Agri-entrepeneur, farmers
Leave a comment

Wensdenkery word waar

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

Maskam beteken “plek van water” maar aan die voet van die Maskamberg, net buite Vanrhynsdorp, reën dit die afgelope paar jaar hopeloos te min. Daar is wel baie ondergrondse water, jy moet net weet waar om die aar raak te boor.  

Op TroeTroe Boerdery tref hulle water by ‘n boorgat wat GP uitgewys het.

GP Wiese is die vyfde generasie op Ronderug aan die voet van die Maskamberg. Sy pa, Gideon, was ‘n besigheidsman en deeltydse boer. Toe GP in 1996 op Ronderug begin boer het, het die 600 ha plaas net skaap en ‘n bietjie koring gehad. Sedert sy pa se dood in 2015 boer GP alleen voort, deur ‘n strawwe droogte wat heel terloops gelei het tot die ontdekking van ‘n onverwagse talent en nuwe geleenthede. 

GP boer tans met 6 ha droogdruiwe, 20 ha lusern en sedert 2003 huur hy buurgrond waarop hy rooibos boer omdat Ronderug nie geskik is vir teelane nie. Ronderug word as weiveld vir sy Dorper-skape benut. “Ek moes my skaapboerdery drasties afskaal met die droogte, van 400 ooie na 150 en nou tot net 80 diere,” sê hy. Maar die waternood het indirek na nuwe weivelde gelei . . .

GP skat die diepte van die boorgat met behulp van ‘n maatband.
Mareli Engelbrecht hou ‘n bottel vir ‘n hanslam wat gulsig daaraan suig.

WATERAANWYSER

GP het in 2016 ontdek dat hy water kan aanwys. “Ek het met die droogte gekyk hoe ‘n wateraanwyser te werk gaan. Ek’t besluit om self te probeer en toe werk dit,” vertel GP. Hy het aanvanklik draad gebruik maar het besef dat twee plastiek kabelbandjies (cable ties) vir hom die beste werk. “Die ouens gebruik enigiets, van vonkproppe en draad tot bakstene en glasbottels. Maar bakstene werk glad nie vir my nie.”

Hy het aanvanklik draad gebruik maar het besef dat twee plastiek kabelbandjies (cable ties) vir hom die beste werk.

Ná hy sy eie boorgate uitgewys het, het boere hom vir hulp begin vra. “Hulle’t my woord gevat en dit het ge-werk. Die mense sê dis jou eie magnetiese veld wat só maak. Ek weet self nie hoekom dit met my werk nie, maar ek het nog nooit ‘n droë gat uitgewys nie.” GP doen dit net as ‘n guns en vra nooit geld vir sy aanbevelings nie. 

Hy help tans vir Nico Schade en Stokkies van Zyl wat onlangs twee plase in die area gekoop het. Op TroeTroe Boerdery is al die droogwingerd uitgehaal wat weer op ‘n latere stadium aangeplant sal word. Daar word van vooraf plaas gemaak en die beginpunt is natuurlik water. 

Terwyl ons gesels, wag GP juis op ‘n oproep van Nico om te hoor of hulle water raak geboor het op die plek wat GP op TroeTroe uitgewys het. Daar’s heelwat op die spel, want hoe meer water, hoe meer planne. “Maar dit hang alles af van hoeveel water ons vandag kry!”

DIÉ CABLE TIES JOK NIE!

GP gaan wys vir ons sy lusernland met ‘n boorgat wat hy self uitgewys het en wat 156 000 liter per uur lewer. Ek en Michel, ons fotograaf, is erg opgewonde vir ‘n demonstrasie. “Daar’s ‘n paar dinge waarvoor ek kyk. ‘n Klomp miershope in ‘n lyn beteken altyd dat daar ‘n wateraar is.” Hy vat sy bandjies styf vas en stap oor die breuk, in lyn met die boorgat wat hy gesink het. Ek en Michel klink soos kinders by ‘n towenaarskonsert toe die bandjies skerp na onder swenk wanneer GP oor die wateraar beweeg. Hy stap verder en die bandjies draai hulself mooi netjies terug om steeds in die rigting van die ondergrondse water te wys. 

“’n Dorper vreet jou veld op. ’n Wolskaap sal teen die draad staan en vrek, maar ’n Dorper breek deur. Veral ’n swartkop Dorper.” 

Ons wil ook sien of ons dié gawe het, maar die bandjies bly leweloos in ons hande. Ons is oortuig dat GP nie die bandjies gemanipuleer het nie en wanneer hy klaar is, is daar diep kepe in sy duime en voorvingers waar die plastiek teen die druk van sy hande gedraai het. Hy wys nie net ligging uit nie maar skat ook die diepte van ‘n boorgat. Hy plaas ‘n maatband op die plek en beweeg die bandjies van die grond af na bo. By 110 cm swaai die bandjies skerp af grond toe. “Die water sal so 110 meter diep lê. Ek was nog nooit met meer as 20 meter uit nie,” sê hy.

