Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Verskaf
Die tekstielvervaardiger, Mungo, vier van-jaar sy 23ste verjaardag. Hulle het onlangs Suid-Afrika se eerste Global Organic Textile Standard (GOTS) -sertifisering ontvang. Hierdie sertifisering is wêreldbekend as die tekstielverwerking-standaard vir organiese vesel. Dit voldoen aan die hoogste vlakke vir sosiale en omgewingskriteria.
EERLIKE DEURSIGTIGHEID
Ondanks die wêreldwye pandemie, het die meule drie dae van strawwe beoordeling deur die onafhanklike Control Union-inspekteurs ondergaan. Elke afdeling van Mungo Mill buite Plettenbergbaai is ondersoek: die manier waarop hulle van afval ontslae raak, hul arbeidspraktyke en die gesondheid en veiligheid van personeel, sowel as hulle energieverbruik. Die afdelings moes aan die voorgeskrewe vereistes voldoen: van ontwerp en produksie tot wewing, was, en groot- sowel as kleinhandel. Die sertifikaat is uitgereik en pryk nou in die meule.
Mungo het in 2018 begin soek na ’n organiese katoenprodusent. Ongelukkig moes hulle buite die landsgrense gaan soek omdat daar nie genoeg organiese katoen in Suid-Afrika geproduseer word nie. Hulle vind toe vir Egedeniz, die eerste groep organiese katoenboere in Turkye wat GOTS-sertifisering behaal het. In 2019 stel Mungo Suid-Afrika se eerste 100% organiese katoen-handdoek, The Aegean, bekend.
Maar wag, ek loop die storie vooruit.
Die jaar was 1998; die meester-wewer Stuart Holding was die een wat die eerste boustene van Mungo met twee antieke, gerestoureerde weefstoele neergelê het.
WAT IS IN ‘N NAAM?
Nou dwaal jou gedagtes weer en jy wonder wat Mungo beteken? Mungo is ’n ou tekstielterm wat verwys na lap wat van herwonne of afvalmateriaal gemaak is. Hoewel dit nie heeltemal van toepassing is op die werksaamhede by Mungo nie, is al 16 weefstoele in die meule noukeurig gerestoureer en aangepas, en vandag weef hierdie horingoue toerusting kontemporêre huislinne.
Die twee aanvanklike weefstoele wat meer as 130 jaar oud is, is die einste twee waarop Stuart jare tevore as vakleerling in sy tuisdorp, Bentham, Noord-Yorkshire, gewerk het. Hy en sy vrou, Janet, het op ’n plaas buite Plettenbergbaai gewoon en Stuart het weer in ’n ou skuur op die plaas begin weef. Mense het gereeld ingeloer om te kyk hoe hy werk.
Dit was nie lank nie, of die skuur het te klein geword en die wewery moes na ’n meule in ’n ou melkery verskuif.
Agt jaar gelede sluit hul kinders, Dax en Tessa, by die meule aan. Hulle begin toe met nuwe reekse, fokus op volhoubaarheid en om produksieprosesse te vereenvoudig.
Die personeeltal het van 1 tot 84 gegroei; vier winkels het intussen in Suid-Afrika geopen – in Kaapstad, Constantia, Plettenbergbaai en Johannesburg – en Mungo word deur middel van e-handel in Europa en Amerika verteenwoordig en verskeep wêreldwyd.
PRAGTIGE PATRONE
In 2017 open hulle hul eie meule by die Old Nick Village-sentrum, met hul vlagskipwinkel daarnaas. Die meule is Stuart en Dax se breinkind en is deur die argitek Andrea Christoforetti vergestalt. Buite-om die rooi baksteengebou is ’n grag wat deur die eeueoue meul-tradisie geïnspireer is. Die reuse hout-omhulsel van die gebou herinner aan gevoude linne, maar eintlik kom die inspirasie van die oorkruis patrone van katoendrade op die weefstoel.
“Die meule is die tasbare bewys van ons deursigtigheids-filosofie. Mense kan kom kyk hoe ons met ’n sosiale gewete werk, waar niemand uitgebuit word en geen minderwaardige roumateriaal gebruik word nie,” vertel Dax.
