farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Swem stroomop vir sukses

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont

Die kristalhelder lug van die imposante Drakensberge bekoor ons soos ons Bushman’s River Trout Hatchery nader. Orals waar ons tussen die welige heuwels ry, sien ons water – in mere, damme en riviere. Dit neem ons nie lank om te verstaan hoekom hierdie gebied dekades gelede al opsy gesit is as ’n ideale plek om varswatervis te teel nie.

Min visboere is so bevoorreg soos Dean Hunter, om in ‘n omgewing omring deur aanskoulike bergpieke en strome suiwer water uit ‘n reservaat te werk.

ALLES IS SO REIN

Dean Hunter, die bestuurder van die plaas, verduidelik vir ons dat die plaas aan die voet van die bergagtige Giant’s Castle-natuurreservaat lê. Volgens hom is die water op die plaas suiwer omdat dit direk uit die berg kom. En hierdie ongerepte deel van die rivier is die rede waarom die plaas juis hier gevestig is. Dean brei verder uit: “Forel is baie sensitief vir klimaat en veral vir temperatuur.”

“Forel is baie sensitief vir klimaat en veral vir temperatuur.”

Daar is wel verskeie areas in Suid-Afrika wat geskik is vir die teel van forel. Die kouer areas sluit die Drakensberg, die Wes-Kaap en Mpumalanga in. “Maar,” gaan hy verder, “daar is min plekke in die land waar forel suksesvol geteel kan word, want jy het suiwer water, koue water en baie water nodig. En dit moet teen ’n sekere tempo vloei.”

Bushman’s River Trout se reeks heerlike produkte sluit visfilette, gerookte forel en mousse in.

Dis juis om hierdie redes dat die rivier naby die Boesmansnekpas ideaal is. Baie van die stroompies met hul oorsprong hoër op in die reservaat, sorg vir ’n konstante vloei van water, en die helling is perfek. “Soos ’n mens verder stroomaf gaan, verander dinge drasties wat forelboerdery betref. Die nedersettings en landboubedrywighede veroorsaak dat dit so te sê onmoontlik is. Wat meer is, in die laerliggende areas, is die watertemperatuur hoër – iets waarvan die visse nie hou nie.”

Dit was Bill Barnes wat toegesien het dat hierdie ideale plek vir foreltelery gevestig word. In 1903 is die Giant’s Castle-area as natuurreservaat verklaar. In die 1940’s het Barnes, in samewerking met die Departement van Natuurbewaring en ander belanghebbendes, besluit om forel hier te vestig. Eers het hulle ’n klein kwekery in die reservaat opgestel. Maar in die vroeë 1950’s het Barnes ’n privaat kwekery gevestig terwyl hy steeds die staatsbedryf bestuur het en opleiding in die Lydenburg-distrik gegee het.

Soos die reënboogforel spartel om kos op die oppervlak by te kom, flits die kleure op hulle blink lywe aanskoulik.

En dis waar Dean se lewe en Barnes se forel-ambisies paaie kruis. Dean het in die Lydenburg-gebied grootgeword. Sy toekoms is gevorm toe hy daar op ’n forelplaas gewerk het en die eienaars toe hierdie een gekoop het. Nou beywer hy hom om die erfenis wat Bill Barnes nagelaat het, voort te sit.

VARS EN GESOND

“Lunsklip Visserye besit verskeie forelplase in Mpumalanga. Hierdie kwekery sal as ontwikkelingsplaas vir KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap gebruik word. Ons fokus is op die teel van visse sowel as verwerkte vis. Alhoewel ons ook met bruin forel boer, teel ons meestal reënboogforel, want daar is ’n aanvraag daarvoor in die mark.” Dit maak heeltemal sin. Die koue, onbesoedelde water lewer reënboogforel – ’n proteïenryke voedselbron, gevul met aminosuur. Daarby is dit ’n uitstekende bron van omega-olies wat die liggaam beskerm – veral teen hartsiekte.

Die rivier wat uit die Giant’s Castle-natuurreservaat vloei, bring vars, suiwer water na die kwekery.

Ons besoek die broeikamer in ’n skuur wat verskeie ronde damme bevat. Deur middel van swaartekrag vloei helderskoon rivierwater in pype na die damme toe. Dit veroorsaak ’n sirkelvormige vloei van water in die damme. Wanneer die wyfies die eiers vrystel, word die mannetjies gemelk en die eiers bevrug. Die babavissies word dan in hierdie damme gehou totdat hulle oud genoeg vir die volgende stadium is.

“Daar word maandeliks sowat 30 000 eiers uitgebroei en in dieselfde tydperk oes ons ongeveer netsoveel.”

“Daar word maandeliks sowat 30 000 eiers uitgebroei en in dieselfde tydperk oes ons ongeveer netsoveel. Gedurende ons winters voer ons uit Europa in om ons produksie konstant te hou.”

Ons stap na ’n groter dam wat groter visse bevat. Hier word die vis aan sonlig blootgestel om hulle vir lewe in die buitelug voor te berei. Die toneel is iets besonders: duisende visse swem energiek teen die mensgemaakte stroom. Al in die rondte. Die filosoof in my dink dadelik dat dit ’n allegorie van die lewe uitbeeld: Nes mense wat heeltyd stroomop in die lewe beur, om en om, sonder dat hulle dit eens besef.

