Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Mia Truter
Volstruisvlei is ’n ou plaas met ’n ryk geskiedenis, en Gielie Visser is die derde generasie wat hier boer. Die 1 640 ha grond lê op die R399 op pad na Piketberg. Tot 1950 – toe die brug oor die Bergrivier geopen het – moes jy die langpad ry om hier te kom.
Koring is die hoofgewas van Volstruisvlei, maar sowat 40% se inkomste word deur Dohne Merino-skape en baster Hereford-beeste verskaf. Die beeste word vir hul vleis aangehou. Die vee wei hier en oorkant die rivier waar hy en sy vrou, Charlotte, ‘n kuierplek, Knor Varkie, geopen het.
En sou jy wonder oor die plaas se naam: daar is nog nooit hier met volstruise geboer nie. ‘n Plakker van ‘n skaap pryk op die Volstruisvleinaambord op die hoofpad – seker opgeplak ná die soveelste vraag wat hulle hieroor gekry het!
WAT IS IN ’N NAAM?
Die plaasnaam se skakel met dié voëlspesie kom heel moontlik van wilde volstruise wat jare terug hier voorgekom het, vertel Charlotte. Hierdie grond was in die laat-1800’s deel van ‘n groter eiendom wat later onderverdeel is. ‘n Geraamde akte wat Charlotte op die solder ontdek het en in die sitkamer opgehang het, bevat ‘n kaart daarvan. Daardie oorspronklike plaas se naam was Wegloperheuwel en ons sit op die Vissers se wye stoep en bespiegel oor die vreemde titel terwyl ons aan melktert en koffie smul. Om ons voete speel ‘n boerboel, ‘n Jack Russel en Blertsie, die hanslam.
Die Bergrivier was eers ‘n groot natuurlike hindernis – voor die brug en ‘n pont die streek met die Kaap verbind het. Velddrif was dus destyds ‘n veilige wegkruipplek vir ontsnapte slawe en drosters. Dalk is dit die weglopers waarna verwys word?
Nietemin, die wye rivier, wat nie ver van Volstruisvlei af verbyloop nie, het nog altyd ‘n belangrike rol in die area se koringboere – soos Gielie se voorsate – se lewe gespeel. Teen die draai van die 19de eeu het die Stephan-sakefamilie se kotters en stoomboot tot 70 km teen die rivier op gevaar om koring te laai, wat na die Kaap en Mauritius toe gestuur is.
Soos elke nuwe generasie, eksperimenteer hy gereeld met die doel om ‘n nuwe uitskieter-gewas of lewende hawe te vind, maar sy anker bly dieselfde as dit waarmee sy pa en oupa geboer het. Die kennis wat hy by hulle geërf is onskatbaar, sê hy. “As jy gaan leer, weet jy hoe om in die algemeen te boer, maar elke streek en plaas se kombinasie van grond, klimaat en hellings verskil. En daai kennis kry jy nie in ‘n boek nie.”
SKOOLGELD
Gielie verkoop vleis op prys. Vir sy wissel-oeste verbou hy hawer en lupien. Hy het onlangs canola probeer, maar dit aard net nie by hulle nie. Die eerste oes was goed, maar hy is nie tevrede met vanjaar se oes nie.
Sy duurste les ooit het in die droogtetyd gekom, vertel hy. “Ek het verkeerde besluite geneem toe ons sien die water raak min. Ons het te veel koste gedra en nie vinnig genoeg aanpassings gemaak nie. Hier is dinge hard,” vertel hy, maar hy voeg by: “Al is boerdery ‘n moerdery, hou jy aan.”
Die water is sout, dus is hy grotendeels van reënval afhanklik. Daar is windpompe, maar hy is besig om dié met sonkrag te vervang, want die onderhoud is te hoog. “Jy’t sandgrond en die son is straf. Reënval was altyd 250 mm per jaar, maar deesdae kry ons nie eers 150 mm nie. Die reënseisoen het korter geword en jy moet kultivars gebruik wat
korter en vinniger groei.”
Gielie het op ‘n plaas naby Hopefield grootgeword waar sy ouers, Jacobus Hendrik en
Aletta, geboer het totdat sy oupa oorlede is. Daarna het hulle by Volstruisvlei oorgeneem. Gielie het in 1996 plaas toe gekom. Hy het ná skool by die Gevangenisdiens aangesluit.
Daarna is hy Elsenburg toe en later na ‘n wingerdplaas naby Bonnievale, voor hy terug
Volstruisvlei toe is. Sy ouers het kort na sy aankoms dorp toe getrek, maar sy pa is kortkort op die plaas, sê hy.
Die beste advies wat hy al in sy lewe gekry het, is dat ‘n mens nie iets moet koopwat jy nie nodig het nie. “Gebruik wat jy het,” sê hy. Charlotte is oorspronklik van die Oos-Kaap waar haar ouers aartappels geboer het.
Die Vissers se plaashuis dateer uit die laat 1800’s. Gielie beduie na die dam voor die huis. “Dis waar hulle die klei uitgegrawe het. Die klippe is hier rond opgetel.” Die omgewing se kenmerkende sandgrond word deur ’n ander probleem vererger – bloekombome. Oral in die streek is daar klossies van dié indringerbome wat in die laat 1800’s na Suid-Afrika ingevoer is. “Die ou mense het die bome as windskerms geplant, want as die wind begin waai, is hierdie sanderige geweste niemand se speelmaat nie. Maar hulle trek al die vog uit die grond,” sê Gielie. “Deesdae sien ek dat van die ouens besig is om die bome tot niet te maak.
