Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Michel Dei-Cont en verskaf
Vir jare was Vergenoegd Wynlandgoed buite Somerset-Wes bekend vir hul Indian Runner-eende, goeie rooiwyn en historiese opstal. Deesdae spog dié statige dame met ‘n noukeurige restourasie wat haar terugneem na die glorie van haar ontstaanstyd en die feit dat dit met moderne luukshede gemeng word.

BEHOU DIE GOEIE
Vergenoegd vier vanjaar haar 325ste bestaansjaar. Die noukeurige restourasiewerk word aangepak onder die wakende oog van die huidige eienaar, prof. dr. Peter Löw, ’n nyweraar en erfenisliefhebber van Duitsland, en sy span onder leiding van besturende direkteur, Corius Visser. Inteendeel, die plaas se ryke erfenis en voortreflike rooiwyn wat aanvanklik prof. Löw se oog gevang het, is weer die fokus van hierdie historiese landgoed.

Sedert hy die plaas in 2015 bekom het, staan dit as Vergenoegd Löw Wynlandgoed bekend. Vergenoegd het in 1696 plaas geword nadat die grond aan vryburger Pieter de Vos toegeken is. ’n Reeks vryburgers het die plaas daarna besit. Danksy die opgaafrolle in die Rijksargief in Nederland en navorsing deur dr. Hans Heese, geskiedkundige en argivaris, weet ons vandag waarmee elkeen geboer het. Daar is opgawes van die wingerdstokke en hoeveel wyn elke jaar geproduseer is. Die rolle vertel ook van die eienaar se gesin, die getal slawe en Khoikhoi wat in diens was, plaasdiere soos beeste, skape, perde en varke en watter weidinggewasse aangeplant is.

In 1786, toe Johann Georg Lochner die plaaseienaar was, het ’n Nederlandse predikant en later beroemde kunstenaar, Jan Brandes, ’n jaar op Vergenoegd gebly. Hy het panoramas van die omgewing, die flora, fauna, visse en voëls geskilder en hy het ook die opstal vasgelê.
OPGETEKENDE ERFENIS
Die detail in hierdie rekords is só akkuraat dat onlangse planne van die erfenisargitekte kon vasstel dat hierdie een van die bes behoue wynplase van die Kaap is. Anders as enkele van die ander bekende wynplase, het Vergenoegd nie skade en herbouings as gevolg van brande ervaar nie.

Die Faure-familie het die plaas in 1820 gekoop en dit was daarna vir opeenvolgende geslagte in die familie tot in 2015 toe John as die laaste Faure-boer uitgetree het.
Vergenoegd Löw se opstal is ’n nasionale monument. Die landgoed is ook deel van Die Europese Erfenisstigting wat verskeie geskiedkundige eiendomme insluit wat prof. Löw tot stand gebring het. Maar moenie dink die reuk van meubelpolitoer hang hier in die opstal in die lug nie. Of dat jy in donker kamers só kan verdwyn dat daar net ’n stofwolk oorbly nie. Allermins.

Die klavier uit 1872 is gerestoureer sodat die klawerklanke soms oor die houtvloere kan spoel. Die staanhorlosie uit 1827 tik ritmies teen die muur en rustige musiek dans om jou enkels in die elegante sitkamer met sy fluweelbanke en sagte beligting.

‘N NUWE GENERASIE
Corius – self ’n gekwalifiseerde wynmaker – is die eienaar se oë en ore. Hy het die nuwe wynmaker, Vusi Dalicuba, onder sy vlerk geneem, en saam word daar groot planne in die kelder gemaak. Vusi het reeds sy slag gewys toe sy Runner Duck Rosé 2021 in die Rosé Rocks- én Michelangelo-kompetisies uitgeblink het.

