Ecotourism, Farm Tourism, farmers
comments 3

Blesfontein – waar te veel en te min water lepellê

Woorde: Hein Eksteen | Foto’s: Michel Dei Cont en Jeannie Hayward

Om vanaf die droogtegeteisterde Williston oor Calvinia na die plaas Blesfontein op die rand van die Roggeveldberge se kranswand naby Sutherland te ry, is soos om vanaf die wêreld soos ons dit vandag ken (die pandemie, fopnuus en die strydigheid tussen die vaxxers en anti-vaxxers) terug te keer na Eden, voor die adder die kuttel in die drinkwater kom smyt het.

Marina en Nicol van der Merwe spog met vele Appaloosa-perde. Foto: Michel Dei-Cont

Ons ry deur die Bo-Visrivier, wat baie sterk vloei met ál die sneeuwater. Modderige paaie dwing ons om in viertrek die pad aan te durf. Water en nogmaals water net waar jy kyk. Is hier dan nie ook droogte nie? Ons sal later hoor dat selfs wanneer ‘n mens in hierdie waterryke stuk aarde kniediep in die modder staan, jy jouself terselfdertyd pensdiep in ander uitdagings kan bevind.

Die Bo-Visrivier vloei sterk met al die sneeuwater. Foto: Michel Dei-Cont
Sneeu bly een van Blesfontein se groot trekpleisters. Foto: Jeannie Hayward

IN PLAAS VAN DROOGTE

Sondagmiddag op Blesfontein aangekom, ontmoet ons vir Marina van der Merwe in haar gomlastiekstewels, waar sy haar gereed maak om die hanslammers te gaan melk gee.

Marina: “Ons wil nie die werkers Sondagmiddae pla nie. Hulle het ‘n behoorlike naweek nodig ná ‘n harde week op die plaas.” Met ál die verskillende komponente op die plaas kan dinge inderdaad rof raak. Skaap, alpakka, vppaloosa-perde, oornagverblyf vir tot 40 siele, ‘n restaurant en ‘n sterrewag.

Beide Marina en Nicol (haar wederhelf) het plase in droë gebiede geërf en saam besluit hulle doen nie aan hulself wat hul voormense moes deurmaak nie. En só soek hulle toe ʼn plaas met baie water. Blesfontein.

Danel van der Merwe, Nicol se skoondogter, spring self in om die hanslammers melk te gee.
Foto: Michel Dei-Cont

Maar baie water beteken nie immer vreugde en ʼn lewe sonder sorge nie. Verál nie as baie van die water van sneeu afkomstig is nie. Sneeu is mos nie verniet verwant aan uiterste koue nie. Is die uiterste temperatuurverskille die enigste uitdaging wat Nicol en Marina in die gesig staar?

Nicol: “Nee. Ons boer hier met swartkopdorpers.

Dit is nou oor die ras se goeie vleiseienskappe en bouvorm. Maar onthou, jy boer saam met die natuur, nie teen hom nie. Boonop gaan Sutherland gebuk onder die geweldige droogte die afgelope agt jaar. Hierdie deel van die Sutherland-distrik kry byvoorbeeld baie winterreën teenoor die gedeeltes verder weg van die platorand, wat weer aansienlik minder reën ontvang. Byvoorbeeld: Sutherland, wat nie eens 15 kilometer soos die kraai vlieg hiervandaan is nie, kry nie eens die helfte van wat ons ontvang nie.”

Blesfontein ontvang gemiddeld 525 mm reën per jaar. As die plaas egter oor die afgelope klompie jare 180 mm gekry het, was dit baie. Vir die gemiddelde Karooboer klink dit uiteraard na baie. Maar vir Blesfontein is dit ondergemiddeld.

“En onder in die Tankwa Karoo – wat om en by 1 000 meter amper direk onder ons lê, kry hulle beswaarlik 75 mm. Die ander ding is egter dat, wanneer die Tankwa daardie 75 mm kry, is die voedingsgehalte van die plante dáár baie hoër as ons s’n hierbo, waar die bossies en gras effens suur is. Dus is 80 persent van ons bossies onvreetbaar, terwyl 90 persent van die Tankwa s’n goeie weiding is.”

