Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Van agterplaas stokperdjie tot ‘n drie ton per maand kruie-besigheid

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Verskaf

As jy nege jaar terug vir Stellenbosser Basil Williams gesê het sy toekoms is groen, groot en suksesvol, sou hy jou afgelag het. Veral as hy moes hoor dat hy sy ouers se klein agterplaas-tuin sou uitbrei na ’n drie ton per maand kruie-onderneming wat ses mense in diens het en sy suster as sakevennoot het.

Die storie het só begin: Basil het amper 30 jaar gelede onder skadunet in sy ouers se agterplaas in Kylemore begin met ʼn kruietuin as stokperdjie. Hy het die kruie aan wynplase in die Banghoekvallei verkoop. Basil het vir bykans vier jaar by die Landbounavorsingsraad (LNR) as algemene kwekerywerker gewerk en saans en naweke na sy eie plante omgesien.

Basil Williams

In 1999 het hy ’n projek by die LNR van stapel gestuur om gemeenskapsontwikkeling met verskillende medisinale plante en vlugtige olies te help. Dit het plaaslike inwoners aangemoedig en gehelp om hul eie tuine aan te plant, voor hy later by sy vriend se besigheid aangesluit het wat hidroponiese groente in tonnels groei. Dis danksy die Departement Landbou dat hy in 2011 een hektaar grond naby Lynedoch kon huur, en toerusting aankoop vir sy eie besigheid wat hy gevolglik in 2012 voltyds begin bestuur het.

Vandag bestaan sy onderneming, Herbal View Hydroponics, uit vars kruie, speserye, pesto’s en kruie-gegeurde olyfolies.

Vandag bestaan sy onderneming, Herbal View Hydroponics, uit vars kruie, speserye, pesto’s en kruie-gegeurde olyfolies. Basil en Caroline kweek basieliekruid, koljander, roket, kruisement, sprietuie, origanum, tiemie, roosmaryn, sowel as mikrokruie, knoffel en babaspinasie.

Herbal View se eie pesto, souse, gedroogde kruie en kruie-gegeurde olies wat Basil en sy span self droogmaak en verpak, sal binnekort in winkels in die Wes-Kaap te koop wees, omdat die gewildheid so toegeneem het.

Sy suster, Caroline, is sy sakevennoot en saam met ses ander werknemers, verskaf hulle kruie aan nasionale kettingwinkels soos Spar en Food Lovers’ Market, maar sowat 70% van sy oes word vir die Herbal View-reeks gebruik. Die oorblywende gedeelte word ook aan groothandelaars en Bolandse restaurante en deli’s verskaf. Van sy vars kruie word ook aan Pesto Princess Foods en na Paarman Foods se produkvervaardigers gelewer.

Covid het natuurlik ook sy tol op Basil se onderneming geëis, omdat dit tradisionele roetes na markte belemmer het. Maar, te midde van die inperking, wen hy in Mei vanjaar die SAB-stigting se Tholoana Ondernemingsprogram se Spanspeler-toekenning. Die program lewer sake-ondersteuning, -ontwikkeling asook toegang tot markte. Meer as 4 200 entrepreneurs is al deur die program bygestaan.

Hy vertel dat die pandemie tot sy innoverende kant gespreek het en dat hy waardetoevoeging, nuwe markte en nuwe maniere om by kopers uit te kom, begin ontgin het. Die grootste projek waaraan hy tans werk, is om sy een hektaar-besigheid met ses groeitonnels, wat elk 10 000 tot 20 000 kruieplante huisves, wil uitbrei na vyf hektaar toe.

“Ons het strategieë ontwikkel om meer in prosessering, eerder as in net die kultivering van vars produkte te spesialiseer”

Basil Williams

“Ek het mettertyd geleer om meer soos ’n sakeman te dink. Jy moet voortdurend innoverende denke inspan en diversifiseer om te verseker dat jou onderneming volhoubaar bly in ’n baie kompeterende mark. Selfs voor Covid het die ekonomie begin swaar trek en ons moes planne maak. Ons het strategieë ontwikkel om meer in prosessering, eerder as in net die kultivering van vars produkte te spesialiseer,” sê Basil.

Hy en Caroline het ook besef omdat die inperking die vry vloei van die ekonomie gestrem het, hulle aanlyn sal moet begin handel dryf. “Mense het kleiner, plaaslike ondernemings begin ondersteun in dié tyd en ons produkte se kwaliteit het die knoop deurgehaak.”

Aanvanklik het Basil gedink dat hy op Herbal View se eie pesto, souse, gedroogde kruie en kruie-gegeurde olies net aanlyn sou aanbied, maar binnekort sal al hierdie produkte in winkels in die Wes-Kaap te koop wees, omdat die gewildheid so toegeneem het. Basil en sy span droog self die kruie en maak die pesto ook.

Basil, wat oor vier jaar 50 word, is een van die huidige groep van die Small Business Academy (SBA) wat deur die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool (USB) bestuur word. Dié program het al meer as 307 entrepreneurs in die Wes-Kaap en Joe Gqabi-distrik in die Oos-Kaap gehelp. Dit word deur Absa en Distell geborg.

“Die nege maande ontwikkelingsprogram het bemagtiging ten doel en het my geleer om trots bo my onderneming uit te troon en nie net deel daarvan te wees nie,” vertel Basil.