Hy is ’n Oos-Kapenaar wat in Stellenbosch grootgeword het. Sy pa, Msabalala, ’n algemene werker by Distell, het met verjaardae wyn by sy werkgewer present gekry en só is Vusi se belangstelling in wyn as loopbaan geprikkel. Ná sy studies in wingerdboukunde aan CPUT op Wellington, studeer hy verder onder Lorraine Geldenhuys by Elsenburg, danksy ’n beurs van die Departement Landbou. Hy doen sy honneurs en toe sy meestersgraad in sauvignon blanc wat in twee verskillende streke groei (een warm en een koeler) en in verskillende patrone geplant is.


Hy het ook vanjaar sy hand aan ’n Chardonnay Cap Classique-vonkelwyn gewaag. Dit sal vir 12 maande op die gismoer verouder en onder Livia, die eienaar se oudste dogter se naam, vrygestel word.
Vusi gaan wys ons die chardonnay wat in kalkgrond geplant is en verduidelik dat 50 gate op die eiendom gesink is om die grondsamestelling te bepaal. Corius voeg by dat die plaas hulself as “Bordeaux maar passievolle Suid-Afrikaners sien”.
Die regte wingerdstokke word in ’n drie-fase-herplantingsprojek op die regte plek geplant, gebaseer op die grond se potensiaal.
Die plaas van 161 hektaar het 53 hektaar onder wingerd (85% rooi en 15% wit), wat presies gekarteer is om optimale liggings vir elke kultivar te bepaal. Corius sê hulle glo hulle kan ’n fantastiese Kaapse versnit wat pinotage-gedrewe is, op die plaas maak.
EENDJIES IN ‘N RY

Hulle het ook veeweiding, natuurareas en hokke vir die Indian Runner-eende wat die wingerde slak- en pesvry hou. Dié eendras is ideaal omdat hulle anders as gewone eende, regop loop en dus hoër in die wingerde kan bykom. Hulle lê ook uitstekende eiers wat in die restaurante gebruik word en spesiaal in die Benedict-eiergereg voorgesit word. Tans het die plaas 1 600 eende maar hulle strewe na 3 000 sodat hulle kuikens en eiers aan ander plase kan verkoop.

Daar is geen eendparade of mark oor naweke nie. Corius sê COVID het hulle ’n kans gegee om hul storie reg te vertel. “Ons bied die plaas-atmosfeer in die middel van die stad. Ons wil eerder die Vergenoegd van 300 jaar gelede wees, met ’n moderne boerdery-aanslag en elegante ruimtes.
“Die eende is die plaas se wingerd-soldate, niks meer nie. Hul werk is om goggas te soek. Ons maak uitstekende rooiwyn en ons bied ’n wonderlike eet-ervaring. Dis die storie wat ons wil vertel, een wat jou verkwik en salig laat voel, met sagte musiek wat jou tydens die wynproe omgewe, of voëlsang in die bome of op die dam wat jou lawe terwyl jy eet.”

KYK MET NUWE OË
In die verouderingskelder is Vusi se energie tasbaar. Corius sê die pinotage-legendes, Beyers Truter van Beyerskloof en Abri Beeslaar van Kanonkop, het Vusi se talent raakgesien en hom vir die pos as wynmaker aanbeveel. Corius is ook opgewonde oor die jong bloed en sê: “Ek sien die potensiaal en ware karakter van elkeen. Vusi is ’n groot aanwins vir ons kelder en ons wynfilosofie. Vergenoegd Löw rus op vier pilare: erfenis, wyn, mense en volhoubaarheid. Die spanlede op die wynlandgoed het elk ’n stel vaardighede, onder-vinding en ervaring en ook ’n bepaalde siening. Ons verwelkom vrymoedige gesprekke en menings-verskille, ons gesels deurlopend en pluis dinge uit, ons ondersteun mekaar en erken harde werk en sukses.”
Vusi erken glimlaggend sy jeugdige voortvarend-heid te midde van die jarelange geskiedenis en tydbeproefde benaderings. Hy is opgewonde oor die volgende fase van die meer as drie eeue se nalatenskap waaraan hy deel kan hê.
GROND WEN
Die wynlandgoed se ander geskenk uit die natuur is sy terroir – die aarde vir sy wingerde. In ’n verslag van die wynnavorsingsgroep, Vinpro, word byna digterlik verwys na die Eersterivier wat oor duisende jare sy walle oorstroom het en ryk sediment op Vergenoegd se wingerdland agtergelaat het; die winde wat ook vrugbare afsettings aangedra het; die mari-tieme geologiese formasies onder die grond; die groeigewende kalk in die grond en die kleierigheid wat in kritieke tye help om vog te bewaar. Die plaas het ’n Mediterreense klimaat en is net 4 km van die Atlantiese oseaan af. Dit veroorsaak temperature wat laer is as omliggende plase en verlangsaam die rypwording van die druiwe. In die keurwyne kan jy die terroir se sout-, kruie- en minerale karakter bespeur.

