei geleë en is daar sodoende geen ander vyeplase naby wat siektes kan aanstuur nie.
“Ons het baie en besonder goeie ondergrondse water. En dan is daar natuurlik die water uit die berg.”
Liezl vertel dat mense onder die wanindruk verkeer dat vye nie baie water nodig het nie. “Hulle het. Vye het droogte net so nodig soos water. En dit is ʼn interessante kombinasie.”
ALMAL WORD OUD
Die ander wanindruk is dat vyebome groei en vir ewig vrugte dra. Dat die vyeboom waarvan Adam en Eva hul bedekkingsblare gepluk het, vandag nog in fleur staan.
“Nee, die ou bome se vrugte is nie meer so mooi nie. Daarom moes ons dié wat oupa Willem geplant het, uithaal en vervang. Hier staan nog ʼn boom wat al groot was toe my pa ʼn kind was. En hy is nou 72. Dus is daardie boom nou oor ʼn honderd jaar oud. Maar die vrugte is nie meer so ferm nie en die stamme val uitmekaar.”
Óók maar mens . . .
Vyebome kom ná sewe jaar in volle produksie en lewer vir ongeveer 40 jaar. En daar is vele produsente wat nou ʼn verskeidenheid kultivars aanplant.
Liezl: “Hulle fokus is egter op die uitvoermark. Ons verbou uitsluitlik adamsvye omdat die vrugte baie sagter en smaakliker is. Maar as gevolg van hul samestelling (die sagtheid en die dun skille) is hulle egter glad nie geskik vir uitvoer nie.”
SAGTE, DUN SKILLE
Dit is juis die adamsvye se smaaklikheid en sagtheid waarin Woolworths belangstel.
Jaco: “Ons verhouding met Woolworths het oor die jare goed vrugte afgewerp. Hulle vat elke dag alles wat ons produseer. Ek meen, ons is ʼn klein plasie en hier kom gereeld mense aan wat ons vye in die stede koop en nou wil kom sien hoe dinge op Weltevrede lyk. Ons het die mark en die mark werk vir ons. Stuur jy jou produk hiervandaan Engeland toe, keur hulle dit eers af wanneer dit daar aankom. En wat dan?”
Liezl verduidelik toe hulle 15 jaar gelede die konfytmark betree het, moes die plaas se handelsmerk heroorweeg word.
“Die bemarkers wou weet of ons ʼn naam soek wat oor ‘n honderd jaar nog gaan bestaan, en of ons eerder soveel vye as moontlik in ʼn bottel wil probeer prop. Hierdie is só ʼn ou plaas en op grond daarvan het ons besluit om langtermyn te dink. Daarom fokus ons meer op die deli- en geskenk-markte.”
Tot onlangs het Weltevrede elke ses tot agt weke konfyt afgelewer in die Kaap en op die Tuinroete. Soos die besigheid egter nou verloop, gebeur aflewering nader aan elke twee weke.
GROOTTE IS RELATIEF
Liezl en Jaco verbou 10 hektaar vye en, alhoewel dit piepklein klink, is dit alles behalwe die geval.
“Vyeboerdery is uiters intensief. As jy daaraan dink, ons het tydens oestyd tot 140 mense wat hier werk. En met die twee kultivars wat ons verbou, oes ons omtrent vir ses maande lank. As jy byvoorbeeld ʼn warm voorsomer het en dit bly warm, hou die bome net aan met produseer. Daarom is die koue winters uiters belangrik. Die blare val af en die bome gaan in rus.”
En enige vrugteboer weet: rus die bome nie in die winter nie is die daaropvolgende oes, wel, maar oes.
Jaco oorweeg dit om uit te brei. “Maar ons hulpbronne is beperk. Ons hou egter ons oog op die mark en kyk hoe dinge verloop.”
DRIEBEENRESIES
Alhoewel Weltevrede Fig Farm slegs op een been staan (wat natuurlik in twee verdeel met die lewering van vars vrugte aan die een kant en konfyt aan die ander), is die Guest-gedeelte van die naam ʼn noodsaaklike komponent.
Liezl vertel dat hier oorspronklik vier plase was en dat hulle steeds die naamplaas besit. Een van die ander plase is onderverdeel en vier vakansiehuise wat aan gaste verhuur word, is opgerig.
‘N NUWE PAADJIE BEGIN
“Verderaan het ons nog ene. Dit is die wittebrood-huis en jy het ʼn vier-by-vier nodig om daar uit te kom.”
Seker om ʼn hindernis teen ongewensde besoekers te skep. En eweneens indien Adam of Eva kleinkoppie trek.
“Ons het dus genoeg slaapplek vir 20 mense. Soos die res van Weltevrede, is die gastehuise óók ʼn ou besigheid wat my ma 25 jaar gelede begin het, en dit doen goed.”
Op pad terug wil ek by Pieter stilhou en hom vertel dat sy plan om die vrugtebome sonder water te laat lewe die weg van die perd gaan volg. Daar aangekom, gooi sy besproeiingstelsels egter lankal reeds ʼn reënboog teen die berg.
En dis toe vir my die teken dat alles hier óók goed sal gaan.
Eienaars: Jaco en Liezl de Klerk | Plaas: Weltevrede Fig & Guest Farm | Area: Prins Albert, Wes-Kaap | Kontak: weltevrede@figfarm.co.za | www.figfarm.co.za
wie was oorspronklike eienaars voor 1853 my oupa het da gebly Barend Jacobus Esterhuizen
baie interresant – dankie!!
Beautiful.