Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont
Wat kry jy wanneer jy ’n hartchirurg met ’n oog op die onthaalbedryf kruis met ’n beesboer wat ’n sagte plekkie het vir vlytbier, die stook van jenewer en ghongs van klip?
Die antwoord is nie noodwendig ’n moderne droombeeld wat gestalte aanneem nie, maar die baie besige eienaar van Netherwood Farm in die Middelland van KwaZulu-Natal. Nog meer prikkelend is om te hoor dat daar ʼn hoogs talentvolle beeldhouer, ʼn besielde filmmaker en ʼn nuuskierige antropoloog betrokke is.
SLAAN DIE ROTS
Kom by Netherwood Farm aan en, indien jy gelukkig is, loop jy jou in dr Robert Kleinloog vas. Hy sal jou op pad na die onthaalplek, langs netjiese paadjies lei tot waar ʼn doleriet-klip bo-op ʼn ander soort rots lêgemaak is. Hy sal ʼn klein rots optel en die onderste een klop. ʼn Dowwe geluid. Tik hy egter met die klip op die doleriet, stroom klanke suiwerder as katedraal-klokke daaruit, die hemele in.
“My vrou, Annalie, is eintlik ʼn tandarts, maar een met ʼn sterk belangstelling in antropologie en sy bestudeer hierdie rots-ghongs. Sy het heelwat van hulle hier en op nabygeleë plase opgespoor, almal in ʼn bepaalde rangskikking, en glo hulle was in vroeëre tye vir kommunikasie gebruik.”
LASLAPPIE-PLAAS
Netherwood Farm, soos dit vandag daar uitsien, het eintlik elders begin. Op ʼn klein naweekplasie naby Glengowrie.
“Ons het ʼn klompie bees daar aangehou, maar toe word die plek te klein en ons koop ʼn gedeelte van hierdie grond. Dit was toe net ʼn kaal lap grond. Later koop ons toe nog drie stukke by en verenig hulle as Netherwood Farm.”
Hierdie kaal lap aarde kyk egter op die Drakensberge in die verte uit en dit is juis hier waar die beeldhouer toe sy verskyning maak.
DIE KOSTE VAN KUNS
“Hy het geldelike probleme gehad en sy blyplek verloor. Toe bied ek aan om vir hom ʼn ateljee te bou. Net hier waar die uitsig op sy beste is. Jy weet, ʼn plek waar hy inspirasie uit die natuur kon put.”
So gesê, so gedaan.
“Daarna voel hy die plek benodig ʼn ruimte waar voornemende klante kan sit en koffie drink terwyl hulle besin oor die R30K wat vir ʼn gegewe beeld betaal gaan word.”
“Vervolgens word die koffiewinkel só gewild, die beeldhouer besluit daar en dan die plek is te besig en hy vat sy goed en daar trek hy. Ons het met die koffiewinkel aangehou en dit het gegroei tot wat jy vandag hier sien.”
Blueberry Café. Fork and Cleaver Restaurant. Netherwood Angus. En Happy Days Brewery.
“My seun Roscoe is ʼn filmmaker en was besig om ʼn dokumentêre film oor craft-bier oftewel vlytbier – met die astrante titel: Brewing the Republic – te vervaardig. Ek stel toe voor hy sluit die film in sy eie brouery af. En toe ontwerp ek een vir hom hier.”
Robert is natuurlik steeds ‘n hartchirurg.
SY HART SE PUNT
“Ek werk gedurende die week en dan kom mors ek my geld oor naweke op die plaas uit. Boonop was ek veronderstel om 10 jaar gelede af te tree, maar ek het vrede gemaak met die feit dat ek tot en met die dag van my afsterwe om den brode sal moet arbei.”
Hy het die onthaalgeriewe vir troues ook self ontwerp – kompleet met blyplek en ʼn kapel – en vir ʼn wyle het hy dit by wyse van afstandbeheer bestuur.