ALPAKKAS, GESKIK VIR UITERSTE KOUE

Elke landbouhuis het dus ook sy kruis. Om die tog na Golgota (wat terloops in Aramees ‘skedel’ beteken) draagliker te maak, het Marina en Nicol besluit om landboutoerisme deel van hul besigheid te maak. Hand aan hand daarmee loop die alpakkas en die Appaloosa-perde. Mense wil op die plaas kom kuier en moet besig gehou word. Alpakkas vir die mooi en vir hul wol. Die perde vir ritte om die natuur op ‘n besondere manier te verken.

Alpakkas lyk snoesig, maar kan in gedugte teenstanders ontaard indien daar op hul gebied ingedring word. Foto: Michel Dei-Cont

Marina: “Ons het die eerste alpakkas, Clementine en Lydia, in 2009 gekoop. Lydia sterf egter tydens die geboorte van haar eerste lam en die res van die kudde is dus Clementine se nasate.” Met elke rondte is ‘n ander ram gehuur om inteling te verhoed. En voor hulle hul oë kon uitvee, staan die getal op 35.

“Maar toe tref die droogte en lockdown ons. Skielik sit ons met finansiële probleme en moes ons van die alpakkas verkoop. Waar ons by 35 gestaan het, was ons toe af na 13. Maar ná lockdown het die mense weer Sutherland toe gestroom en kon ons die getal aanvul tot waar ons vandag weer 30 besit.”

Nié net is die alpakka ‘n lus vir die oog nie, hulle dra boonop by tot Blesfontein se kommersiële welstand. “Aan die begin van die somer is die diere se hare baie lank en moet hulle geskeer word.” Marina en Nicol het ‘n alpakka-skeerkursus bygewoon en toe summier een van hul werkers opgelei om die hare af te skeer tot waar dit geweef word.

Dit werk só: die alpakka word op ‘n sagte mat op haar sy gemaak lê en met die voorpote na voor en die agterpote na agter vasgegord. Die elektriese skeermasjien doen sy ding. Skaapwol bevat lanolien en dié olie dien as smeermiddel om die toestel koel te hou. Alpakkahare bevat nie ‘n ingeboude smeermiddel nie en daarom is hul masjien een waarvan die spoed gereguleer kan word om oorverhitting te verhoed.

Nadat die diere geskeer is, word die hare in drie kategorieë geklassifiseer. “Die beste deel gaan na ‘n wewery in Wellington, waar serpe, sokkies, musse, truie en verskeie ander produkte gemaak word. Die tweede beste gedeelte gaan na ‘n vriendin in Oudtshoorn. Sy maak miniatuur alpakka-poppies wat ons hier op die plaas verkoop. Van die res word matte gemaak.”

Al lyk dit nie so nie, skrik hulle vir g’n jakkals, rooikat, hond of mens nie. Foto: Michel Dei-Cont
Die alpakka-skeersel word gebruik om baie dinge te maak – van klere tot matte. Foto: Michel Dei-Cont
Koop alpakka-poppies op die plaas om jou aan Blesfontein se vrede te herinner. Foto: Michel Dei-Cont

BEKEND AS ‘N GASTEPLAAS

Waardetoevoeging bly maar enige boer se sleutelwoord. Blesfontein is egter meer bekend as ‘n gasteplaas en die onmiddellike omgewing is geskik hiervoor. Bo en behalwe die alpakkas en die perderitte, is daar natuurlik die sneeu. Enkeldiep en gereeld dieper. Waar anders kan jy die kroos gaan leer om sneeumense te bou? Daar is natuurlik ander plekke naby, maar geeneen heeltemal soos hierdie een nie.

Ry met die veeleisende grondpad deur die modder en sneeu na die uitkykpunt hoog bokant die Tankwa Karoo, vanwaar jy tot by die Sederberge kan sien. Nicol waarsku besoekers egter om in die spore te bly anders is dit neusie verby.