Hy sê dat hy vir dié program aansoek gedoen het, omdat hy sy vaardighede in finansiële bestuur en sakebeplanning wou uitbrei en nou baie gemakliker oor hierdie faset van sy onderneming voel.

Een van die deurslaggewende beginsels waarop die program berus, is dat MBA-gegradueerde studente van die Besigheidskool volgehoue ondersteuning en mentorskap verskaf.

Basil sê hy het sy onderneming die afgelope 21 jaar stadig uitgebrei. Hy het in 2014 voltyds daarby aangesluit en sê verskeie regeringsfondse het hom die afgelope twee dekades in staat gestel om grond te huur, uit te brei en toerusting aan te koop.

Sy reis was egter nie net maanskyn en rose nie. Hy vertel dat hy in 2007 na Pniel na ʼn groter werksplek getrek het danksy die hulp van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, en toe in een storm sy hele besigheid verloor het. Die storm het sy tonnels vernietig en die plante verniel. Hy het egter opgestaan, weer by die departement gaan aanklop vir ’n meer geskikte stuk grond en oor begin. Hy kon twee tonnels oprig en ’n voertuig aanskaf om sy vars produkte te vervoer.

Dis egter hierdie terugslae wat hom geleer het hoe belangrik die hulp van ander is en ook hoeveel waarde hy aan ander se lewens kan toevoeg. Basil mentor graag ontwikkelende boere en is nou besig om ’n gemeenskap-verwerkingsaanleg te vestig, waar opkomende boere by waardetoevoegende landbou-verwerking kan baat.

Basil se raad aan ander wat ook hul eie potjie wil krap, maar dalk dink hulle het nie die murg in hul pype daarvoor nie, is eenvoudig: werk hard, moet nooit opgee nie – maak nie saak hoe groot die uitdagings is nie.


WAT IS HIDROPONIESE GROENTE EN HOE WORD DIT GEKWEEK?
Die aarde se bevolking vermeerder daagliks en daar is minder bo-grond, water en grond beskikbaar waarop voedsel verbou kan word. Dus, word gereeld die vraag gevra: hoe kan daar op ʼn volhoubare manier voedsel vir die toekoms voorsien word? Navorsers glo dat hidroponika – ʼn metode om voedsel te verbou met water, voedingstowwe en lig, maar geen natuurlike grond nie – die oplossing bied. Dit is ʼn sisteem waarin plante, in ander mediums as grond, groei. Al die nodige voedingstowwe vir die plant word in die water opgelos. ʼn Plant het 16 voedingstowwe nodig om te groei, waarvan drie – koolstof, waterstof en suurstof – vir plante maklik deur water en lug bekombaar is. Die res, tesame met groeihormone, boots die tradisionele grondbasis-sisteme na, en kan dit deur middel van wateroplossings wat om die plant se wortelsisteme sirkuleer, die plantegroei bevorder. Hidroponika gebruik die kombinasie van die wetenskap en meganika om ʼn plant se noodsaaklikste natuur- en groei-elemente soos omgewingsfaktore, presiese voedingstowwe en verwagte produksie op spesifieke tye na te boots.


VOORDELE VAN HIDROPONIESE GROENTE:

  • Vinniger uitkoms en oplossings aan rampgeteisterde gebiede van onder andere droogtes, vloede, brande en bo-grond-erosie.
  • Groter produksie/opbrengs per groei-area – daarom bied die United Nations se Kos- en Lanbouprogram (Food and Agriculture Organisation – FAO) hulp aan mense vir hidroponiese boerderye in dele waar daar tekorte is.
  • Hidroponiese plante groei 20% vinniger as dié wat in grond geplant word.
  • Buite invloede soos pH, lig, lug, temperatuur, mikro-organismes word byna heeltemal beheer teenoor dié wat in die grond groei.
  • Op groot skaal verbruik hidroponika minder water (90% minder as by tradisionele landbougewasse-besproeiingsmetodes), omdat dit watervermorsing probeer voorkom.
  • Deurlopende produksie in die jaar.
  • Ideaal vir dak-boerderye van multiverdieping geboue.

Small Business Academy (SBA) van die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool (USB)
Die Universiteit Stellenbosch Besigheidskool (USB) bied deur die Small Business Academy (SBA) wat in 2012 tot stand gebring is, navorsing, besigheidsopleiding en -ontwikkeling aan entrepreneurs en eienaars van kleinsakeondernemings in lae-inkomste groepe/gemeenskappe. Eienaars van kleinsakeondernemings, ouer as 25, met ʼn Gr 12-sertifikaat, en wie reeds vir twee jaar handel dryf, met 15 mense of minder in diens, kwalifiseer vir hierdie program. Woorde soos “cutting edge” en “high-end” beskryf dié nege maande SBA-Ontwikkelingsprogram wat tans in die Wes-Kaap en Oos-Kaap aangebied word. Die program word deur Distell en Joe Gqabi Ekonomiese Ontwikkelingsagent (JoGEDA) geborg. Absa is ook ʼn borg in die Wes-Kaap en Silulu Ulutho Tegnologieë van Khayelitsha is ʼn stigtingsborg. Aan die einde van die kursus is studente in staat om ʼn besigheidsplan aan ʼn paneel voor te lê.


EIENAARS: Basil Williams en Caroline Williams KONTAK: www.herbalview.co.za


Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published.