Met die eerste oogopslag lyk dit na ’n onwaarskynlike sprong. Hoe kan ’n proefleser, oorspronklik van Klerksdorp in die noorde van die land, by die Kaap se mees bekroonde wynkelder eindig as wynmaker? Vra maar net vir Zinaschke Steyn (33) wat pas as Nederburg se nuwe rooiwynmaker aangestel is.
Eintlik is Steyn se reis nie so onwaarskynlik as mens dit onder ’n vergrootglas plaas nie. Hierdie kranige wynmaker mag nou wel haar beroepsloopbaan as proefleser by ’n drukkery op Worcester begin het, maar dit was nadat sy in 2005 gematrikuleer het. Sy het reeds beplan om suidwaarts te beweeg om ’n BSc-graad in Chemiese Ingenierswese aan die Universiteit van Stellenbosch te behaal omdat sy brandewyn wou maak. Maar toe gryp die lewe in, soos dit maar soms gebeur.
“Na byna twee jaar in die Kaap het dit duidelik geword dat wynmaak my persoonlikheid beter pas,” verduidelik Zinaschke. “Ek hou daarvan om my hande vuil te kry en van die begin af fisies betrokke te wees teenoor met wyn te werk wat gedistilleer moet word. Ek sou meer met die elemente te doene kry en elke oesjaar as ’n geheel en al nuwe projek pak. Dis die antisipasie van nuwe uitdagings, nuwe grense en nuwe antwoorde elke jaar – daardie toestand van veranderlikheid – wat my aanstaan. En toe ontmoet ek vir oom Willie van Zijl in 2007 by Elsenburg, en die res is geskiedenis.”
Nadat sy in 2010 haar BAgric-graad in wynmaak en wingerdbou by Elsenburg buite Stellenbosch verwerf het, het Zinaschke wyn gemaak by Overhex-privaatkelder, die KWV en GlenWood Vineyards.
In 2018 is sy die pos as assistant-rooiwynmaker by Nederburg aangebied, en sy was baie in haar noppies want dit het beteken dat sy vir ’n internasional bekende wynmakery sou werk wat in markte op alle vastelande verteenwoordig is. “Die blootstelling aan wat al hierdie wynliefhebbers gelukkig maak en hoekom hulle Nederburg kies, was net te goed om van weg te loop.”
Sy volg Samuel Viljoen op wat nou in beheer staan van die hele Nederburg-kelder. “Ek is opgewonde oor die nuwe uitdagings, maar besef ook ek het groot skoene om te vul. Met Samuel se ondersteuning, wat my twee jaar lank onder sy vlerke geneem het, voel ek ek’s slaggereed. Ek is ook dankbaar vir my span by die kelder en sien daarna uit om nou met hulle saam te werk. Hulle almal is ’n onmisbare deel van my wynmaakreis op Nederburg.”
Wat maak haar nuuskierig, honger vir nuwe ontdekkings en die kans om voortdurend op haar beste pogings te verbeter?
“Nederburg bied ’n wonderlike omgewing om klassieke wyne te verfyn, om byvoorbeeld ons kultivarheld, cabernet sauvignon, verder uit te bou, maar ook om te eksperimenteer met ander, minder bekende kultivars, nuwe denke en praktyke, en om te sien hoe nuwe tegnologie dit wat ons doen, kan verbeter. Hoe gelukkig is ek om voortdurend te kan reflekteer en hersien en ontwikkel. Dit hou my op my tone en stel my in staat om te groei.”
Zinaschke se grootste inspirasie is haar moeder. “Sy het my geleer dat ek letterlik alles kan doen wat ek in my visier het en dat ek nooit moet toelaat dat enige situasie my gees knou nie. En die belangrikste, dat ek moet vasbyt en aanhou, maar terselfdertyd moet kyk en leer.”
Zinaschke is getroud en woon in die Paarl.