Farm to Fork, farmers, Female Farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Bosveldse uitvoer-tee bring boodskap van hoop

Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Mia Truter

Vele stedelinge – veral dié in Gauteng – het reeds by ‘n paar fynproewer-restaurante en markies met Setšong tee kennis gemaak. Nou staan hierdie indrukwekkende onderneming doer, diep in die Bosveld, op die drumpel van hul volgende groot stap: ‘n splinternuwe verwerkingsaanleg en volskaalse uitvoere.

Nondumiso Phaahla (links) en haar dogter, Retang, is die stigters van Setšong Tea Crafters.

DIE SMAL PAD

Ek en die fotograaf is op ’n oop, skoon Bosveldse oggend effe bekommerd. Die WhatsApp-pin wat Retang Phaahla stuur, lyk verdag. Google se kaart wys geen pad na die plek van ontmoeting nie; die satelliet-weergawe bied ook geen leidrade nie.

Toe ons ‘n tweede keer bel, stel Retang ons gerus. “Volg net die borde,” sê sy. Die laaste huise in die Matlala-woonbuurt verdwyn later in die truspieël en die tweespoor-veldpaadjie wat ons volg begin al hoe meer afgesonderd voel. Ons ry by ‘n troppie beeste verby en ek glo hulle kyk ons verbaas aan. Of miskien het ek my maar net verbeel.

Dan doem ‘n handgeverfde waarskuwing wat aan ‘n takkie hang op. Dit illustreer ʼn mens moet hier stadig oor die klippe – of spoedwal in hierdie geval – en net daarnaas: “Welcome to Setšong African Tea Crafters”. Die buitengewone lengte van die pale wat die bord in die lug hou, maak dat die kennisgewing nog meer imposant lyk.

Om ‘n draai raak die bosse meer ruig, en die bome groter. Skielik is ons daar. ‘n Groep helder-geklede mense wag by die ingangshek. Agter hulle is ses klein, grasdak-rondawels. Ons is amper ‘n uur laat en ek voel soos ‘n skurk. Eenkant skoffel ‘n lang, gryshaar man onversteurd en trek bossies uit.

TRADISIONELE HOFLIKHEID

Toe ons nader stap, begin die groep sing. Hulle draai om en steeds singend, lei hulle ons na ‘n stoep met ’n gemaklike sitkamerstel. Drie vrouens bly by ons; die res van die groep maak hulle tuis by ‘n plastiek tafel daar naby. Een van die drie staan en begin met haar verwelkoming in Noord-Sotho. Dit is Retang se ma, Nondumiso; en soos sy praat, los sy vir Retang tussenposes om saggies vir die besoekers te vertaal.

Plaaslike inwoners gee besoekers aan Setšong ‘n kleurvolle en opwindende verwelkoming.

Dié ondervinding beklemtoon net weer hoe divers Suid-Afrika se landbou-sektor is, en hoe gevaarlik veralgemening kan wees. As ‘n opwindende en ongewone onderneming met een voet in gemeenskapsontwikkeling, het Setšong-tee reeds wye media-aandag geniet – al is dit nog nie eers 10 jaar aan die gang nie.

Setšong is 30 km suidwes van Marble Hall, in die Sekhukhune-distrik van Limpopo. Die streek is ‘n reuse landelike gebied, deurspek met nedersettings, gemeenskaplike trustgronde en plase. Die lewensaar vir die streek se intensiewe landbou-ondernemings is die Loskop-besproeiingskema – ‘n netwerk van kanale wat meer as 550 km oor die gebied strek. Gewasse wat volop in hierdie landelike gebied is, sluit onder meer koring, tabak, tafeldruiwe, sitrus, katoen en aartappels in.

Die area is ook ‘n kultuur-allegaartjie – dit lê teenaan die grens van Mpumalanga wat ook werksoekers van anderkant die landsgrense trek. Dit is dus nie verbasend dat die tee-onderneming na die Pedi-woord vir “kultuur” vernoem is nie en dat dit uit eeueoue inheemse kennis spruit.

Twee plante word as tee verwerk en ook in versnitte gebruik. Verskeidenheid word ook geskep deur verskillende, kenmerkende verpakkings.

Hul mooi versierde produksiegebied, waar ons nou op die stoep sit, het juis op Erfenisdag verlede jaar vir funksies en besoekers – op afspraak – oopgemaak.

WORTELS EN TAKKIES

Die produkreeks bestaan vir die huidige hoofsaaklik uit Diya- en Tepane-tee. Die een word van die wortels van ‘n inheemse plant gemaak en die ander van die blare. Die tees is al vir geslagte lank ‘n huishoudelike drankie onder die inwoners van die streek. Die tees is beskikbaar in verskillende geure en word met ’n verskeidenheid bestanddele soos gedroogde lemoenskille, gemmer, vinkel en wilde als gemeng.

Tepane-tee word gemaak van takkies wat op die tradisionele manier gemaal word.

