farmers, Mega Farmers
comments 2

’n Goeie naam is goud werd

Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Mia Truter

In 2010 het Willem die eerste sitrus op sy plaas in Marble Hall, Limpopo, geplant. Hy wou toe al ‘n verskaffer van die Nadorcott-kultivar onder die handelsnaam ClemenGold word, maar die geslote produsent-getal was vol. In 2014 is hy tot die klein, geselekteerde groep produsent-verskaffers toegelaat.

Spanwerk is die sukses by WJ Kruger Boerdery waar Willem en Sanet Kruger saam die juk dra.

Willem se onderneming is op die uitvoer van tafeldruiwe en sitrus gefokus. Die kombinasie van sitrus en tafeldruiwe word deur heelwat plase in die omgewing gebruik omdat dit die optimale gebruik van arbeid bied. Dieselfde arbeidspan kan byna heeljaar besig gehou word.

“Ons gebruik ’n verhouding van 1 ha druiwe tot 2 ha sitrus en is so gestruktureer om ’n stabiele arbeidspan te vestig”

Willem Kruger

Daar is tans 250 permanente werkers, wat met tydelike spanne aangevul word soos benodig. In druiwe se piekseisoen is daar tot 600 mense op die plaas en tydens sitrus, 450.

WJ Kruger Boerdery is ‘n produsent van Nadorcott, wat as Clemengold bemark word.

Deel van die strewe na goeie vrugte is die gebruik van skadunette – ‘n verskynsel wat sedert 2011 al meer op die Loskop-waterskema sigbaar geword het. Daar is geen twyfel by Willem oor die waarde daarvan nie. “Dit is duurder, maar sorg dat daar geen merke (windmerke en sonbrand) op die vrugte is nie en geen kruisbestuiwing plaasvind nie. Daar is ook ‘n voordeel in waterbesparing van tot 30% onder nette.” Hy voeg by dat dié strukture tot 20 jaar lank kan hou.

Nette vir sitrus is ‘n goeie belegging in die kwaliteit van die eindproduk.

In die pakhuis langsaan swaai Nico Engelbrecht die septer. Die verskaffing van die masjinerie en die rekenaars, asook die installasie, is deur die Spaanse maatskappy, Maf Roda, gedoen. Dit neem onder meer verskeie foto’s van elke vrug en bepaal dan sy klas, voor dit gepak word. Die kwaliteit van die vrugte wat deur die stelsel loop, is só hoog, dat 95% van hul Nadorcotts vir uitvoer goedgekeur word.

Nico Engelbrecht is die boerdery se pakhuis- en bemarkingsbestuurder.
Die pakhuis se Maf Roda-stelsel is ‘n onmisbare deel van kwaliteitsbestuur.
Die pakhuis loop soos ‘n goed geoliede masjien.

GEHALTE WORD BELOON

Willem sê hy het eers met 12 ha Nadorcotts begin. “Hulle is vrugbare, gewillige draers. Dit smaak lekker en is diep oranje, soos die mark dit wil hê.” In SA word ClemenGold eksklusief deur Woolworths verkoop, ‘n maatskappy wat bekend is vir sy streng kwaliteitsbeleid.

Vir Willem is bemarking belangrik en veral op die manier wat dit deur ClemenGold gedryf word. “Hulle doen ongelooflike moeite, wat jou eie groot kapitaalbelegging regverdig en ondersteun.” Hy vertel van skattings dat sitrusproduksie oor vier jaar gaan verdubbel. “Sou dit só uitspeel, is die vestiging van ‘n kwaliteitgedrewe en bekende handelsmerk, nou al belangrik.”

ClemenGold mandaryne word vanaf Julie in Woolworths verkoop.

Buiten die plaas se plaaslike mark, wat sterk groei toon, gaan die meeste van die uitvoervrugte na China. Ander markte is Kanada, Engeland en Europa, Skandinawië en die Midde- en Verre-Ooste. Afrika toon ook die afgelope drie jaar goeie groei.

“Ons area is ook die eerste in Suid-Afrika om te pak, so ons geniet ‘n effense voordeel teenoor ander streke,” vertel Willem. Terselfdertyd is hulle ook redelik vêr van die markte in vergelyking met ander streke en dit bied sy eie uitdagings. Een van die grootste uitdagings is arbeid, asook produktiwiteit, koste en klimaat. “Versekering op sitrus is onbekostigbaar, as gevolg van die hoë haelrisiko in die gebied.”

Tans sukkel hulle met onderdele vir die trekkers op die plaas. ’n Kopseer wat uit die wêreldwye pandemie spruit. “Fabrieke en vervaardigers van die onderdele het verlede jaar vir weke lank stilgestaan en produksie is nog nie ingehaal nie. Dit is regtig ‘n groot probleem.”