GULSIGE SKAPE 

Daar loop ‘n paar Dorpers langs die lusernland. Nico en Stokkie kyk na Dohne-Merino’s en Dorpers vir hul skaapkudde en dié besluit hang ook af van hoeveel water wat op TroeTroe gevind word. ‘n Kombinasie van weiding en krale word beplan en kunsmatige inseminasie word ook oorweeg. Na GP ‘n paar “plat, lang ramme soos speenvarke” gekoop het, het hy sy eie Dorper-ramme geteel. Hy wys na ‘n ram wat bo die res van die kudde uittroon. “Sien jy daai ram, ek het hom geteel.” GP meen Ronderug se skaapvleis het kwaliteit geur en tekstuur omdat hulle op gebroke veld wei, met bossieveld in die winter en weiding in die somer. GP beskryf die gulsige Dorpers as “aggressiewe weiers”, maar dit is die enigste lam wat binne vier tot vyf maande bemark kan word, juis omdat dit so ‘n vinnige groeier is, teenoor ‘n Meatmaster-lam wat eers na sewe tot agt maande gereed is. 

“‘n Dorper vreet jou veld op. ‘n Wolskaap sal teen die draad staan en vrek, maar ‘n Dorper breek deur. Veral ‘n swartkop Dorper.” 

Hy beskryf Dorpers as “aggresiewe weiers” wat nie aarsel om deur ‘n draad te breek om by kos uit te kom nie. 

GROEN LUSERN EN VERSKROEIDE ROOIBOS

Ronderug verbou die afgelope vyf jaar intensief lusern wat GP aan Boland Stud resiesperd-telers in Ceres lewer. Sy lusern moet skoon wees en hy spuit twee keer per jaaronkruidmiddel en dien ‘n kunsmisprogram toe om die proteïne so hoog moontlik te hou. GP saai ‘n fynblaar lusern wat sagter is om te eet en vertel dat sy skaap sommer die blare én die stokke eet. Hy kry ongeveer tien knipsels lusern per jaar uit ‘n land. “Teen 160 bale per hektaar, tien keer per jaar, doen ek tans beter met lusern as met rooibos,” sê hy. 

Mareli Engelbrecht en ‘n jong helper voer die agt Fries-kalwers wat GP onlangs aangeskaf het.   
Gesonde lusern met die majestueuse Maskamberg in die agtergrond laat jou maklik vergeet hoe droog dit regtig hier is. 

GP gaan binnekort vir die vierde agtereenvolgende jaar dieselfde teelane aanplant omdat die bossies elke jaar van te min reën vrek. Sy opbrengs het gedaal van 50 ton tot net 1,2 ton in 2020. In 2016 het hy gemiddeld 800 kg droë rooibos per hektaar geoes en in 2020 ‘n skamele 98 kg/ha. “Ek is veronderstel om nou rooibos te plant, maar dit het nog nie gereën nie.” Met ‘n teeprys van R20 per kilogram wil ek weet hoekom hy enigsins met rooibos voortgaan. “Ek is maar net lief vir rooibos en sy uitdagings.“

Met ’n teeprys van R20 per kilogram wil ek weet hoekom hy enigsins met rooibos voortgaan. “Ek is maar net lief vir rooibos en sy uitdagings.”

Benewens ‘n tekort aan reën, het die koste van elektrisiteit die grootste impak op sy boerdery. Sonpanele is duur en nie ‘n gewenste opsie nie omdat GP in die nag besproei. “Ons water is bietjie brak en saans is die kwaliteit beter,” verduidelik hy. Met sonpanele moet daar bedags besproei word en hy wil keer dat die waterkwaliteit ‘n nadelige impak op sy gewasse moet hê.   

Hy plant ‘n sagte lusern wat eksklusief aan resiesperd-telerss gelewer word.  

“Maar dit gaan voor die naweek reën,” meen die wateraanwyser. “Ek sien die miere raak besig. Dit moet eintlik in April en voor einde Mei noemenswaardig reën, maar hierdie jaar is net nie reg nie.” Hy skud sy kop. “Dis middel van die winter en die suurlemoene dra dan nou al asof dit somer is.”

Ons is skaars terug by sy huis toe lui GP se foon. Daar’s water. Hy moet nóú kom! 


Eienaar: GP Wiese| Besigheid: Ronderug | Area: Vanrhynsdorp, Wes-Kaap, Suid-Afrika Kontak: ronderug@gmail.com | 082 801 1878

Filed under: Agri-entrepeneur, farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published.