Setšong het ook verlede jaar hul eie jenewer vrygestel. Die Incendo stokery op Hartebeespoortdam maak dit van die tee-bestanddele en dit word dan onder die Village Gin-handelsmerk verkoop.

Setšong se reeks is onlangs uitgebrei om ook ‘n jenewer, gemaak van die tees, in te sluit.
Retang Phaahla.

Van die ander produkte wat op hulle aanlyn winkel aangebied word, sluit tee-bybehore soos koppies en teepotte in, en ‘n tee-ervaring wat by hul tuiste – die Ga Matlala Ramoshebo-dorpie – aangebied word.

Hulle beoog ook om binne die volgende paar maande te begin bou aan ‘n verwerkingsaanleg wat produksie sal verbeter om by hul toekomsplanne vir groter plaaslike verspreiding en uitvoer aan te sluit. “Ons sou vroeër begin het, maar die pandemie het alles uitgestel,” verduidelik Retang.

Intussen word werkers vir die verwerkingsaanleg opgelei. Op die oomblik word die tees nog in die rondawels gemaak en verpak.

GEMEENSKAPLIKE VOORDEEL

Nondumiso en Retang bedryf Setšong. Eienaarskap van die handelsmerk word gelykop tussen die gemeenskap en die Phaahla-familie verdeel. Die plaas van 50 ha waarop die plante wild groei, word deur die Phaahla-familie besit, met ‘n gedeelte wat aan die gemeenskap toegeskryf is. ‘n Gedeelte van die inkomste word vir plaaslike opheffing in die gemeenskappe van Ga-Phaahla en Ga-Matlala gebruik.

Gemeenskapsleiers soos, van links, Elizabeth Moimane, Malebane Nkwana en Fransina Maleka, is deel van Setšong se sukses.

Setšong het 20 voltydse werkers en 10 kontrakteurs wat die oeswerk in die natuur doen. Die wortels vir die Diya-tee word uitgegrawe, gevlok en in die son gedroog. Die dik, rooibruin risoom lê vlak in die grond en is dus maklik om by te kom. Die Tepane-tee lyk meer na klein takkies as tradisionele tee-blare. Die blare van die bos word in die veld gestroop en ook gedroog. Daarna word die bestanddele met die hand fyngemaal en verpak.

“Die ooreenkoms met die kontrakteurs is geskoei op die maroela-projek wat individue vergoed wat vrugte aan die Greater Sekhukhune Tertiary Co-operative lewer waarvan vlugtige olies gemaak word,” sê Retang, en voeg by: “Toe ons hier kom, moes ons eers met die stamhoofde onderhandel voordat ons kon voortgaan.”

Die plante kan heeljaar geoes word en die Landbou Navorsingsraad (LNR) kyk of die plante intensief verbou kan word, beduie Nondumiso. “Tot dan bestuur ons die onderneming se volhoubaarheid deur seker te maak die plante word volhoubaar geoes en word nie uitgeroei nie.”

“Nuwe wetgewing verplig enigeen wat tradisionele kennis gebruik, om tantième aan die gemeenskap te betaal.”

Retang Phaahla

Hulle laat nie foto’s van die lewende plante in die veld toe nie om die plante sodoende te beskerm en terselfdertyd beskerm dit ook die intellektuele eiendomsreg van hul inheemse kennis, voeg Retang by. “Nuwe wetgewing verplig enigeen wat tradisionele kennis gebruik, om tantième aan die gemeenskap te betaal.”

Setšong word bygestaan deur ‘n konsortium van die Departement vir Wetenskap en Innovasie, wat bestaan uit lede van die WNNR, die Duitsland-ontwikkelingsagentskap, GIZ, en die LNR.

Die onderneming se sade is in 2006 geplant toe Nondumiso se broer sy grond aan die familie beskikbaar gestel het. Op daardie tydstip het sy rede gesoek om terug te keer “na die dorp van my man”.

Die tee-verwerking word aan besoekers gedemonstreer.
‘n Wortel wat gemaal en gedroog word, is die bron van die diya-tee.
Die besoekersentrum is op Erfenisdag verlede jaar amptelik geopen.

HELP DIE JONGMENSE

“Ek was uitgeput,” sê sy. Sy het sy as professionele verpleegkundige in Johannesburg gewerk en was ook by verskeie gemeenskapsontwikkeling-projekte betrokke. Sy is ook ‘n stigterslid van Siyaphila, ‘n projek wat jongmense ondersteun. Dit is juis hierdie betrokkenheid wat haar die behoefte en geleentheid in Sekhukhune se landelike gebied laat sien het.

“Ons land is in ‘n bietjie moeilikheid,” sê sy. “Ons het die jeug in die townships gefaal. Jongmense in die landelike gebiede het ook belangstelling in die ou tradisies begin verloor. “Vir ons is hierdie ‘n dialoog met die jong mense, veral in die stede, oor waardes. Ons moes begin deur rolmodelle te vestig. Ons moes ook geleenthede skep wat met inheemse kennis geïntegreer is.”