“In die keurwyne kan jy die terroir se sout-, kruie- en minerale karakter bespeur.”
Corius se jarelange ondervinding in leefstyl-ontwikkelingsbestuur kom handig te pas met al die nuwe ontwikkelings op die plaas wat luukse-akkommodasie ’n fynproewer-restaurant, Clara’s Barn, ‘n spa en ander projekte insluit. Corius glo dat niemand groter as die handelsmerk is nie en noem dat die noukeurigheid van oorlede Giulio Bertrand, die charismatiese eienaar van Morgenster op Somerset-Wes, beslis ’n groot invloed op sy bestuurstyl het. “As jy suksesvol wil wees, moet jy die beste wees in dit wat jy doen.”
AARDSE VREDE EN VREUGDE
As jy van die parkering af in die rigting van die opstal stap, is die vrede in die vierkant tussen die geboue wat nou Eat Out San Pellegrino & Acqua Panna Sjef-van-die-Jaar 2019, Bertus Basson, se Geuwels-restaurant huisves, onmiddellik tasbaar. Daar is ’n kroeg waar jy drankies kan bestel en buite onder die reuse bome kan ontspan, met ‘n glas wyn in die hand aan ’n peuselbord kan smul of ’n ete met vriende kan geniet danksy die kundigheid van besturende sjef, Drikus Brink.
Corius sê Bertus se filosofie van erfeniskos met ’n moderne kinkel pas uitstekend by hul aanslag. “Ons deel dieselfde waardes en ons werk saam as ‘n span.
Ek dink ook dis belangrik om te onthou dat ons net bydra tot die ryk geskiedenis van die plaas. Ons is blote bewaarders wat vir ’n tydjie deel van haar erfenis is. Daar sal ander ná ons kom.”
Dis toe inderdaad by Geuwels waar die ervaring tot sy volle reg kom. Daar kuier ’n paar mense in die sjiek wynkroeg wat met sy groot glasvensters tot in die verouderingskelder kyk. Fluweel en moderne filamentligte aan die een kant van die ruit; 300 jaar se geskiedenis aan die ander kant. Bo die toonbank hang ’n reuse installasie van gedroogde blomme en blare.
SENSORIESE ERVARINGS
Buite staan ’n oulike waentjie met bottels Cap Classique en jenewer op. Daar’s ment en kaneel en tiemie en laventel langs ’n ernome bak vol ys en pragtige glase. Kelners kom kort-kort ’n glas Little Flower Brut skink. Die yskoue beskuitagtige borrels dans liggies op jou tong.
Die beginsel van die restaurant is gebaseer op kleinbordjies wat gedeel word. Nie alleen is dit baie geselliger nie, maar jy kry ook kans om meer disse te proe. Sjef Drikus kom vra of ons enige vrae of dieetvoorkeure het; of ons self wil bestel en of “ek julle kan voer”. Ons stem vir laasgenoemde. Die ooreenkoms is dat ons sal sê wanneer dit genoeg is.