Dié pragtige meule is waar die handelsmerk se ware bekoring vir my lê. Terwyl die weeftoestelle ritmies klap, klap, klap, stap ons op die wandelhal wat half verhewe bo die aktiwiteite gebou is. Groot glasruite bied ’n intieme kykie op die weefproses.
Mungo gebruik tans drie tipe weefmasjiene: die Lancashire-, Ruti- en Dornier weefmasjiene. Al die weefmasjiene is of gerestoureer, of geskenk of gekoop by ander meule wat dalk gesluit het of hul masjinerie opgegradeer het.
DRADE DEUR MEKAAR
Tessa verduidelik dat die basiese beginsels van weef eintlik baie eenvoudig is. “Dit behels ’n weeftoestel wat twee stelle draad of gare teen die regte hoeke vleg. Een draad loop horisontaal (dwarsdraad) en die ander een vertikaal (lengtedraad of skering) daaroor.”
Tessa sê katoen as ’n natuurlike vesel is veelsydig, gemaklik, dienlik en uiters bruikbaar. Katoenstof kan sag en dun, of so dik soos denim wees; dit kan in enige kleur gekleur word, maklik gewas en gedroog word, en dit kan by ander vesels gevoeg word om funksionele materiaal te skep wat vir klere of ander doeleindes gebruik kan word.
Mungo se webwerf gee baie agtergrond oor die produksieproses en antwoord baie algemene vrae. “Hoekom is jul produkte soveel duurder as ander s’n?” is een van dié vrae. Die antwoord is volgens die Mungo-span eenvoudig. “As dit nie vir jou iets kos nie, wie betaal dan daarvoor?”
Dax verduidelik dat vele nywerhede wat massaproduksie toepas, die omgewing baie kos. Werkers wat min betaal word en in haglike omstandighede produkte met lae kwaliteit produseer, betaal ook. “Sulke produkte beland baie vinnig op ashope omdat hulle nie duursaam is nie.”
DUURSAME PRODUKTE
Dax sê deur hul besluit om binne die volgende paar jaar net organiese katoen aan te koop, hoop hulle om Suid-Afrikaanse katoenboere, produsente, handelaars én die publiek te oortuig dat daar ’n groot aanvraag bestaan vir tekstiele wat van organiese katoen gemaak is. “Mens kan verwag om tussen 20% en 30% meer vir organiese katoen te betaal.”
“Volhoubare produksie is nie meer ’n keuse nie – dis ’n noodsaaklikheid,” is hul filosofie.
Dax vertel dat hulle organiese katoen verkies “omdat geen skadelike pesbeheer daarop toegepas word nie en omdat dit met die hand gepluk word. Hand-pluk is meer effektief en dit skep werksgeleenthede,” sê hy.
“Organiese katoen kan wel ’n bietjie swakker wees omdat dit nie geneties aangepas is om lank en eweredig te groei nie en daarom speel die weer ’n groot rol in die individuele vesels se kwaliteit. Ons voel die kompromie is egter die moeite werd. Ons het gevind dat die organiese katoen ’n baie sagter en mooier produk lewer en ons stadiger weefproses veroorsaak dat die gare minder stres verduur. Die organiese katoen wat jy dus koop, het dieselfde lewensduur én boonop belê jy in ons globale ekosisteem se gesondheid.”
GEEN SKADE OP AARDE
Die Holdings sê hulle glo dat die “maak van ’n eties geproduseerde, kwaliteit-produk nie meer goed genoeg is nie. Kwaliteit is nie bloot ’n produk van waarde nie, dit moet dieper strek. Behalwe dat dit die gebruiker se lewe moet verryk, moet die produk ook die planeet se ekosisteem verbeter. Dis tyd om terug te gee.”
Dax sê hy droom van die dag wat al hul produkte van 100% organiese, Suid-Afrikaanse katoen geweef word. “Ek wil my rol speel om die wêreld ’n meer volhoubare plek te maak. Dat my dogter voortaan ook die ongelooflike mooi wêreld waarin ek leef, kan beleef.”
Mungo gebruik meestal katoen en linne in hul produksieproses. Linne is van nature organies en verg ook geen pesbeheer. Dax verduidelik dat beide katoen en linne selstof-vesels is. Wol en sybokhaar is dierehare en ’n kontaminasie-probleem kom voor as jy beide in een ruimte gebruik.