Jong forelle, of vingerlinge, swem in binneshuise damme met ‘n beheerde sirkelstroom voor hulle aan
die son blootgestel word.

SWEM, VISSIE, SWEM

Anders as ek, is my fotograaf-kollega egter prakties ingestel. Ek kan sy gedagtes lees: ‘Hoe gaan ek hierdie klomp klein vissies wat in dynserige water swem, opwindend op beeld vasvang?’ (En ter verdediging van Dean: die water lyk net gryserig, alhoewel dit silwerskoon is.) Ek wonder of Mike dit oorweeg om saam met die jong vissies te swem.

Mike kyk vir Dean: “Is daar nie iets wat jy kan doen sodat hulle iets doen wat ek kan afneem nie?”

“Sekerlik.”

Dean vat ’n handvol organiese voer en verduidelik: “Die visse sal die korrels vreet soos dit ondertoe dryf, maar hulle sal nie hulle lippe daaraan sit wanneer dit die dam se bodem bereik nie. Hulle eet graag insekte en enigiets anders wat op die water se oppervlak val.”

Die lang damme – of sogenaamde ‘resiesbane’ – waarin die volgroeide visse teen ‘n konstante stroom swem voor hulle geoes word.

Hy strooi die korrels oor die dam. Onmiddellik is daar ’n waansinnige gespartel. Reënboogkleure flits soos die vislywe die water se oppervlak breek. Mike staan gereed met sy kamera, maar die dolle eetsessie is binne ’n paar sekondes verby. Dean gooi weer ’n handvol in die dam en Mike klik vurig.

Op my vraag of hy darem iets ordentlik vasgevang het, is die antwoord: “Ag die kamera se skerm is so klein, ek sal eers op my groot skerm kan sien, wanneer ek terug in die Kaap is.”

Nouja toe.

Van kos gepraat. Om die produksie van die hoogste gehalte van forel te verseker, word hulle net 100% suiwer voer gegee, sonder enige chemikalieë of medikasie. Ons stap verder na die tenke wat Dean resiesbane noem. Dis lang, smal, reghoekige damme waarin rivierwater deur middel van valtoevoer vloei. En dis hier waar die volgroeide visse swem – stroomop, natuurlik.

Om waarde toe te voeg word die forel op verskeie maniere verwerk – heel vis, filette en meer.

FOREL VOL FIEMIES

Voordat ek weer begin filosofeer, verduidelik Dean: “Forel is net tevrede as die water se temperatuur tussen nege en 19 grade Celsius is. Onder nege (soos in die winter hier) raak die visse traag. Dis hoekom ons tot ná sonsopkoms wag voor ons hulle voer. Die beste temperatuur vir optimale groei, is tussen 15 en 16 grade. Aan die anderkant, wanneer die watertemperatuur in die somer tot die middel-twintigs styg, moet ons seker maak dat hulle nie te veel eet nie, en dat ons die voorraadverhouding goed bestuur. Die hoër temperatuur beteken dat daar minder suurstof is en ons wil nie hê dat die visse al hul reserwes moet verbrand nie. Hoe warmer die water is, hoe groter is die moontlikheid van siektes in die water ook.”

Gelukkig word hierdie probleem weens Bushman’s River Trout Hatchery se ligging uitgeskakel, want hierdie problematiese temperature kom min voor.

Op pad na die nuut opgerigte abattoir, loop ons verby die kwarantynsone. Die visse spandeer tyd hier om te verseker dat die eindproduk siektevry is. Die slagpale is steriel, soos dit hoort. Op ’n afstand kyk ons hoe werkers die vis in ’n verskeidenheid van produkte verwerk: volgrootte gevlekte vis, visfilette, koue gerookte vis, mousse en nog meer.

Hier word forel op twee maniere gerook en verpak: óf verkoel óf met hitte.

Dean se beter helfte, Cherice, verskyn en nooi ons om iets te kom eet sodat ons kan getuig dat die produkte nie net lekker lyk nie, maar ook goed smaak. My oorle ouma het altyd gesê dat die lewe baie soos kos is – dit smaak nooit so lekker soos dit in die kookboek lyk nie. Cherice se disse bewys daardie stelling egter verkeerd. Die gerookte forel, op slaaiblare bedien, is onoortreflik. Die mousse smelt in die mond. Alhoewel daar nie genoeg tyd vir Cherice is om haar oondgebakte, geroosterde, of pangebraaide weergawes voor te sit nie, weet ons dat haar kookvermoë en die gehalte van die vis onbetwisbaar is.

Soos ons wegry, stop ons langs pad om die asemrowende uitsig oor helder mere en lowergroen heuwels in te neem. En, ondanks die vissies wat nie wou poseer nie, stem ons saam dat dit heerlik moet wees om hier in die vars berglug te boer.


Bushman’s River Trout Hatchery: Mooirivier, KwaZulu-Natal | Kontak: www.bushmansrivertrout.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.