Die roosterkoek wat buite op die oop vuur gerooster word, is die basis van alle geregte wat tradisioneel brood sou kry en ons smul aan die warm, bros koeke gesmeer met geklopte Bovrilbotter en biltong voor die geskroeide geelstert met komkommer, suurroom en koljander arriveer. Die borrels is die ideale pasmaat. Terwyl die res van die bordjies kom – gerasperde blomkool met mostertsous; confit-knoffel-en-makadamianeut; mielietjips met knoffeldoopsous; beestong met soet mostert en varklies met pampoenkoekies – geniet ons ’n karaf Schloss Frankenberg Riesling wat van die plaas se suster-eiendom in Duitsland af kom en Vergenoegd Shiraz 2016.
Ons moes lankal “halt!” geroep het, maar o, dis so lekker. Onder die bome kuier vriende by langtafels, in die buitesitkamer sit ’n verliefde paartjie en kyk diep in mekaar se oë. Gaste stap rustig verby, op pad na die opstal om wyn te proe, voor hulle honger by die restaurant kom aanklop.
Nagereg is so nostalgies soos kan kom: Cremoratert, Tannie Hetta se appeltert of tuisgemaakte roomys, maar ons is knuppeldik en deel net ’n bakkie roomys.

OUTYDS DOG EIETYDS
Bertus kom loer in en gesels by die tafels met gaste. Hy word soos ’n ou vriend ontvang, oral waar hy gaan. Bertus sê: “My filosofie is Suid-Afrikaans en ek glo daarin om plaaslike produkte te gebruik. Dit is wonderlik dat ons die eendeiers in die restaurant kan gebruik. Die plaas het ’n wonderlike geskiedenis en die proses om die Barn te herstel, waarby ons al sedert 2019 betrokke is, is ’n uitdaging, maar gaan baie spesiaal wees as dit klaar is!”
Bertus en Drikus gebruik plaaslike bestanddele en Drikus sê hulle fokus daarop om Suid-Afrikaans te wees en om geure en bestanddele te gebruik wat mense herken.
Geuwels is tans van Woensdag tot Sondag oop vir ontbyt en middagete, en hulle doen ook funksies op aanvraag.
Met ’n kartonnetjie Indian Runner-eiers onder die blad, stap ons deur die koepel terug na ons motor. Die bouers en elektrisiëns is nog woelig by die akkommodasie en Clara’s Barn, maar dit wat klaar is, is só keurig.
Daar lê nog baie werk voor, maar sjiek en stylvol is beslis twee woorde wat jou bybly lank nadat jy by die hek uit is.

GEUWELS-ROOSTERKOEK
Geuwels se roosterkoek is die stapel van al hul ontbyt-geregte en dis ook een van die happie-ervarings wat as voorgereg met geklopte Bovrilbotter en biltong bedien word.
Bestanddele
- 1 kg witbroodmeel
- 680 ml water
- 40 g aktiewe droë gis
- 40 g sout
- 100 g botter/margarien
- 2 eiers
- 30 g suiker
Metode
Meng al die bestanddele tot die deeg ferm en glad is. Laat staan tot dit in grootte verdubbel het. (Die mengsel kan ook ‘n aand voor die tyd gemaak word.)
Knie af en meet dan 100 g per roosterkoek uit. Laat hulle weer rys tot dubbel die grootte en braai dan oor kole met ’n medium hitte. Voor hulle bedien word, sit hulle weer vinnig vir 2 minute in die oond om warm en krakerig voor te sit.
EIENAAR: Prof. dr. Peter Löw NAAM: Vergenoegd Löw-wynlandgoed AREA: Somerset-Wes, Wes-Kaap PRODUK: Wingerd, wyn, veeweiding en eendeiers KONTAK: www.vergenoegd.co.za
Good day,
I juat want to find out if public is allowed to see ducks