“Natuurlike vesels se voordele lê hoofsaaklik in die funksionaliteit en hoe dit voel wanneer jy dit met ’n poliëster t-hemp vergelyk. Draf om die blok en ruik aan jou poliëster hemp. Selstof-vesels trek vog weg van die liggaam en skep ’n skoon, ligte sensasie. Poliëster is eintlik plastiek.”
“Mungo koop katoengare by Prilla, ’n pluismeule in Pietermaritzburg, wat katoen by Suid-Afrikaanse katoenprodusente aankoop en in gare verwerk. Tans bekom hulle 15% van hul jaarlikse organiese katoen van oorsee af en die res plaaslik.
MAAK PATROONTJIES
Die ontwerpe word deur drie mense – Lenore Shroeder, Stuart en Tessa – behartig, met baie insette van ander spanlede. Stuart versamel al vir meer as 40 jaar antieke boeke oor weef en baie inspirasie word uit hierdie boeke geput.
Vandat die eerste idees op papier geteken word, word die katoendraad met skering (drade wat in die lengte van die weefsel loop) en inslag (dwarsdrade) saamgevleg; dan geweef en dan tuis getoets vir onder meer kleurvastheid, duursaamheid en kwaliteit.
As die produk die tuistoets slaag, word die ontwerp op moderne rekenaarprogramme gelaai en omskep in ’n patroonkaart wat in die produksieproses gebruik sal word.
Van daardie eerste tekeninge tot die produk in die winkel beskikbaar is, kan ses weke tot ses maande duur as dit ’n ingewikkelde ontwerp is. “En sommige van hulle sien nooit die lig nie,” voeg Tessa by.
Elke ontwerp kry ’n naam. Tessa sê hulle kies altyd hul eie pad met ontwerpe en volg nie modeneigings na nie. Dis duidelik dat Mungo gewoond daaraan is om ding op hulle eie manier te doen, tot voordeel van alle betrokkenes.
WAT MAAK MUNGO UNIEK?
- Om organiese katoen te produseer is produsente van die temperatuur, humiditeit, reënval en grondtipe afhanklik. Dit is een van die uitdagendste maniere van boer. Produsente wat dit suksesvol wil doen, moet in pas met die aarde se ritme en die siklusse van die ekosisteem wees en minder op wetenskap staatmaak.
- Een katoen-handdoek weeg 500 gram en dit kan tot drie weke neem om 750 handdoeke te weef.
- Ongeveer 25% van Mungo se produkte word oorsee verkoop. Dis moeilik om te bereken hoeveel oorsese toeriste hier kom koop om saam te neem huis toe, maar vir die 2020-boekjaar kan hulle met redelike sekerheid sê dat dit nie baie was nie.
- Die besluit oor watter produkte op die antieke en watter op die moderner weeftoestelle geweef moet word, is eenvoudig. Die spesiale items gaan deur die antieke masjiene wat 130 jaar gelede net organiese katoen geweef het. Die organiese somer-handdoeke en die organiese babakombersies tel hieronder. Die masjiene staan nie iewers onder ’n doek en vergader stof nie.
- Volgens Mungo se vereistes word net spesifieke katoengare met ’n sekere liniêre massadigtheid, wat in Denier (D) gemeet word, gebruik. Dit verwys na die massa per 9 000 meter van die vesel en dit word in gram weergegee.
- Om die plaaslike mark na organiese katoen-verbruikers om te skakel, moet prys as grootste struikelblok oorkom word. Mungo streef na kompeterende pryse, maar gaan nie kwaliteit vir laer pryse inboet om hul verkope te verhoog nie. Hul filosofie is om mense op te voed oor die voordele van organiese vesel en só die mark uit te brei.
- Dax sê Egiptiese katoen kom uit die vrugbare Nyl-vallei met katoen-kwaliteit en lengte wat beslis beter as Suid-Afrika is, maar hy is nie seker wat die werkstoestande van katoenwerkers in Egipte is nie.
NAAM: Mungo Mill | AREA: Plettenbergbaai, Wes-Kaap | KONTAK: www.mungo.co.za
22 Comments