En, indien die sterre in jou lewensmaat se oë nie na wense skitter nie, gaan saam met Nicol na hul eie sterrewag, waar hy vir jou die beminde Venus (hoeka die Romeinse godin van liefde) sal wys. Verniet.

Ontspan saans op die patio voor die vuur en tuur oor die vlaktes. Die lewe kry sommer nuwe betekenis. Eet skaap-geregte op hul beste in die restaurant. Gaan lê skuins in een van die vele gerieflike kliphuise en -rondawels. Onthou net om die elektriese kombers vroegtydig aan te skakel.

Sonder ligbesoedeling is die omgewing ideaal vir sterrekyk. Foto: Michel Dei-Cont
Nicol se teleskoop is nie outomaties nie – dus moet hy presies weet waar om die sterre te soek.
Foto: Michel Dei-Cont
Slaap snags warm in hierdie kliphuise. Foto: Michel Dei-Cont
Danel van der Merwe, maak ‘n heerlike Karoo-driegang-ete vir gaste teen R280 pp (wyn uitgesluit.)
Foto: Michel Dei-Cont
Slaap oor en brekfis is ingesluit. Foto: Michel Dei-Cont

Die skaapkameel is ‘n roofdier se moses

Blesfontein se alpakkas is terselfdertyd ʼn besigheid en ʼn stokperdjie. Maar hierdie besondere diere het ʼn verdere eienskap wat die skaapboer baie na aan die hart lê. As gevolg van rooijakkalse en rooikatte, verloor die plaas gemiddeld tot 200 lammers per jaar. Dit uit ʼn kudde ooie van ongeveer duisend. Een vyfde. En die alpakka is die natuurvriendelikste manier om die roofdiere mee te beheer. Hulle bespoeg en skop die jakkalse en rooikatte behoorlik buite weste.

Die Blesfonteiners mik om binnekort slegs 50 skaap aan die Rooi Gevaar af te staan en hulle is amper daar.

Die Afrikaanse naam vir die alpakka is eintlik skaapkameel. Baie mense verwar die alpakka met die lama. Die alpakka is egter baie kleiner. Daar is boonop baie minder in die land en dit maak hulle aansienlik gesogter. Alpakkas verg dieselfde behandeling as skape, aangesien hul eetgewoontes soortgelyk is aan dié van sy skaapnefies en -niggies. En wat die skaapkameel baie geskik vir hierdie streek maak, is dat hulle van koue hou. Hulle kom nie verniet uit die koudste dele van Chili nie.

Alpakkas en skaap vreet dieselfde kos en leef dus gerieflik saam. Foto: Michel Dei-Cont
Alpakkas is nie net tjoklitboksmooi nie, hulle is ook die natuurvriendelikste manier om roofdiere op hul plek te sit. Foto: Michel Dei-Cont

En hul ingebore aggressie teenoor hondagtige diere soos huishonde, wolwe en jakkalse is welbekend. Ons sal seker nooit weet wat die rooikat daarvan dink om deur die alpakka as hondagtig beskou te word nie. Maar rooikat is op die alpakka se lys van gevare wat gestraf moet word.

Roofdierbestryding is en bly ʼn donker kuns en daar moet oordeelkundig te werk gegaan word. Daar is die storie van ʼn boer naby Fraserburg wat met behulp van spesiale heinings naderhand nie meer ʼn enkele jakkals op sy grond gehad het nie. Eureka? Dink weer. Jakkalse vreet mos nie uitsluitlik skaaplammers nie. Ook muise. Toe die jakkals weg is, word die muisdom baas en maak skoonskip van die boer se veld.

Witkruisarende vang natuurlik ook hul kwota lammers, maar Nicol laat hulle begaan. Die rede: die arende se ander bron van voeding is juis klein jakkalse en ons almal weet dit is hoeka hulle wat koring verniel.

Met ander woorde: hier word so min as moontlik op roofdiere geskiet. Lamkarkasse word nie vergiftig nie. Slag-ysters word nie gestel nie. Elke wese op die plaas hét sy plek en kén veral sy plek.