“Wanneer ek iets wou weet, het my pa altyd gesê: ‘Jy het jou oë verniet gekry. Gaan kyk en leer!’”

Willem Kruger

PORTUURBEOORDELING

Om te help om uitdagings te oorkom en ook om kompeterend te bly, maak die boerdery gebruik van spesialis-navorsing oor die streek. Dit laat hulle toe om die onderneming teen ander te meet ten opsigte van kwaliteit, arbeid en produksie.

Planne vir die toekoms sluit ‘n 60 ha sitrus-uitbreiding oor die volgende drie jaar in – Royal Honey Murcott-mandaryne, Rooi Lemoene en Valencia-tipes.

Al kyk hy na die toekoms, is Willem nooit sonder sy pa se wysheid in sy agterkop nie. “Hy is my beste mentor,” sê Willem. “Wanneer ek iets wou weet, het my pa altyd gesê: ‘Jy het jou oë verniet gekry. Gaan kyk en leer!’”

Intussen het hy ook sy eie wyshede begin ontwikkel. “Jy moenie agter neigings gaan nie,” sê hy terwyl hy oor die woelige stoor uitkyk. “Jy sal al jou geld verloor!”


WATTER VOORDELE HOU PRODUKSIE VAN CLEMENGOLD IN?

Die ClemenGold mandaryn-handelsmerk het grotendeels die weg gebaan vir die bemarking van spesifieke sitrusvariëteite van hoogstaande gehalte.

Die alombekende etiket en klein plakker op vrugte het ‘n herkenbare identiteit geskep wat die vertroue in kwaliteit en die bestendigheid daarvan onderskraag.

Die Nadorcott-kultivar wat as ClemenGold bemark word, is in Marokko ontwikkel. ‘n Sustersmaatskappy van ClemenGold het die regte daarvoor bekom. Tot sowat 20 jaar terug het die konsep van ‘n handelsmerk vir ‘n spesifieke vrugkultivar nie bestaan nie.

Vandag is daar meer as 100 produsente van hierdie vrugte, waarvan verskeie spesifiek aan ClemenGold lewer.

Om ‘n verskaffer te word verg egter toewyding en belegging, maar die voordele het veroorsaak dat boere deesdae toustaan om betrokke te raak. Die handelsmerk se sukses spruit uit sy handhawing van ‘n fyn balans tussen goeie waarde vir die produsent en die verbruiker wat ‘n hoër prys vir die handelsmerk betaal.

‘n Voorspelbare, bestendige aanvraag wat heeljaar hou, word deur ‘n veelsydige en gefokusde strategie bewerkstellig. Dit sluit die volgende in:

  • ClemenGold se georganiseerde, wêreldwye bemarkingveldtogte
  • Verhoudings met produsente in lande soos Australië, Morokko en Spanje wat langer leweringstye moontlik maak weens die verskil van Suid-Afrika se seisoene
  • Produsente-hektare word met beskikbare aanvraag en markte belyn om nuwe produsente ‘n beter kans op winsgewendheid te bied

Ander sustermaatskappye van ClemenGold is betrokke by die res van die waardeketting, insluitende plase, kwekerye en pakhuise.


www.clemengold.com

Filed under: farmers, Mega Farmers

by

Clifford has been a journalist and writer since the early 1990s. During that time – as he worked amidst the commotion of township demonstrations, among farmers, and in remote villages across the country – he discovered the stark truth about what makes us human. Nowadays he lives in a city close to the ocean which he loves, but he still brings homage to this truth by contributing to a variety of national publications. “The words of a song by Stef Bos apply to me because I will ‘always be en route’,” he says.

2 Comments

  1. Hallo Emily,
    Lekker om te hoor dat jy van die vrugte hou. En dankie vir jou terugvoer.

    Die vrugteplakkers is ons stempel van volgehoue kwaliteit om die vrugte te onderskei van ander opsies.

    As maatskappy is ons verbind tot groener praktyke – van kwekery tot plaas en pakhuis tot op die rak.

    Ons werk voortdurend saam met ons verpakkings- en plakkervervaardigers om alle materiaal meer omgewingsvriendelik te maak en ons plakkers is tans internasionaal gesertifiseer as ‘home compostable’ – natuurlik onder die optimal omstandighede.

    Maak gerus kontak by info@clemengold.com as jy verder wil gesels.
    Groete
    Charlene

  2. Emily S says:

    Dis werklik heerlike vrugte! Maar as ek een wens kan wens, dan is dat die gebruik van plakkertjies op elke vrug gestaak word. My tuin is vol plakkers wat nie afgebreek is in die komposproses nie en dit is moeilik (en tydrowend en irriterend!) om die plakkers vooraf te verwyder. Dis sal sekerlik ook ‘n kostebesparing teweeg bring?

Leave a Reply

Your email address will not be published.