Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont
“Weet jy wat die kommapunt langs die datum op die gewel beteken?” vra wynmaker De Wet Viljoen voor Neethlingshof se indrukwekkende herehuis wat in 1814 gebou is. Nee. Ek kan ook nie onthou of ek dit al ooit op ’n gewel gesien het nie. “Charles Marais wat die plaas in 1788 gekoop het, het die huis begin bou, maar hy is oorlede en sy vrou Maria Magdalena het dit voltooi.
Die kommapunt beteken dat die persoon wat begin het, dit nie klaar gebou het nie.” Maria Magdalena het met haar eie hande die datum en kommapunt daarop geverf. Sy het ook ses blomme op die gewel aangebring, wat haar en haar vyf kinders simboliseer.

Maria moes ’n vrou met murg en visie gewees het. ’n Raps meer as twee eeue ná Charles Marais die plaas gekoop het, koop die Duitse bankier Hans Schreiber in 1985 die landgoed by Jannie Momberg. Hans is in 2017 oorlede en De Wet beskryf hom as ’n innoverende en indrukwekkende persoon wat baie vir die behoud van die natuur en die opheffing van mense gedoen het. Neethlingshof word steeds besit deur Hans se vrou en twee kinders wat in Frankfurt woon, maar die plaas gereeld besoek.
Met gangetjies, pilare en ’n geboë dak van klein rooi stene, het die vertrek ’n monastiese, Middeleeuse gevoel.
Ons gesels in ’n privaat kelder wat versteek lê agter ’n dik handbesnede houtdeur in ’n hoek van die proelokaal. Met gangetjies, pilare en ’n geboë dak van klein rooi stene, het die vertrek ’n monastiese, Middeleeuse gevoel. Tipies Germaans, herinner dit aan die interieur van Haute Cabrière in Franschhoek wat ook deur ’n Duitser, Achim von Arnim, ontwerp is.

Hans het die produksiekelder in 1986 ontwikkel en ná Günter Brösel se aftrede by Nederburg in 1989, was hy vir ’n paar jaar in beheer van Neethlingshof se wingerd en het hy ook oor die wynmaakproses toesig gehou. Met De Wet se aankoms in 2003 was die plaas reeds geruime tyd sonder ’n wynmaker. “Die wyn was ’n bietjie rigtingloos en sal ons maar sê, gebruikers-onvriendelik. Dit het baie hout gehad en moes lank verouder word,” sê hy van die rooiwyn. “Ons het nog altyd goeie terroir-getroue witwyn gemaak.”

Die plaas is 280 ha groot met 180 ha onder wingerd. Alles wat geplant kan word, is onder wingerd en die res bestaan uit renosterveld en ’n bietjie weiding vir ’n paar beeste. Hulle is baie gesteld op bewaring en is WWF-kampioene (biodiversiteit en wyn-inisiatief).


“Tans verwerk die kelder effens meer rooi druiwe as wit. Ons sit net die beste in die bottel om ons Neethlingshof-wyne te maak,” sê De Wet. Die plaas koop ook druiwe aan vir hul tweede reeks, Hill & Dale. Per jaar botteleer die plaas 300 000 liter Neethlingshof-wyn en 600 000 liter Hill & Dale. De Wet vergesel ons deur die kelder.
Dit is my eerste kennismaking met Roto-tenke wat plat lê, teenoor die standaard regop tenke wat van bo afgedruk word. Dit is weereens ’n Duitse ontwerp wat Hans plaaslik laat vervaardig het. “Roto-tenke was in die 80’s baie in gebruik en raak nou weer mode. Omdat die tenk op sy sy lê, druk jy nie deur nie, wat arbeid verminder. Die doppe word deur middel van ’n staalgids in een rigting uitgegooi,” verduidelik hy.

Volhoubaarheid is lank reeds ’n prioriteit op die plaas. Danksy die invloed van nog ’n legende in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, Professor Eben Archer, het Neethlingshof 27 jaar gelede uilpale in die wingerd opgerig. “Hy het vroeër jare hier gekonsulteer en het uilpale voorgestel as ’n natuurlike beheermiddel vir die rot- en muisprobleem. Die eerste pale is in ’n pinotage blok opgerig en dit is dié blok wat gebruik word vir ons Owl Post Pinotage.” Dit is ’n gepaste huldeblyk aan ’n wyse uil in die wynbedryf. Prof Archer, wat in 2019 oorlede is, se begrafnis is op Neethlingshof gehou. Volgens De Wet was die uilpale so suksesvol dat hulle heeltemal opgehou het om gif uit te sit. “Toe vind ons dat die rooikatte nie meer vergiftig word nie, en nou sien ons hulle baie op die plaas.”
Die uilpale word rondgeskuif waar hulle benodig word en moet baie spesifiek opgerig word. Die paal moet minstens 3m hoog wees en die dwarspaal mag nie te dik wees nie sodat die uile stewig kan vasklou. Die dwarspaal se hout moet behandel word anders vrot dit, en dan vrot die uile se kloue ook. Daar word oral broeibokse in bome opgerig. “Nonnetjiesuile verkies ’n toe boks en die Kaapse ooruil hou van ’n oop boks,” sê De Wet, en wys na twee bokse wat in die bome rondom die kelder sit.


Van die lang denneboomlaning tot die pragtige historiese geboue, mooi tuine en moderne proelokaal, is Neethlingshof ’n indrukwekkende bestemming. Daar is oorgenoeg skadu vir groot en klein toerbusse onder die ou eikebome.
“Ons het die proelokaal so beplan en ingerig dat individue of klein groepe nie deur toergroepe afgeskrik word nie,” sê De Wet.
Duitsland en Amerika is hul grootste markte. Die wyn verkoop veral goed in Florida en Texas by die kettinggroep Total Wine wat volgens De Wet bestaan uit “drankwinkels so groot soos ’n Makro.” Danksy ’n vennootskap met die Duitse invoermaatskappy Capreo, is dit vir Europese toeriste moontlik om wyn by die plaas te koop wat dan deur Capreo in Europa afgelewer word.
As dit kom by unieke kuierplekke, het Neethlingshof ’n versteekte juweel wat nêrens geadverteer word nie. Ons ry die koppie agter die plaaswerf uit na waar Ilanga staan met ’n panoramiese uitsig van Stellenbosch-berg tot Valsbaai se horison. Die naam beteken “die son” in isiXhosa. Die ronde lapa met sy latte-afdak en massiewe braaiplek is vroeër vir kleiner funksies en selfs troues gebruik, maar word nou uitsluitlik gehou vir die plaas se eie gebruik.



Die hoë, geboë dennebome weerskante van die lang oprit is simbolies van die plaas se lang geskiedenis. Selfs hier is daar ’n onverwagse storie. “Die oorspronklike laning is ná die Eerste Wêreldoorlog afgekap omdat hulle die hout nodig gehad het. En toe plant hulle dit weer ná die Tweede Wêreldoorlog aan,” vertel De Wet.
Neethlingshof: Polkadraai Road, Stellenbosch | Kontak: info@neethlingshof.co.za https://neethlingshof.co.za/