Naskrif: Oom Jan Theunissen op Bukesfontein onder in die Tankwa Karoo voer daagliks die stryd teen die meedoënlose Rooi Gevaar. “Laat ek jou met ʼn draai vertel: Ek’t in my dag des lewens nog nooit kreef geëet nie (mos ook ʼn rooi onge-dierte!). Toe bring my skoonseun ʼn klompie saam. Ek kon die goed nie eens aanskou nie, wat nog te sê my mond daaraan sit. Toe stel ek hulle in die hok en vang drie rooikatte! Maar dis nie ál nie. Ek los toe die onwelriekende goed in die hok en daar loop vang ek waaragtig ʼn rooijakkals. En jakkels-se-kênd sit nooit sy voet in ʼn vanghok nie. Ek moet die eerste mens in die wêreld wees om dit reg te kry!”

Somer- en winterplase

‘n Kaleidoskoop van kleure reflekteer in die vele strome ná die sneeu. Foto: Michel Dei-Cont

Op Blesfontein kan die aanvoelbare temperatuur (met wind- en vogfaktore in ag genome) tot minus 33 grade daal. Verlede jaar het die termometer minus 18 gelees. Siende dat hulle met swartkop-dorpers boer, moes plan gemaak word. Die skaap kan natuurlik nie hierdie uiterste koue verduur nie en daarom word die trekstelsel ingespan.

Die gebied strek van bo, op Roggeveldberge se platorand, tot onder in die Tankwa Karoo, waar dit gedurende die winter aansienlik warmer is. Die trek begin teen Mei wanneer die koue, reën en sneeu begin. En die skaap bly vir drie tot vier maande onder, afhangende van hoe lank die koue bo aanhou.

Alhoewel die Tankwa ʼn skamele 75 mm reën per jaar kry, is die voedingswaarde van die plante dáár baie hoër as bo-op die platorand, waar die bossies en gras effens suur is. Dus is 80 persent van Blesfontein se bossies onvreetbaar, terwyl 90 persent van die Tankwa s’n goeie weiding is. Teen September of Oktober word die skaap weer boontoe gebring. Maar hoekom nie die skaap heeljaar onder in die vallei hou nie? Bo en behalwe die lae reënval en die tekort aan veld onder in die vallei, kom daar ook temperature van tot 52 grade voor. Sekere boere trek tot sewe dae en kamp onderweg. Sommige moet weer hul skaap vervoer. Dit kos geld.

Marina en Nicol se drie plase lê langs mekaar op die platorand en dit neem hulle slegs agt uur om die skaap van bo af tot onder in die kraal te jaag. Waar ander boere dus verskeie kampe het om hul weiding mee te bestuur, beskik Blesfontein se mense, soos die Boesmanlanders, oor somer- en winterplase.

Wanneer die wit winterkombers alles oordek, kom kuier oud en jonk om in die sneeu te baljaar.
Foto: Jeannie Hayward
Al die hoenderrasse loop vry buite rond, maar net een ras haan is op ‘n slag buite by die henne.
Foto: Jeannie Hayward
Eiers van verskillende kleure in dieselfde mandjie. Ameraucanas wat blou eiers lê, Koekoeke wat beige eiers lê, Black Copper Marans wat sjokolade eiers lê en Easter Eggers wat groen eiers lê. Alles net vir die pret. Foto: Michel Dei-Cont

EIENAAR: Nicol en Marina van der Merwe | NAAM: Blesfontein Gasteplaas AREA: Sutherland | PRODUK: Alpakkas, akkommodasie, ‘n sterrewag, Appaloosaperde, hoenders en swartkopdorpers | KONTAK: www.blesfontein.co.za

3 Comments

  1. Leonico says:

    Dankie !!
    boeiende storie en mooi inligting !

  2. Hannes Calitz says:

    Hi
    Dit is n mooi storie. Ek sou graag n draai daar wou gooi eendag (ons was al op Sutherland darem. Ken n gedeelte van die Karoo goed (die area om Middelburg). Ek gaan na die webwerf.

  3. Felicity says:

    Die sterre op Blesfontein is ‘n besonderse belewenis!

Leave a Reply

Your email address will not be published.