Met haar aankoms het sy begin kyk waar sy doeltreffend kon wees en hoe sy met die inwoners kon saamwerk. “Ons het nooit gedink dit sou tee wees nie. Ons het gekyk na allerhande ander dinge, soos kos en kuns!” vertel sy.

Hulle het toe by die regering om hulp gaan aanklop en ‘n klomp voorstelle gemaak. “‘n Konsultant wat by die projek betrokke geraak het, sê toe dat al ons idees te algemeen was, maar hy het tee op die lys opgemerk en gevra vir meer inligting,” vertel Nondumiso.

Die projek poog om jong mense van die gemeenskap te betrek. Onder hulle is, van links, Nanakie Nkwana, Vukile Seopela, Humphrey Maila, Gabriel Maila en Thabang Mokolo.

NATUUR SE MEDISYNE

Chemiese analise is op die plante gedoen en die resultate onderskraag nou deel van Setšong se bemarkingsboodskap: dié tee het gesondheidsvoordele. Tepane-tee is hoog in vitamiene A, C, E, sink, magnesium en yster; Diya in onder andere sink, kalsium, vesel en magnesium.

Die eerste oes vir die Setšong-handelsmerk het in 2016 plaasgevind. Aan die begin was Retang net af en toe by haar ma se projekte betrokke. Die spoed waarteen die tee-onderneming begin groei het, het haar laat besluit om haar werk en loopbaan as landbou-bourekenaar eers te laat vaar. “Ek wou al lankal my eie onderneming vestig,” sê sy. Nou behels haar verantwoordelikhede die handelsmerk, verpakking, produkontwikkeling en opleiding. Haar opleiding as bourekenaar help baie ten opsigte van kosteberekeninge, produksie en prys-bepalings.

Die moontlikhede vir Setšong het eers in 2017 regtig by haar posgevat toe sy vir landbou-opleiding Sjina toe is. “Ek het daar gesien hoe kruietees deel van behandeling in hospitale is. En ek het besef hoe belangrik biodiversiteit is en wat ons planteryk vir ons kan beteken.”

Die besoekersentrum is ingerig vir toere en proeë.

NOOI DIE WÊRELD VIR TEE

Met die hulp van instansies soos die Johannesburgse Kamer van Handel en Nywerheid, het verdere opleiding gevolg, met vakke soos voedselveiligheid. Daar is terselfdertyd hard bemark. In 2019 het Nondumiso Rusland en Egipte besoek. “Die Russe is lief vir tee en hulle was veral deur ons produkte beïndruk,” sê sy.

Hulle moes ook in die plaaslike mark woeker. “Dit het ons drie jaar van stalletjies en posisionering geneem vir ons om ‘n premium-handelsmerk te vestig,” sê Retang. Tans lewer hulle aan die Spar-groep, ‘n paar restaurante in Gauteng en hulle het stalletjies by markte. Hier en daar is daar individue in ander provinsies wat die tee aanlyn bestel en weer op hul beurt verkoop.

Buiten die gewone uitdagings van ‘n nuwe onderneming, moes die eienaars en begunstigdes ook die ongewone aanpak. “Alhoewel tee nie vreemd in hierdie gebied is nie, het die vergrote produksie ‘n mate van agterdog veroorsaak. Kruie word dikwels met heksery en toordery geassosieer, en daar het ‘n negatiewe gevoel teenoor die projek begin ontstaan. Gelukkig het ons dit vinnig agtergekom en in die openbaar aangespreek. Toe ons kritici sien hoe gewild die produk in die stede is, het hulle ook vinnig van deuntjie verander.”

Die Phaahla-familie van Marble Hall skep in vennootskap met die gemeenskap die handelsmerk Setšong Tea Crafters. Retang Phaahla het besef hoe belangrik dit is om jongmense aan die voordele van tradisionele kennis voor te stel en die onderneming baat vandag die hele gemeenskap.

Die gesondheidswaarde van die tees is ‘n groot trekpleister.

Eienaar: Setšong Tea Crafters – Die Phaahla-familie in vennootskap met die gemeenskap | Loskop Noord 12, Ga Matlala Ramoshebo Village, Marble Hall, Limpopo \ www.setsongtea.com

Filed under: Farm to Fork, farmers, Female Farmers, Niche Farmers

by

Clifford has been a journalist and writer since the early 1990s. During that time – as he worked amidst the commotion of township demonstrations, among farmers, and in remote villages across the country – he discovered the stark truth about what makes us human. Nowadays he lives in a city close to the ocean which he loves, but he still brings homage to this truth by contributing to a variety of national publications. “The words of a song by Stef Bos apply to me because I will ‘always be en route’,” he says.

Leave a Reply

Your email address will not be published.