“Roscoe het egter oorgeneem en sien om na die plek. En ons groei en groei – soseer dat ons tans 52 mense in diens het.”
Asof sy vurk nie reeds oorvol was nie, het Robert 20 jaar gelede Netherwood Angus geregistreer met ʼn kudde vroulike teeldiere wat vandag by die 120 trek.
“Ons verkoop jaarliks 25 stoetbulle op die Angus Elite Sale. Bulle wat wetenskaplik geteel is (in hart en siel bly ek maar ʼn wetenskaplike). Nietemin is dit vandag baie maklik om diere na jou wil te teel omdat jy toegang tot sekere teelwaardes het wat wêreldwyd gelewer word. Dus kan jy enige eienskap kies. Met ander woorde, indien jy hoë of lae diere, wat ook al, soek, kies jy net die regte stoetbul en -koei. Ons het op ’n manier daarmee aangehou totdat ons tevrede was met die samestelling. Hulle lyk almal dieselfde, het baie melk en maak goeie moeders. Dan weet jy mos ook watter gene skep die sagste en geurigste vleis. En, aangesien Angus die oudste beesras in die wêreld is, staan dit spreekwoordelik kop en skouers bo die ander rasse uit.”
DAAR’S ʼN AFRIKA-KOEI WAT MY AFLOER
Reg buitekant die restaurant staan twee troppies Nguni en Ankole-Watusi en wys hul huidkleure en horings af.
“Nee, hulle is net daar vir die mooiheid. Maar laat ek jou ʼn storie vertel. Ons het ʼn string toilette aan die voorkant van die restaurant met vensters van eenrigting-glas wat op die Nguni se kraal kyk. Kom daar onlangs ʼn bejaarde dame met haar broek om haar enkels by die toilet uitgehol en skreeu op haar man: ‘Daar’s ʼn Afrika-koei wat my afloer!’”
Die Fork and Cleaver is geensins minder eksentriek nie. Tomahawk-biefstuk word bedien in bankskroewe, op houtplanke staangemaak. Hoender word op groot kwaste (die soort waarmee mure afgewit word) gemonteer en skep die indruk dat die disse gaan opstyg.
’N MASJIEN MET SKOP
En dit is het einde niet. ʼn Kontrepsie, toegerus met wysers en buisies, is met bottels jenewer bewapen – dit lyk baie soos ʼn Stalin-orrel deur Dalí ontwerp.
“Hierdie is ʼn hart-long-masjien waarmee ons jare gelede ʼn dubbele hart-longoorplanting op ʼn jong vrou gedoen het – ek dink sy is die tweede langslewende van daardie soort operasie. En nou deel ons jenewer daarmee uit.”
Van een van Roscoe se sopies na ʼn ander. Die Happy Days Brewery.
Roscoe: “Wanneer jy toerusting vir ʼn brouery kies, is dit amper soos om ’n motor te koop. Daar is ’n hele reeks, alles van ’n tjorrie tot ‘n Ferrari en Bugatti. En hierdie is die Ferrari.”
VUURWA-TOERUSTING
Die toerusting is iets om te aanskou. Industriële vlekvrye staalpype en -tenke met allerhande tierlantyntjies en fieterjasies.
“Jy kry nie beter as dit vir ʼn kleinskaal brouery nie. Alhoewel die toerusting slegs deels outomaties is, waarborg die stelsel veral konstante temperature. En dit is van kardinale belang.”
Natuurlik is die water wat deur hierdie stelsel gebruik word van die beste gehalte op die planeet. Reguit van die Drakensberge af, in ondergrondse are tot binne-in die tenke met die mout, hop en gis – en uiteindelik in jou glas. Om dan in ʼn kroeg te geniet wat jou keel genadiglik geolie hou.
Hoe dankbaar is ons dat ons hierdie ongewone, boeiende deus ex machina kon besoek.
Netherwood Farm: www.netherwoodfarm.com