KNOR VARKIE
Met hierdie inligting oor die streek as agtergrond, ry ons verder na Knor Varkie, anderkant die brug, teen die rivier op die Hopefield-pad. Die naam kom van die kabeljou se gewoonte om tydens broeityd te snork. Die Sishen-trein brug oor die rivier is lankal baie gewild onder die vissers omdat daar groot kabeljoue is. Die boot, wat nou as padteken na die plek dien, het lank op Volstruisvlei gelê. Toe kry Charlotte die idee om dit rooi te verf en op pale te sit. Nou is dit een van die mees gefotografeerde bakens op die Velddrif-Hopefield-pad.
Die bestuurderes, Nadia Nel, se glimlag is gul. Sy is ’n wetenskap-onderwyseres wat haar in die restaurantbedryf bevind, danksy die inperkings.
Die bier is koud, die vis is vars, en die lamsboud op die kole murgsag aan’t braai terwyl ons gesels. Nadia sê Knor Varkie se venue, bekend as die River Shack, is binne ’n jaar opgerig – ‘n kroeg en eetplek met die mooiste uitsig onder ‘n Bedoeïenetent op die oewer van die Bergrivier.
Charlotte vertel: “Gielie huur hierdie grond al vir meer as ’n dekade vir sy boerdery. Eendag, so twee jaar terug, vaar ons op ons boot verby en ek besef hoe ideaal hierdie perseel as ’n kuierplek sal wees. Ek doen toe aansoek om die 3,5 ha perseel by te huur en toe begin ons om die bestaande kothuisie wat al jare leegstaan, uit te huur. Dit was ’n geweldige taak om die onderneming te vestig. ‘n Volledige impakstudie moes gedoen word en heelwat konsultante is steeds betrokke. Ons lê toe Eskom-krag aan en laat in 2020 het die River Shack oopgemaak.”
Daar is ‘n perseel vir dagbesoekers wat by die treinbrug wil kom visvang, twee permanente karavane en twee kothuise wat te huur is. Dan is daar ook kampeerplekke en ander persele wat tans uitgebrei word. Buiten die kos en drank wat bedien word, kry hulle ook musikante wat kom optree.
Berenice Hendricks bestuur die dagbesoekers. Die brug is die trekpleister, want dis waar die vis broei. Vissers kom vang onder meer leervis, kabeljou, elf en harders. In die winter, wanneer daar meer reën in die binneland val, kom daar soms kurper en karp met die rivier af. Besoekers kan van die dorp af na Knor Varkie toe ry of ‘n sitplek op die Crackling Rosie-boot bespreek wat van Bokkomlaan af vertrek.
Tussen die gesels deur eet ons elf, bokkoms en soetsuur harders wat hul vriend, Hannes “Pype” du Toit (Nadia se pa), gevang en voorberei het. Terwyl hy sy vingers aflek, laat hy hoor: “Hierdie Knor Varkie is ‘n interessante plek. Kyk, as die varkie eers vir jou geknor het…” Hannes vermaak graag sy luisteraars. Hy en Gielie het eiehandig die kuierplek se
struktuur opgerig.
Jaap Gouws, ‘n ervare sjef, het die spyskaart ontwerp en hy sorg vir die etes wat alles op ‘n oop vuur voorberei word. Hulle het eers met burgers begin en later uitgebrei. Nou is daar 20 items op die vaste spyskaart. Daarby doen hy ook spyseniering vir funksies. Ons
smul aan Jaap se lamsvleis wat met kruisementjellie en paprika voorgesit word.
Charlotte vertel dat die duurste les wat sy moes leer, was om mense nie so maklik te vertrou nie. “Ek het geleer dat dit belangrik is om jou huiswerk te doen. My pa was oor die jare my grootste mentor, maar hy is oorlede. Hy het my streetwise gemaak.” Charlotte het ‘n langtermynhuurkontrak op die grond, met eerste opsie om dit te hernu.
Voor ons groet, vra ek vir Nadia waar hul produkte vandaan kom. “Ons probeer om al ons bestanddele plaaslik te koop. Die lam is van die plaas, vis en groente kom van net oor die bult, en ons berei alles self voor.”
Charlotte en Gielie stap saam motor toe. Ek vra vir oulaas hoe Knor Varkie en die plaas se dinge saam werk. “Dit was amper skeisake!” sê Charlotte met ’n knipoog. Maar die glimlag op hul albei se gesigte weerspreek haar heeltemal.
HANNES “PYPE” DU TOIT SE ELF-BRAAI:
Sout die Elf in met growwe sout en laat staan vir 20 minute. Was die sout af en laat goed winddroog word. Sprinkel ruim met Scalli’s se Lemon Pepper Mix. Rook die filette in ‘n roker met rooikrans-saagsels vir 25 minute. Tjots!
EIENAAR: Gielie en Charlotte Visser | NAAM: Volstruisvlei & Knor Varkie |
AREA: Velddrif, Weskus | KONTAK: charlotte@afrifoodsolutions.co.za
Baie mooi artikel. Ek ken die familie baie lank. Sou meer van Boetie Bakman wou hoor in die Volstruis Vlei plaas. Geskiedenis Hy was die pioneer.
Soos Gielie noem. Hys kort kort daar 😁
Baie geluk Gielie en Charlotte dit het baie werk en sweet gekos maar op die ou end n reuse sukses…dit het soms maar hare op die tande gekos Baie trots op julle.!!
Knorvarkie was n belewenis. Ek het so lekker gekuier en my karavaan was great. Ek wou nie huis toe nie. Net om daar te sit in die rustigheid van die oomblik met die water voor jou was so vreedsaam. Sal beslis weer gaan kuier.
Het die artikel baie interessant gevind en om ook so bietjie agtergrond oor die plaas te lees
Great article!